Heilige koeie – sappige steaks?

  • 3

Augustus word algemeen beskou as vrouemaand, maar in die Anglikaanse kalender is dit ook die maand van compassion. Dan word na spesifieke groepe uitgereik: gestremdes, jeugdiges, slagoffers van misdaad, drank- en dwelmverslaafdes en dies meer.

Kerke begin al meer besef dat hulle relevant moet wees, of hulle verloor gemeentelede. Die meer charismatiese kerke praat openlik daarvan dat hulle hulle besigheidsmodel moet aanpas, asof die kerk ’n maatskappy is, met God as CEO.

Tradisionele kerke is maar altyd stadiger om by te kom.

Die NG Kerk besef dat hulle in alle erns buy-in van hulle gemeentes moet kry oor die Belhar-belydenis. Op die oog af lyk dit onskadelik genoeg. Die kerk vra vir eenheid, en erken dat alle mense een voor God is, dat almal saam behoort te dien, en dat hulle saam nagmaal moet geniet. Dis iets wat die meeste ander kerke in elk geval vergete al doen, iets wat mens sou dink “goes without saying”. Maar die kerkvaders struikel, want gemeentes byt nie. Dit begin lyk asof die Belhar-belydenis vir die NG Kerk gaan wees wat Lambeth vir die Anglikane en Vatican II vir die Katolieke was – goeie bedoelings wat die kerk kan laat skeur. Want nie almal is gereed vir verandering en vooruitgang nie. Ironies genoeg is die gemeentes besig om presies dit te doen waarmee die kerkvaders hulle al die jare indoktrineer het: hou vas aan die bekende; verwerp enigiets wat anders en nuut is.

Vanjaar is dit ook presies 30 jaar gelede dat die Kairos-dokument uitgereik is. Toe was die omstredenheid dat die kerk homself uitgespreek het oor die politieke krisis in ons land. Vreemd genoeg, die Kairos-dokument het in ietwat meer radikale taal, min of meer dieselfde gesê as die Belhar-belydenis: God het ons almal geskape. Dit verbaas my nie – die NG Kerk het nog altyd stadig verander en was een van die laaste kerke wat krampagtig aan die status quo vasklou.

Ons is nog steeds, ten minste in naam, ’n christelike land. Ons was gedurende apartheid ’n christelike land. In elke klein dorpie in die land weet die dokter, die bankbestuurder en die prokureur dat dit hulle aansien die wêreld se goed doen om Sondag in die kerk te wees, verkieslik in die voorste gestoeltes sodat hulle beter gesien kan word.

Maar in watter konteks hou ons kerk? Xenofobiese aanvalle, geweld wat hoogty vier, verkragtings, moorde, bedrog, owerspel, skinder, magsvergrype binne die kerk, terwyl die kerk handjies vou en stilbly.

In die Rooms-Katolieke Kerk het pedofilieskandale al daartoe gelei dat sommige bisdomme hulleself bankrot moes laat verklaar om aan siviele eise te ontkom. Die NG Kerk begin vir die eerste keer in erns met die kwessie van gay lidmate en leraars omgaan, vermoedelik uit noodweer, want lidmate stem met hulle voete. Die Anglikaanse Kerk stoei nou al 30 jaar tevergeefs met dieselfde kwessie, soos Sisyphus wat dieselfde rots teen dieselfde heuwel probeer uitstoot. Het Jesus nie juis gekom om ’n plek vir almal voor te berei nie, om die sirkel groter te maak sodat almal ’n plekkie kan kry om tot rus te kom nie? Het hy nie juis belowe “My las is lig, my juk is sag” nie? Is dit ’n geval dat die politieke wil nie in die kerke bestaan om verandering te probeer maak nie?

ISIS onthoof Christene in die Midde-Ooste, en ons kerke in die Weste bly tjoepstil. G’n haan kraai daarna nie. Die kerk se profetiese roeping was nog altyd “speaking truth to power”, om die staat te herinner daaraan dat ook hulle aan ’n hoër gesag moet antwoord. Hoekom kan die regerende party met trots beweer hulle gaan regeer tot Jesus kom? Omdat die kerk sy profetiese roeping vergeet het, en weer eens, soos in apartheid, die staat se skoothoondjie kom word het. Is ons weer op pad na ’n situasie waar die staat sy magsvergrype met godsdiens regverdig? Is godsdiens regtig die opium van die massas?

