God en ons brose planeet

  • 16

Pieter GR de Villiers gesels met Johan Buitendag oor sy twee LitNet Akademies-artikels: “Jy moet die aarde liefhê soos jouself” en “Die Klub van Rome se soeke na planetariese welsyn beskou deur die oë van ’n Gereformeerde teoloog”.

....................

LitNet Akademies-navorser Johan Buitendag (Foto: verskaf)

Jou twee artikels gaan oor ’n tema wat in onlangse tye uiters aktueel geword het. Dit is ’n gewilde tema wat uitvoerige, en selfs alarmistiese dekking in die media kry. Daagliks word gewaarsku dat wetenskaplikes met intense kommer meen dat die vernietiging van ons planeet weldra onomkeerbaar sal word. Jou bydrae is belangrik omdat jy die teologie en die kerk by die tema betrek, wat verreikende implikasies het. Verantwoordelike teoloë, predikante ingesluit, sal deur jou werk bewus word van hoe direk die evangelie by die onderwerp betrokke is en watter verantwoordelikheid op hulle rus om meer aandag aan die saak te gee. Jy wil die tema vanuit ’n ekoteologiese hoek bekyk. Kan jy aan die begin van hierdie gesprek vir ’n nieteologiese leser op ’n toeganklike manier verduidelik wat jy onder ekoteologie verstaan? Kan jy dit verhelder deur te verduidelik watter ander “soorte” teologieë daar is?

Uiteraard moet ek my daarvan weerhou om nie hier te herhaal wat reeds in die twee artikels staan nie. Met my professorale intreerede in 2004 (en ook in ander publikasies) het ek die punt beredeneer dat ons moet wegkom van ’n “natuurlike teologie” (theologia naturalis) en oorbeweeg na ’n “teologie van die natuur” (theologia naturae). Dit wil in kort sê dat ons nie soseer oor die skepping as ’n daad van God moet dink nie, maar eerder oor die skepping as die produk van God se handewerk.

Tweedens wil dit ook sê dat ons moet ophou dink dat die Bybel net oor die verhouding tussen God en mens gaan. Die bekende 20-ste eeuse teoloog Karl Barth het selfs geoordeel dat die skepping bloot die dekor vorm van die verbond tussen God en M/mens. Die méns is dus waarom dit gaan, en die natuur is daar ter wille van die mense se bevrediging.

’n Nobelpryswenner vir chemie, Paul Crutzen (ook Eugene Stoermer), verwys as gevolg van die mens se katastrofale invloed op die planeet aarde na ’n nuwe geologiese periode wat aangebreek het, naamlik die sogenaamde Antroposeniese tydperk of Antroposeen. Moltmann spreek hom herhaaldelik baie sterk uit teenoor hierdie “heer- en meesterskap” wat die mens hom- of haarself toegeëien het. ’n Teologie van die natuur – of dan ’n ekoteologie – wil ook nie net etiek wees nie, met ander woorde bloot iets soos ’n “red die renoster”-veldtog nie. So belangrik soos dit is, so belangrik is dit om ’n ánder verstaan van die werklikheid te kry. Ander denke sal outomaties na ander optrede lei. Ek het jare gelede juis ’n artikel1 gepubliseer met die titel “Anders dink, anders doen”. Alles gaan nie oor slegs die mens en die ewige lewe nie.

Jy vra ook na watter ander tipes teologieë daar bestaan. In sekere kringe word soms neerhalend verwys na die sogenoemde “genitiewe teologieë”. Dit is daardie teologieë waarop ’n genitiefwoord volg (“van”) met die implikasie dat dit eensydig is. Die bekendste is seker die teologieë van die bevryding soos dit in Suid-Amerika ontstaan het en in Afrika ’n unieke karakter gekry het. Hierdie teologieë wil gewoonlik ’n belangrike aspek uitlig wat dit kenmerk. ’n Teologie van die natuur is egter meer as net om slegs een aspek (die natuur) uit te lig. Alle teologie is eintlik skeppingsteologie (skepping as produk) en bring Skepper en skepping (organies en anorganies) harmonieus bymekaar uit. Daarom is versoening so ’n belangrike begrip in ekoteologie, en ons sien dat God sowel die mens as die natuur in Christus versoen (kyk veral Kolossense 1:15–20).

Allermins moet ons dus daardie biblisistiese beskouing verkondig dat hierdie aarde met vuur en swael sal vergaan en dat ons hier net vreemdelinge en bywoners is. Hemel is waar God is en God kom by ons bly. Adrio König het destyds in sy boek oor ’n skeppingsleer (1982) ’n baie toepaslike titel gekies: Hy kan weer en meer. Die skepping word deur God nuut gemaak, nie deur ’n ander skepping vervang nie. God kom aarde toe en ons ervaar ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde (Gesang 177).

Daarom praat ek ook al hoe minder van “verlos van”, maar veel eerder van “versoen met”. Moltmann het al in 1975 ’n boekie geskryf met die titel (in Afrikaans vertaal) God kom en mense word vry. Christus kom maak ons vry, ook die “sugtende aarde”, en plaas ons onderling in ’n harmonieuse verhouding.

Jy het reeds vroeg in jou loopbaan oor die tema van ekologie geskryf. Hoe het jy aan jou belangstelling gekom? Het jou teologiese opleiding ooit vir jou aan die tema bekendgestel? Hoe oordeel jy vandag oor jou eie teologiese opleiding en oor jou loopbaan as ’n akademikus?

Kennis is lewenslange leer en met ervaring geïntegreer. In ’n sekere sin het ek na aan die natuur grootgeword. Toe ek ’n kind was, het ons graag die Nasionale Krugerwildtuin besoek en dit het my sensitief vir die omgewing, die veld en die diere gemaak. Die (relatiewe) ongereptheid het vormend op my ingewerk. Die insig wat ek oor dekades heen opgedoen het, het dus op “vrugbare aarde” geval.

My studie gedurende my vormingsjare aan die Universiteit van Pretoria het egter weinig direkte invloed op my oortuigings en insigte van vandag gehad. Tog, terugskouend, moet ek erken dat sekere elemente vir my uitgestaan het. As eerstejaars het ons al van die Babiloniese skeppingsverhale kennis geneem en was ek daartoe aangetrokke, alhoewel dit as net maar ’n deel van die Ou Nabye-Oosterse mitologie aangebied is.

Die tema van ekologie sou egter eers met my doktorale studie sterker na vore kom. Destyds moes ons vir die doktorsgraad in teologie een hoofvak en twee byvakke neem en eers nadat die eksamen suksesvol afgelê is, kon jy aan die proefskrif begin werk. My hoofvak was dogmatiek (’n benaming wat ek glad nie meer gebruik nie) en my twee byvakke was Ou Testamentiese eksegese en Nuwe Testamentiese eksegese (ek het ’n sterk aantrekkingskrag gehad tot die klassieke tale: Hebreeus, Grieks en ook Latyn). Die voorgeskrewe aantal bladsye vir die eksamen was ongeveer 10 000 bladsye in totaal. En hier het my teologiese DNS sterker begin vorm aanneem. Die dosente het my wens grootliks geakkommodeer en heelwat literatuur oor die skepping aan my voorgeskryf. Ek herinner my nog dat die professor in Ou Testament se eksamenopdrag aan my uit slegs een getikte sin op ’n vel papier behels het: “Doen ’n eksegetiese en teologiese studie van al die skeppingspsalms deur van alle tersaaklike materiaal gebruik te maak”! Dit was ’n vreeslike opdrag! Puntenerig wat ek is, het ek weke en weke in die biblioteek deurgebring om materiaal te versamel en vragte fotostate gemaak van artikels en uiteraard dosyne kommentare nagegaan.

