Die wêreld staan voor ’n ekonomiese keuse wat die toekomstige welstand van die hele mensdom kan bepaal. Is die katastrofale gevolge van die aarde se oorbenutting dalk nader as wat ons dink? Die uitdaging is fundamenteel en belangriker as enigiets wat die mensdom tot dusver aangepak het, meen Elwil Beukes, ’n professor in ekonomie.
Jean Oosthuizen het met hom gesels oor die omvang van groen ekonomie. Beukes was onder meer professor in ekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat, en betrokke by die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika en verskeie ander finansiële adviesliggame voordat hy aangestel is as professor in ekonomie by King’s College in Edmonton, Kanada, waar hy in 2010 afgetree het. Hy is steeds betrokke as deeltydse dosent en arbeidskonsultant. Hy sê net soos met die bedreiging van totale vernietiging deur kernwapens tydens die Koue Oorlog-era, staan ons vandag weer voor keuses wat die toekomstige welstand van die hele mensdom inhou
’n Groen ekonomie word beskryf as ’n ekonomie wat verbeterde menslike welstand en sosiale gelykheid insluit terwyl omgewingsrisiko’s en ekologiese skaarsheid verminder word. Waarom is ’n groen ekonomie so belangrik?
Hoewel ons sou kon dink dat die aarde so ryk is aan insette vir ons manier van leef dat ons nie bekommerd hoef te wees oor grense aan en uitputting van hulpbronne nie, is dit nou al duideliker dat ons immer uitdyende manier van ekonomies bestaan enersyds die bruikbare, redelik toeganklike en bekostigbare hulpbronne al vinniger gebruik, met al meer kwalike gevolge.
Andersyds is die begryplike en geldige versugting van die steeds werklik arm meerderheid van die mensdom na ’n beter lewenstandaard nie meer iets wat op die agtergrond geskuif of net oor gepraat kan word nie. Hoe hierdie twee sake nou gelyktydig hanteer moet word, maak dit al dringender dat ons die manier van ekonomies leef wat oor die afgelope paar eeue as die enigste pad vorentoe ingeburger geraak het, diepgaande in heroorweging moet neem.
Aandrang op ’n groen ekonomie word somtyds as ’n verbygaande saak op die politieke agenda gesien. Baie mense beskou dit as ’n modegier wat dalk goed klink, maar binnekort vergete sal wees. Wat is jou mening hieroor?
Groen ekonomiese denke van meer ingrypende of omvattende aard is, objektief beskou, allermins bloot ’n modegier. Die tendens in hierdie rigting onder denkendes is onontkenbaar en groei steeds, met die tema van volhoubaarheid wat oral al groter figureer.
Benewens die toenemende en ernstiger-wordende waarskuwings van vele in die natuurwetenskappe, is daar ook ’n duidelik toenemende besef onder sakeleiers van oor die wêreld dat dit nou ook vir hulle al meer noodsaaklik en onvermydelik word om die kwessie van volhoubaarheid sentraal en permanent in te bou in sakedenke, bedryfsbestuur en benutting van hulpbronne.
Die langtermynstappe in die groen rigting wat leidende owerhede in Wes-Europa (soos Duitsland en ander) nou doen, is sekerlik nie bloot modieus en verbygaande nie. Dis ook ’n moedswillige dwaling om groen denke te tipeer as ’n bedekte politieke hefboom om ’n vrye ekonomie te ondermyn of groter staatsbeheer om ideologiese redes te bevorder.
Tot watter mate is die huidige ekonomiese stelsel die oorsaak van ons omgewingsprobleme? Is dit nie dalk eerder die gebrek aan ’n politieke wil van regerings wat die skuld moet dra nie?
Dit lyk vir my vanselfsprekend dat die manier waarop ons die natuur gebruik om in ons behoeftes te voorsien, onvermydelik gevolge inhou vir die praktiese draagkrag van die omgewing waarop ons ’n bestaan moet maak. Wat vandag bestempel word as “omgewingsprobleme”, het tog nie te make met iets wat skeefloop in die natuur nie. Dit het wel alles te make met wat ons gebruik daarvan tot gevolg het.
Verder maak dit ook nie saak of die ekonomiese stelsel meer of minder sentraal gelei is nie. Die agterliggende idee in beide die twee mees invloedryke stelsels van die afgelope tyd is dat steeds groter welvaart en verbruik die pad na meer geluk en welstand beteken en dat daar geen einde aan die opwaartse neiging is nie. Die natuur is deurentyd beskou as bloot daar om op al meer gesofistikeerde wyses ontgin en onder ons beheer gebring te word sonder dat ons ons oor die uitwerking van ons aktiwiteite op die natuur bekommer.