Hoekom loop ons kerke leeg? Hoekom, as meer as 70% van gemeentes vroulik is, bestaan die leierskap uit minder as 3% vroue? Kan dit wees dat mense besef dat kerk soos wat dit nou gedoen word, maar net instandhouding van ’n patriargale sisteem is?

Die politici huiwer natuurlik nie om munt te probeer slaan uit die algemene onstabiliteit in kerke nie. Hulle weet goed dat die kerk tradisioneel die een moral authority is wat hulle uit die magstoel kan lig. Dus, elke keer as daar ’n verkiesing is, kom die politici in hulle menigtes kerk toe, gesin netjies in tow. Ons politiek begin al meer lyk soos die Amerikaanse model, waar gesinswaardes in die kieser se keel afgedwing word. Natuurlik verdwyn hulle soos mis voor die son na die verkiesing, en wys dan net weer gesig as daar ’n tussenverkiesing is. En ons kerke laat toe dat hulle as speelballe gebruik word, in die hoop dat hulle iewers vorentoe politieke voordeel gaan trek.

Afgestorwe biskop David Russell was ’n man wat in die apartheidsjare voor ’n Casspir gaan lê het in protes teen die regering se geweldstaktieke. Aartsbiskop emeritus Tutu het nog nooit stilgebly as hy sien die regering is op die verkeerde pad nie – nie met die apartheidsregering nie, en ook nie met die huidige regering nie.

Maar wat doen ons kerke vandag? Ons grootste bekommernis is dat christelike vakansiedae afgevat gaan word. Godsdiens is alreeds uit skole, sonder ’n “bang of ’n whimper”. Ons kerke wil hande vat met die regering en hulle probeer oorhaal met mooi woorde. Ons wil suutjies praat, en nie die regerende party se argwaan op die hals haal nie – netnou noem hulle ons name.

Suutjies praat is stront praat. (Dalene Matthee, Die uitgespoeldes)

Die tyd vir suutjies praat is verby. Daar is te veel heilige koeie wat los rondloop en wat kan doen met ’n goeie slagting. Baie Christene loop rond met armbandjies wat vra: WWJD? What would Jesus do? Ek vermoed as Jesus die kerk van vandag so kyk, sou hy gaan sit, ’n swepie vleg en die skynheiliges met geweld uitboender. Hy het al.

Die tyd vir suutjies praat is finaal verby.

  • 3

Kommentaar

  • Jy's bietjie onregverdig teenoor die NG-kerk. Die NG-kerk (onder andere) het jare voor '94 sy lidmate al begin voorberei vir die nuwe bedeling. Trouens, die NG-kerk het lustig meegewerk aan die daarstel van die huidige gemors. Nóú sit die NG-kerk (én die ander twee susterskerke) handjies gevou en rep g'n woord oor die moorde op plaasboere nie (blykbaar so iets soos vier keer hoër as die gemiddelde moordsyfer in die land). Ek het op 'n kol 'n dominee konfronteer oor die feit dat hulle hulle nie uitspreek teenoor hierdie wantoestand nie en sy antwoord was "broer, ons wil nou nie alarmisties wees nie."
    'Alarmisties' se dinges man; hulle is stil oor hulle in die verleentheid is oor hulle aandadig was aan die skep van die teenswoordige sirkus.

  • Johannes Comestor

    In die vierde paragraaf word verwys na "verandering en vooruitgang". Dit is wenslik dat Wyngaard besef dat verandering ook agteruitgang kan wees; iets wat dikwels sedert 1990/1994 voorgekom het.

  • Beste Jan Rap

    Wie se skuld is dit dat ons tans in die posisie is waarin ons is? Die probleem lê mi veel dieper as die onwilligheid van ’n groep lidmate om bv die Belharbelydenis te aanvaar.Hier is enkele gedagtes van my kant.

    Mense lewe nie in waterdigte kompartemente nie.Wat op politieke gebied gebeur beinvloed die kerk en omgekeerd,want baie kiesers is ook kerkmense.Daar was ’n tyd onder die NP regering dat lidmaatskap van veral die NG-kerk en lidmaatskap van die NP ’n vereiste was om vir bevordering in aanmerking te kom as jy in ’n regeringsektor gewerk.Dit is ’n les wat ek reken menig onderwyser te laat agtergekom het. Ons moet dus nie te veel kla oor die huidige bestel nie want hulle doen dit net op ’n veel groter skaal.