Die voorskrifte vir die destydse DD was ook dat nadat jy die eksamen suksesvol voltooi het in die hoofvak en twee byvakke, ’n miniverhandeling in ’n taamlik kort tydsbestek geskryf moes word oor ’n tema wat die promotor voorstel. My opdrag was toe (ek vermoed dit was om my tegemoet te kom) om oor die “verhouding van skepping en verbond” te skryf, wat my toe kniediep in Barth se teologie ingelei het, maar ook in byvoorbeeld Hendrik Berkhof se “Geloofsleer” wat meer evolusionêr en eksistensieel as Barth met teologie omgegaan het. Hier het ek ook vir die eerste keer behoorlik van Moltmann se teologie van die hoop en van die Kruis kennis geneem. Barth sê die skepping is die uiterlike grond van die verbond en Moltmann sê weer op sy beurt die kruis is die interne grond van die wêreldproses.

Die swaartepunt van my omgang met ’n teologie van die skepping het uiteraard by my proefskrif gelê. Ek het destyds (1985) die titel gekies “Skepping en ekologie. ’n Sistematiese ondersoek na die teologiese verstaan van die werklikheid”. ’n Navorser moes sy of haar projek by die destydse RGN (Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing) registreer en my ondersoek na skepping en ekologie was in daardie stadium die eerste ooit in Suid-Afrika. Ek moes Duitsland toe gaan vir spesialisleiding en het by Friedrich Mildenberger, ’n Lutheraan van die Friedrich-Alexander Universität in Erlangen-Nürnberger, tereg gekom (1983–1984). Hy was ’n uitstekende sistematiese teoloog en het boonop aan die Groen Party behoort (wat in daardie stadium ernstig betoog het teen die VSA se ontplooiing van missiele in die toe nog Wes-Duitsland).

Onder Mildenberger se leiding het ek diepgaande kennis geneem van teoloë soos Pannenberg, Moltmann, Schweizer, Altner, Heim, Gogarten, Barth, Von Weizsäcker en heelwat ander. Hier het ook ’n toenemende skuif in my denke begin plaasvind, weg van Barth af en nader na Moltmann toe (om dit nou ’n bietjie eenvoudig te stel). Moltmann skryf in sy outobiografie hy wou eintlik ’n fisikus geword het en het mense soos Einstein, Planck en Heisenberg bewonder; dit het ook geklop met my eie aanleg en belangstelling. Karl Heim se werke het my kniediep ingelei in die relatiwiteitsteorieë en die kwantummeganika van gemelde fisici. Dit is op rekord dat Einstein na aanleiding van die werk van Heim gereken het dat Heim van die min wetenskaplikes was wat sy teorieë regtig verstaan het. Altner weer het my ingelei in die evolusieteorie van Charles Darwin en die belang van “lewe”. My proefskrif het sodoende my teologiese DNS finaal gekarteer.

Dit is ook waarom ek nie die benaming “dogmatiek” gebruik vir die werk waarmee ek besig is nie, om nou terug te kom na netnou se vlugtige verwysing. Ek verkies veel eerder die benaming “sistematiese teologie”, alhoewel dit maar ook baie gebreke het. Wat is “sistematies”? Is ander teologiese dissiplines dan nie sistematies nie? En is “sistematies” nie maar bloot ’n attribuut van ’n spesifieke beskouing nie? Moet (of selfs kan) dit sistematies wees? Wie iets van die kwantummeganika af weet, weet hoe onbepaalbaar en onvoorspelbaar die werklikheid is! Daarom is seminarie-opleiding alleen ontoereikend vir behoorlike teologie. Selfs Christelike universiteite het nie die laaste sê nie, maar wel publieke universiteite, op voorwaarde dat daar nie slegs oor geloof gepraat word nie, maar ook vanuit geloof.

Ek wil egter nog ’n vormende aspek van my teologie uitlig. In die vroeë negentigerjare het ek ’n boek gepubliseer oor die New Age-beweging. Daar het ek besef hoeveel raakvlakke daar tussen godsdienste is om juis sin van die werklikheid te maak. Die erkenning dat die werklikheid meer is as wat my vyf sintuie kan aandui, en almal se soeke na woorde om werklikheid te beskryf, het my getref. Dit het my ook opnuut laat besef hoe relatief alles is en hoe beskeie mens maar met jou insigte te werk moet gaan. Waarheid is nie so eenvoudig nie en allesbehalwe objektief. Koherensie en die vraag na sin is dalk belangriker konsepte om te oordink. Dit het my toenemend laat besef dat ons mekaar nodig het om enigsins aanspraak op kritiese geloofsverantwoording te maak.

Jy vra ook hoe ek oordeel oor my loopbaan as akademikus2. Ek het in die vroeë tagtigerjare aan Unisa sistematiese teologie gedoseer en vanaf 1989 aan die Universiteit van Pretoria – eers deeltyds en vir die laaste twee dekades voltyds. My laaste agt jaar aan UP was ek dekaan van die Fakulteit Teologie en die ses jaar daarvoor, adjunkdekaan en ook departementshoof. Uiteraard het hierdie bestuursverantwoordelikhede my aantal publikasies beperk. Weliswaar het dit my teologie ook verryk. Ek het tussenin ’n meestersgraad in ekonomiese en bestuurswetenskappe behaal en vreemd soos dit vir sommiges mag klink, het dit my juis ook gevorm in my teologiese denke. Die woorde ekonomie en ekologie het nie net dieselfde stam (oikos) nie, maar sluit nou aan by teologie soos ek dit verstaan. In ’n paar publikasies het ek ook geargumenteer dat teologie eintlik werklikheidsverstaan is en aan kritiese denke onderwerp moet word. Dit is maar ’n poging van gelowiges om greep op die werklikheid om hulle te kry.

Dalk moet ek Moltmann se analise van sy eie teologiese ontwikkeling3 ook aanbied as ongeveer hoe dit met my pad gegaan het. Hy sê elke teoloog het ’n bepaalde plek van waaruit en waarin gedink en gehandel word. Moltmann identifiseer vier sulke momente in sy ontwikkeling: eksistensiële teologie toe hy as krygsgevangene in die Verenigde Koninkryk tot geloof gekom het; pastorale teologie, wat by hom posgevat het in sy eerste gemeente in Bremen-Wasserhorst (en hy skryf ook dat sy gemeente eintlik sy preke vir hom gemaak het deurdat hy sy idees voortdurend by lidmate getoets het); kerklike teologie, wat ’n volgende fase ingelui het toe hy as dosent by die Protestantse Seminarie in Wuppertal aangestel is en later in Bonn by die Protestantse Fakulteit; en die finale fase, akademiese teologie, toe hy by die Universiteit van Tübingen ekumeniese teologie wetenskaplik bedryf het. Ek oordeel Moltmann sal vandag (25 jaar na sy aftrede) van ’n vyfde fase praat: ’n teologie van die lewe, wat veel ruimer dink, maar steeds geanker is in die Kruis (kyk hiervoor my artikel “Jy moet die aarde liefhê soos jouself”).

Laasgenoemde artikel wys hoedat belangrike teoloë soos Moltmann by die kwessie van die natuur betrokke geraak het. Moltmann is sekerlik een van die bekendste teoloë van die 20ste eeu. Sy invloed op Suid-Afrikaanse teoloë is ook sterk. Kan jy meer sê oor waarom Moltmann so invloedryk is? Wat het Moltmann voorheen besig gehou en waarom was daar nog voor sy ekoteologiese fase soveel belangstelling in sy werk? Hoe sou jy sy werk plaas binne die internasionale teologiese wêreld?

Jürgen Dankwart4 Moltmann is op 8 April 1926 in Hamburg gebore. As jeugdige was hy verplig om aan die Tweede Wêreldoorlog deel te neem en is weldra deur die Geallieerdes gevange geneem. Hy begin sy teologiese studie as krygsgevangene. Met sy terugkeer in 1948 na sy vaderland het hy hom aan Göttingen-universiteit in die teologie ingegrawe.

