Harris Dousemetzis se omstrede biografie oor Tsafendas: nóg ’n leser se indrukke

  • 7

Lesersindrukke is bydraes van lesers wat uit eie beweging hul indrukke van boeke aan die LitNet-redaksie gestuur het.

The man who killed Apartheid
Harris Dousemetzis

Jacana
ISBN: 9781431427543 

In my gereelde Saterdag-rubriek in Die Burger het ek op 19 Januarie 2019[1] vertel het hoe ek my vervies het vir die Brit Harris Dousemetzis wat in sy boek oor Dimitri Tsafendas, The man who killed apartheid[2], téén alle logika en doodgewone gesonde verstand in[3] aanvoer dat Tsafendas volkome rasioneel was toe hy Hendrik Verwoerd op 6 September 1966 in die parlement om die lewe gebring het.

Dousemetzis verkondig – met ’n gesonde skeutjie Britse hovaardigheid (dis waaroor ek my vervies het) – dat die ondersoek na Tsafendas se geestestoestand voor regter-president Beyers “more like a Soviet-style show trial of the 1930’s [was] than an interested search for truth in the Anglo-Saxon [Engelse] juridical tradition”.[4] Die ondersoek voor Beyers, verklaar Dousemetzis, was daarop gemik om leuenagtig die waarheid te onderdruk dat ’n geswore, geestesgesonde kommunis daarin geslaag het om ’n geliefde volksleier te vermoor. Hy bestempel die ondersoek as “one of the greatest cover-ups in apartheid history”.

Die onvermydelike implikasie hiervan is dat daar ’n wydlopende sameswering tussen die regbank, die vervolgingsgesag en die verdediging moes gewees het ten einde dié resultaat te bewerkstelling.

Dit is nie ’n ongewone verskynsel dat mense die geskiedenis se ingewikkeldhede aan die hand van sinistere samesweringsteorieë probeer verklaar nie. Die bekroonde Associated Press-joernalis Saul Pett (1918–1993) skryf soos volg hieroor in ’n voorwoord tot die amptelike verslag van die Warren-kommissie van ondersoek na die sluipmoord op John F Kennedy: “There was in the minds of many the suspicion that there must be more to the Dallas story. Perhaps it was because the mind refused to believe that the President of the United States could so simply be shot in the light of day. Surely the motive, if not the killer, somehow had to fit the size of the victim. A gnat simply does not kill a lion.”[5]

Pett kon dit net sowel van die sluipmoord op Verwoerd geskryf het.

Dousemetzis se tipering van die ondersoek voor regter Beyers as ’n “show trial” is ’n ernstige aanklag teen die Suid-Afrikaanse regstelsel en al die gerekende regsgeleerders wat by die ondersoek betrokke was.

Terloops: anders as wat Dousemetzis verkondig, was die verrigtinge voor Beyers ’n ondersoek waartoe sowel die staat as die verdediging waardevolle bydraes gelewer het, en wat as sodanig met dank deur die regter-president erken is.[6] Dit was nie ’n “trial”, soos Dousemetzis dit onkundig bestempel nie. Die moordklagte is nooit aan Tsafendas gestel nie en vanselfsprekend het hy ook nie op enige klagte gepleit nie. Tans word die prosedure wat by sodanige ondersoek gevolg moet word, gereël deur artikel 78(A) van die Stafproseswet.[7]

Ek het in my vermelde rubriek aan die hand van juis die M’Nagthen-reëls van die Engelse strafprosesreg – wat net so deur die Suid-Afrikaanse howe oorgeneem is[8] – aangetoon dat iemand se morele, godsdienstige en politieke oortuigings géén rol speel by ’n hof se oorweging van sy geestestoestand en moontlike ontoerekeningsvatbaarheid nie.[9] Die vraag of Tsafendas ’n kommunis was of nie, was dus totaal irrelevant, en juis Dousemetzis se onbegrip van die toepaslike regsposisie slaan die bodem onder die sentrale tema van hierdie omstrede boek uit.[10]

Ek het my rubriek afgesluit met ’n erkenning vir Dousemetzis se argivale navorsing, maar het ook daarop gewys dat dit “wemel van foute en verstommende aannames”. Verskeie lesers het my daarna versoek om op laasgenoemde uit te brei. Dit is ’n haas onbegonne taak om dit in ’n beperkte artikel soos dié sistematies te doen. Daarom het ek besluit om in hoofsaak te fokus op sy pogings om veral Afrikanerleiers met ’n teerkwas by te kom – in die besonder dat hul Nazi-gesind en anti-Semities sou wees.

Die persone wat ek vir ’n slegs maar oppervlakkige bespreking uitsonder (en daar is tálle meer), is Piet Meyer van SAUK-faam en lank voorsitter van die hoogs oorskatte Afrikaner-Broederbond,[11] asook die voormalige premiers Malan, Verwoerd en Vorster.

Laat ek dit duidelik stel: Vir dié viertal is ek geen apologeet nie, soos ook nie vir die apartheidsbeleid nie. Waarom dit egter gaan, is ’n tendens in die reaksies wat ek ná my artikel uit talle oorde ervaar het: ’n keelvolheid vir die skynheilige demonisering van so te sê ál die vorige staatkundige bedelings (1910–1994) te midde van die skreiende plundering van die staat en die roekelose omgaan met menselewens[12] onder ANC-bewind sedert 1994. By die skryf hiervan (Februarie 2019) word Suid-Afrikaners week na week geskok deur die onthullende getuienis oor sulke vergrype voor verskeie kommissies van ondersoek.[13]

Ek vermoed ook dat Dousemetzis en sy pryssangers ’n eie ideologies-gedrewe agenda met die uitkoms van dié boek het, maar meer dáároor later.