Tot ’n paar dekades gelede was die draagkrag van die omgewing ook nooit ’n (belangrike) item op die agendas van regerings nie. Die strewe na steeds groeiende welvaart was (en is steeds) die sentrale dryfkrag. Owerhede se ekonomiese beleid en die najaag van wins in die sakelewe was deurgaans breedweg op dieselfde teiken gemik.
Verweef hiermee is ook die mededingende karakter van die ekonomiese lewe wat meebring dat geen owerheid optrede oorweeg wat dreig om plek af te staan aan mededingers nie. Die feit vandag dat daar nie meer beslissende beleid en optrede van owerhede kom nie, is dus nie bloot toe te skryf aan politieke onwil nie. Die momentum van die jaagtog na meer is so sterk en so verweef met alle kante van hedendaagse ekonomiese realiteite dat die ekologiese uitdagings ’n kentering impliseer wat huidige politieke praktyke nie kan hanteer sonder om as te revolusionêr bestempel te word nie.
Dit is ’n basiese kenmerk van die mens om altyd na groter welvaart en gerief te streef. Wat voorheen luukshede was, is vandag alledaags. Watter invloed het hierdie verbruikersmentaliteit op ’n groen ekonomie?
Gandhi het al tereg gesê dat die aarde genoeg bevat om in almal se behoeftes te voorsien, maar nie in almal se gulsigheid nie. Teenoor die ongebreidelde sug na steeds meer materiële verbruik, moet dit nou gevra word of dit in die algemeen moontlik of selfs gewens is.
Die vraag beteken nie dat daar nou nie meer vir alle mense ’n voldoende, maar nie onbeperkte, lewenstandaard moontlik gemaak moet of kan word nie.
Wat beskou jy as voldoende?
Om as mikpunt die verbruikspeil van Noord-Amerikaners te lewer, sou daar na raming die hulpbronne van meer as drie aardes nodig wees – vanselfsprekend onmoontlik.
Dit word al meer erken dat vanaf ’n betreklik beskeie peil, meer verbruik die meeste mense nie gelukkiger maak nie, maar eerder meer besorg, selfs meer ongesond. Groen ekonomies dink hou dus duidelik in dat die vraagkant van vandag se manier van ekonomies lewe beduidend in heroorweging geneem moet word, veral in die ryker dele van die wêreld. Dit bring die beweging na ’n groener ekonomie daarom ook tuis in die alledaagse besluite van elk van ons, en nie net op die agenda van owerhede of sakeondernemings nie.
Die skade wat industriële vervaardiging en landbou aan die omgewing aanrig, het vir etlike dekades ongemerk verbygegaan. Dit is eintlik maar eers onlangs dat dit duidelik begin word het watter enorme skade besoedeling aanrig. Kan hierdie proses nog omgekeer word om die skade aan die omgewing te beperk sonder dat die ekonomie in duie stort?
Die skade is ernstig en onontkenbaar en neem al sneller toe. Belangstellendes kan gerus maar gaan kyk na die ongeveer 800 bladsy lange verslag van studies wat gelei het tot die wêreldwye en omvattende Millennium Ecological Assessment wat in 2005 gepubliseer is.
Jou vraag kan impliseer dat ons moet kies tussen ’n leefbare omgewing en ekonomiese welvaart. Dit is ’n basiese denkfout. Dit word tog al duideliker dat ekonomiese welvaart in ’n steeds meer beskadigde omgewing al minder moontlik word. Wat al meer in die visier kom, is dus nie ’n volhoubare lewenstog nie, maar die voortsetting van “die ekonomie”, wat eintlik maar beteken die ou praktyke van die afgelope sowat 200 jaar.
Maar hoe verseker mens dan ’n volhoubare ekonomie sonder om terug te keer na die dae van ouds voor nywerheidsontwikkeling?
Om sinvolle en volhoubare ekonomiese lewe nie in duie te laat stort nie, is dit nodig dat ons so snel moontlik moet beweeg na veel meer sorgsame maniere van dink en doen in ons produksie en verbruik van goedere en dienste. Wat agtergelaat kan en moet word sonder om ons onvermydelik terug te stuur na kerslig en perdekarre, is die tot nou toe roekelose en onnadenkende wyses van die benutting van natuurlike bronne. Dat dit nuwe denke, vernuwings en groot veranderinge inhou, is gewis, maar die uitdaging is fundamenteel en belangriker as enigiets wat die mensdom tot dusver aangepak het.