Daar ontmoet hy toe ook sy toekomstige vrou, Elizabeth Wendel, met wie hy getroud was tot haar afsterwe in Junie 2016. Uit die huwelik is vier kinders gebore. Elizabeth was self ’n formidabele teoloog en Moltmann sê graag dat sy haar doktorsgraad gouer as hy kon verwerf het. Albei het onder die bekende Karl Barth-kenner Otto Weber hulle proefskrifte voltooi.

Moltmann begin sy akademiese loopbaan in 1958 as professor in sistematiese teologie in Wuppertal, soos reeds gesê. In 1963 kry hy ’n aanstelling by Bonn-universiteit en vanaf 1967 tot sy aftrede in 1994 by die Staatsuniversiteit Tübingen.

Dit is onmoontlik om al sy prestasies en toekennings in ’n kort biografie te vermeld. Merkwaardig is sy 15 eredoktorsgrade, wat universiteite insluit soos Leuven, Nottingham, St Andrews, Emory en ook Pretoria (die eerste in Afrika!).

In 1974 ontvang Moltmann ’n eerste uitnodiging om Suid-Afrika te besoek, maar die destydse regering keur sy visumaansoek af. ’n Tweede uitnodiging volg en deur bemiddeling van waarskynlik Johan Heyns bekom hy toe ’n visum en besoek hy Suid-Afrika in 1978.

Dit was vir Moltmann egter geen aangename ervaring nie. In sy outobiografie beskryf hy sy weersin in die rassediskriminasie wat hy orals in Suid-Afrika waargeneem het, byvoorbeeld in restaurante, lughawens of waar hy hom ook al bevind het. Tydens sy terugvlug Duitsland toe het hy gevolglik ’n besliste onderneming aan homself gemaak, naamlik om Suid-Afrika nooit weer te besoek alvorens apartheid opgehef en verwyder is nie.

Na bykans 40 jaar het Moltmann Suid-Afrika weer besoek. Die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Pretoria het in 2017 sy 100-jarige bestaan as fakulteit gevier en die senaat het besluit dat ’n eredoktorsgraad aan Moltmann toegeken moet word.

Die fakulteit het besluit om vir die Eeufees die kragtige metafoor van “oop hekke” as leidende motief te kies. Dit sinspeel op die Christelike geloofsgemeenskap van die eerste eeu wat as “die Weg” bekend gestaan het. Dit dui op beweging, op die toekoms en, uiteraard, insluiting en omarming. Moltmann se aanvaarding van hierdie eredoktorsgraad was bevestiging van die verandering wat hy in Suid-Afrika bespeur het en die metafoor van die oop hekke van die fakulteit is die oortuiging waarmee Moltmann hom vereenselwig het. Ek het ook ’n persoonlike besoek by hom aan sy huis gebring en ’n yslike lêer meegeneem van transformasie by sowel die universiteite as die kerke.

Interessant is dat hy in een van sy jongste werke (2019) – en wat die fokus van my een artikel ook is (“Jy moet die aarde liefhê soos jouself”) – spesifiek melding maak van die sogenaamde oopmaak-teologie (bl 44) wat tans in Suid-Afrika vestig. Christus is buite die poorte van die stad gekruisig en hieruit wil Moltmann aflei dat Jesus juis vir die mense “buite” gesterf het: die vreemdelinge, die uitgewekenes en die verdrewenes. Hy bepleit derhalwe ’n omvattende “teologie van die lewe” en gee naas Pretoria ook erkenning aan die huidige pous se twee ensiklieke oor die belang van die omgewing asook aan Suid-Korea se OHN-teologie.

Moltmann se boeke is in minstens 20 wêreldtale vertaal en daar word bereken dat Moltmann vandag die mees gesiteerde lewende teoloog in die wêreld is. Die volgende kan as sy hoofwerke genoem word: Theology of hope (1964), The crucified God (1972), The Church in the power of the Spirit (1979), Trinity and the Kingdom of God (1980), God in creation (1985), The Way of Jesus Christ (1989), The Spirit of life (1991), The coming of God (1995), Experiences in theology (1999), Science and wisdom (2002), In the end the beginning (2004), A broad place: An autobiography (2009), Sun of righteousness, arise! (2010), Ethics of hope (2012), The living God and the fullness of life (2015) en Hope and thinking (2016).

Die leser kan gerus die volgende artikel raadpleeg om ’n oorsig van Moltmann se denke en konteks te sien soos deur Klaus Nürnberg saamgestel, asook die erkenning wat hy van die Wêreldraad van Kerke (WRK) gekry het. Moltmann kom in die artikel ook self aan die woord oor sy jongste teologiese insigte.

Hoe kan die kerk en teologie oor die ekologiese krisis praat sonder om oppervlakkig of dom voor te kom? Ons weet uit die kerkgeskiedenis byvoorbeeld hoe sommige teoloë onkrities sekere ekonomiese modelle soos die Marxisme opgehemel en goedgepraat het en toe met groot verleentheid moes toesien hoe kommunistiese lande ineenstort en die massiewe uitbuiting van hul burgery deur ’n magselite ontmasker is. Dieselfde geld vir die rol van die Duitse kerke wat deur hul oppervlakkige burgerlike godsdiens Hitler se rassistiese staat massief ondersteun en voorgepraat het. Dit is dus duidelik dat die vertroue in die kerk ondermyn kan word deur die manier waarop dit oor hierdie sake praat. As wetenskaplikes so kan verskil, wie is predikante en teoloë dan om tot die debat toe te tree?

Dit is ’n belangrike opmerking en vraag. Die kerk het al baie bloedneus gekry oor onbesonne uitsprake oor en uit die Bybel, veral die afgelope klompie dekades. En as ons so verskil oor wat die Bybel sê, hoe sal ons kan beoordeel wat wetenskaplik reg is of nie.

Ons is seker almal bewus van Richard Dawkins se boek The God delusion (2006) en die bevindinge waartoe hy as ’n gerekende wetenskaplike gekom het. Alister McGrath, teoloog, maar ook gedoktoreer in biologie, het taamlik skerp gereageer met sy publikasie net die volgende jaar, The Dawkins delusion?, en later ook Dawkins' GOD: genes, memes, and the meaning of life (2014). Ek sou baie ander voorbeelde ook kon byvoeg van natuurwetenskaplikes wat oor die interpretasie van navorsing verskil. Baie bekend is ook Francis Crick en James Watson oor die ontdekking van die dubbele heliks van die menslike DNS.

Teoloë maak hoofsaaklik staat op sekondêre wetenskaplike literatuur, en wanneer daar weersprekende gevolgtrekkings deur natuurwetenskaplikes gemaak word, is dit problematies vir die teoloog. Wat egter vir my belangrik is – en dit is waarom ek sê absolute objektiwiteit onmoontlik is – is dat elke wetenskaplike ook maar (geloofs-) aannames het, alhoewel baie dit ontken. En gelowiges aan die ander kant doen ook maar ’n beroep op hulle sintuie en sit ons uiteindelik met ’n situasie dat die pot eintlik nie die ketel kan verwyt nie.

Vergun my ’n plaaslike voorbeeld. Eric Holm is baie uitgesproke oor die subjektiewe aanbieding van feite, en in Beeld van 22 Oktober 2019 skryf hy dat hy vir ’n omgewingsaktivis soos Greta Thurnberg “gril”. Volgens hom is sy die produk van ’n internasionale lobby wat haar misbruik met leuens en halwe waarhede. Hy skryf: “Hul metodes is drakonies. Enige wetenskaplike wat doodeenvoudig feitelike navorsing doen wat nie die aardverhitting-storie ondersteun nie word geboikot, sy werk word nie gepubliseer nie, hy verloor sy navorsingspos ... Die dinge wat werklik aandag en belegging vra, soos plastiek- en chemiese besoedeling van land en see en uitsterwing van diversiteit, kry nie die nodige geld en aandag nie. Maar bowenal, die groot antropogeniese olifant in die kamer, mens-oorbevolking, word deur die liberale groenes met toewyding geïgnoreer.”

