
Grensloos
Wilna Andriaanse
Jonathan Ball
ISBN: SKU 9780624095583
Sabine is ’n vlieënier wat toeriste in die Okavango-delta tussen bestemmings vervoer. Sy is egter ook betrokke by die redding van wilde diere wat deur stropers beseer of vermink word en dis hier waar sy nie altyd onderskei tussen reg en verkeerd nie. Sy het nie ’n bang haar op haar kop nie, moontlik omdat sy die dood nie vrees nie.
Op 33 is Sabine so menssku dat sy die mense wat sy naby haar toelaat, op een hand kan tel. Sy was vyf toe haar Franse ma in ’n motorongeluk dood is en het op ’n plaas grootgeword saam met haar ontoeganklike pa en twee afknouerige broers.
Wanneer sy op ’n dag ’n gereelde kliënt saam met sy gaste by sy luukse lodge gaan aflaai, word hulle begroet deur gemaskerde mans. ’n Skoot deur ’n senuweeagtige wag veroorsaak ’n bloedbad wanneer die hele personeel afgemaai word. Sabine word saam met die gaste gevange geneem.
Max lyk soos jou tipiese Camel-man. As voorste internasionale onderhandelaar het dit sy lewenstaak geword om mense aan die praat te kry. Behalwe die een wat weggekom het, wat jare tevore een nag uit sy warm bed opgestaan en só verdwyn het dat hy haar nie kon opspoor nie. Tot nou, waar hy die een is wat moet onderhandel met die mense wat haar gyselaar hou.
Byna ses jaar moes Wilna Adriaanse se aanhangers wag vir ’n nuwe roman uit haar pen. Net soos Vlug, wat in die DRK afspeel, mik sy met Grensloos ook landuit, na die Okavango-delta, soos reeds genoem. Wilma, wat in die Kalahari gebore is, is gewoond aan die “buitewyke”: Sy en haar man, Deon, woon al jare in Botswana.
Sy vertel in ’n Huisgenoot-onderhoud dat sy en hy eenkeer Maun toe was vir ’n naweek. Die aand het hulle saam met ’n vriend gaan kuier en sy beland aan tafel langs ’n jong vrouevlieënier. Dié het haar vertel hoe dit voel om in die Okavango-delta te vlieg. Vir Wilna het dit gevoel asof die heelal vir haar iets sê.
Uit dié suinige influistering van die muse het sy ’n verhaal begin weef wat uiteindelik haar jongste spanningsroman, Grensloos, sou word.
Op die agterplat van Grensloos word verwys na die “interessante en kleurryke” karakters vir wie Adriaanse so geliefd is en dis inderdaad so.
Sy bevolk haar verhaal met sulke volronde karakters dat ’n mens selfs die mees ondergeskikte een mis wanneer hul tyd op die blad verby is. Die hoofkarakters werk hulle nie dood om die leser se aandag te hou nie, want óm hulle wemel dit van newekarakters wat gul bydra tot die vlot verloop van die verhaal.
........
Sy bevolk haar verhaal met sulke volronde karakters dat ’n mens selfs die mees ondergeskikte een mis wanneer hul tyd op die blad verby is. Die hoofkarakters werk hulle nie dood om die leser se aandag te hou nie, want óm hulle wemel dit van newekarakters wat gul bydra tot die vlot verloop van die verhaal.
.........
Daar is selfs een wat nie ’n enkele sin dialoog kry nie en wat die leser om die waarheid te sê nooit ontmoet nie. Sy is Denise, die kwaai vrou van Bertie, Max se kollega wat al jare sy aan sy saam met hom werk. Denise is ’n uitstekende voorbeeld van Adriaanse se vermoë om ’n karakter te skets dat jy sweer jy sal haar in die straat herken. Bertie sê: “Fok, om met haar getroud te wees is soos om deur ’n veld vol landmyne te loop. Dit raak soms net te veel. Vanoggend kan ek eerlik sê ek kan nie wag om by die huis te kom nie. Die oumas kan besluit wie vanaand die tweeling kry, want eers gaan ek haar goed die bliksem in maak, dan gaan ons die hele nag opmaak.”
Ander karakters wat die grense van hul kameerolle oorsteek om die leser verknog te maak aan hulle, is Boitjie en Sara, die veldmense wat Sabine grootgemaak het soos hul eie, en Letsi en Ezra, Sabine se beste vriende met wie sy op 13 maats gemaak het toe hulle in Zimbabwe skoolgegaan het.
Met dieselfde inkleurvermoë skets Adriaanse die natuur waarin haar roman afspeel. Só beleef Sabine dit wanneer sy snags oor die delta en die panne vlieg en ’n “magiese dimensie” betree: “Sulke nagte is dit asof die natuur speletjies met jou oë en brein speel. Dis wanneer ’n bos ’n bok word en ’n olifant ’n boom. Dalk is alles in die nag net visioene, dalk verdwyn grense dan en soggens kan alles besluit watter vorm hulle weer aanneem. Dalk is sy sommige nagte ’n jagluiperd, ander ’n doringboom.”
Dié ongerepte wildernis is een van die skrywer se “allergunsteling-plekke”. Sy sê dit het aan die een kant soms vir haar gevoel asof sy heiligskennis pleeg deur so ’n verhaal daar te laat afspeel. Maar aan die ander kant hoop sy dat dit lesers bewus maak van hoe besonders hierdie wêreld is.
Grensloos is ’n onvermydelike titel. Dit dui op Botswana, ’n land sonder binnelandse grense waar mens en dier langs mekaar leef. Omdat daar nie wildtuine is nie, kan ’n mens op enige plek wilde diere teëkom. Daar is ook Sabine wat haar nie aan bande laat lê deur grense nie en wat die dood bo opsluiting sou verkies. Die boewe in die verhaal is ewe grensloos en steur hulle nie aan die wette van die mens of die natuur nie.
Vir my (’n sensitiewe leser) lê die plesier van Grensloos daarin dat die spanning – en dit loop dik! – nie afhanklik is van die maksimum hoeveelheid bloed en boosheid wat die skrywer kan bedink nie. Die plesier lê in die pure leesgenot van ’n puik vertelde storie.
Lees ook:

