
Toe ons oneindig was deur Zelda Bezuidenhout (Pan Macmillan, 2020), Vyf sekondes voor Vrydag deur Ihette Senekal (Tafelberg, 2022) en Saterdag val ek vir jou deur Cecilia Steyn (Lapa, 2023)
- Anke Theron skryf ’n gereelde kinderboekrubriek vir LitNet.
Die verandering in karakterisering in jeugverhale
Wanneer jy van ’n storie hou, hou jy van die verhaal of het jy dalk gevoel die karakters is jou vriende?
Ons kan seker almal dink aan ’n karakter wat jou bygebly het, lank nadat jy die verhaal klaar gelees het.
In hierdie aflewering gaan ons kyk na die bestanddele van ’n kinder- of jeugverhaal, spesifiek karakterisering, vertelling en fokalisering. Daarna sal daar na enkele jeugverhale gekyk word as gevallestudies om karakters uit te lig waar daar ’n verandering in die laaste 10 tot 15 jaar in Afrikaanse jeugverhale was.
Basiese bestanddele vir ’n storieresep
Eers ’n vinnige oorsig oor die basiese bestanddele van ’n verhaal: die verteller, vertelling en fokalisering, karakters, karakterisering, ruimte en tyd (vertelde en verteltyd).
Die verteller is die stem wat vir ons die verhaal vertel. Dit kan natuurlik ’n eerstepersoonsverteller wees wat direk die verhaal ervaar, maar slegs oor hul eie ervarings kan vertel. Of ’n derdepersoonsverteller wat vertel uit ’n posisie van oorsig – hierdie verteller kan sien en hoor wat in verskillende karakters se situasies aangaan, maar met beperkte kennis van die karakters se innerlike gedagtes.
Dit is belangrik om te kan onderskei tussen die verteller en die vertelling. Die vertelling is wat vertel word en word beslis hewig beïnvloed deur die “wie” wat vertel. Dit gaan dan ook hand aan hand met die fokalisering, want dit word bepaal deur wie die storie vertel.
Daar is dan vanselfsprekend die karakters: die hoofkarakter of -karakters en die newekarakters, met die meegaande karakterisering. Enigiets wat ons as die leser weet, uitvind of aanneem, of veronderstel oor ’n karakter, is karakterisering. Wat die karakter doen, hul aksies, bepaal hoe die leser oor hulle kan voel. Die verskil tussen die held of protagonis wat iemand se lewe red, teenoor die booswig, antagonis wat iemand se lewe bedreig of selfs neem. Ons leer karakters in ’n verhaal ken deur hulle woorde, taalgebruik, asook hul aksies en gedagtes. Sou die skrywers ons toelaat om dit te lees (afhangend van die keuse van tipe verteller).
Laastens is daar die kwessie van tyd. Hoe tyd gebruik, gemanipuleer of uiteengesit word in ’n verhaal bepaal ook hoe die leser oor ’n karakter kan voel. Hier tref ons onderskeid tussen die verteltyd – hoe lank ’n verhaal neem om te vertel, byvoorbeeld 223 bladsye, teenoor die tydstip waarin die verhaal self afspeel, byvoorbeeld die jaar 2025 of miskien in die toekoms. Hierby word terugflitse en die rondspring van vertelde tyd ingereken.
Nou is die bestanddele van ’n verhaal uiteengesit en is ons reg vir die opwindende deel van die resep. Die metode en aanmekaarsit van die verhaal.
Karakterisering en die speserye:
Karakterisering het alles te doen met hoe ’n skrywer ’n karakter skep. Dit is die literêre proses waardeur die skrywer die karakter se eienskappe, persoonlikheid, motiewe en gedrag ontwikkel en beskryf. So beïnvloed dit ook hoe ons as lesers die karakters ervaar en soms hulle oordeel.
Karakterisering kan verder in twee kategorieë verdeel word, naamlik direkte en indirekte karakterisering.
- Direkte karakterisering: Wanneer die skrywer spesifieke inligting oor ’n karakter gee, soos sy of haar naam, fisiese voorkoms, agtergrond, of ander eienskappe. Dit sluit dikwels beskrywings in wat as ’n vooruitwysing dien vir die karakter se persoonlikheid of motiewe.
- Indirekte karakterisering: Hier speel ’n karakter se aksies, dialoog, gedagtes en interaksies met ander karakters ’n beduidende rol. Karakters se persoonlikheid en motiewe word op ’n indirekte manier aan die leser ontbloot.
Dit is dus moontlik om karakterisering te beskou as die speserye in die resep van ’n verhaal. Dit impliseer ook dat sommige aspekte van karakterisering sal verander soos die lewe om ons verander. Skrywers word genoodsaak, veral jeugverhaalskrywers, om in voeling te bly met die leefwêrelde van hul lesers.
Jeugverhale sedert 1990
.......
Die Afrikaanse jeugverhaal was nie meer net ’n plek vir didaktiek en vrome morele waardes nie.
.......
Die jeugverhale wat gedurende die ommeswaai van die politieke bedeling in Suid-Afrika gepubliseer is, het die binnevet van die boud gekry ten opsigte van sensuur- en publikasierade wat aan die verdwyn was. Die temas van geskeide ouers, homoseksuele verhoudings, dwelms en al die euwels van die vreemde en anders wees, het begin deursyfer in nuwe reaktiewe jeugverhale. Die Afrikaanse jeugverhaal was nie meer net ’n plek vir didaktiek en vrome morele waardes nie.
Dit is opmerklik dat die jeugverhale in hierdie tydperk nie toegespits was op die ervarings van die homoseksuele karakter nie, maar net dat hulle teenwoordig was. Gewoonlik as ’n newekarakter wat dalk net ’n klein invloed op die hoofverhaal sou hê. Dit is beslis nie ’n aspek om op neer te kyk nie; omdat hierdie liminale karakters vanuit die donkerte na die binnekring van die verhaalgebeure begin beweeg het, het dit die weg gebaan vir die tipe verhale en karakters wat ons vandag se jeugromans vind. Egte mense met struwelinge wat nie net op hul seksualiteit fokus nie. Dit is steeds deel van hul karakter, maar nie die hoofdoel van hul karakter se funksie in die verhaal nie.
Die algehele fokus en tematiek van jeugverhale in hierdie tydperk is gekenmerk deur rasseverhoudinge, diskriminasie, verontregting, rassisme en worstelinge met die politieke ongelykheid in die Suid-Afrikaanse samelewing.
Wanneer daar gekyk word na die verskuiwing wat reeds in die 1990’s begin posvat het, is die verskuiwing van ’n “uitpraat oor” of “aan die lig gebring van dade van rassisme, ontbloting van diskriminasie of vergelding vir die leed wat aangedoen is”, na die identifisering en ontdekking van ’n hoofkarakter se identiteit beweeg.
Enkele jeugboeke wat in die 1990’s verskyn het, was: Vlerkdans (Hough 1992), My kat word herfs (Hough 1997), Breek (Hough en Meiring 2014) en Skilpoppe (1998). Dit is opvallend dat die vertellers derdepersoonsvertellers in die meeste van hierdie tekste is. Aldus oorwegend so. Dit is asof die verteller hierdie entiteit is wat langs die karakter staan en vertel wat gebeur. Hierdie tipe verteltegniek en fokalisering skep ’n afstand tussen die leser en die karakter. Die karakterisering is nie so intiem en direk soos in meer onlangse jeugverhale nie. Daarom kan dit beskou word as die begin van ’n soort vertelling as karakterisering. Dit staan in kontras met die laaste 10 jaar se verhale en hul karakters wat direk hul eie storie vertel. Die vertelling word ingespan saam met die karakterisering om geloofwaardige stories te vertel. Selfs meer só in die laaste vyf jaar, met boeke soos Vyf sekondes voor Vrydag (Senekal 2022).
.......
’n Nuwe bildungsroman-tipe-ervaring word geskep deur die karakter wat self vertel.
.......
Die leser kan sien en voel wat die karakter sien en voel, omdat verteller, fokalisator en karakter dikwels dieselfde “persoon” is. Die aspek wat die duidelikste na vore tree, is die reis na volwassenheid wat hoofkarakters in hierdie tipe verhale meemaak. Waarvan die leser ook deel vorm. ’n Nuwe bildungsroman-tipe-ervaring word geskep deur die karakter wat self vertel. Eerder as net ’n beperkte, alomwetende derdepersoonstem.