Die sogenaamde Klub van Rome was ’n groep wetenskaplikes wat teen die 1970’s voorspel het dat die wêreld sou aanhou ontwikkel, tot die hulpbronbasis uitgeput raak. Dan sou rampspoed volg. Tot dusver is hulle voorspellings nie bewaarheid nie. Talle wetenskaplikes twyfel of dit ooit sal gebeur. Is ons nie verniet bekommerd nie?
Die destydse verslag van die Klub, getiteld Limits to Growth, is nou meer as 40 jaar oud. Dit het destyds ’n aantal scenario’s of toekomspaaie geskets van wat kan gebeur ten opsigte van bevolkingsgetalle, energieverbruik, hulpbronbenutting en besoedeling. Een daarvan was genoem “business as usual” en het probeer skat wat sou gebeur as die tendense van 40 jaar gelede onveranderd sou voortgaan. Onlangse studies toon wel aan dat hierdie scenario inderdaad baie naby aan korrek was ten opsigte van wat sedertdien gebeur het. Dit is dus ongelukkig nie korrek om te beweer dat al die voorspellings in die verkennings van 1972 verkeerd was nie.
Die ongemaklike vraag bly dan of die destydse skatting van wanneer die huidige groeipad van bevolkingsgetalle, energieverbruik, hulpbronuitputting en besoedeling tot meer katastrofale gevolge aanleiding sou gee, dalk ook nader aan die kol is as wat tegnologiese optimiste destyds beweer het (en steeds beweer). Hoewel daar nooit volkome eenstemmigheid oor hierdie soort studies en bevindinge sal wees nie, is daar tans ’n groeiende meerderheid van wetenskaplikes wat ook al meer kommer uitspreek oor die ingrypende veranderinge wat in ons ekologiese sisteme plaasvind. Is ons dalk te geneig om wetenskaplike bevindinge as geldig en nuttig vir praktiese beluitneming te beskou net as dit inpas in ons huidige gemaksones? Dis dalk tyd om ’n wyer en breër blik te werp op waarskuwings van diegene wat probeer om hul duime op die pols van ons natuurlike bestaansruimte te hou.
Teen die 1980’s het dit duidelik geword dat die grootte van die hulpbronbasis nie die belangrikste beperking is nie, maar die aarde se vermoë om afvalstowwe te absorbeer. Daar word gesê die grootste gevaar is nie dat ru-olie of steenkool opraak nie, maar dat die gasse wat dit met verbranding vrystel, die klimaat negatief beïnvloed. Wat is jou kommentaar?
Hierdie vraag oorskry regtig my kennis. Ek vind dit ook moeilik om ’n enkele of ’n paar wêreldwye kwessies uit te wys as groter kwellings as ander. Interessant is miskien die onlangse bevindinge van Pew Global, wat opnames gedoen onder meer as 50 000 respondente in meer as 44 lande onder gewone mense (nie net deskundiges nie) se siening van die grootste uitdagings. Begryplik was dat antwoorde sou voortvloei uit waar mense hulle op aarde bevind. Dit het gewissel tussen besoedeling, kernoorlog, ongelykhede, religieuse konflik en vigs. Ek meen dit is nodig om wel die interafhanklikheid van die meeste van die erkende groot probleme raak te sien. Dit bring mee dat daar nie op die hantering van een of twee daarvan in isolasie van die ander gedink en gedoen moet word nie, hoewel daar stellig sprake kan wees van ’n prioriteitsorde.
Dit lyk my die wêreld staan voor ’n klassieke dilemma: Word ontwikkeling vertraag, styg desperate armoede. Word dit versnel, kan die aarde die gevolge nie meer dra nie. Hoe ontsnap mens uit hierdie dilemma?
Wat hierby in my gedagtes opkom, is ’n destydse uitspraak: “Those who have much should live more simply, so that others may simply live.” Die dilemma waarna jy verwys, lyk my ’n uitvloeisel van die ouer idee van wat ontwikkeling beteken, naamlik dat almal in die wêreld in staat gestel moet word om soos die rykstes van vandag te leef. Hierdie opvatting was lank, hoewel onuitgesproke, die agterliggende idee agter denke en beleid vir die “ontwikkeling” van armer dele.
Hoe moet daar dan te werk gegaan word om weg te kom van die chroniese armoede waarin groot dele van die wêreld vasgevang is?