Eers net die volgende: Die lees van hierdie boek was vir my ’n déjà vécu-ervaring – daardie gevoel van “ek is al voorheen hierdeur”. Ek verwys na Daniel D Elsdon se ewe omstrede Die lang generaal: die duistere politieke sluipmoorde van die ou Suid-Afrika[14] wat in 2009 opslae gemaak het. My probleem met boeke van dié aard is dat dit bitter moeilik is om feite van fiksie te onderskei. In Elsdon se geval het ek dit veral teen die verbeelde (en daarby ook erg inkriminerende!) gesprekke tussen byvoorbeeld premier John Vorster en genl Hendrik Van den Bergh – so asof die skrywer iewers na bandopnames van sulke gesprekke geluister het. Wat dus aangebied word as verbatim-weergawes van gesprekke, is in werklikheid versinsels – die skrywer se verbeeldingsvlugte.[15]

Ditto vir Dousemetzis: hy steun grotendeels op die hoorsê-verhale van mense (hoofsaaklik uit die Griekse gemeenskap) wat Tsafendas lank vantevore sou geken het. Hulle het klaarblyklik ook ’n eie agenda: om hierdie “skepsel”[16] (hy was immers duidelik lank chronies sielsiek) agterna as ’n onvermengde held van die bevrydingstryd op te dis – dit mag straks net die half-Griekse herkoms van Tsafendas in ’n gunstiger lig stel.

Dikwels gee die skrywer klaarblyklik ook sy eie verbeelding vrye teuels. Ek volstaan met enkele voorbeelde: In sy beskrywing van Tsafendas se bewegings en gemoedstoestand op daardie noodlottige Septemberdag in 1966 vertel Dousemetzis van die mesaankope wat Tsafendas by twee handelaars in Houtstraat, Kaapstad, gedoen het, waarna hy na die parlementsgebou teruggestap het. Dousemetzis sê Tsafendas sou op sy terugtog deur die Kompanjiestuin gewandel het. Hy skets ’n idilliese prentjie: “White people strolled past the lawns and occupied public benches marked ‘Europeans Only’ […] and children squealed with excitement at the squirrels in the oak trees.”[17] Om egter deur die skotige end van Houtstraat via die Tuine na die parlement te stap sou ’n taamlike ompad gewees het, wat my met die spesmaas laat dat dit ’n verbeeldingsvlug van die skrywer is ten einde by die volgende uit te kom: “There were no black or brown people [in die Tuin daardie oggend] for had not Dr Verwoerd specifically declared a few years earlier that such people should not be allowed ‘to gaze’ at the ‘green pastures of European society?”[18] (Hy verwys klaarblyklik na Verwoerd se toespraak in 1953 toe hy die Wet op Bantoe-onderwys deur die parlement gevoer het – ’n toespraak wat Giliomee sê dikwels skeefgetrek word omdat dit net gedeeltelik aangehaal word.[19])

Hoe ook al: vir my lyk dit erg geforseerd van Dousemetzis om Tsafendas – met twee messe in sy inkopiesak – ’n aansienlike ompad deur die Kompanjiestuin te laat loop sodat hy by hierdie groen-gras-verwyt teen Verwoerd kan uitkom. Daar is géén gesag vir hierdie klaarblyklik erg geforseerde beskrywing nie, wat ’n mens laat wonder: Is dit feit of fiksie? My onsinverklikker skakel aan.

Dieselfde geld Dousemetzis se beskrywing van wat deur Tsafendas se gemoed sou gegaan het nadat hy die messe onder sy uniform verberg het kort voordat hy na die Volksraad toe sou stap om Verwoerd om die lewe te bring. Die leser tref hom aan by sy sluitkas in die parlementêre bodes se aantrekkamer: “He checked his watch,” skryf Dousemetzis: “There was time. He flipped open his wallet and took out a photograph of his adored late father […] Tsafendas wondered if his father would agree with what he was about to do; whatever his reaction, he knew he would not condemn it.”[20] En verder: “Tsafendas smiled wryly at the thought of his stepmother’s likely reaction on (sic) what he was about to do. She would automatically blame his father …” [21]

Dousemetzis se bron vir hierdie gedagtes van ’n Tsafendas-onderweg-om-Verwoerd-te-vermoor is ’n Griekse geestelike, vader Minas Constandinou, met wie hy eenmalig op 6 Februarie 2013 (14 jaar ná Tsafendas se dood) ’n onderhoud gevoer het. Wat dié geestelike Dousemetzis op één dag oor Tsafendas vertel het, moes hom mateloos beïndruk het, soos blyk uit die minstens 224 voetnotas waarin sy naam as bron vermeld word.

’n Laaste voorbeeld – en daar is talle ander – is Constandinou se verstommend gedetailleerde vertellings van hoe Tsafendas die lang ure van eensame opsluiting op Robbeneiland sou verwyl het. Herinneringe aan musiek sou een van sy gunstelinge wees, en die geestelike onthou ná al die jare jou werklikwaar selfs die titels van die musiek: Tsafendas sou revolusionêre liedere soos “Song of Freedom”, die “Zot Nit Keynmol” (uit die Warskouse ghetto), “Bella Ciao” en verskeie Griekse liedere geneurie het – totdat die bewaarders hom glo sou verbied het om te sing. “Tsafendas complied,” skyf Dousemetzis, “but inside his head he continued making music. He would sit for hours with his back against the wall, his eyes closed, melodies running free. It was like listening to the radio, except that his unheard voice sounded better in the mind than his real-life singing voice did in his ear” (sic).[22]

Nog ’n manier waarop Tsafendas – volgens Constandinou – sy ledige uurtjies sou verwyl het, was sy herinneringe aan boeke wat hy vantevore sou gelees het: “Lying on his sisal (sic) mat he would ‘re-read’ the books from his past […] Realistically Tsafendas ackowledged that remembering old classic stories would not be enough to keep him sane, so he started ‘writing’ his own books. For many hours, he would ponder ideas, dream up plot lines and create characters. At night, as he fell asleep, he would hold the story in his mind and sometimes find that the plot had developed further in his dreams.”[23] Wil jy nou meer.

