
©David Morris
Wat is die “normaal” van ’n protesaksie, soos wat Grabouw nou belewe? Dis die ritmiese woer-woer van helikopters. Dis die knal van skote, gepaardgaande met die dieper, dowwer plof van petrolbomme wat lanseer word. Dis die sensasie van traangas wat brand in jou neus en op jou tong. Dis die bitter reuk van brandende bande en geskroeide teer. Dis die ontploffing van gasbottels. Dis die aangesig van borrelende swart wolke wat die blou lug skend, en die wete dat dit nog ’n vernietigde gebou beteken. Dis die gespanne uitdrukkings op elke gesig wat jy teëkom, die gevoel van beklemming elke keer as ’n voertuig met skreeuende bande aangejaag kom. Dis die onsekerheid waarmee mense saans gaan slaap, skoene en klere reg langs die bed ingeval jy vinnig weer moet opspring en aantrek. Dis die visie van polisiebeamptes met haelgewere oor die skouer, skilde gereed gelig, hul gesigte versper deur beskermende helms. Dis die geluid van rigiede voorwerpe wat kontak maak met sagte vlees.

©David Morris
Daar is niks normaal omtrent ’n dorp wat protesteer en in konflik kom met dié in gesag nie.
Daar is veral niks normaal daaraan wanneer die protesteerders ’n paar weke tevore in hulle honderde aangery en op die dorp afgelaai is, in ’n beboste gebied, met geen water, geen sanitasie, geen dienste en absoluut geen voorsiening vir menslike habitasie nie. Die area waar hulle afgelaai was, is naby die N2 en ver van enigiets anders. Binne dae het die gebied ’n naam gehad: Blikkiesdorp, of Silvertown, na aanleiding van die materiaal waarvan die hokke gemaak is.
Die konflik was feitlik onmiddellik, toe die nuwe intrekkers water en elektrisiteit begin steel het van die inwoners van ’n laekostebehuisingsarea aan die ander kant van die pad.
Enige inwoner van Grabouw wat Somerset-Wes of Kaapstad toe wil gaan, moet verby Blikkiesdorp ry. Toe ek op 6 April daar verby ry, op pad lughawe toe, was daar twee hokke en die pale ingekap vir ’n verdere twee hokke. Toe ek op 12 April van daardie reis terugkeer, was daar miskien tien hokke. Op 17 April het ek weer op reis gegaan. Toe ek op 24 April terugkeer, het ek met skok ’n dorp met honderde huise, meer as 1 000 inwoners en selfs ’n winkel aangetref. Sedertdien het daar elke dag net meer mense ingetrek.

©David Morris
Daar was reg van die begin ontevredenheid van die inwoners van Grabouw. Daar was kommer oor die nabyheid van die nedersetting aan die N2, en die moontlike gevaar indien daar klippe na motoriste gegooi sou word. Daar was ontevredenheid van gevestigde inwoners wat alreeds jare op ’n behuisingswaglys is, omdat hulle gevrees het die nuwe intrekkers gaan met geweld aanspraak maak op huise.

©David Morris
Beide daardie vrese is intussen bewaarheid. Die N2 is sedert Maandagaand gesluit, omdat die protesteerders versperrings in die pad geplaas en motoriste met klippe bestook het. In samesprekings met die polisie het die protesteerders, onder aansporing van Andile Lili, hy van die lughawe “poo”-protes, aangedring daarop dat daar water en elektrisiteit aangelê moet word na Blikkiesdorp. Indien dit nie gebeur nie, dreig hulle om die Eskom-kragsentrale aan die oorkant van die N2, wat die bystandkragreservoir vir die hele Suid-Afrika is, aan die brand te steek. In effek dreig hulle om die hele land gevange te hou.
Op daardie stadium het hulle alreeds die splinternuwe geboue en voertuie van die verkeersdepartement en toetssentrum afgebrand en al die toerusting gestroop. In onderhoude wat die protesteerders toegestaan het aan beide TV en nuusblaaie, word daar beweer dat hulle lank reeds wag op behuising. ’n Woordvoerder van die Sekhona-groep het ook hulle steun aan die protesteerders toegesê.