As ’n meer beskeie wyse van materieel leef vir sowel dié wat in hedendaagse ryk lande woon as dié wat duidelik moet vorder uit die put van chroniese armoede, as mikpunt gestel word, kan die vermeende dilemma waarskynlik vermy of betekenisvol versag word.
Maar as die doelwit van ontwikkeling in arm dele vasgevang bly in die onwil van diegene in die ryker wêrelddele om af te skaal ter wille van die opskaal van ander, sal die dilemma al ernstiger word. Maklik sal die nodige verskuiwing van dink en doen in sowel ryk as arm lande nie wees nie. Maar om die uitdagings van wêreldwye armoede en groot ongelykhede aan te pak deur net harder te probeer om die huidige ekonomiese praktyke nog vinniger en nog verder uit te brei, sonder om die vergroting van ekologiese beperkings in berekening te bring, lyk my gedoem tot mislukking. Hedendaagse China is reeds onmiskenbare tekens aan die toon hiervan.
Daar word gereeld verskeie internasionale ooreenkomste in dié verband gesluit, maar dit lyk of die mikpunte selde behaal word. Waarom is dit so moeilik om die doelwitte te behaal?
Die antwoord hierop is grotendeels geleë in die wyse waarop nasionale state tot stand gekom het en polities bestuur word sedert die aanbreek van die moderne tydvak. Nasionale eenhede of lande streef afsonderlik na politieke en ekonomiese mikpunte wat basies net elkeen se eiebelang bevorder.
Met uitsondering van die gekniehalterde VN vind werklik gevolgryke internasionale samewerking op enige van hierdie twee terreine (met hoë uitsondering) net in spesiale gevalle plaas, soos om gedeelde militêre bedreigings die hoof te bied of om bilaterale of multilaterale ekonomiese betrekkinge aan te knoop.
Wanneer dit kom by uitdagings wat effektief slegs gesamentlik en op globale vlak aangepak kan word, bestaan daar geen politieke meganisme of instelling wat dit kan uitvoer nie. Ten opsigte van hedendaagse globale probleme bly dit gevolglik tot dusver net by vae en versigtig-geformuleerde doelwitte of gesamentlike verklarings van voorneme, waarby lande hulle optrede met meer of minder (of geen) inspanning kan aansluit. Die wêreldwye ekologiese kwellinge van ons tyd, met klimaatsverandering voorop, is nou juis so ’n globale probleem.
Die ongelyke magsverdeling tussen lande bemoeilik die situasie nog verder, soos duidelik geblyk het uit die bykans nuttelose resultaat van die VN se Kopenhagen-spitsberaad oor klimaatsverandering in 2009, waar die VSA ’n beslissende rol gespeel het om enige effektiewe inisiatiewe vir gesamentlike aksie lam te lê.
Is dit regtig prakties haalbaar om die huidige markgeoriënteerde tradisionele industriële ekonomie aan te pas om in harmonie met die omgewing en menslike gesondheid te floreer, en hoe word dit gedoen? Wat lê regtig agter die wêreld se skynbare onvermoë om ’n balans tussen ’n gesonde ekonomie en ’n gesonde omgewing te bewerkstellig? Kortom: Hoe groei die ekonomie volhoubaar in ’n omgewingsvriendelike wêreld sonder om die winsmotief waaroor besigheid gaan, nek om te draai?
Nou kom ons by wat Nederlanders die “hamvraag” noem. Hierin kom alles wat hiervoor stuksgewys aan die orde was, finaal in een groot bondel bymekaar. Laat ek dit dan ook sommer voorop stel dat ek geen eenvoudige antwoord hierop het nie.
My basiese uitgangspunt is die bekende een: dat onbeperkte groei van enigiets onmoontlik is as die benodigde insette daarvoor beperk is – ’n elementêre fisiese en organiese realiteit. Wat sekerlik debatteerbaar is, is of die aarde se draagkrag vir menslike benutting daarvan inderdaad beperk is en of dit maar net afhang van die vind van gepaste tegnologie. Hieroor loop menings nog gedeeltelik uiteen, maar ’n meerderheidskonsensus onder werklike kenners is aan die groei dat toegang tot vele hulpbronne – soos bewerkbare grond of fossielbrandstowwe – grense nader, of al moeiliker en duurder word om te bekom (soos aanvanklik ook genoem is).