Constandinou is ook een van Dousemetzis se vernaamste bronne oor hoe Tsafendas onmiddellik na die aanslag op Verwoerd en in die daaropvolgende jare deur die polisie en die gevangenisowerheid mishandel sou gewees het.[24] By herhaling moet ’n mens die vraag stel hoe waarskynlik dit is dat Constandinou in slegs ’n enkele gesprek op één dag daarin kon slaag om sóveel besonderhede aan die skrywer oor te dra.

Uit ’n waarskynlikheidsoogpunt is ek dus uiters skepties oor die besonderhede van Constandinou se hoorsê-verhale so lank ná Tsafendas se dood. Dit bring weer die vraag te berde: Wat in hierdie boek is verifieerbare inligting en wat dan pure verbeeldingsvlugte – hetsy van Dousemetzis, hetsy van Constandinou of die skrywer se talle ander hoorsê-bronne? En waar laat dit ’n mens met die skrywer en sy pryssangers se aanspraak dat dit ’n “wetenskaplike werk” is?

Constandinou is ook die skrywer se vernaamste bron vir ’n dikwels herhalende tema: dat Verwoerd volgens Tsafendas ’n “tiran” en “Hitler se vernaamste student” was. Dit is egter interessant dat Tsafendas aan die einde van sy lewe in ’n reeks wydlopende gesprekke met die Nederlandse skrywer, Henk van Woerden, nooit na sy slagoffer in sulke terme verwys het nie.[25] Inteendeel, hy het sy spyt uitgespreek dat hy Verwoerd om die lewe gebring het.[26]

Dousemetzis se (flou) poging om hierdie eerstehandse gesprekke met Van Woerden te diskrediteer, is dat Tsafendas kwansuis nie vir Van Woerden sou vertrou het nie, en dus nie met hom die “waarheid” sou gepraat het nie. Daarvoor steun hy – byna vanselfsprekend – maar net weer op wat Constandinou hom op daardie enkele dag in Februarie 2013 sou meegedeel het.[27] Die punt is egter dat daar op daardie gevorderde stadium van sy bewoë lewe vir Tsafendas géén risiko meer sou gewees het om oplaas met dié weergawe van die “waarheid”, wat Dousemetzis en kie nou propageer, vorendag te kom nie. Dit het nie gebeur nie.

Maar terug by Dousemetzis se voorliefde om Afrikanerleiers met ’n Nazi-teerkwas by te kom. Ek begin by Piet Meyer, in lewe voorsitter van die SAUK-raad. Anders as wat Dousemetzis bereid is om toe te gee, was Meyer die groot dryfkrag agter Suid-Afrika se uitsaairevolusie gedurende die 1960’s en 1970’s waarvan die ganse land nou nog die goeie vrugte pluk: ’n gesofistikeerde netwerk van FM-radiosenders en ’n rits radiostasies in al 11 landstale; ’n uitgebreide televisiediens (wat op sy tyd die tegnies modernste in die ganse wêreld was) en ’n uitsaaikompleks in Aucklandpark wat, toe dit in 1975/76 betrek is, eweneens van wêreldgehalte was.[28]

Dousemetzis bestempel Meyer egter as “a Nazi fanatic who had named his son ‘Izan’, which is ’nazi’ spelt backwards”[29] (74). Hy steun op geen ánder gesag (as Izan se naam) vir sy roekelose stelling oor Meyer nie. Ek ken daardie skinderstorie reeds sedert 1968 toe ek en Izan saam klasgedraf het aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit. Die waarheid is dat hy na sy oupa, Izak Andries Meyer vernoem is. Piet Meyer het – in ’n kreatiewe poging om sy seun van vyf ander Izak Andriese (straks ooms en neefs) te onderskei – die eerste lettergrepe van sy twee doopname saamgevoeg as ’n “troetelnaam”: Iz(ak) An(dries), wat kortweg Izan geword het. Dat dit van agter gespel ook “Nazi” impliseer, het nie in sy wildste drome by Meyer opgekom nie.[30]

Dousemetzis volg die ou laai van Afrikanerhaters om mense wat gedurende die onstuimige jare van die Tweede Wêreldoorlog bande met die Ossewa-Brandwag (OB) gehad het, sonder meer as Nazi-simpatiseerders te bestempel. Omdat John Vorster in sy jongdae ’n OB-generaal was, word ook hy deur Dousemetzis met die Nazi-Kaïnsteken en as ’n anti-Semitis gebrandmerk.[31] Ek wonder wat sy kommentaar sou wees as dit onder sy aandag gebring sou word dat ook Erika Theron, die latere (nogal “liberale”) voorsitter van die Theron-kommissie van ondersoek na die bruin gemeenskap en ’n hewige kritikus van die apartheidsregering se Groepsgebiedewet, artikel 16 van die Ontugwet en die Wet op die Verbod op Gemengde Huwelike, gedurende daardie onstuimige jare ’n OB-generaal was![32]

Dousemetzis vertel dat Vorster – hy word by herhaling gebrandmerk as “an old anti-Semite and old-time Nazi”[33] – as Verwoerd se opvolger verkies is “[thanks to] the support of the extreme right wingers in the [National] party”.[34]

Dit is egter ’n bekende feit dat daar géén stemming in die koukus van die Nasionale Party was nie: Vorster is eenparig verkies,[35] wat Dousemetzis se aanspraak tot snert reduseer.

Vorster het Israel in 1976 as Suid-Afrikaanse premier amptelik (op uitnodiging van Shimon Peres) besoek.[36] Ek sou dink dat as Vorster óóit – selfs in die verre verlede – Nazi-gesind was, so ’n uitnodiging hoogs onwaarskynlik, indien nie totaal onmoontlik nie, sou gewees het.