©David Morris
Dit laat verskeie vrae by my ontstaan. Ek weet dat daai mense nie inboorlinge van Grabouw is nie. Ek sal inderwaarheid verbaas wees as ek moet uitvind dat enige van hulle langer as hoogstens ’n maand in die dorp is. Hoekom het hulle Grabouw uitgekies? Wie het die beweging van die mense georkestreer? Wie finansier die aankoop van die hokke? Ek verstaan dat een hok teen ongeveer R2 500 verkoop. Mense kom na bewering vanaf die Oos-Kaap, asook Sir Lowry’s Pass en Khayelitsha. Hoekom sal hulle kies om te kom na ’n dorp wat nie die nodige infrastruktuur het om die bestaande bevolking te dien nie, ’n dorp wat vir hul ongeskoolde en halfgeskoolde arbeid slegs seisoenale werk kan aanbied?
Die algemene opinie is dat dit deel van ’n politieke komplot is om die DA-beheerde munisipaliteit te destabiliseer, sodat die ANC kan oorneem na die volgende verkiesing, wat geskeduleer is vir Augustus hierdie jaar.
Die politieke retoriek hierdie week is dat daar rassespanning is, dat swart en bruin teen mekaar veg, en dat die ANC die kampvegters vir vrede en versoening is. Daar word gerugte versprei dat die DA die mense hierheen gebring het. Dit maak nie sin nie. Hoekom sal die DA sy eie munisipaliteit destabiliseer? Wat is die moontlike end game daarmee?
En as die DA die meesterbrein agter die hele plan is, wat maak Lili en die Sekhona-groep hier? Ek vind dit baie moeilik om te glo dat hulle kop in een mus met die DA sal wees.

©David Morris
Dat hulle wel hier is, laat natuurlik ander vrae opkom oor die manier waarop politiek en aktivisme deesdae bedryf word. Is Lili ’n rent-an-activist, beskikbaar vir wie ook al die meeste betaal? Is hy deel van ’n georkestreerde groep wat van dorp tot dorp gaan en munisipaliteite destabiliseer? Kan ons verwag om binnekort een of ander #MustFall-aktivis ook in ons dorp te sien?
Die groep word geskilder as ’n leierlose groep, elkeen met sy eie persoonlike redes hoekom hy toevallig spesifiek nou na spesifiek hierdie dorp gekom het. Moet ek regtig glo dat meer as 1 000 mense van verskillende gebiede net skielik binne ’n kwessie van weke die dringende behoefte gekry het om te trek na ’n dorp waar hulle niemand ken en waar daar geen werk of ander rede vir hulle is om daar te wees nie?
Moet ek regtig glo dat hierdie leierlose groep op hulle eie op die idee gekom het om munisipale eiendom, skole en nasionale hulpbronne vir vernietiging te teiken? En dat Lili en ander toevallig op die toneel was? Regtig?

©David Morris
Is dit nie meer waarskynlik dat ’n groep of groepe wat voordeel sal trek uit ’n dorp in warboel, agter die skerms sit en toutjies trek nie? Is dit nie meer waarskynlik dat ’n groep wat onder druk is kort voor die verkiesing, die aandag van hulle eie interne krisisse wil aftrek deur eksterne krisisse te skep nie?
Die enigste verloorders, elke keer, is die mense. Ek is seker daarvan die oorgrote meerderheid van die mense van Blikkiesdorp is ’n beter lewe belowe. Dis hoekom hulle getrek het. Dis hoekom hulle in die bos, sonder ablusie, sonder water, sonder elektrisiteit, kom woon het. Hulle kon nie voorsien het dat hulle as pionne in ’n politieke spel gebruik sou word nie.
Wie ook al mense so sinies en gewetenloos kan gebruik, verdien nie ons stem nie.
Blikkiesdorp se mense verdien beter. Grabouw se mense verdien beter.
Ons mense verdien beter.
- Foto's is onder kopiereg van David Morris en is geplaas met sy toestemming.


Kommentaar
Bettina, dankie vir jou insiggewende opsomming oor hierdie kommerwekkende situasie. Op die end word ons almal hierdeur geraak.
Uitstekende artikel. Feite mooi uitgelig. Sal dit beslis verder op FB share. Die waarheid moet uit.