Daarby moet sekerlik ook bygetel word die reaksie van die die natuur op alles wat so argeloos as besoedelende uitskot van ons ekonomies praktyke daarin gestort is. So wat beteken dit alles nou?
Jou vraag suggereer dat twee uitgangspunte vooraf aanvaar moet word: eerstens die geloof (en dis wat dit eintlik is) in die noodsaak dat ekonomiese groei, soos tans verstaan, volgehou moet word as die enigste pad vir voortgesette voorspoed en welstand, en tweedens dat die huidige markgeoriënteerde tradisionele industriële ekonomie die enigste manier is om dit te bewerkstellig.
Beide hiervan moet diepgaande bevraagteken word as kenmerke van ’n era in die geskiedenis wat nou aan die verbygaan is. Dis tyd om wakker te word uit die voortsetting van ons ongenuanseerde groeidrome, soos vele denkers vandag ook skryf. Die mensdom ly nog aan “doelverdwasing” (“when conviction is prized over information”) as dit by die mikpunt van onbeperkte ekonomiese groei kom, en dis nodig dat ons loskom uit die greep van hierdie onbereikbare en nou skadelike doelwit.
Hoe sou jy dus die verskil tussen groei en ontwikkeling beskryf?
Die realiteit van ’n “volgeworde aarde” noop ons om te onderskei tussen groei as blote uitbreiding of vergroting enersyds en ontwikkeling andersyds as die ontplooiing van inherente moontlikhede, waar laasgenoemde ook fokus op wat wel moet groei en wat nie. Blote groei lyk my nou al moeiliker moontlik, maar ontwikkeling nie. Ontwikkeling appelleer op die aanwending van ons vernuf en verbeelding vir die vind van wyses om goed te leef terwyl ons al minder materiële middele gebruik.
Maklik gedoen? Nee, maar glad nie onmoontlik nie. Soos hiervoor al gemeld, moet die soort produkte en wyses van produseer wat in ons egte (en nie gemanipuleerde nie) menslike behoeftes voorsien, ook heel nuut bekyk word.
Geleenthede vir betekenisvolle werk en gesonde winsmaak in nuwe vorme van produksie lyk my groot genoeg om ’n heel nuwe ekonomiese dinamiek te verskaf, soos wat al duideliker blyk uit die vordering met alternatiewe energiebronne. Die winsmaatstaf hoef dus nie uitgeskakel te word nie, maar moet wel in diens en in lyn gebring word met die meer onvattende maatstawwe van volhoubaarheid, meer billike verdeling en algemene welsyn, eerder as om die stootskraper te wees waarvoor alles en almal moet plek maak en offers aan moet bring.
Die spreekwoord lui: “Money makes the world go round.” Maar dit lyk of daar veel meer as geld nodig is om volhoubare ekonomiese groei te verseker?
Net soos met die bedreiging van totale vernietiging deur kernwapens tydens die Koue Oorlog-era staan ons vandag weer voor keuses wat die toekomstige welstand van die hele mensdom inhou. Ek het reeds aangevoer dat die idee van volhoubare “groei” eintlik kontradiktories is en nie meer sin maak nie en moet plek maak vir ’n meer beskeie maar haalbare mikpunt van volhoubare lewenstog (“livelihood”) vir almal. Aan middele en vernuf is daar nie ’n tekort nie. Ons manier van dink oor die toekoms het egter nog nie voldoende geskuif om die nuwe realiteit van ’n wêreldwye ekologiese knyptang ernstig op te neem nie. Wat nog nie voorop in die openbare bewussyn en gesprek staan nie, is dat ons nie meer ons hoop en vertroue vir goed leef kan vestig in die vals verwagting dat meer van wat ons ekonomies tot dusver gedoen het, net so kan aanhou nie.
Dis nodig dat ons insien dat ons ekonomiese aksies lewe moet dien en versorg en nie bloot geldelike wins nie, want laasgenoemde is maar net een van die voorwaardes vir voortgang en nie die doel daarvan nie.
Verder moet aanvaar word dat die gevolge van ’n vol aarde nie iets is waaraan dié wat meer het, hulle kan verskans en vir die volgende geslag laat nie. Ons is nou almal saam in hierdie predikament en sal nuwe denk- en doenwyses moet omarm wat veel meer bou op deelneming van en samewerking tussen ryk en arm, magtiges en magteloses. Ten slotte is ons tog maar net rentmeesters van dit wat aan ons almal toevertrou is. Die noodsaaklikheid van ’n keuse vir ’n ingrypende groen pad vorentoe lyk my duidelik.