Dousemetzis kom ook vir DF Malan met sy teerkwas by. Dié voormalige premier was ’n hardnekkige anti-Semitis, verkondig hy – naas verskeie ander onvleiende opmerkings wat volkome buite konteks opgedis word.[37] Nogtans het Malan (nes John Vorster, later) die jong staat Israel in 1953 amptelik en op uitnodiging besoek – ’n eer wat g’n geswore anti-Semitis immers te beurt sou geval het nie.[38] Trouens, Malan was die heel eerste regerings- of staatshoof wat die staat Israel na die totstandkoming daarvan in 1948 amptelik besoek het.[39]

Soos verwag kon word, bêre Dousemetzis sy skerpste kritiek oor Afrikanerleiers vir Tsafendas se slagoffer – Hendrik Verwoerd. Sy bronne is tot op groot hoogte erg verouderde propagandistiese materiaal uit die era van die berugte Britse Anti-Apartheid Movement wat gedurende die 1960’s en 1970’s die verkoop van Suid-Afrikaanse produkte in Engeland (Outspan-lemoene was ’n gewilde teiken) en Springbokrugbytoere aan daardie land ontwrig het. Dousemetzis steur hom nie aan beskikbare[40] meer gebalanseerde oorsigte van Verwoerd se lewe en beleid wat hom binne die konteks van daardie fase van Suid-Afrika se geskiedenis plaas nie.[41]

Soos Piet Meyer en John Vorster, word ook Verwoerd met ’n Nazi-teerkwas bygekom. Die feit dat hy saamvallend met die opkoms van Hitler in die middel van die 1920’s aan verskeie Duitse universiteite gestudeer het, word versigtig – maar betekenisvol vir die tema van dié boek – bygehaal. Hoewel Verwoerd se verhouding met en siening van die OB deeglik deur GD Scholtz gedokumenteer word,[42] verlekker Dousemetzis hom in ’n opmerking van ene Hughes wat Verwoerd in 1961 as ’n “tool of the Nazis” bestempel het.[43]

Dousemetzis vertel geniepsig dat ’n voorval op 22 Oktober 1941, toe gemaskerde OB-apparatsjiks Verwoerd probeer ontvoer het vanweë sy aanvalle op die OB in Die Transvaler, ’n versinsel van Betsie Verwoerd sou gewees het – “to remove the stain of her husband being a Nazi supporter during the war”.[44] Die voorval is egter goed gedokumenteer – onder meer deur ’n berig daaroor in Die Transvaler van 25 Oktober 1941.[45]

Dit sal seker niemand verbaas nie dat Dousemetzis – ’n selferkende ateïs – smalend na Verwoerd se godsdienstige oortuigings verwys. Reeds vroeg in die boek bou hy só aan sy argument, na aanleiding van Verwoerd wat kort voor Tsafendas se aanval sy sitplek in die Volksraad ingeneem het: “He turned around to acknowledge greetings from National Party MP’s around him. The prime minister was in high spirits, even jaunty, and with reason: the national economy was booming, thanks to cheap black labour, with the highest growth rate in the world after Japan.[46] […] Commanding the space around him, he looked unassailable, a picture of total power. Indeed, he thought, God was on his side. Six years earlier he had survived the bullets of David Pratt, a sure sign, Dr Verwoerd said, that God approved of his race policies and had spared him to ensure their implementation.”[47]

Later skryf Dousemetzis: “It was Verwoerd who saw himself after being shot by David Pratt as a martyr for the cause of apartheid and came to believe that his life was saved by God’s intervention and that this was proof for His support for apartheid.”[48] Ook elders verklaar hy, met verwysing na die mislukte aanslag deur Pratt: “Naturally he ([Verwoerd] attributed his survival to divine intervention.”[49]

Wat is Dousemetzis se gesag vir hierdie mededelings wat so gladweg uit sy pen vloei? Die een voorbeeld, verkondig hy, is dat die skare wat in September 1958 buite die parlementsgebou gewag het op die uitslag van die premiersverkiesing, spontaan die nuwe eerste minister die bekende “Laat, Heer, u seën op hom daal”[50] toegesing het. Dié geleerde Brit weet klaarblyklik nie dat dit selfs nou nog die gebruik is in Afrikaanse gemeenskappe om dié Geneefse melodie uit 1551, met woorde deur die “volksdigter” JD du Toit (Totius), te sing by byvoorbeeld die voorstelling van kerkraadslede en nuwe lidmate, die bevestiging van predikante, ’n skoolhoof wat verjaar of ’n paartjie wat trou (of ’n goue bruilof vier) nie.

Vir nog ’n “bewysplaas” steun Dousemetzis op ’n passasie in die tweede band van GD Scholtz[51] se reeds vermelde biografie van Verwoerd.[52] Daarin word vertel van ’n gedagte wat spontaan onder Suid-Afrikaners onstaan het om ’n dankdag by die Voortrekkermonument te hou nadat Verwoerd die 1960-aanslag op sy lewe deur Pratt oorleef het.

Scholtz haal Verwoerd se destydse privaatsekretaris, Fred Barnard, aan wat die boodskap van die voorgenome dankdiens aan die premier in die hospitaal oorgedra het: “Sy oombliklike reaksie was dat hy nooit vir so gedagte te vinde sal wees nie. Sonder om verder oor die saak na te dink het hy my versoek om sy dank aan die betrokkenes oor te dra en hulle te versoek om nie alleen van hul voorgenome plan af te sien nie, maar om dit nie eens verder rugbaar te maak nie, omdat hy ‘dit as menseverering beskou!’ ‘As iemand vereer moet word, moet dit God wees,’[53] was sy besliste reaksie.”[54]

Hoe Dousemetzis meen dis geregverdig om dié eerbetoning aan die Allerhoogste as afdoende gesag te beskou vir sy stelling dat Verwoerd sou verkondig het dat God aan sy kant – en ten gunste van apartheid – sou wees, sal net hy weet.