Dit laat die teoloog natuurlik nou met ’n dilemma. Watter wetenskaplike se werk moet geag word? Wat is die mens se rol in aardverwarming, of liewer, temperatuurverandering? Holm sê dat die korrelasie tussen CO2-vlakke in die verlede en aard se temperatuur geen oorsaak en gevolg bewys nie. Dit kan selfs andersom wees as wat voorgehou word. Die teoloog Sakkie Spangenberg5 is op sy beurt baie uitgesproke daaroor dat die mensdom wél ’n aandeel in klimaatsverandering het en dat ’n volgende era kan aanbreek van uitwissing van spesies (die Antroposeniese tydperk).

Op my boekrak staan ’n Nederlandse boek met die besonderse titel De menselijke maat (2006) waarin die outeur, Salomon Kroonenberg, betoog dat ons fouteer om byvoorbeeld in terme van eeue te dink. Ons moet van minstens millennia praat om natuurlike prosesse soos klimaatsverandering, seevlakstygings, aardbewings en vulkaniese uitbarsting te verdiskonteer.

Die volgende grafiek6 toon die (ontstellende) ooreenkomste in die kurwes van die wêreld se bevolking, BBP, verbruik, aardverwarming en koolstofemissie – alles aanduiding van oordaad en misbruike:

Die Oxford Dictionaries het climate emergency tot woord van die jaar verklaar, berig Beeld (22 November 2019). Daarom bepleit ek ’n sisteemteoretiese verstaan van die werklikheid. “Earth system science is the science that studies the whole planet as a system of innumerable interacting parts and focuses on the changes within and among those parts” (Skinner & Murck 2011:6).7

Michael Ruse8 stel dit duidelik dat wetenskap nie die resultaat is bloot van ondersoek nie, maar van die kulturele paradigma waarin die navorser gevorm is. Die sogenaamde Gaia-hipotese bring die wêreld van wetenskap en tegnologie uit by die wêreld van gevoel, mistisisme en geloof. Die verskillende wêrelde het baie om van mekaar te leer.

Die twee artikels van my wat in hierdie onderhoud ter sprake is, betoog juis dat wetenskap en geloof nader aan mekaar moet beweeg en dat daar reeds tekens is dat teologie ’n behoefte aan wetenskaplike feite het en dat wetenskap weer ’n versugting uitspreek om ’n oorkoepelende waardesisteem te vestig wat die aarde sal respekteer en dien.

Hoe verstaan jy die rol van die kerk en teologie in die gesprek met natuurwetenskappe? Daar is soveel verskillende teologieë dat natuurwetenskaplikes dikwels sku is om met teoloë gesprekke te voer juis omdat hulle onderling erg verskil of vyandig is teenoor wetenskap (dink byvoorbeeld aan die heftige debatte van die kant van kreasionisme). En “natuurwetenskappe” is ’n baie wye veld, met vele ideologiese modelle wat dikwels intens van mekaar verskil. In sommige gevalle (die positivisme) was ’n sinvolle gesprek tussen die twee by voorbaat buite die kwessie. Eenvoudig en kru gestel: Watter teoloë gaan met watter natuurwetenskaplikes praat?

Teologie moet nie net ’n selfgesprek voer nie, maar moet juis met ander praat, ook met ander wetenskappe. Breedweg is daar een van vier opsies om te kies: teologie en wetenskap ignoreer mekaar; teologie en wetenskap veg teen mekaar; teologie en wetenskap trou met mekaar; en (my opsie) teologie en wetenskap praat met mekaar. In my gedagte sien ek die verskillende wetenskappe (ook teologie) soos punte op die omtrek van ’n sirkel. Elkeen beleef vanuit ’n unieke perspektief die werklikheid en ons moet kennis van mekaar se insigte neem en probeer agterkom hoe ons mekaar kan verryk.

’n Teologie van die natuur maak bemoeienis met ander wetenskappe soos biologie en fisika (en al die vertakkings daarvan), om maar net twee te noem. Eersgenoemde is belangrik om lewe en die ontwikkeling daarvan te begryp en laasgenoemde om tyd en ruimte en die verstaan daarvan te oordink.

Laat my toe om laasgenoemde aspek vlugtig te illustreer aan die hand van die eerste skeppingsverhaal in die Ou Testament. Dit kan ook lig werp op my veroordeling van die onverkwiklike debat tussen die kreasioniste en die evolusioniste, soos deur jou gestel.

Dit is belangrik om Genesis 1 vanuit ’n tyd-ruimtelike perspektief te lees. Dit is bekend dat hierdie verhaal gedurende die ballingskap geskryf is. Vir my om die tydsgees van die mense wat in ballingskap weggevoer is naastenby te probeer peil, is die sleutel om hierdie verhaal te verstaan Psalm 137. Daar sit die weggevoerde Judeërs toe by die riviere van Babilon en moes die gespot van hulle oorwinnaars verduur. Hulle tempel in Jerusalem was platgeslaan en nou word hulle boonop smalend uitgedaag om hulle Sionsliedere tot vermaak van hulle oorwinnaars te sing. Dan hang hulle maar eerder hulle liere aan die wilgertakke op, sê die ballinge, en sug uit hoe hulle in ’n vreemde land hoegenaamd ’n lied tot eer van die Here kan sing.

Die argument wat hier by sowel die Babiloniërs as die Judeërs geld, is duidelik. Die ruimte-aspek is dat God se heerskappy plekgebonde is en dat aangesien hulle nie meer in Jerusalem is nie, die God van Israel se mag gevolglik ook nie meer van toepassing is nie. Hulle was nou op ’n ander plek. Die tempel wat verwoes is en die inhoud wat gebuit is, dui boonop op die oormag van die Babiloniese gode. Dit geld ook vir die tydsaspek. Tot sê maar 586 vC (die jaar van die Judese ballingskap) het die God van Israel volgens die Babiloniërs dalk nog mag gehad, maar ná die ballingskap is die God van Israel dus as ’n “has-been” beskou. Die God van die Judeërs se plek en tyd was iets van die verlede.

Dan kom die priester met sy ongelooflike gedig in Genesis 1. Hy spreek tyd en ruimte deurgaans aan. Dit begin nie by die wegvoering van die Suidryk (586 vC) nie, maar “in die begin” van alles. Hy skryf sy verhaal vanaf die eerste oomblik af: die skepping van hemel en aarde. So gebruik hy tyd as die matrys van die skepping: dag en nag. Vir ses dae laat die digter die refrein weerklink (“Dit was aand en dit was môre, die soveelste dag”). Dit geld ook vir die sewende dag, maar dié keer sonder ’n nag. Die skeppingsdaad het ’n oop einde. Die God van Israel is van ewig af God en sal tot in ewigheid ook God wees.

Die priester-digter spreek ook die ruimtelike aspek aan. Soos kleiner-wordende sirkels ontplooi hy sy verhaal: lig, lug, grond en plante is die formele aspek van die skepping (eerste drie dae), waarop die inhoudelike aspek volg (laaste drie dae): voëls, visse, diere en mense. Basies is hier dus ses sfere: die ontoeganklike lig, die eksosfeer,9 die hidrosfeer, die atmosfeer, die geosfeer en die biosfeer. Dit word ook in die artikels vermeld.

Daar was ’n stadium toe dogmatici probeer bewys het dat teologie ’n wetenskap is, maar hulle het nooit werklik geslaag nie. Die omgekeerde gebeur toe: Daar word aangetoon dat wetenskap nie sonder sy eie voorveronderstellings is nie en glad nie so objektief is as wat dit voorgee nie. ’n Eksperiment word opgestel met bepaalde voorveronderstellings in die wetenskaplike se agterkop. Die metodologieë van teologie en van wetenskap verskil uiteraard, maar met hierdie twee betrokke artikels by LitNet probeer ek juis aantoon dat teologie en wetenskap toenemend van mekaar se benaderings bewus begin word en van mekaar afhanklik raak. Ons moet sowel “van bo” as “van onder” oor die werklikheid dink.

