"Halala Suid-Afrika": ’n onderhoud met Michael le Cordeur

  • 0

Menán van Heerden gesels met Michael le Cordeur oor sy nuutste boek, Halala Suid-Afrika (Naledi, 2019). 

Michael le Cordeur (Foto: Izak de Vries)

 Michael, Halala Suid-Afrika is ’n versameling van 60 van jou artikels wat die afgelope 25 jaar in die media gepubliseer is. Is daar een of meer artikels wat jou bybly?

Beslis die twee oor werkloosheid. Dit is ongetwyfeld ons land se grootste probleem, en ek het dit al voorheen gesê. “Meneer ek soek werk” is die noodkreet van ’n man van Kayamandi wat graag vir sy gesin wil sorg, maar nie in staat is nie, omdat hy werkloos is. Ek het hom dopgehou en die hoop gesien elke keer as hy hoop iemand laai hom op en bied hom werk aan vir ’n dag. En dan sien hoe sy gesig verander in wanhoop.

Daarteenoor vertel “Krismisboks vir Platkep” die verhaal van ’n man wat sy vaardighede as sweiser gebruik om self werk te skep en so vir sy gesin te sorg. Hy was ook werkloos, maar soos hy self sê, hy wil nie handouts hê nie, hy wil werk. Dit is die oplossing vir Suid-Afrika se werkloosheidsprobleem. ’n Klein bietjie opleiding tesame met ’n bietjie inisiatief is die verskil tussen ’n bedelaar en ’n broodwinner.

Jy sê in jou boek: “Taal is die kern van SA se onderwyskrisis.” Wat het na jou mening die afgelope 25 jaar verbeter/versleg mbt die onderwys?

As dinge so sleg is soos wat dit was in 1994, kan dit beswaarlik slegter gaan. Die groot teleurstelling is die onvermoë van die ANC-regering om die geleenthede wat daar was, en steeds is, om te sit in positiewe uitsette in die onderwys. Die oormatige klem op die matriekuitslae is ’n rookskerm om die werklike probleme in onderwys te systap. Ek dink ook die huidige minister van nasionale onderwys is te lank in haar pos. Sy het niks meer om te bied nie.

Jy skryf baie oor sosiale geregtigheid. Hoe kan geleenthede vir die volgende generasie geskep word?

Deur die basiese dinge reg te doen en voortdurend reg te doen. Allereers moet die onderwysstelsel tot sy reg kom, omdat dit die sleutel is tot ’n suksesvolle land, soos ek hier bo aangedui het. Onderwysers moet elke dag op hul pos wees en klasgee. Dit sal ’n goeie begin wees. Dan is daar baie aksies wat die burgerlike samelewing kan doen en reeds doen.

………..

“Ek skryf lankal nie meer net oor Afrikaans nie. Daardie debat lei na nêrens. Intussen is daar so baie ander aspekte wat oopgeskryf moet word, en baie mense verval in ’n groef sonder om die groter prentjie te sien.”

………..

Die regering behoort hierdie aksies te ondersteun, omdat dit eintlik werk is wat hulle as regering behoort te doen, maar versuim om te doen. Onlangs het ek twee artikels in Die Burger geskryf oor twee goeie voorbeelde: Die een was oor ’n gewone vrou wat honderde haweloses voed sonder enige staatshulp. Die tweede is die rol wat die klopse kan speel in jeugontwikkeling. Daar’s baie ander voorbeelde.

Een van jou artikels stel die vraag: “Afrikaans in bruin hande: Regtig?” Wil jy uitbrei?

Afrikaans was nog altyd die taal van die meeste bruin mense. Maar dit is geïgnoreer, nie net deur die regering nie, maar ook en veral ook deur Afrikaanse instellings soos die media en Afrikaanse organisasies. Dikwels word die menings van sogenaamde kenners gevra, ook oor onderwys, en word bruin kenners nie geraadpleeg nie.

Bruin mense is byvoorbeeld nie geken in die vasstelling van Standaardafrikaans nie, en Kaaps word steeds misken. Ons kan dus nie verkwalik word as ons dink bruin mense word net geken as die wit man en sy taal in die moeilikheid is en dan moet ons kom help nie. As dit goed gaan, word ons geïgnoreer.

Jou boek belig onder andere Kaaps, Krotoa, die Kaapse Klopse, die Bo-Kaap, die Rieldans en huldeblyke aan byvoorbeeld Adam Small. Watter aspekte van Afrikaanse erfenis voel jy moet meer aandag geniet in geskiedenisboeke / die media / die onderwys?

Al die bogenoemde aspekte. Ek skryf lankal nie meer net oor Afrikaans nie.

………..

“Ons kan dus nie verkwalik word as ons dink bruin mense word net geken as die wit man en sy taal in die moeilikheid is en dan moet ons kom help nie. As dit goed gaan, word ons geïgnoreer.”

………..

Daardie debat lei na nêrens. Intussen is daar so baie ander aspekte wat oopgeskryf moet word, en baie mense verval in ’n groef sonder om die groter prentjie te sien. 

“Halala Suid-Afrika. Ewig is ons Suid-Afrika.” Hoe lyk die pad vorentoe vir Afrikaans en Suid-Afrika?

Presies soos wat ek met Halala bedoel. Afrikaans is vir ewig. Net omdat dit op die US afgeskaal word, beteken dit nie die taal gaan môre uitsterf nie. Afrikaans is diep gewortel in die psige van mense se politiek, godsdiens, kultuur, sport en die breë samelewing. Ons sing, skryf, dig, rap en dans soos die klopse in Afrikaans.

Diegene wat huil oor die dood van Afrikaans, huil dus by die verkeerde begrafnis. Afrikaans gaan nêrens heen nie en ek ook nie. Daarom het ek my twee kinders Afrikaans grootgemaak en in Afrikaanse skole gesit. Dis meer as wat sommige wat my kritiseer, kan sê.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top