Dit bring my terug by die skrywer se dramatiese opbou na Tsafendas se aanslag op die lewe van die premier daardie dag in die Volksraad: “Indeed,” skryf hy (soos vantevore aangehaal), “[Verwoerd] thought God was on his side.” En dan sluit hy af met ’n aanstootlike en uiters onsensitiewe opmerking waarvoor hy – wil ek my voorstel – in sekere kringe nie maklik vergewe sal word nie: “He [Verwoerd] was about to discover that when it came to his race policies and implementing apartheid, his God had changed his mind.”[55]

Onmiddellik daarna volg sy beskrywing – in grafiese besonderhede – van die mesaanval op die premier.[56]

Ek het reeds vantevore aangedui dat ek nie ’n apologeet vir Verwoerd wil of kan wees nie. Ek het dit wel my taak geag om hier bo op enkele van Dousemetzis se feitelike dwalings en ongestaafde – selfs kwaadwillige – aannames te wys. Duidelik is daar ruimte – en het die tyd daarvoor straks aangebreek – vir ’n vars, ewewigtige, “warts and all” biografie van hierdie weliswaar komplekse en veelkantige leier. ’n Jong, talentvolle historikus soos Lindie Koorts het met haar voortreflike gedeeltelike biografie van DF Malan bewys dat so iets haalbaar is.[57]

Ten slotte, wat Verwoerd betref, wil ek – op ’n ligter noot – op ’n ware pièce de résistance uit Dousemetzis se pen wys: “While Tsafendas was buying his knives,” skryf hy oor daardie noodlottige 6 September 1966, “Prime Minister Dr Hendrik Frensch Verwoerd and his wife Betsie were flying into Cape Town airport from Stokkiesdraai, St Lucia (sic!), a modest coastal resort town in Natal (sic!) where they had spent a weekend relaxing with family.” Toe ek dié byna lagwekkende onakkuraatheid in so vroeg as bladsy 2 van die boek raaklees, het ek geweet: daar gaan nóg sulkes wees. Soos ek hier bo aangetoon het, is ek nie in my verwagtinge teleurgestel nie…

Nietemin, ter verfrissing van die geheue: Stokkiesdraai – geleë aan die Vaalriver in die distrik Vanderbijlpark – was die (kortstondige) Transvaalse vakansietuiste van die Verwoerds. Dit was die eiendom van Voortrekkerpers en Afrikaanse Pers (die voorlopers van Perskorporasie) wat dit in Julie 1965 tot die premierspaar se beskikking gestel het, ook met die oog op hul latere aftrede.[58]

Dousemetzis se korps geesdriftige ondersteuners – die “usual suspects”, vanweë hul linkse en kommunistiese bande (regter Zak Yacoob[59] praat glads van ”comrade Tsafendas”) – petisioneer nou die staat om die geskiedenis oor Tsafendas te laat herskryf. En natuurlik moet Verwoerd verder gedemoniseer word as “Hitler se beste student”.

’n Mens wonder wat Dousemetzis verlang dat regter Beyers moes gedoen het: Tsafendas die voordeel van twyfel gee en hom tot Staatspresidentspasiënt verklaar, of hom aan moord skuldig bevind en galg toe stuur? Die regter had mos nou geen ander keuse as die eerste opsie nie, maar nou word hy – én die Suid-Afrikaanse regstelsel – daarvoor verguis. Kan jy jou egter die herrie voorstel as die galg oplaas Tsafendas se lot was?

“Damned if you do; damned if you don’t.”

My teorie oor wat agter die petisie tot die staat sit, is die volgende: Die kommuniste het ná die inwerkingtreding van die Wet op die Onderdrukking van Kommunisme[60] tot met hul ontbanning in 1992 bitter min werklike suksesse in hul stryd teen apartheid en die vorige bewind behaal.[61] Die Rivonia-verhoor en latere lang gevangenisstraf wat Nelson Mandela en sy kamerade opgelê is, het die party ’n gevoelige slag toegedien. Kort daarna was dit ook die partyleier, Bram Fischer, se lot.[62]

Ondanks sterk steun uit veral die Sowjetunie en Kuba kon daar ook nie met ’n gewapende stryd teen die apartheidsbewind hond haaraf gemaak word nie.

Tans is die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party ’n baie klein en ondergeskikte rolspeler in die Suid-Afrikaanse politiek. Dus: as die party maar net met één prestasie kan spog – dat oplaas toegegee sal word dat ’n rasionele geswore kommunis soos Dimitri Tsafendas die gehate Verwoerd uit die weg geruim het – mag dit net aan die party ’n nuwe prestige, ’n nuwe bestaansrede, gee. Só word klaarblyklik geglo.

Ek kan nie sien hoe enigiemand regter Beyers se beslissing dat Tsafendas ontoerekenbaar was op ’n regtens geloofwaardige wyse ter syde kan stel nie. Dit laat Dousemetzis-hulle met ’n ongemaklike waarheid: ’n mens kan mos hoegenaamd nie op iemand wat patologies ontoerekenbaar verklaar is, se morele oortuigings en politieke standpunte peil trek nie. So iemand kwalifiseer vanselfsprekend ook nie vir ’n heldeverering nie – selfs nie eens ná sy dood nie.

Ten slotte: Dousemetzis se boek wemel van slordighede: spelfoute soos “Breytan” (die naam van die bekroonde Afrikaanse digter); “Donges” (deurgaans sonder die vereiste umlaut op die o); “Belleville” (in die Kaapse Metropool); “Vewoed”; “Verwroed”. Ook: “National Party followers fondly dubbed him [Verwoerd] ‘Oom (Uncle) Henny’” – vir my ’n nuwigheid. (Elders word Verwoerd “Heinriche” genoem.) So sou ’n mens kon aangaan.

Die slordigste is egter die skrywer se oënskynlik uitgebreide bronnelys wat resensente soos Max du Preez[63] en Theunis Engelbrecht[64] laat swymel het van bewondering. Hulle het, jammer genoeg, nie raakgesien dat wanneer die bronnelys by die skrywer Worger eindig, dit weer vanaf die skrywer Schadeberg herhaal word nie. Dit laat die lys met ’n indrukwekkende 51 titels groei – maar dit is “fopnuus”.