Alvin Plantinga het dit vir my nogal treffend uitgedruk waar hy in ’n boek redeneer dat daar wel ’n oënskynlike konflik tussen teologie en wetenskap blyk te wees, maar inderwaarheid wesenlike ooreenkoms. Aan die ander kant, redeneer hy, is daar oënskynlike ooreenkoms tussen naturalisme (vergelyk Dawkins) en wetenskap, terwyl daar ’n wesenlike verskil is.

Ek bied graag my definisies van sowel teologie as universiteit (lees wetenskap) aan soos ek dit as dekaan beoefen en bevorder het aan die Universiteit van Pretoria10 (vandag die hoogste gegradeerde Fakulteit Teologie en Religie in Afrika en onder die top 100 in die wêreld):11

  • Teologie is ’n wetenskaplike poging van gelowiges in die openbare sfeer om greep op ’n multidimensionele werklikheid te kry sodat dit saak maak.
  • Universiteite is ruimtes van debat en wetenskaplike ondersoek waar nuwe kennis deur intellektuele aktiwiteit en vryheid van idees ontwikkel word.

Jy sê jy stel dit “kru”, maar watter teologieë gaan met watter wetenskappe praat? Wie my betrokke artikels gelees het, sou gesien het dat ek met opset die bepaalde lidwoord (“die”) by “teologie” en by “wetenskap” vermy het. Daar is nie net een teologie nie en ook nie net een wetenskap nie. Maar daar is goeie teologie en daar is slegte teologie, en soos die entomoloog Eric Holm sal bevestig, geld dit ook van wetenskap.

Met my definisie van teologie poog ek om goeie teologie te beoefen. Dit praat nie bloot oor die geloof nie, maar uit die geloof; dit deins nie terug vir (robuuste) debat nie; dit trek nie terug uit die samelewing nie, maar is betrokke – op ’n manier wat saak maak (etiek). Geloof is kritiese selfverantwoording, maar terselfdertyd in staat om die onsienlike te sien en te hoop selfs as daar geen meer hoop is nie. Die werklikheid is vir my duidelik multidimensioneel.

Jou artikel het belangrike teologiese inhoude en insigte. Hoe kan die insigte nou prakties word? Dit is uiteraard belangrik om ’n inspirerende Bybelgerigte teorie in plek te hê en om te bou op teoloë se teoretiese besinnings. Maar so ’n akademiese gesprek hang dikwels in die lug. Dit kry eers ’n gesig wanneer mense prakties te doen kry met die vernietiging van die omgewing en iets daaromtrent moet doen. Wat sou jou teoretiese besinning byvoorbeeld beteken vir ’n Sondagpreek en ’n Bybelstudie-byeenkoms, of vir die gewone lewe van kerkmense? Hoe sou ’n mens geestelike leiers so ver kan kry dat hulle die teologiese insigte op voetsoolvlak laat uitwerk? Die baie bekende Switserse Nuwe Testamentikus Ulrich Luz, wat ’n boeiende en baie deeglike kommentaar van drie bande op die Matteus-Evangelie geskryf het, het in Zürich waar hy professor was, met ’n fiets gery. Sy bydrae tot die bewaring van die omgewing was om nie ’n motor aan te hou nie. Ek dink verder byvoorbeeld aan die belangrike werk van Tinus Daneel wat mense in Zimbabwe kon mobiliseer om daadwerklik iets vir die omgewing te doen (sien die interessante artikel hieroor ). Dit was ’n akute probleem dat drie persent van die land jaarliks tot niet gegaan het. Daneel het saam met leiers van die Afrika- inheemse kerke die gewone volk oortuig dat politieke bevryding onafgerond is as dit nie gekoppel word met ekologiese vernuwing om die ontbossing van die land te keer nie. Dit het prakties beteken dat hulle bome plant, waterbronne oppas en spaar en die natuurlewe beskerm. Dit was ’n komplekse benadering waarin sosiale, politieke, kerklike en ander oorwegings ’n groot rol gespeel het. Trouens, in die geval van die merkwaardige Tinus Daneel het ’n mens ’n voorbeeld van hoe praktyk van bewaring ’n ferm deel van gelowige mense se lewens was. Maar in kort, wat is ons uitdagings?

Elize Tempelhoff skryf in Beeld (29 Julie 2019) dat Suid-Afrika reeds op die gemelde datum die jaar se reserwe-aanbod uitgeput het (Global Footprint Network). Dit staan bekend as Aarde-oorskrydingsdag. In effek verbruik ons 1,75 keer meer as wat die planeet se hulpbronne kan voorsien. Maar kom ons lys eers van die rooi ligte wat ons sien en wat allesbehalwe “alarmisties” is.

Eerstens moet ons let op ons bevolkingsaanwas. Aan die begin van die 20ste eeu was daar 1,6 miljard mense op die aarde. Aan die einde van daardie eeu was dit ses miljard. Op die oomblik is dit al 7,7 miljard! Die Verenigde Nasies projekteer ’n syfer van meer as nege miljard vir die jaar 2050. Hierdie mense moet almal eet, woon, werk en ontspan. Ondanks teenmaatreëls groei die wêreldbevolking met meer as 100 miljoen mense per jaar!

Vandag besef ons dat die bevolkingsaanwas die eintlike probleem is en die res as’t ware manifestasies daarvan is. Thomas Malthus het reeds in 1798 sy geskrif “An essay on the principle of population” uitgegee waarin hy voorspel het dat die bevolkingsaanwas die ekonomie so sou verlam, dat maatskaplike ellende toenemend die gevolg sou wees. Uiteraard is oor die jare heen baie kritiek teen sy metodiek en gevolgtrekkings ingebring (soms tereg), maar die geskiedenis het sy gevolgtrekking as korrek bewys.

In die meeste Eerste Wêreld-lande het die bevolkingsgroei reeds tot stilstand gekom. In Derde Wêreld-lande verdubbel die bevolking egter elke ongeveer 20–30 jaar! In 1902 was Suid-Afrika se totale bevolking ’n skrale vyf miljoen en tans is ons omtrent 58 miljoen, waarvan meer as 37% jonger as 15 jaar oud is. Volgens inligting van die regering sal ons oor minder as 20 jaar reeds die 70 miljoen-kerf in ons land verbysteek. Ander scenario’s wil dit selfs hê dat Suid-Afrika dan selfs 80 miljoen mense kan wees. Hierdie getalle is nie net die gevolg van natuurlike aanwas nie, maar veral ook die gevolg van migrasiepatrone uit die res van Afrika.

Die negatiewe impak wat buitensporige bevolkingsgroei op die heil van alles en almal het, is vanselfsprekend. Verstedeliking met sy gevolglike woningnood, werkloosheid en armoede, geweld en misdaad, hongersnood en siektes is van die belangrikste effekte wat uitgesonder kan word. Daar is bereken dat 42% van die Suid-Afrikaanse bevolking op slegs 13% van die grond woon. Hierdie oneweredige konsentrasie plaas uiteraard ’n onhoudbare las op die natuurlike hulpbronne.

Die belangrikste ekologiese probleem vir Suid-Afrika is egter die tekort aan water. Streng waterbeperkings is aan die orde van die dag en ons lees byna daagliks in die koerante van munisipaliteite wat geen water meer kan voorsien nie, ander slegs vir ’n paar uur in die oggend.

