Grapkas-kompetisie: ’n onderhoud met Wikus du Toit

  • 0

Wikus du Toit, toesighoudende vervaardiger by kykNET en die projekbestuurder van Grapkas, gesels met Naomi Meyer oor dié nuwe kykNET-projek.

Hierdie nasie het nodig om te lag! Vertel ons asseblief van kykNET se Grapkas-kompetisie.

Dis nie net hierdie nasie wat nodig het om te lag nie, dis die hele wêreld! kykNET se Grapkas is ’n nuwe broeikasprojek waarin ons hoop om nuwe skryftalent vir TV-komedies te ontdek. Ons gaan kenners in die bedryf gebruik om die skrywers te help om van ’n loklyn en ’n opsomming al die pad tot by ’n 24-minuut-teks vir ’n komedie-loodsepisode te vorder. Hopelik ontgin ons in die proses ’n paar nuwe komediestemme en dalk ’n briljante nuwe reeks (of twee).

Hoe erger en hoe meer hartseer, hoe snaakser. Waarvoor lag Suid-Afrikaners? En wat is aanvaarbaar om as konsepte voor te lê?

Suid-Afrikaners lag, soos die res van die wêreld, vir wat herkenbaar en bekend is. ’n Eerlike weergawe van wat hulle herken. Dis hoekom humor baie keer sosiaal en kultureel is. Maar die essensie van die komiese lê altyd in die universele. Komedie gaan vir my oor eerlikheid en waarheid. Ons moet begin om komediereekse amper soos dramas aan te pak. Soek die waarheid en gee dit eerlik weer. Komedie vertel die waarheid, en spesifiek, vertel die waarheid van menswees.

Komedie moet altyd die grense van politieke korrektheid ’n bietjie toets, maar die lyn is baie fyn by Afrikaanse kykers oor waarvoor gelag kan word en wat aanstoot gee. Politiek, seks en godsdiens is moeilike toffies om aan te pak en moet eerder vermy word.

Vir Grapkas kan mense binne enige komiese genre werk – swart komedie, galgehumor, sitkom, satire of parodie. Die keuse is joune!

Enigiets is dus aanvaarbaar – maar onthou – jy maak altyd komedie vir ’n gehoor en as daai gehoor jou nie snaaks vind nie, of aanstoot neem, dan het jy ’n probleem.

As jy ’n idee het van iets wat vir jou snaaks is, is dit soms moeilik om dit op skrif te stel – mens lag dikwels vir iets waarvoor mens nie mag lag nie, of op plekke waar mens moet stil wees. Hoe skakel mens dit om na ’n teks?

Die belangrikste elemente vir ’n goeie komedieteks is ’n vars en unieke invalshoek, herkenbare, eerlike karakters, vinnige, vlymskerp dialoog en struktuur. En ek dink amper die belangrikste een is struktuur. Humor, grappe en komedie werk altyd binne ’n tradisie van ’n probleem wat opgestel word en iemand probeer, sonder die nodige vaardighede, daardie probleem oplos. Op ’n mikrovlak werk elke grap ook binne ’n struktuur – dit word opgestel en dan is daar ’n komiese wending wat gewoonlik verrassend is. Dit veroorsaak dat ons lag, omdat ons iets nie verwag het nie.

Moet die humor ook sosiale kommentaar lewer? Of is julle net op soek na algemene humor, iets wat mense laat lag en vergeet?

Dit hang alles van die genre af. Satire en swart humor lewer baie keer kommentaar; sitkom en klug probeer nie ’n sosiale probleem uitlig deur middel van humor nie. Die belangrikste is dus om te besluit watter genre die beste voertuig vir jou tipe komedie gaan wees. Sal dit ’n familie in ’n sitkomstyl wees, of dalk twee kouspoppe wat in ’n laai bly wat satiries omgaan met die politieke landskap van die land? Die moontlikhede is sonder einde. Wees nuut, Wees vars, maar bowenal: wees eerlik en herkenbaar.

Laat weet  asseblief algemene riglyne en reëls van hierdie kompetisie? En kan mens iets wen?

Almal mag inskryf op kykNET se webblad deur ’n loklyn en ’n reeksopsomming van 500 woorde in te stuur. Daarna gaan ons die 12 kies wat met ons mentors gaan begin werk en hulle gaan onder leiding elk ’n “beat sheet” skep – dis ’n gedetailleerde opsomming van elke komiese narratiewe oomblik van elke toneel. Dis die bloudruk of argitektoniese plan van die 24 minute van elke episode. Daarna kies ons agt en hulle skryf elkeen ’n 24-minuut-episode gegrond op hulle invalshoek en “beat sheet”, waarna ons die top vier tekste kies. Daardie vier tekste is ons wenners en hulle wen die feit dat ons ’n loodsepisode van hulle teks gaan maak. Die vier loodsepisodes sal voor ’n fokusgroep gespeel word en dan gaan ons kyk wat werk en wat werk nie – en wie weet, miskien word jou loodsepisode ’n volledige reeks.

Hier is die skakel: https://kyknet.dstv.com/wen/grapkas-kan-jy-die-land-laat-lag.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top