Klaarblyklik ontbreek hier ’n streng redakteurshand, wat ’n mens laat wonder of daar oplaas nie een of ander haas was om te publiseer nie.[65]

Die betroubaarheid van die skrywer se (oënskynlik nooit volprese) argivale navorsing is ook volgens my onder verdenking. Om dit punt vir punt te verifieer sou ’n enorme taak wees. Of dit die moeite werd sou wees, is te betwyfel. Immers: die slotwoorde van my artikel in Die Burger (waarmee ek hier bo begin het) lui: “Dousemetzis verdien erkenning vir sy argivale navorsing. Hoewel dit wemel van foute en verstommende aannames, verhelder dit tog plek-plek ons kennis van ’n donker periode in ons geskiedenis. Wat hy daarmee wil bereik, is egter ’n ander storie. Die woorde van Dalene Matthee se onvergeetlike karakter, Fiela Komoetie,[66] kom by my op: hier word visgevang in ’n pispot. Met permissie.”

Ek staan daarby.

[1] https://www.netwerk24.com/Sake/Eiendomme/die-keer-vanuit-n-regsperspektief-20190118.

[2] Dousemetzis, Harris: The man who killed Apartheidthe life of Dimitri Tsafendas (Jacana Media, 2018).

[3] Tsafendas is immers tussen 1943 en 1959 in minstens 11 psigiatriese inrigtings in die VSA en Europa opgeneem en behandel. Die bewysmaatstaf by sulke ondersoeke is die “ligte” maatstaf van die siviele prosesreg: ’n oorwig van waarskynlikhede – vgl artikel 78(1A) van die Strafproseswet, wet 51 van 1977.

[4] A w 271.

[5]The Warren Commission Report: The Official Report on the Assassination of President John F Kennedy (Associated Press, 1964).

[6] Steyl, GC (SC): Regters aan die Woord – ’n aantal uitsprake van die Hooggeregshof (Tafelberg, 1971), ble 11 en 15.

[7] Wet 51 van 1977.

[8] Regter Beyers en die regspanne van die staat en verdediging was dus aan die M’Naghten-reëls gebonde.

[9] Sien Grant, James: The responsible nind in South African Criminal Law (Juta, 2018), bl 16.

[10] Dit geld ook die skerp kritiek wat die skrywer uitspreek teen die Van Wyk-kommissie van ondersoek na die sluipmoord op Verwoerd. Ook dáár was die bewerings dat Tsafendas ’n geswore kommunis sou gewees het, totaal irrelevant. Immers: ’n persoon wat deur ’n hof as psigies siek – dus permanent ontoerekeningsvatbaar – verklaar is, se “status” word in minstens twee verdere opsigte geraak: (i) Hy word regtens verhoed om aan die normale handelsverkeer deel te neem. Hy kan byvoorbeeld nie ooreenkomste aangaan nie, nie ’n geldige huwelik sluit en nie ’n geldige testament verly nie. (ii) Watter waarde kan jy heg aan sodanige pasiënt se morele, politieke en godsdienstige oortuigings? Dousemetzis is ook erg krities daaroor dat die Van Wyk-kommissie getuienis agter geslote deure aangehoor het. Dit was indertyd nie ’n ongewone verskynsel nie; dit was ook die werkswyse van die Warren-kommissie – vgl eindnota 5 hier bo.

[11] Oor Meyer se termyn as AB-voorsitter, sien Stals, EP (in opdrag van die uitvoerende raad van die AB): “Geskiedenis van die Afrikaner-Broederbond (1918–1994)” (Johannesburg, 1998 – tot dusver ongepubliseer; eksemplare doen wel die rondte).

[12] Dit is min of meer die strekking van opmerkings deur die “linkse” politieke kommentator Piet Croukamp tydens ’n regstreekse uitsending op 23 Januarie 2019 van kykNET Verslag in Gesprek op DStv-kanaal 144. Waar ek nog hier bo respekvol sê mense is “keelvol”, het Croukamp reguit gesê mense is “gatvol” vir die vermelde skynheiligheid. Sien https://www.netwerk24.com/Stemme/Menings/vermy-liefs-nog-olie-op-die-vuur-20190124.

[13] Die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping; die Nugent-kommissie van ondersoek na belastingadministrasie en die Inkomstediens; die Mokgoro-kommissie van ondersoek na die geskiktheid van advv Jiba en Mrwebi; en die Mpati-kommisie van ondersoek na die Openbare Beleggingskorporasie.

[14] Random House / Struik, Umuzi (2009).

[15] Die bekende politieke kommentator Jan-Jan Joubert deel hierdie gedagtegang in ’n LitNet-resensie: “Hierdie boek is ’n samevoeging van samesweringsteorieë, feite en versinsel wat eerder nooit gepubliseer moes gewees het nie.” Die boek, sê hy, is “snert toegedraai in ’n geskiedenisbaadjie.” Sien https://www.litnet.co.za/i-die-lang-generaal-i-n-samevoeging-van-samesweringsteorie.

[16] Soos regter Beyers hom ietwat onvleiend – maar duidelik ook met empatie – beskryf het. Sien Steyl, a w bl 18.

[17] A w  bl 2.

[18] Ibid.

[19] Giliomee, Hermann: Die laaste Afrikanerleiers – ’n Opperste Toets van Mag (Tafelberg, 2012) op 69

[20] A w bl 6.

[21] A w bl 6.

[22] A w bl 286.

[23] Ibid.

[24] A w hoofstuk 13: “A State-President’s (sic) Patient”, 283 ev.

[25] Van Woerden, Henk: Domein van Glas (uit Nederlands vertaal deur Antjie Krog) (Quellerie, 2000).

[26] Ibid, bl 176.

[27] Dousemetzis, a w ble 346 en 348.

[28] Harmse, Wynand: SAUK 1936–1995 – Steeds sleutelspeler … of bedreigde spesie? (Naledi, 2018) – in die besonder hoofstukke 6 en 7.

[29] Dousemetzis, a w ble 74–5; 190.