Ons het reeds verwys na die stelselmatige aardverwarming. So ver terug as in 1890 het die Sweed Svante Arrhenius reeds die verhouding tussen atmosferiese koolstofdioksied en omgewingshitte aangetoon. Toe reeds het hy gesê dat die verbranding van fossielbrandstof, pertinent steenkool, invloed op die omgewings­temperatuur het. Koolstofdioksied funksioneer as ’n soort kombers om die planeet. Dit laat kort energiegolwe deur, maar nie die langes nie. Daarom hou dit die hitte van die aarde vas. Dit is waarom daar ook van die sogenaamde kweekhuiseffek gepraat word. Die oormaat van hittevrystelling op die planeet kan dus nie ontsnap nie en gevolglik styg die temperatuur. Verbranding van fossielbrandstof gee 5,4 miljard ton koolstof per jaar af en dit maak die “kombers” al hoe dikker. ’n Verdere 1–2 miljard ton koolstof word jaarliks hiertoe bygevoeg deur die verbranding van die wêreld se woude. Hierdie temperatuurstyging word bereken teen ongeveer 3° C per halwe mensleeftyd. Die twee pole van die aarde kan in hierdie periode selfs soveel as 7° C styg. Oor ’n periode van 50 jaar sal duidelik gesien word hoe die temperatuur gestyg het, misoeste van gesaaides, styging van die seevlak (1–2 m per 20 jaar), uitsterwing van miljoene spesies en ook woestynbekruiping plaasgevind het. Daarom is van die onrusbarendste gevolge op die natuur die vry­stelling van koolstof in die atmosfeer. Dit lei tot globale verwarming met ernstige gevolge. Die huidige koolstofemissie is 385 een­hede per miljoen (epm) en styg teen ’n haas onbeheer­bare tempo. Indien die styging tot ’n maksimum van 450 epm beperk kan word, hoop sekere wetenskaplikes dat die globale verwarming onder 2° C gehou kan word. Die ideaal is egter om dit te beperk tot 350 epm oftewel onder 1,5° (Parys-protokol).

Die jaar 2016 was die warmste jaar nog, maar 2019 is slegs ’n kortkop agter, volgens Daily Maverick (16 Januarie 2020). Aansluitend by die vorige vraag is dit daarom so te betreur dat President Trump die VSA se onderskrywing van die Parys-protokol teruggetrek het. ’n Onlangse artikel van Francois Durand hieroor, "Suid-Afrika en klimaatsverandering – van ontkenning tot wanhoop”, is die moeite werd om van kennis te neem. (NHN-Nuusbrief 29 Maart 2020). Hy skryf onder meer: “Die Suid-Afrikaanse regering maak hulself net so skuldig aan lippetaal as ander regerings. Hulle praat volhoubaarheid, maar doen die teendeel.”

Alhoewel daar vandag minder gewag gemaak word van die gevaar van die perforering en veryling van die osoonlaag, word dit steeds as ’n ekologiese krisis beskou. Chloorfluoorkoolstofverbinding (CFK) is ’n gas wat in 1930 deur Thomas Midgley ontwikkel is. Dit is in die verlede as die dryfgas vir aërosolkannetjies en ook die gasmedium vir lugreëlings en yskaste aangewend. Dit is ook gebruik in die skuimbasisse van meubels, matrasse en in isolasiemateriaal in die boubedryf. Hierdie gas verbind by vrystelling in die atmosfeer met die osoon (O3) in die lug en ’n gevolglike opening ontstaan in hierdie dun filmlagie wat as omhulsel van die planeet dien. Die son se gevaarlike ultraviolet kan dan nou ongestoord deurkom. Hierdie CFK-gas het ’n leeftyd van ongeveer 75 jaar wat sy newe-effek dus tot diep in die 21ste eeu gaan laat geld. Ongeveer 50% verlies aan osoon het reeds by die Suidpool plaasgevind. Daar is bereken dat ’n 1%-styging in ultraviolet die frekwensie van velkanker met 2–3% verhoog – ander skat dit so hoog as ’n 5–7%.

Laastens moet die gevaar van kernkrag ook genoem word. Dalk onthou ons nog die fliek The day after, die dag na ’n kernbomontploffing, of verlede jaar se opspraakwekkende TV reeks Chernobyl. Met ’n kernontploffing gebeur die volgende, afgesien van die gewone vernietigende effek: Baie digte rook gaan die lug in op, vorm ’n sambreel oor die planeet, en sonlig word met 90% geblokkeer; die temperatuur daal vinnig met 15–20° C en die sogenaamde nukleêre winter breek aan. Wetenskaplikes meen dat so ’n winter ook 65 miljoen gelede gebeur het met die meteorietreën se stof wat ook die sonlig geblokkeer het en die uitwissing van miljoene spesies veroorsaak het.

Dit rus swaar op ons gemoed dat die Noord-Koreaanse regering volhard om hulle kerntoetse uit te voer, ondanks wêreldwye pogings om dit te staak. Die aftakeling van kernwapens wêreldwyd moet geëis word. In ’n stadium het die VSA en Rusland saam genoeg kernwapens gehad om ’n Hirosjima-gelyke ontploffing vir 12 dae lank elke sekonde te laat plaasvind!

Dit is vir my wonderlik dat kerke en gemeentes so betrokke raak by die omgewing. Jy noem inderdaad die wonderlike werk wat Tinus Daneel in Zimbabwe begin het met die aanplant van bome. Maar daar is baie sulke voorbeelde. Ek het byvoorbeeld ’n Zambiese predikant wat ’n tydjie gelede ’n PhD gedoen het en wat die mynmaatskappye in die Koperstreek in Kitwe tot verantwoording geroep het. Selfs die betrokke minister het van sy studie kennis geneem.

Maar ek bly by my punt: anders dink, anders doen. Ons moet mense se werklikheidsverstaan so beïnvloed dat hulle hulle eenheid met die natuur moet besef en gevolglik ook hulle verantwoordelikheid teenoor die natuur.

Dit val my op uit televisieprogramme oor boere hoe sensitief hulle is oor die omgewing. Net so het ek dikwels gesien hoe ernstige hengelaars hul visvangs teruggooi eerder as om die vishulpbronne verder uit te put. Maar mense se liefde vir die natuur steier onder die wyse waarop groot geldmag uit gierigheid ons skaars hulpbronne uitput, hoe groot mynmaatskappye die omgewing besoedel en hoe verstedeliking tot grootskaalse besoedeling lei. ’n Mens sou dink dat die enigste uitweg is dat ons welvaartsamelewing eintlik ’n slag bekyk moet word: In die plek van oordaad moet ons ’n lewe van eenvoud najaag. Eintlik is liefde vir God se skepping ’n vanselfsprekende tema in die Bybel. Dit lyk of ons nie baie teologie nodig het om dit by mense tuis te bring nie. Met ander woorde, dit is nie maar net ’n kwessie van elektrisiteit en water bespaar nie, of nie plastiek gebruik nie, maar ’n heel groot en ingrypende denkverskuiwing wat moet gebeur. Is ons geestelike leiers reg om op die diep vlak oor die saak van die omgewing te werk?

Jou vraag bring ons natuurlik by die bekende Genesis 1:28 uit. Ons het die uitdrukking “onderwerp en heers” ongelukkig lank verkeerd verstaan. Dit is waarom die 1983-Vertaling ook eerder van “bewoon en bewerk” praat. Eintlik is hierdie opdrag ’n voedselgebod wat aan die mens gegee word om te oorleef. Die volgende verse verduidelik dit. Die mens kry die saad en vrugte van die natuur om van te leef en die diere kry weer die blare en plante om van te eet. Laasgenoemde voeding verg nie arbeid nie, eersgenoemde wel. Die mens moet dus werk om te kan eet. Gewasse wat saad en vrugte voortbring, vra om na omgesien te word, aangeplant en geoes te word. Arbeid is die opdrag van die mens om te oorleef en nie om te vernietig nie.

Die hoogtepunt van die skepping is nie die mens nie, nie dag ses nie, maar dag sewe, die Sabbat. Hier is God en mens harmonieus saam in die skepping, boonop met ’n oop einde. Ons het in Genesis 1 dus geen wetenskaplike aanbod hoe alles ontstaan het nie; ons het selfs nie eers ’n belydenis dát God geskep het nie (destyds was skepping ’n algemeen aanvaarde feit), maar ons het hier ’n loflied wat die God van Israel as die Skeppergod van alle tye en plekke loof. Dit gee ’n ewigheidsblik, ja, troos, maar tegelyk ook ’n bepaalde verantwoordelikheid om na die skepping om te sien. 