Jeugverhale sedert 2010
In die eerste werklike jeugroman vir tieners waar ’n seun worstel met sy identiteit, anders as in Vlerkdans of Skilpoppe, was die homoseksuele karakter slegs ’n newekarakter, of ’n karakter wat sterf in die verloop van die verhaal as gevolg van hul leefstyl. Wat nie noodwendig direk as gevolg is van hul seksuele oriëntering nie. Viljoen se Uit (2014) het ’n tiener-hoofkarakter wat vir ons in die eerstepersoon vertel hoe hy dink en voel oor sy eie ontdekkingsreis en grootwordproses. Dít is anders
Jeugromans wat sedert 2020 die lig gesien het en die karakterisering van ’n karakter buite die norm genormaliseer het, is:
1. Toe ons oneindig was (2020) deur Zelda Bezuidenhout

Toe ons oneindig was deur Zelda Bezuidenhout (Pan Macmillan, 2020)
Met die hoop dat wie ook al hierdie artikel lees, ook dié boek sal lees, gaan ek slegs die opsommende omslagteks of sinopsisse hier onder gebruik of aanhaal:
Kara Immelman se lewe is eintlik nogal uitgesorteer. Sy is in matriek en hoewel sy heeltemal te skaam is om gewild te wees, het sy vir Eduard, haar beste vriend van laerskooldae af. Sy is ook haar skool se topswemmer en die moontlikheid van ’n swembeurs wink. Al gebeur daar nie veel op die dorpie waar hulle woon nie, het sy en Eduard groot planne om eendag die wêreld te sien. Planne wat aangevuur word deur hulle gedeelde passie vir flieks. Wanneer Samantha egter op die toneel verskyn, herrangskik dit Kara en Eduard se hele bestaan. Want Sam is nie net onmoontlik mooi nie, sy speel ook volgens haar eie reëls.
Toe ons oneindig was is die verhaal van ’n meisie wat nog altyd presies gedoen het wat van haar verwag is. Iemand wat so besig was om almal gelukkig te hou dat sy nooit regtig probeer uitvind het wat háár gelukkig maak nie. Totdat sy een middag in ’n aantrekhokkie vir die heel eerste keer gesoen word. Dis ’n storie oor vriendskap en lojaliteit. Oor seksualiteit en vloeibaarheid. Maar bowenal is dit die verhaal van ’n meisie op ’n selfontdekkingsreis – die soort reis wat in ’n Hollywood-fliek hoort. (Pan Macmillan 2022)
Sou ons net na hierdie kort stukkie teks kyk, kan ons reeds aflei watter tipe meisie Kara Immelman is. Haar aksies en keuses word reeds vir ons vooropgestel. Vir ons as lesers word daar die verwagting geskep dat Kara en Eduard dalk ’n paartjie sal vorm, maar dan kom daar ’n nuwe karakter op die toneel, Sam. Let op die verandering in name – die twee hoofkarakters se name is bietjie meer konserwatief, Afrikaans. Goeie Afrikaanse name. En dan is daar Sam – ’n Engelse naam wat waarskynlik afgekort is en boonop nog vir beide mans en vroue name gebruik word. En hierdie is net die afleiding wat gemaak kan word van die karakters se name.
Kom ons kyk nou na nog ’n jeugverhaal waar die karakterisering in skrille kontras staan met vroeëre jeugverhale.
2. Vyf sekondes voor Vrydag deur Ihette Senekal (2022)

Vyf sekondes voor Vrydag deur Ihette Senekal (Tafelberg, 2022)
Jana Roux wil films maak en haar lewe bestaan ook uit films kyk. Haar ma s’n en dié wat sy in die filmklub speel en bespreek. Haar suster, Mia, is ’n tipiese happy-go-lucky-matriekmeisie soos in die flieks, wat met groot ontnugtering ’n noue ontkoming het. Hulle pa is ’n vername chirurg en sy vrou is oorlede weens terminale kanker. Dit is juis in die karakters se onderskeie verhaallyne waar die goue draad van hierdie jongvolwasseroman lê. (Theron 2022)
Hierdie verhaal gebruik verskillende fokalisasies om ’n saamgevlegte verhaal te vertel, maar steeds word die fokus behou op die reis na volwassenheid van Jana.
“So, dis ek, Jana Roux, ’n doodgewone graad 11-meisie, en soos ’n doodgewone graad 11-meisie het ek ook geheime. Soos byvoorbeeld my totale obsessie met die nuwe intrekker wat omtrent ’n week gelede langsaan kom bly het.” (Senekal 2022)
Ons as lesers ervaar direk die vertelling en karakterisering wat die karakter ervaar. Dit is belangrik om te let op wie vertel, wie sien en wie se weergawe van gebeure word aangebied in die vertelling. “Hoekom? Jy is my Jana, mý sussie, niks wat jy doen of sê sal my ooit minder lief maak vir jou nie” (Senekal 2022).
Hierdie boodskap is wat baie tieners behoort te hoor en as ’n karakter dit vir ’n ander karakter sê en met mening bedoel, modelleer dit goeie reaksies en moontlike aanvaarding. Dit skep hoop vir tieners, al lees hulle net daarvan.