Was vir sowat vier jaar ook ’n Grabouw-inwoner en het die hele vallei en sy mense geniet, soveel so dat ek permanente burgerskap oorweeg het ... ’n mooi plek met betaamlike mense wat deur magsigtigheid en bloots onmenslike gedrag vuil gesmeer word ... die wêreld is ons woning nie, waarom so uitvaar oor die tydelike wat verganklik is. Oraloor is daar protes-aksies en soms onrealistiese demands ... maar ’n ope vraag is, is dit mens of is daar dalk ander magte betrokke? Die woord waarsku ons van hierdie tye wat sal kom en erger wat daaruit sal spruit ... so dalk moet ons in geloof aanvaar dat die eindtyd op hande is en ons dalkies voorbereid moet wees vir ’n nuwe aarde en hemel soos voorgeskryf. Selfs hierdie dinge sal verbygaan en die onregverdige sal meer onregverdig word ... die eerste laaste. Wie dan ook al in kommer al hierdie dinge beleef plaas gerus jul hoop in God wat alwetend is en die uitkoms ken ... mense van Grabouw is aan Hom bekend soos die res van die wêreld ook. Sterkte.
Felton, gaan bly daar en bid hulle reg, jy het wonderlike geloof wat die samelewing kan red - ek is ietwat meer skepties!
Daar’s geen ander manier as om op te staan en nee te sê vir nog ’n plakkerskamp nie. Ons as Grabouwers is keelvol vir wat tans aan die gebeur is. Nietemin, ons het besluit om hulle teen te staan omdat ons as inwoners aan die korste end moet trek omdat ons nie werk en behoorlike behuising kan kry nie. Byvoorbeeld van ons mense is al jare op ’n waglys maar kry nie huise nie, maar inkommers en besetters kry.
Lyk dit of hier wette in die land is om rampokkers vas te vat? Ek dink nie so nie. Dit het tyd geword dat hierdie regering vergeet wat by Marikana gebeur het en mense wat die wet oortree met alle mag terugslaan. Ek wil ook weet of brandstigting net van toepassing is op `n klein minderheid van die Suid-Afrikaanse bevolking? Wel dis die gevolgtrekking wat ek maak van die optrede van hierdie vernielsugtige massas wat basies geen bydrae maak om die land in die rigting van moontlike samewerking en vooruitgang te plaas nie.
Well said.
Baie interessant. Wat ons ander oor die nuus hoor, is dat inwoners oor swak dienslewering betoog. Wat jy sê, is dat dit nie inwoners is nie, maar inkommers. Ek sal enigiets van die ANC glo.
Ek het lankal die gevoel dat die belhamel agter die skerms gearresteer word.
Skrikwekkend is ook - hoe ook al die Grabouw-ding uitdraai – daar is derduisende hawelose mense in die land wat uit desperaatheid oornag op enige plek sal toesak as daar ’n greintjie hoop op permanensie is waar hulle ’n soort van tuiste en toekoms kan probeer bou ... wat hierdie land dringend nodig het is ’n reuse kibbutz/werkkolonie-tipe projek.
Ek ondersteun die idee van 'n kibbutz-stelsel wat dwarsdeur die RSA geïmplementeer moet word. Sal geleenthede skep waar werklose mense enige tipe werk kan doen soos oa steenmakery, verbouing van gewasse ens ens. Dit moet deur die staat gedrewe word en almal wat om die stede plak moet in die kibbutz-nedersettings gevestig word sodat hulle kan werk en hulle brood verdien en sodoende hulle menswaardigheid bevorder.
Uiteindelik 'n berig wat nader aan die waarheid is. Polisie hoop om die N2 later vandag oop te stel maar tyd sal leer.
Dankie!
Poëtiese inleiding, ook weldeurdag en goed geskryf, geluk hiermee! Insette soos die plaas die vinger op die pols en spreek die regte kwessies aan. As belanghebbendes om 'n ronde tafel kon sit in 'n poging (om onder bemiddeling van Betinna self) die probleme te probeer aanspreek en oplos, dink ek daar sal goed gevorder kan word ... veral omdat Betinna self 'n inwoner is en die nodige statuur het. Dalk tyd om voor te vat?
Uiteindelik word die regte feite weergegee! Ons mooi rustige dorpie is maar net nog ’n teiken van ’n gewetenlose groep politieke uitbuiters. Ek is so jammer vir ons mense wat so in vrees en onsekerheid moet leef. Dankie Bettina dat jy die waarheid ontbloot het.
Baie dankie vir die insiggewende artikel. Nou weet ons hier in die binneland ook wat aangaan. Jou artikel is so geskryf dat dit nie moeilik is om "mense agter die skerms" te identifiseer nie.
Kan iemand dalk, 'n sielkundige moontlik, vir ons verduidelik waarom protesteerders die motoriste op die N2 wil benadeel, of verbygaande vragmotors in Bloemhof aan die brand steek. Die motoriste en die eienaar van die uitgebrande vragmotor het mos niks te doen met "swak dienslewering" nie! In my tyd is dit as sabotasie bestempel!
