
Hanna Hopkins, kort na 100ste versjaarsdag
Hanna Hopkins, wat ook as Johanna of sommer net Anna bekend was, het op 12 April 2024 haar 100ste verjaarsdag gevier.
Ek was baie bevoorreg om ’n paar weke later by haar in te loer. Sy het toe nog op haar eie gewoon in ’n losstaande huis binne ’n veiligheidskompleks. Kyla, haar versorger, het net twee keer ’n week kom inloer.
Hanna was ’n merkwaardige mens wat uit goeie hout gesny is.
Haar pa was Jan Wiese, iemand wat baie diep spore in die suiwelbedryf getrap het.
Wiese het besef dat Suid-Afrikaanse boere wetenskapkennis nodig het om hul volhoubaarheid te verbeter. Hy het uitgebreide studies na Australië, Nieu-Seeland en die VSA onderneem. Daarna was hy betrokke by die verbetering van melkkuddes hier in Suid-Afrika en die oprig van verskeie botter- en kaasfabrieke.
Wiese se boeke Oom Jan vertel en My 37 jaar op die botterpad is tans kleinode.
Tant Hanna het as honderdjarige haar pa nog met trots onthou en kon interessante staaltjies oor hom vertel.
Sy was ewe trots op haar tweelingsussie, wat as Essie Honiball bekend geword het vir die groot aantal boeke wat sy oor gesonde eetgewoontes en veral vrugtediëte geskryf het. Essie is op 86-jarige ouderdom oorlede.
Toe ons vir Hanna vra wat haar geheim is vir ’n lang lewe en haar helder verstand, het sy twee goed gesê: “Ek eet genoeg koek. En lekkers. Ek is lief vir lekkers.” Toe, na ’n kort pouse: “Ek bekommer my nie. Ek gee alles aan die Here af.”
Hanna en Essie was baie goeie atlete en swemmers in hulle jong dae. Hanna het verskeie medaljes in hoogspring en hekkies verower.
Hanna onthou hoe hulle trein gery het van Oranje Meisieskool na atletiekgeleenthede. Sy vertel ook hoeveel hulle dit geniet het om met die seuns van Grey praatjies te maak in die trein se gange.

Hanna Hopkins met ’n foto van haar man, Charles
Hanna Wiese se borrelende persoonlikheid het die oog gevang van Charles Hopkins, ’n tokkelok wat in 1943 primarius van Wilgenhof en SR-voorsitter op Stellenbosch was. Die volgende jaar, terwyl hy ’n proponent by die Toringkerk in die Paarl was, is hy met die aanvallige Hanna getroud.
Charles is kort daarna beroep na die Oos-Kaapse dorpie Rhodes. In 1955 is hy aangestel as weermagkapelaan in Oudtshoorn.
Hanna het toe ’n pos by Arbeidsgenot aanvaar en die eerste kurator van dié museum geword.
CJ Langenhoven se weduwee, bekend as Vroutjie, is in 1950 oorlede en het Arbeidsgenot, die huis waarin sy en Langenhoven gewoon het, aan “die volk” bemaak. Aangesien “die volk” nie ’n regspersoon is nie, is die Langenhoven Gedenkfonds in 1954 gestig as ’n maatskappy sonder winsbejag.
Die Langenhoven Gedenkfonds bestuur vandag nog die museum en die nagedagtenis van Langenhoven. In 1955 het Hanna, haar man Charles en hulle twee seuns, Henry en Johan, hul intrek geneem in ’n woonhuis wat op Arbeidsgenot se gronde gestaan het. Daardie woning is later gesloop en ’n klein teater, bekend as Die Neelsie, is opgerig. Hierdie gebou huisves Kunste Onbeperk, die maatskappy wat die jaarlike KKNK bestuur.
Terwyl haar man die weermagbasis as kapelaan bedien het, was Hanna die regterhand van Sarah Goldblatt. Hanna sê oor Goldblatt: “Haar hele lewe was Langenhoven.” Saam het die twee vroue briewe uitgesorteer en die museum aan die gang gekry. Daardie briewe is later deur Hanna, en Langenhoven se kleinseun Guillaume Brümmer, aan die Universiteit Stellenbosch se spesiale versameling geskenk. Veel later sou Willemien Brümmer, Langenhoven se agterkleinkind, verdere skenkings maak.
Hanna Hopkins was in Oudtshoorn ook geliefd as ’n toneelspeler en -regisseur en stemkunstenaar. Sy het opvoerings in die Kangogrotte help reël en het groter werke, waaronder Pygmalion, in die dorp op die planke gebring.
Charles Hopkins sou later, in 1974, die argivaris van die NG Kerk word. Meer as 30 boeke het in dié tyd uit sy pen verskyn.
Die gesin, wat toe in Wynberg in die Kaap gebly het, sou kontak behou met Sarah Goldblatt, en Hanna was daar toe Goldblatt haar laaste asem uitgeblaas het.
Charles en Hanna was kranige versamelaars van Afrikana. Hanna onthou dat haar man “32 kiste boeke” gehad het wat sy uiteindelik in die NG Kerk se argief sou uitpak as deel van hul eie privaatversameling. Nicol Stassen sou uiteindelik ’n groot deel van daardie versameling bekom.
Hanna se rol in Charles se sukses is nie ongesiens gelaat nie. In 1977 het die NG Kerk ’n gastehuis na haar vernoem: Die Hanna Hopkins-huis, wat steeds besoek kan word.
Hanna Hopkins het haar lewe lank aktief gebly.
Sy het verskeie reise na die Ooste en Europa onderneem en het ook Tafelberg “male sonder tal” uitgeklim. As 100-jarige het sy nog elke dag gestap, gereeld geswem en met genoegdoening vertel dat sy deel was van ’n studiekring wat, onder andere, “vroue van die wêreld” bespreek het.
In Mei 2024 was sy al effens geamuseerd oor die feit dat sy nog leef en het dit duidelik gemaak dat sy nie sou omgee om haar Skepper te gaan ontmoet nie.