[30] Meyer, PJ: Nog nie ver genoeg nie – ’n persoonlike rekenskap van vyftig jaar georganiseerde Afrikanerskap (Perskor, 1984), bl 41.

[31] Dousemetzis, a w bl 30.

[32] Theron, Erika: Sonder hoed of handskoen (Tafelberg, 1983), hoofstuk 5: “Die Ossewa-Brandwag”.

[33] A w bl 30.

[34] Ibid.

[35] D’Oliveira, John: Vorster – die mens (Perskor-Uitgewery, eerste uitgawe, vierde druk, 1978), bl 183.

[36] Sien http://cosmos.ucc.ie/cs1064/jabowen/IPSC/php/event.php?eid=1134.

[37] Dousemetzis, a w bl 402, voetnoot 25.

[38] Thom, HB: DF Malan (Tafelberg, 1980), bl 291.

[39] Sien: http://cosmos.ucc.ie/cs1064/jabowen/IPSC/php/event.php?eid=3314.

[40] Sulke bronne word kwistig in sy bronnelys aangegee, maar dit is duidelik dat hy bitter min daarvan bestudeer het.

[41] GD Scholtz se Verwoerd-biografie in twee dele (Perskor, 1974) word – dalk ietwat onverdiend – as ’n “hagiografie” bestempel, straks vanweë die skrywer se intiem persoonlike verbintenis met Verwoerd oor baie jare. Dit is nogtans in talle opsigte ’n waardevolle inligtingsbron. Dousemetzis neem dit op in sy bronnelys (hy vermeld egter verkeerdelik dat die skrywer JJJ Scholtz is), maar haal – sover ek kon vasstel – net op een plek daaruit aan. (Sien eindnota 52 hier onder.)

[42] A w, Eerste Band, hoofstuk 13, bl 159 ev.

[43] A w bl 80, voetnoot 60.

[44] A w bl 80.

[45] Scholtz, a w, Deel 1, bl 170. Sien ook Verwoerd, Wilhelm J: Verwoerd – Só onthou ons hom (Protea Boekhuis, 2016), ble 49 ev.

[46] So asof die koste van arbeid die enigste funksie is wat ’n hoë ekonomiese groeikoers (in Verwoerd se tyd meer as 6% jaarliks) sal verseker.

[47] A w ble 6–7.

[48] A w ble 379.

[49] A w bl 121.

[50] Tans lied 268 in die Liedboek van die Kerk.

[51] Die skrywer word verkeerdelik as JJJ Scholtz aangegee.

[52] Dousemetzis, a w, bl 449, voetnoot 17. Scholtz, a w, bl 153.

[53] My beklemtoning.

[54] Barnard, Fred: 13 Jaar in die skadu van dr Verwoerd (Perskor, 1967), bl 85.

[55] A w, bl 7.

[56] Ibid.

[57] Koorts, L: DF Malan en die opkoms van Afrikaner-Nasionalisme (Kaapstad: Tafelberg, 2014).

[58] Van Heerden, Marié: Stokkiesdraai – Die Verwoerdversameling in beeld en dokumente (Pretoria: Folio Uitgewers, 1984). Sover ek weet, is die plaas nooit formeel aan die Verwoerds oorgedra nie. Die ander bekende vakansieplek van die Verwoerds was – ís, trouens, steeds – die strandhuis Blaas ’n Bietjie wat die premier volledig vir sy eie rekening op Bettysbaai laat oprig het. Iemand wys nou die anderdag weer op die skreiende kontras tussen dié vakansiehuis en die skokkende vergrype – ten koste van die belastingbetaler – by Nkandla.

[59] ’n Voormalige regter van die Konstitusionele Hof, bekend vir sy blindheid sedert sy kinderdae. Dousemetzis identifiseer hom as een van die korps van vyf linksgesindes wat ingewillig het om sy verslag van 2 192 bladsye aan die Minister van Justisie te lees en daarna te onderteken. Daar word egter nie gesê hoe dié swaksiende regter dít vermag het nie.

[60] Wet 44 van 1950.

[61] Vir ’n vollediger oorsig, sien Pienaar, CG: Regsalmanak – 100 stories uit ons regserfenis (Protea Boekhuis, 2018), ble 312 ev.

[62] Ibid, ble 308 ev.

[63] Die Burger, 18.12.2018.

[64] Rapport, 16.12.2018.

[65] Die boek volg immers kort op die hakke van twee ander, uiteenlopende, boeke wat – straks vanweë hul sensasionele inhoud – klaarblyklik topverkopers was: Jacques Pauw se betroubare The President’s Keepers (NB Uitgewers, 2018) en die uiteindelik aansienlik gediskrediteerde Die seuns van Bird Island (Minnie en Steyn) (Tafelberg, 2018). Ek het ’n spesmaas Dousemetzis se boek sluit meer aan by laasgenoemde as by eersgenoemde.

[66] Matthee, Dalene: Fiela se kind (Tafelberg, 1985) bl 20.

  • 7

Kommentaar

  • Hennie van Deventer

    Indrukwekkende regstelling van 'n spul roekelose wanvoorstellings met 'n skaamtelose politieke animus. Pienaar doen die geskiedenis 'n guns. Die "swymelende" resensente behoort hul koppe in skaamte te laat sak. .

  • Pieter Bosman

    Dousemetzis het baie duidelik sy eie agenda en het beslis nie toegelaat dat feite sy storie bederf nie. Jammer dat Jacana toegelaat het dat hul naam hieraan gekoppel is.