Die onwettige sluit van nasionale paaie, die ontwrigting van universiteite en die afbrand van skole en staateiendom is sabotasie en moet as sulks behandel word - dit moet met geen verdraagsaamheid, geen borg en lang tronkstaf uitgeroei word anders neem die anargiste oor en ons hele skip met anargiste en al gaan onder.
Die ANC hou nie van verloor nie - veral nie demokraties nie - hul reaksie is om dan weer terug te keer na die bevrydingsstrydtaktieke van ontwrigting,intimidasie en vernietiging. Hemele behoed ons want wolf is in hierdie geval skaapwagter.
Maak baie bekommerd sulke situasies. Dankie vir die uitstekende inligting; word opreg waardeer.
Wat my pla is die duisende pendelaars wat oor die berg werk en nou ’n week se loon verloor!
Slegs op my werf is drie persone geraak wat nie kon werk nie.
My vraag is of het die Overberg Munisipaliteit ’n mandaat om onwettige gronddiefstal te bekamp?
Indien wel het hulle ’n eenheid wat paraat en gereed staan vir onvoorsiene gebeure soos die?
Wie betaal vir die ontruimingsoperasies en herstel van eiendom?
Waar moet die onvoorsiene fondse vandaan kom om die mense te hervestig en al die skades te herstel?
Nee ek sien’ baie duidelike onderduimsheid êrens skuil ! Dit is waarom die verskaffing en bewys van adresse nodig is.
Tot en met Daardie Tyd sal Die ANC se vuilspel soos ’n goue draad loop deur die verkiesingsklug!
Om Die influx te stop sal direk afhang daarvan dat ’n vaste adres en bewys daarvan ’n voorvereiste is vir registrasie om te kan stem in wyke en areas. As daar Geen Redes is vir massas onskuldige pionne om ontwortel te word nie ,sal die onding en onreg dalk ’n stil dood sterf !
Dankie vir die akkurate refleksie van die situasie, hou in gedagte dat ’n soortgelyke beweging van mense ook plaasgevind het net voor die eerste verkiesing in 1994 en voortgeduur het net op ’n kleiner skaal.
Ek wens jou geluk met die artikel. As die regte mense dit kan lees ...
Hoekom is daar geen kommentaar van TWK se "ward councillor" vir die area nie. Hy sal mos die waarheid weet.
Baie dankie vir die insiggewende artikel. Skokkende werklikheid. Dit laat my ook besef dat Grabouw eintlik net 'n voorbeeld is van wat in ander dorpe in die land gebeur: destabilisasie d.m.v. 'n derde (ANC-gedrewe?) mag. Hierdie keer is die protes net "nader aan die huis". Nou skenk ons meer aandag.
Goeie artikel. Die vorige regime is net deur die huidige regime vervang. Ek noem dit "selfde poeding, net ander sous" . Die Amerikaners het 'n mooi woord vir hul buitelandse beleid nl "constructive engagement". Die ANC regering doen presies wat hulle nog al die jare tydens die sokkel (struggle) gesê het hulle gaan doen, "we will make this country ungovernable", en hulle is besig om dit te doen. As jy nie tevrede is met 'n situasie nie, verdeel die bevolking en saai onmin, onrus en agterdog. Dit is die oudste "triek" in die boek. En weet julle wat, die vorige regering is en die huidge regering gaan in die gat gebyt word. Ek lag my tanne af.
This is all n plan to destabilize CT. It is as clear as dailylight!
Please please react! Prevent what has been happening in the rest of SA (Gauteng)!to happen there!
This governnent wants it all! At all costs!
Uitstekende berig maar behalwe dat dit in die "verkeerde" taal is sal dit weereens nie deur die regte mense gesien of gelees word nie.
Die regering (plaaslik en nasionaal) is direk verantwoordelik vir hierdie gemors wat presies gaan uitdraai soos die plakkersdorp Dunoon langs die N7.
Dis ideale posisies langs strategiese paaie om die land gyselaar te hou wanneer iemand iets wil demand.
Die regerings sal nie nou optree nie want dan verloor hulle stemme en na die verkiesing is dit te laat so intussen is die polisie maar die vark in die verhaal.
En terwyl die land brand stroom die onwettige immigrante oor die grense en die ekonomie ken net een pad ondertoe.
Mooi man.
