Wikus du Toit is gebore op Bethal, waar hy sy matriek aan die Hoërskool Hoogenhout behaal het. Na sy nasionale diensplig aan die Valhalla-lugmaggimnasium voltooi hy sy Graad VIII Musiek aan Unisa en skryf in vir die Nasionale Diploma in Drama aan die Technikon Pretoria. Hy behaal hier ook sy BTech Drama en sy MTech Drama (cum laude) oor die ontwikkeling van kabaret in Suid-Afrika. Du Toit wen onder andere twee FNB-Vita-toekennings vir sy spel in El Grande de Coca-Cola en play@risk. Hy ontvang ook in 1996 die De Kat-prys vir sy debuut op die KKNK met sy kabaret Ses. Hy wen in 2005 die Nagtegaal/KKNK Teksskryfkompetisie vir sy kabaret 10 gesprekke oor die man wat nie wou huil nie. Die eerste Afrikaanse musical, Antjie Somers, waarvan hy die medekomponis was, wen ’n Fleur de Cap en hy wen ook die ATKV Crescendo nasionale sangkompetisie. Du Toit het kursusse in koormusiek aan die Universiteit van Graz in Oostenryk bygewoon, en ook in sang aan NYU onder die meester van die musiekblyspel, John Kander, wat verantwoordelik was vir werke soos Chicago en Cabaret. Hy is genomineer vir twee Smeltkroes-pryse vir nuwe tekste by die Aardklop-kunstefees en palm ook twee Aardvark-nominasies in vir nuwe innoverende werk in play@risk en vir sy teks en regie van Elzabé Zietsman se vertoning smallchange. Du Toit was al in meer as 50 verhoogproduksies, 10 TV-reekse en vier films. Hy het ook op InniBos-kunstfees se keuringspaneel gedien en was ’n beoordelaar vir die KKNK se Kanna-pryse. Du Toit is ook ’n SAMA-beoordelaar.
Hy was senior lektor in Filmmusiek aan die Suid-Afrikaanse Filmskool (AFDA) in Auckland Park en woon in Killarney, Johannesburg. Hy is tans toesighoudende vervaardiger by kykNET.