Met Kyla
Kyla, haar versorger, sê toe: “Sy wil partytjie gaan hou daar bo, maar hulle wil haar nog nie hê nie.”
Op 20 Desember 2025 het “hulle” skynbaar besluit dat hierdie warrelwindmens uiteindelik welkom is.
Ek het dus twee boodskappe aan sint Petrus:
- Een: Maak asseblief seker daar is baie koek en baie lekkers.
- Twee: Koop blomme en hou jou reg – Hanna soek waarskynlik reeds ’n Henry Higgins vir haar volgende opvoering.
Bronne
Ek was bevoorreg om tant Hanna op 23 Mei 2024 saam met Eureka Barnard en Jan Odendaal te besoek. Met tant Hanna se toestemming het ek ’n klankopname gemaak van die gesprek, waarna ek weer op 21 Desember 2025 kon luister.
Nicol Stassen en Ben du Toit het tydens persoonlike gesprekke inligting verskaf oor Charles en Hanna Hopkins se bydrae tot die NG Kerk se argief.
Die volgende bronne is ook geraadpleeg vir die skryf van hierdie huldeblyk.
Anon. 2024. Burger-intekenaar wat Vrydag 100 word, lees koerant nog sonder bril. Netwerk24. 12 April 2024. 21 Desember 2025 geraadpleeg. https://www.netwerk24.com/nuus/mense/burger-intekenaar-wat-vrydag-100-word-lees-koerant-nog-sonder-bril-20240410.
Anon. S j. Charles Hopkins. Wikipedia. 21 Desember 2025 geraadpleeg. https://af.wikipedia.org/wiki/Charles_Hopkins.
Anon. S j. Hanna Hopkins House Kerkhuis. Facebook-blad. 21 Desember 2025 geraadpleeg. https://www.facebook.com/hannahopkinshousekerkhuis.
Verskeie. S j. Die Langenhoven Gedenkfonds. Webwerf. 21 Desember 2025 geraadpleeg. https://cjlangenhoven.co.za.
- Fotografie: Izak de Vries


Kommentaar
Izak.
Jy het waarlik eer aan die formidabele Hanna Hopkins betoon.
'n Vrou uit een stuk.
Ons eer haar nagedagtes.
Hannah en Charles Hopkins was boesemvriende van my ouers, Dirk en Marie Lilienfeld. Ds Charles het ons troue waargeneem, dit was sy laaste ‘troue’.