Baie dankie vir jou artikel. Ons wonder almal wat daar aan die gang is.
Indien die misdaadintelligensie-afdeling asook wat vandag in die plek van Nas inteligensie daargestel was, sou ons die antwoorde op die vrae gehad het. Feit is dat die instansies vir alle praktiese doeleindes disfunksioneel is.
Ons het teveel SAKP-mense in die regering. Ek hoef nie meer te sê nie. Gaan lees bietjie na hoe die mense opereer dan sal jul verstaan. Dit is onder andere hoekom die onderwys in so ’n toestand is.
Bettina, 'n goeie deurdagte artikel. Ek het 'n paar vrae vir oorweging. Wie se grond is dit? Sekerlik moet dit aan iemand behoort.
Tweedens, as hulle aangery is om teen die DA te stem, hoe gaan dit gebeur as hulle nie geregistreer is vlg adres nie?
Waar is die politieke leierskap om hulle volgelinge tot kalmte te maan? Tony Ehrenreich en sy gevolg is doodstil. Mev le Roux wie verlede week nog op die blad gesê het sy is 'n trotse ANC-lid en leier in Grabouw.
Dankie Bettina, vir hierdie nugtere artikel. Hier is 'n nare ding aan die gang.
Daar moet 'n petisie opgetrek word dat alle protesoptogte onwettig verklaar word, daar moet 'n duidelike verbod op geplaas word anders sal daar binnekort niks van ons land oorbly nie.
Die aanname is korrek - dit is soos afleiding van eie onvermoë geskep word en sodanig dat dit slegs deur afleidings terugverwys kan word. Verwag nog meer soortgelyke aksies in aanloop tot die verkiesing. Wonder nou net oor Mantashe se derde mag wat verdeling saai - self geskep?
Insiggewende inligting. Sal dit nie goeie materiaal vir 'n speurverhaal maak nie juffrou Wyngaard?
Hierdie verslag reflekteer die identiese gebeure in die dorp Sabie. Mense is ingevoer en plaaslike inwoners moes gaan skuil in die bosse as hulle nie wou deelneem aan betogings nie. Sabie ly nou nog onder die gebeure en die aanvallers is lankal weg.
Ja so sal dit oral gaan ek is nie van Grabouw nie maar het ons al gedink hoe dit voel om by ander mense te bly? Ek dink is daai nie die mense wat van die plase af kom nie is dit nie die mense wat agter in ander mense jaarts bly nie. Kyk ons is laaaank vir gatte gevat. Ons was te lank geduldig moet ons nog geduldig wees en vir hoe lank nog? Dit gaan nie hieroor wie reageer nie, dit gaan oor ’n behoefte wat almal, ek sê almal mee sit. As jy dink jy het ’n makliker antwoord kom ons gesels en as dit nie 1000 huise per jaar vir een plek kan wees nie, los dit en ons vat weer die strate. MOENIE sê daar is nie geld nie, tel al die geld wat gesteel is en nog gesteel word dan sê jy my weer. Kyk skielik is daar grond en oorgenoeg geld. VIVA VIVA Grabouw julle is tops.
Die landregte-áktiviste se hoofdoel is nie om 'land te beset nie' - hulle gebruik die beloftes van 'gratis land' om mense te motiveer. Soos ook reeds tydens die grondbesetting naby DuNoon op die N7 naby die Koeberg atoomkragstasie gesien is, is hulle hoofdoel om die elektrisiteitssentrales te saboteer - Koeberg was selfs bedreig dat hulle dit sou afbrand en in Februarie 2016 was daar inderdaad so'n kwaadaardige 'veldbrand' dat die personeel geëvakueer moes word... As Kaapstad nie ingespring het met duur materiaal om die veldbrande te blus, sou Koeberg inderdaad afgebrand gewees het. By Grabouw is dieselfde ding nou aan die gang: die aktiviste dreig dat hulle die elektrisiteitssentrale sal afbrand. Dit is eintlik hulle hoofdoel: om die belangrikste infrastrukture in Suid-Afrika te saboteer. Daar het ook soortgelyke insidente in Gauteng en KwaZulu-Natal plaasgevind. Dus hierdie mense ry groepe mense rond nie om net grond 'te beset' nie, maar om die land se infrastrukture te saboteer.
Goeie, feitelike stuk. Die redes is so voor die hand liggend, waarom hierdie onmenslikheid gebeur. Ek kry die mense wat hierdeur geraak word die jammerste (die inwoners en die inkommers).