  • Chris Marnewick SC

    My inligting is tot die effek dat Tsafendas in die dodeselle in Pretoria aangehou is - eerder as 'n inrigting vir staatspresidentpasiënte. Hy het daar 'n woonstel van twee aangrensende selle in B-Afdeling gehad vlak langs die kapel. Hy was praterig alhoewel die bewaarders nie met hom mag gesels het nie. Vir een - my bron - het hy vertel dat Verwoerd voorspel het dat Mandela die eerste swart president van die land sou wees. Hy het ook beweer dat Vorster en Eschel Rhoodie hom die land laat ingesmokkel het - hy was op 'n verbanningslys en kon nie wettig die land inkom nie - juis om Verwoerd te vermoor.
    Tsafendas was toegelaat om koerante te ontvang en lees en het uitknipsels in 'n kartondoos bymekaargemaak. Wanneer die uitknipsels na inspeksies nie mooi in die rente volgorde teruggeplaas is nie, het hy heeltemal van sy kop af geraak. Aldus my bron van binne die dodeselle.
    Ek dink nie daar kan twyfel wees oor Tsafendas se waansin nie: Die bewaarders in Maksimum sal saamstem.
    Met die geheimhouding van daardie tyd sal die volle storie seker nooit uitkom nie. Wie het besluit hy moet daar aangehou word, eerder as om behandeling te ontvang soos die wet vereis het? Waarom? Om hom stil te hou? Wie weet? Hoe het Tsafendas die land ingekom en ten spyte van sy agtergrond en sy naam op die swartlys werk in die parlement gekry?
    Die volle geskiedenis is nog lank nie opgeteken nie, en Gustaf se uitstekende ontleding kan maar net die begin wees.
    Terloops: Ek ken Zac Yacoob al dekades lank: Hy het 'n leser gehad (Danny) wat destyds vir hom die leeswerk gedoen het. 'n Formidabele opponent in die hof.

  • Christo Volschenk

    Ek is n bietjie versigtiger. Die regsaspekte waarop die teorie gebou is, is deur vyf regskenners (waarvan minstens twee baie ervare is) bekyk en vir korrek beoordeel. Tot nou het geeneen van die vyf hom/haar van die boek distansieer nie. Dalk moet 'n ondernemende joernalis die vyf (en talle ander kenners wat in die inleidende hoofstuk genoem word) vra of hulle tevrede is met die boek en hoe hulle aangehaal is? En hoe lyk dit met 'n opinie van 'n regsprofessor of twee? Om so 'n belangrike hoofstuk in die geskiedenis van die Afrikaner so vinnig "af te haak" en die boek so vinnig as "onsin" af te maak, is vir my 'n bietjie teleurstellend.

  • Gustaf Pienaar

    Dankie Chris, vir jou interessante opmerkings. Aan die einde van sy ondersoek het regter Beyers soos volg beveel: "Dit is my plig om te beveel dat hierdie persoon, Demetrio Tsafendas, hiervandaan geneem word na 'n tronk en dat hy daar aangehou word, hangende die beskikking van die Staatspresident van hierdie land" (Steyl, aw 18 - waarskynlik uit Engels vertaal.) Ek weet nie wat die destyds geldende Strafproseswet ivm mense soos Tsafendas bepaal het nie. Die huidige Strafproseswet bepaal breedweg dat 'n persoon wat (permanent) ontoerekeningsvatbaar bevind word in 'n psigiatriese inrigting opgeneem moet word of - as daar op daardie tydstip nie vir hom plek is nie - tydelik in 'n gevangenis gehuisves moet word. Dit lyk dus asof regter Beyers 'n fout begaan het om Tsafendas tronk toe te stuur. Dalk het hy vooraf daaroor met Tsafendas se regspan oorleg gepleeg; hulle sou immers daarteen kon appelleer - as hulle sou wou, en as die regter se bevel verkeerd was. Ek dink egter daar kon ook 'n ander oorweging gewees het: Dié man het enkele weke vantevore 'n grusame moord ten aanskoue van letterlik honderde mense gepleeg, en volgens die getuienis was dit uiters moeilik vir talle parlementslede om hom in bedwang te bring; hy was immers so sterk soos 'n bees. Dalk wou die regter nie die personeel van 'n psigiatriese inrigting daar en dan aan sulke risiko's blootstel nie. Dit sou, na my mening, 'n redelike aanname gewees het. Tsafendas is jare later wel in die Sterkfontein psigiatriese inrigting opgeneem waar hy sy laaste jare geslyt het.

  • Dousemetzis het repliek gelewer op Pienaar se analise.Sal graag Pienaar se reaksie daarop wil lees!

  • Chris Marnewick SC

    Gustaf, die Strafproseswet van 1955 was tot dieselfde effek as die een van 1977 (en selfs die een van 1917). Regter Beyers het NIE 'n fout begaan nie. Tsafendas moes van die hof na 'n gevangenis gaan en van daar na 'n toepaslike inrigting waar hy as 'n sogenaamde "Staatspresidentpasiënt" behandeling moes ontvang. Daar is (en was) administratiewe prosedures wat afgehandel moet word voordat die gevangene geplaas kan word, onder andere, tov die sekuriteitsmaatreëls wat getref moes word om hom, en die personeel van die inrigting, te beveilig.
    Die enigste logiese rede wat my opval waarom Tsafendas in die dodeselle aangehou was moet wees om hom uit die oog en ook stil te hou. Ontoeganklik.
    Ek het nie die boek gelees nie, maar ek meen dat daar tog 'n intrige hier is wat nog nie deur die amptenary opgeklaar is nie. Wat wel nie betwis kan word nie is die venyn (haat?) waarmee opponente van die destydse regime behandel is, onder andere, Tsafendas, Bram Fischer, Steve Biko, om maar 'n paar name te noem. Wat vir my as regsgeleerde pynlik is, is om te erken is dat die regsbedeling ingespan is om die staat se vergrype en misdaad te verbloem. (Ek het as jong advokaat 'n geregtelike ondersoek bygewoon waar beweer is dat die oorledene sy nek gebreek het deur van 'n stoel af te val. En die landdros het dit so bevind. Kan jy dit glo?)
    Wat die vyf regsgeleerdes wat die boek onderskryf betref, het hulle dit in gemeen dat hulle almal destyds bedrywig was in die politiek en meer bekend was vir hulle politieke bedrywighede as vir hulle regskennis. Nie dat enige een nie 'n uitstaande juris was nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top