’n Meer onlangse publikasie deur Cecelia Steyn.
3. Saterdag val ek vir jou (2023) deur Cecelia Steyn (deel van die naweektrilogie)

Saterdag val ek vir jou deur Cecilia Steyn (Lapa, 2023)
Hierdie boek is die tweede in die naweektrilogie. Dit volg verskillende karakters as vertellers van hul eie liefdesverhaal, maar dit is nie die tradisionele meisie-soek-seun-en-word-verlief of happily-ever-after nie. Delia, of Donker Delia soos sy aan ons voorgestel word, is die hoofkarakter in Vrydag is ek verlief se nuwe vriendin, omdat liewe Delia eintlik betaal is om ’n beroemde klasmaat op universiteit verlief te maak op haar. Natuurlik het Delia ingestem omdat dit flippen duur is om medies te swot, haar ouers het nie die finansies gehad om haar studies te betaal nie, wat weet nog van die duurste kwalifikasie op die lys. In hierdie boek leer ons vir Delia beter ken. Die eerste dinge is dat Delia hou van girls, nie ouens nie. Sy is nie ’n rokdraende of selfs make-up-draende tipe nie. Sy doen nie public displays of affection nie, wat nog van vry. En dan, soos die geluk dit sou hê, kom Phoebe oor haar pad. En dit nogal op ’n troue, iemand anders se troue.
So wat maak Delia so anders, en belangriker nog, wat behels haar karakterisering? Eerstens is die verteller ’n eerstepersoonsverteller en die fokalisering word vanuit Delia se perspektief gedoen. Daar is dele waar ’n derdepersoonsverteller gebruik word, maar die hele verhaal word deur Delia se ervarings en gesprekke gelei. Daar word ook vir ons van die begin af vertel dat dit Donker Delia is. Die leser kan dus reeds aflei dat Delia nie die gelukkige pienk-hartjies-tipe-karakter is nie. Delia is ’n karakter wat nie regtig van mense hou nie en dit maak tot ’n mate sin wanneer sy ’n herinnering oproep van haar tuiste in die Noord-Kaap: “Dié tyd van die jaar is die Noord-Kaap net so soel soos hier vanaand” (Steyn 2023:15).
Hierdie verhaal volg dus Delia se ontdekking en reis na ’n eerste verhouding met ’n jongvrou, buite haar baie konvensionele tuisdorp en ouerhuis. Ons ken almal moontlik ’n Delia, niemand spesifiek nie, maar karakterisering speel en manipuleer ons as lesers se vooropgestelde idees, veralgemenings en stereotipes.
Veranderings in karakterisering en vertelling
Daar kan beweer word dat karakterisering, asook vertelling in jeugverhale moontlik bygedra het om die karakters wat eens in die donker buitewyke gestaan het, na vore te trek. En ook hul stories te vertel.
Dit is opmerklik dat ons hoofkarakters kry wat deur ’n eerstepersoonsvertelling hul ervarings vertel. Hul herinneringe as terugflitse ensovoorts. As daar na ’n karakter soos Anton in Vlerkdans (1992) gekyk word, weet ons nie wat Anton se storie is nie. Eers wanneer daar deur newekarakters brokkies meegedeel word. Anton is ook ’n newekarakter.
........
Dit is moontlik om te beweer dat die karakterisering en vertelling die grootste verandering is wat ons kan sien sedert die 1990’s. Veral met karakters in jeugverhale, waar die karakter wat vertel in die eerstepersoon self ’n tiener is.
........
In vergelyking met Saterdag val ek vir jou (2023), dan sit die leser letterlik binne-in Donker Delia se kop. Donker Delia is nie so donker soos wat ons dink nie, maar ons leer reeds die karakter ken nog voordat sy enigsins verlief raak of enige verhoudings aangeknoop het. Karakterisering is nie net dit wat die karakter doen en wat die karakter deur die vertelling vir die leser sê nie, maar ook wat die karakter vir en van ander karakters sê en dink.
Dit is moontlik om te beweer dat die karakterisering en vertelling die grootste verandering is wat ons kan sien sedert die 1990’s. Veral met karakters in jeugverhale, waar die karakter wat vertel in die eerstepersoon self ’n tiener is.
In die ouer jeugverhale, spesifiek voor 1980, is die taak van vertelling beslis as meer as ’n derdepersoonsverteller-taak beskou. ’n Verantwoordelike, volwasse en wyser stem. Dit is die tipiese didaktiese en morele invalshoek gewees, maar sedert die 1990’s het dit begin verander. Daar is wegbeweeg van die gesindheid dat vertelling nie toevertrou mag word aan ’n kind nie, want wat weet ’n kind?