    So wat is die probleem? Jy kan nie ’n geslag grootmaak op grond van die Bybel dat afsonderlike ontwikkeling (apartheid) ’n eerbare en haalbare proses is en dan op grond van teksuitleg van dieselfde Bybel die mat onder jou voete uitgetrek kry omdat jy met jou ondersteuning daarvan besig was om ‘n “Crime against humanity’ te pleeg en te bevorder.

    Ons ouers waarvan sommige al oorlede is, is dus die graf in onwetend dat hul deelagtig was aan een van die grootste misdade teen die mensdom wat sommige uit onkunde wil gelykstel aan die optrede van die Nazi-regime.

    Of dit nie erg genoeg is nie het die wetenskap die letterlike uitleg van die skeppingsverhale ingehaal en verby gesteek. Lees maar die kommentare van ateïste op hierdie forum.Baie van hulle was voormalige kerklidmate.

    Ons sien ook hoe Afrikaanse instellings soos skole een na die ander verdwyn en oorgeneem word deur mense wat nooit voorheen betrokke was by die oprigting en instandhouding daarvan en dat die instellings nou politieke speelballe word soos met die ‘Rhodes must fall’.

    Dit is ook die geval met Afrikaanse kerke wat lidmate met groot moeite en opoffering tot stand gebring is deur vrywillige bydraes en talle kerkbasaars.

    Ook het die woord ‘rassisme’ ’n totaal ander betekenis gekry. Wikipedia beskryf dit soos volg “Rassisme of Rassediskriminasie dui op die sosiale, ekonomiese of politiese diskriminasie teenoor 'n persoon (of groep persone) gebaseer op ras en/of velkleur. Dit dui nie noodwendig op die haat van een ras teenoor 'n ander nie - eerder die uitsluiting of weiering van sekere regte en voorregte, soos destyds toegepas deur die Apartheidsregering van Suid-Afrika en huidig die weiering om blanke persone in beskikbare poste aan te stel, al is hulle die beste kandidate vir die pos in die Nuwe Suid-Afrika.”

    Ras was die grondslag van rassisme. As jy die bestaan van rasse verwerp is dit onsinnig om van rassisme te praat. Rassisme het berus op die aanvaarding dat sommige rasse oor eienskappe beskik wat hul meerderwaardig teenoor ander rasse maak, soos bv. hoër IK ens.

    My predikant wou dus net voor die referendum op huisbesoek weet of ons dan rassiste is omdat ek sterk bedenkinge oor die hele voorgenome nuwe bestel uitgespreek het gegrond op baie jare se ondervinding in sowel staat as munisipale diens gemoeid met wat bekend gestaan het as ‘nie-blanke sake’.

    Nee het ek hom verseker. Ons is net anders want dit is die geografiese apartheid,(afsonderlike ontwikkeling) oor die eeue heen wat tot die ontstaan van verskillende unieke rasse gelei het.

    So is daar dan jare later bevind dat rasse noord van die Sahara genetiese materiaal rondra wat op vermenging met die Neanderdal mens dui,iets wat afwesig is by rasse suid van die Sahara.

    Omdat ek bevoorreg was om baie toergroepe te vergesel wanneer hul ’n woongebied soos bv. Daveyton besoek het, was dit altyd ’n openbaring om te sien dat hul nie kon glo dat daar so baie inheemse tale en volke in Suid-Afrika is,met hul eie geskiedenis en kultuur.

    Van oorkant die water het alles so homogeen swart gelyk! Vandag beleef ons, ondanks ons liberale grondwet dat Engels die voertaal op baie gebiede word en dat ander tale aan die agterste speen suig en word Afrikaanse skole gedwing om parallel-medium te word met Engels een van tale van onderrig wat nie die moerdertaal is van baie swart kinders wat onderrig ontvang by die skole.

    Hieruit moet dit duidelik wees dat weens die getalle oorwig en groter aanvraag om gehalte onderwys suiwer Afrikaanse skole die gevaar loop om te verdwyn en dat kerke dieselfde lot in die toekoms in die gesig staar.

    Mag dit met jou goed gaan. (600 woorde raak gou op)

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top