Die lang generaal: 'n samevoeging van samesweringsteorieë

  • 6

Titel: Die lang generaal: Die duistere politieke sluipmoorde van die ou Suid-Afrika
Outeur: Alan D Elsdon
Uitgewer: Random House/Struik, Umuzi.
ISBN: 978-1-4152-0092-6

 

Hierdie boek is ’n samevoeging van samesweringsteorieë, feite en versinsel wat eerder nooit gepubliseer moes gewees het nie.

Die voorblad sê "Gebaseer op feite", maar klein op ’n binneblad vind jy die verontskuldiging: "Hierdie werk is fiksie gebaseer op historiese feite en gebeure. Behalwe vir gebeure en uitsprake op openbare rekord is die optredes en uitsprake wat aan alle karakters toegeskryf word denkbeeldig."

Wat die boek dus, ontdaan van sy woordrykheid, is, is snert toegedraai in ’n geskiedenisbaadjie.

Die verontskuldiging hier bo aangehaal is so weggesteek dat bykans geen leser dit sal raaksien nie. Dis nie op sy eie bladsy of op enige prominente plek nie. Die noodwendige gevaar is dat mense die boek se inhoud sal glo, wat, gegewe baie lesers se gebrekkige historiese kennis, ’n sterk moontlikheid is, en dus ’n jammerte vir die aansien van die betrokke uitgewer.

Die teks koppel genl Lang Hendrik van den Bergh, boesemvriend van oudpremier John Vorster en jare lange hoof van die veiligheidspolisie (ook in die gevreesde BOSS-inkarnasie van die 1970's) aan haas elke politieke sluipmoord in Suid-Afrika van die 1940's tot met Chris Hani in 1993.

Ja, liewe leser, na die maan met alles wat jy gedink het jy weet van die dood van Hendrik Verwoerd, Steve Biko, Robert Smit, Rick Turner, Anton Lubowski en selfs die teoloog Johann Heyns. En o, amper vergeet mens van dr Nico Diederichs. Nie geweet hy is vermoor nie, nè? Dis alles hier.

Of is dit? 

Al wat die skrywer van ’n stewige lasterrekening red, is dat almal teen wie hy die grusaamste bewerings van moord, medepligtigheid en toesmeerdery maak, reeds dood is. Die laaste om te sterf was oudpresident PW Botha. Duidelik besef die uitgewer dooies kan nie belaster word nie. Dit verskoon egter sekerlik nie swak smaak nie, veral gegewe dat baie van hierdie mense nasate het.

Die bewerings loop wild en sterk. En dis lelike dinge, soos dat Vorster bereid was dat ’n onskuldige in sy plek sterf in die interneringskamp in Koffiefontein. Daar is geen aanduiding of sulke bewerings enige gronde het, en of dit net ’n siek fantasie is nie. Dis mos "gebaseer op feite".

Waarvan die boek wel oorloop, is doodgewoon slap feitefoute, wat nie die narratief verryk of enige spesifieke rol daarin speel nie, so mens neem aan dis pure slordigheid. Ten einde ruimte te bespaar, enkele voorbeelde uit die eerste bladsy (p 10) van hoofstuk 1:

  • Die boek beweer: "Brittanje het met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog aan genl Jan Smuts, die Suid-Afrikaanse eerste minister, drie opsies gegee: maak oorlog teen Duitsland, verbreek politieke bande met die land of bly neutraal."

Die feit is: Brittanje kon dit nie doen nie, want Suid-Afrika was ’n dominium. Soos enigeen behoort te weet het die Suid-Afrikaanse Volksraad met 80 stemme teen 67 self besluit om aan die oorlog deel te neem. Hertzog was eerste minister, nie Smuts nie; hy is as gevolg van sy parlementêre nederlaag deur Smuts opgevolg.

  • Die boek beweer: "Smuts het op 6 September 1939 sy besluit bekend gemaak."  

Die feit is: Hy het bloot die mandaat van die Volksraad uitgevoer.

  • Die boek beweer dr Hans van Rensburg (latere OB-leier) het in 1924 "die eerste Nasionalis geword om die setel Pretoria-Sentraal te wen. Dit was ’n opspraakwekkende oorwinning vir die party."

Die feit is: Dit sou inderdaad ’n opspraakwekkende oorwinning gewees het, aangesien Van Rensburg nie ’n kandidaat was nie. Die setel is daardie jaar deur die bekende Hertzog-vertroueling en latere diplomaat Charles Te Water ingepalm.

  • Maar kyk nou die sin wat op hierdie een volg, steeds op die eerste bladsy van hoofstuk 1 van hierdie treurige teks: "Na die verkiesing het Smuts en genl JBM Hertzog ’n koalisieregering gevorm en Roos en Van Rensburg is saam Uniegebou toe: die een as minister van justisie, die ander as sy private sekretaris."

Die feit is: Toe nou nie. Die punt van die 1924-verkiesing was tog seker dat Smuts verloor het en dus uit die regering is, en dat die koalisie tussen Hertzog en die Arbeiders (die Pakt) gevorm is. En hoe op dees aarde proeflees enigiemand ’n manuskrip sodat die sogenaamde nuwe parlementslid vir Pretoria-Sentraal skielik ’n private sekretaris word?

Dis genoeg om mens jou hare uit jou kop te laat trek.

Let wel: dit alles op een bladsy!

Mens sou kon voortgaan, maar ag, wat is die punt? Op die keper beskou is die boek nie aan te beveel nie en moet mens dit eerder vermy.  

  • 6

Kommentaar

  • M du Plessis, ek weet nie of jy al die boek gekry het nie, maar doen asb nie moeite nie. Ek het dit pas gelees. Hoe nader ek aan die einde gekom het hoe vinniger het ek gelees. Nie uit opwinding nie, maar om net klaar te kry. Dit is duidelik hoofsaaklik op spekulasie, halwe waarhede en sensasie gebaseer. Veral die stuk wat beweer dat dr Verwoerd se moord deur Van den Bergh georkestreer was deur Tsafendas onder hipnose opdragte te gee, is baie dik vir 'n daalder. Die boek is 'n pot tjol. Die enigste waarde wat dit kan hê, is om mens daaraan te herinner dat daar inderdaad geweldige vuilspel en geweld deur die NP se se sg sekuriteitsorgane gepleeg is.

  • Ek het vir die Veiligheidspolisie in Kaapstad gewerk toe Stafendas vermoor is. Speurders het hom by my en ander sekretaresse in kantoor kom los om weer terug te gaan Raadsaal toe. Ek het later saam met kaptein Cerf na die parlementsgebou gegaan om die verklarings in snelskrif af te neem. Ek is later na Pretoria verplaas, waar ek Generaal Hendrik van den Bergh se sekretaresse was. Ek het ook saam met hom geskuif toe hy as veiligheidsadviseur vir die eerste minister aangestel is en die Buro vir Staatsveiligheid begin het. Al die onwaarhede en verdigsels is regtig ontstellend. Ek het nog nie die boek gelees nie maar baie daarvan gehoor en sal dit graag wil lees.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top