Die teoloog Calvin B DeWitt, het in 1995 die volgende vier prinsipiële uitgangspunte vir ’n ekologiese skeppingsleer daargestel:

  • Die onderhoudingsbeginsel: Soos wat God die skepping onderhou, moet die mens dit ook doen.
  • Die Sabbatsbeginsel: Die skepping moet toegelaat word om te rus na menslike gebruik.
  • Die opbrengsbeginsel: Die mens kan inderdaad die skepping geniet en die vrug daarvan geniet.
  • Die beperkingsbeginsel: Daar is besliste grense aan die mense se betrokkenheid en benutting van die skepping.

Dan is daar nog boonop teoloë wat dan ook sommer die eer vir alle wetenskaplike vooruitgang vir die Christendom wil opeis (Friedrich Gogarten). Ons het immers, sê hulle, die bonatuurlikheid of goddelikheid uit die natuur uitgehaal (ontmitologiseer), en nou kan die mens voluit inklim sonder enige bygelowe hoegenaamd. Geen wonder dat daar ook verwyte teen die Christendom geslinger is as gevolg van die ekologiese krisis nie.

In alle eerlikheid moet ons darem ook dadelik sê dat die ekologiese krisis nie die verhaal is van die verstaan van die Bybel nie, maar wel die verhaal van die verkeerde verstaan daarvan! Genesis 1:28 se “vermeerder en vul die aarde” moet saam gelees word met Eksodus 1:7, “Die Israeliete was vrugbaar en het vermeerder”, asook Josua 18:1, “Die land was nou onderwerp.. Hierdie opdrag in Genesis 1:28 was geen tydlose saak wat met byna goddelike toewyding ten alle koste, en boonop tot ons persoonlike (korttermyn)voordeel, uitgevoer moes word nie!

In die literatuur oor ’n ekoteologie word graag na Franciscus van Assisi verwys wat na aan die aarde gelewe het; die son was sy broer en die maan sy suster. Ek was verstom toe ek onlangs foto’s sien van die kanale in Venesië wat meteens skoon is en daar visse in swem! Volg gerus die skakel.12 En dit alleen omdat die nywerhede vanweë COVID-19 produksie (en besoedeling dus) gestaak het. Dieselfde het gebeur met lugbesoedeling oor China. Nasa se satellietfoto’s toon ’n ongelooflik skoner lug oor China omdat die aktiwiteite van nywerhede so drasties ingekort is. Kyk hiervoor na die betrokke skakel.13

Kan dit wees dat COVID-19 ons hard terugbring aarde toe? David Korten14 bepleit ’n “nuwe ekonomie” en skryf (my vertaling): “Die eerste fatale fout van ’n selfvernietigende ekonomie is om die waarde van geld hoër te ag as kulturele waardes. Die tweede is om wêreldmarkte (‘global corporations’) bo aktiewe gemeenskappe as die institusionele locus van beheer te beskou.”

Hoe dink jy oor die rol van die Protestantisme met betrekking tot die mens se plek en rol in die wêreld? Ek dink aan Max Weber se beroemde tese dat die Protestantse werksetiek tot kapitalisme aanleiding gegee het. Op dié manier het hy Protestantisme met ’n bepaalde ekonomiese model verbind. Dink veral ook aan die sterk tradisie in sommige kerklike kringe dat die wêreld boos en sondig is, dat mense (gelukkig) daarvan bevry gaan word en “hemel” toe gaan? Die negatiewe houding teenoor die wêreld was veral in Piëtistiese kringe met hul sterk beklemtoning van bekering en ’n vroom lewe sterk teenwoordig. Aan die ander kant val dit my ook op hoe die Protestantse tradisie mense in ons land se liefde vir die natuur gevorm en gestuur het. Dit het my laat dink aan die Gereformeerde tradisie wat beklemtoon dat God tot ons spreek deur die Skrif (die “besondere” openbaring), maar dat God ook tot ons praat in die natuur (die “algemene” openbaring). En dieselfde tradisie beklemtoon dat nie net die mens nie, maar die hele skepping deur God gemaak is en bevry word. Ons het van kleintyd af geleer die skepping behoort nie aan ons nie, maar word aan ons geskenk. Ons is nie eienaars van die wêreld nie. Die omgekeerde is eintlik waar: Die wêreld besit ons, bepaal ons lewens, verryk ons en seën ons met baie weldade. As die wêreld siek is, sal ons lewens ook bedreig word. Ek sien in die jongste verlede hierdie perspektief baie sterk in spiritualiteitswerke raak. Dit het uiteraard ingrypende implikasies: Ons het ’n heel ander verhouding tot die wêreld as ons weet dat die wêreld ons lewens stuur. As die wêreld en die natuur vir ons in die dieper dinge van God inlei, is dit tog iets heel anders as om te vertel dat ons oor die skepping heers en dit moet onderwerp.

Die kerk moet hom by sy lees hou, impliseer jou vraag. Met ander woorde, vir die geloof gaan dit om die abstrakte en die gees en vir die wetenskap om die natuur en die materiële. Sodanige dualisme, wat al sedert Plato se tyd bekend is, durf ons egter geen oomblik in ons werklikheidsverstaan plek gee nie.

In ’n sekere mate het ek die kwessie reeds aangeraak deur op die oortuiging te wys dat mense oordeel ons is hier op aarde bloot vreemdelinge en bywoners en ons eintlike bestemming is elders (vgl Hebreërs 11:13). Ons weet dis nie regtig die bedoeling van die Bybel nie. Ons is onteenseglik aarde self en God kom hier by ons bly.

Die mens kan weliswaar nie resloos gereduseer word tot bloot ’n stuk natuur of materie (fisikalisme) nie, so asof daar nie ook ’n surplus van betekenis in die menslike persoon setel nie. Tog moet die mens terdeë besef dat God ons uit grond geskep het en dat ons tot grond ook terugkeer. Ons het natuur en ons is natuur. Ook die mens is die produk van honderde duisende jare se evolusie en daar is selfs geleerdes wat oordeel dat die menslike genoom se aard is om ook aan die bonatuurlike te glo.

Ekologie is ’n wetenskap wat die studie van die “huis” (weer eens vanuit die Grieks oikos) behels. Die omgewing wat organismes huisves, staan weer bekend as ’n biotoop. Dit het altyd bepaalde fisiese, chemiese en biologiese eienskappe en is dus sowel organies as anorganies. Die eenheid wat tussen die biotoop en die organismes bestaan, staan bekend as ’n ekostelsel. ’n Magdom faktore binne sowel as buite die ekostelsel bepaal die unieke aard daarvan. Die lewensgemeenskap van die biotoop stel voortdurend eise wat vir sy voortbestaan deurslaggewend is. ’n Ekostelsel vorm met ander woorde ’n min of meer selfstandige stelsel van organismes wat deur interaksie ’n dinamiese ewewig na binne en ’n bepaalde stabiliteit na buite handhaaf.

’n Mens sou ook voorbeelde uit die wysheidsliteratuur kon bekyk om te sien hoe geïntegreerd mens en natuur is: Die mens deel dieselfde lot as die dier (Prediker 3:19) en sterf soos elke ander kreatuur (Job 14); die regverdige en sy diere is wedersyds afhanklik (Spreuke 12:10); en “vlees” is tegelykertyd ’n antropologiese en ’n kosmologiese begrip (Psalm 90). En so word die begrip “medemenslikheid” na “medekreatuurlikheid” verander en word die lewe die kleinste gemene deler van die skepping.

Ek wil egter nie die argument te ver gaan haal nie. Die punt is, soos gesê, dat ons nie net ’n liggaam het nie, maar ook liggaam ís. Martin Luther het dit treffend in sy Klein Kategismus gestel: “Ek glo dat God my – saam met alle ander kreature – geskape het.” Karl Rahner het voorgestel dat ons nie moet sê dat God in Christus mens geword het nie, maar vlees of selfs aarde geword het, oftewel, Skepper het skepping geword. Dit sal die mens se grootheidswaan relativeer en die totale skepping in God se liefde intrek. Aan die einde van die sesde dag het God as’t ware teruggekyk op die hele skepping en gesê dit is baie goed (Genesis 1:31).