.......
Die tegniek om die tiener te gebruik om ’n verhaal te vertel verskaf eintlik meer geloofwaardigheid. As lesers, wie gaan ons eerder vertrou?
.......
Die tegniek om die tiener te gebruik om ’n verhaal te vertel verskaf eintlik meer geloofwaardigheid. As lesers, wie gaan ons eerder vertrou? Die tiener wat vertel hoe moeilik dit is om ’n verhouding aan te knoop in ’n samelewing, waar die tipe verhoudings wat jy as tiener nastreef, of ontdek, of ondersoek nie aanvaarbaar is nie. In sommige gemeenskappe in die wêreld kan so ’n tiener selfs met die doodstraf gedreig word. Of hoe om verlies te hanteer. Cliffordene Norton se Hoe haal ek nou asem? (2025) en Hoeveel tande het ’n engel? (Vermeulen 2022) is besonders goed hiermee. Dit gaan hier oor die opregtheid en geloofwaardigheid van ’n karakter en hul vertelling.
In Norton se verhaal is dit Ethan wat oor sy eie pyn, skok en verlies vertel. In Vermeulen se verhaal is daar wel ’n derdepersoonsverteller, maar die gebruik van dialoog gee vir die leser die karakters se direkte woorde. Dalk nie so intiem nie, maar dit voel nogal of die leser op Alex se skouer sit en alles hoor wat gebeur. Die verhaal word geskryf vir die tiener, deur die oë en vertelling van ’n tiener. Nie net is dit meer geloofwaardig nie, dit maak dit toeganklik vir die potensiële jong lesers.
Ten slotte was daar sedert die negentiger jare ’n beduidende verandering in hoe vertelling, karakterisering en fokalisering gebruik word in jeugverhale. Die vertellers en karakterisering is meer direk en bring nie net die randfigure na vore nie, maar maak hulle deel van die algehele verhaal.
Die boeke wat in die laaste vyf jaar verskyn het, is slegs ’n druppel in die emmer. Daar is beslis nog hope ander wat by hierdie lys ingesluit kan word. Gaan soek en lees oor daardie karakters waaroor jy nog altyd gewonder het. Karakters is eintlik net mense wat nog nie bestaan nie. Soos Shakespeare al honderde jaar tevore geskryf het: “Ons is eintlik almal maar net karakters op die verhoog van die lewe.”
Bibliografie:
Brink, AP. 1987. Vertelkunde: Inleiding tot die lees van verhalende tekste. Akademia: Kaapstad.
Loubser, H. 2012. Transgressie in die voorstelling van gender in Die avonture van Wilde Willemientjie deur Riana Scheepers en Vian Oelofsen. LitNet Akademies, 9(1):80–103. https://www.litnet.co.za/transgressie-in-die-voorstelling-van-gender-in-die-avonture-van-wilde-willemientjie-deur/ (8 Augustus 2025 geraadpleeg).
Pan Macmillan. 2020. Toe ons nog oneindig was. https://www.panmacmillan.co.za/authors/zelda-bezuidenhout/toe-ons-oneindig-was/9781776250240 (7 Augustus 2025 geraadpleeg).
Rhebergen, J en T Human. 2015. “Darem meer as moffies?” Stereotipering in die voorstelling van homoseksueles en homoseksualiteit in die Afrikaanse jeugliteratuur.
LitNet Akademies, 12(1):33–67. https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2015/06/LitNet_Akademies_121_33-67RhebergenHuman.pdf (9 Augustus 2025 geraadpleeg).
Theron, AS. 2022. Vyf sekondes voor Vrydag deur Ihette Senekal: ’n boekresensie. LitNet. https://www.litnet.co.za/vyf-sekondes-voor-vrydag-deur-ihette-senekal-n-boekresensie/ (11 Augustus 2025 geraadpleeg).
Lees ook:
Goue lint my storie begint: Die unieke aard van kinder- en jeugboeke
Goue lint, my storie begint: Die effek van lees op kinders se breine
Goue lint, my storie begint: Kinder- en jeugboeke – film of boek?
Vyf sekondes voor Vrydag deur Ihette Senekal: ’n boekresensie
Kommentaar
Barrie Hough se dood was 'n geweldige verlies. Nie net as skrywer nie, maar ook as joernalis. En as mens was hy baie spesiaal. Mag ons hom nooit vergeet nie.