Ongelukkig is daar inderdaad wetenskaplikes, politici, ekonome en noem maar op wat hierdie krisis wil afmaak as alarmisties om kapitalisme te ondergrawe en sosialisme te bevorder. Dit is kwansuis ’n veldtog om die rykes nog ryker te maak en die armes verder uit te buit. Die natuurlike hulpbronne het in die verlede baie mense baie ryk gemaak en die bevoordeeldes wil hieraan bly klou, ongeag die uitputting en die vernietiging daarvan.

Die mens se doen is die resultaat van dink. Hoe jy jouself en ander verstaan, bepaal jou optrede. As jy dink jy is “heer en meester” van die natuur, sal jy ook so optree. Maar wanneer jy besef dat jy God se “verteenwoordiger en beeld” hier op aarde is, dat jy dit moet “bewoon en bewerk” en dat die skepping nie net goed is nie, maar juis baie goed, het dit direkte invloed op jou etiek. Verby is nou die opvatting dat die mens die middelpunt van alles is en dat alles gebeur en daar is slegs om my te behaag. Verby is selfs die opvatting dat die mens die kroon van alles is en die ganse natuur slegs maar die dekor of agtergrond vorm van hierdie drama met my en God as hoofspelers.

En verby is die tyd dat die kerk agteroorsit en omgewingsbewaring aan wetenskaplikes oorlaat. En dat ons God en ons naaste liefhet soos onsself, maar nie ook die aarde nie.

 

Bronne

1 Buitendag, J. 2004. Anders dink anders doen. Op soek na ’n eko-teologiese perspektief op kloning. Verbum et Ecclesia, 25(2):402–22.

2 Wie my loopbaan as akademikus wil nagaan en die publikasies uit my pen wil nalees, kan gerus die volgende akademiese webwerwe besoek: https://orcid.org/0000-0002-3693-0176 asook https://up-za.academia.edu/JohanBuitendag.

3 Moltmann, J. 2000. Experiences in theology. Ways and forms of Christian theology. Minneapolis: Fortress Press.

4 Uiters weinig mense is bewus van hierdie tweede naam van Moltmann. Ek het dit te wete gekom toe ek sy besoek aan Suid-Afrika in 2017 gereël het.

5 https://www.nuwe-hervorming.co.za/die-mensdom-se-aandeel-in-klimaatsverandering-feit-of-fiksie-prof-sakkie-spangenberg.

6 Loc 4711 van Jorgen Randers se boek 2052. A global forecast for the next forty years. Chelsea Green Publishing, White River Junction, Vermont. Kindle-uitgawe.

7 Skinner, Brian J en Barbara W Murck. 2011. The Blue Planet: An introduction to earth system science. Hoboken: John Wiley & Sons.

8 Ruse, M. 2013. The Gaia hypothesis. Science on a pagan planet. Chicago en Londen: University of Chicago Press.

9 ’n Eksosfeer (van die Griekse ἔξω, éxō, "buite, ekstern") is ’n dun, atmosfeeragtige volume rondom ’n planeet of natuurlike satelliet waar molekules deur die liggaam se swaartekrag aangetrek word, maar die digtheid so laag is dat hulle nie as ’n gas kan optree en teen mekaar kan bots nie. In die geval van liggame met ’n aansienlike atmosfeer, soos die aarde, is die eksosfeer die heel boonste laag, waar die atmosfeer dunner raak en met die interplanetêre ruimte vermeng. Kyk hiervoor (21 Maart 2020 geraadpleeg).

10 Kyk hiervoor Buitendag, J. 2016. “The idea of the University” and the “Pretoria Model”. Apologia pro statu Facultatis Theologicae Universitatis Pretoriensis ad secundum saeculum, HTS Teologiese Studies / Theological Studies 72(4):a4366, asook Buitendag, J. 2019. Some reflections on the genealogy of the “Pretoria model”: Towards a definition of theological education at a public university, HTS Teologiese Studies / Theological Studies 75(3):a5487.

11 Kyk hiervoor die gesaghebbende QS-gradering. Slegs twee fakulteite se opleidings in Teologie en Religie in die hele Afrika haal die paal: Universiteit Stellenbosch (h-indeks van 81,6) en die Universiteit van Pretoria (h-indeks van 88,9).

12 Kyk hiervoor (21 Maart 2020 geraadpleeg).

13 https://www.cnbc.com/2020/03/02/nasa-images-chinas-air-pollution-decreased-amid-coronavirus-measures.html (21 Maart 2020 geraadpleeg).

14 Kyk hiervoor https://www.ineteconomics.org (10 Maart 2020 geraadpleeg).

  • 16

Kommentaar

  • Avatar
    Naas Ferreira

    Uitstekende gesprek met ’n deurleefde ekoteoloog. Geluk aan die onderhoudvoerder en prof. Buitendag. Volgens John W Cooper “Panentheism: The other God of the philosophers” is Moltmann se panenteisme Christelike Teologie: “Jurgen Moltmann offers the most articulated, explicitly panentheistic Christian theology in history. It is panentheistic because the perichoretic mutuality of God and world is ontologically constitutive for both.” (pg. 257) Panenteisme sien dat God in alles is, alles is in God, maar God is groter as alles. Trek ’n mens die Evangalie van Thomas nader verander ’n mens se storie. “Yeshua said: Whoever drinks from my mouth will become like me, and I will become them, and what was hidden from them will be revealed.” (The Gospel of Thomas: The gnostic wisdom of Jesus – deur Jean-Yves Leloup.) Die nuwe teologiese storie moet ’n ander antropologiese storie ook bevat.Baie dankie vir die gesprek.

  • Avatar
    Christo van der Merwe

    Dankie vir die plasing van hierdie onderhoud. Johan Buitendag se manier van dink oor dinge wat so wesenlik is om aan lewe sin te gee is baie waardevol. Hy is inderdaad ’n meningvormer van formaat wat ons in die tyd waarin ons lewe baie nodig het

  • Avatar
    Naas Ferreira

    Die Afrikaanse vertaling van Logion 108 van die Evangelie van Thomas deur prof. Francois Tolmie lees soos volg: “Jesus het gesê: ‘Wie uit my mond drink, sal soos ek word. Ja, Ek sal daardie persoon word en geheime dinge sal aan so iemand bekend gemaak word.’” Die nuwe storie sal die mistieke van Tantra moet insluit om die “geheime dinge” te verstaan. ’n Uitstekende bron vir die “geheime dinge” is “Tantra Illuminated: The philosophy, history, and practice of a timeless tradition” deur Christopher D Wallis. Alan Watts die bekende Zen-mistikus wat eers ’n Anglikaanse teoloog was, voer in die Voorwoord van die heruitgawe van “Behold the Spirit: A study in the necessity of mystical religion” aan; “A Christianity which is not basically mystical must become either a political ideology or a mindless fundamentalism.” Godsdiens as politiese ideologie of fundamentalisme kan nie langer werk nie.

  • Avatar
    Marius van Wyk

    Baie dankie Johan. Ek het dit aandagtig deurgelees. Laat my asseblief toe om te sê dat ek trots is om jou as studieleier te kon hê – al was dit vir my net op magistervlak. Dit was ook ’n voorreg om my teologie aan TUKS te kon doen

    Mbt jou gedagtes oor die toekoms van die aarde, wonder ek wanneer die kantelpunt bereik gaan word. Moontlik is ons reeds daar...? Ek sou dink dit kon nou die tyd wees dat die natuur weer ’n ekwillibrium gaan bereik. Lewe soos ons dit ken, of waaraan ons gewoond is, is net nie meer volhoubaar nie.

    Ek hou van die grafiek wat die tendense in, en korrelasie tussen, BBP-groei, verwarming, bevolkinsgroei en emissive-vlakke aandui. Indien hierdie COVID-19 inperking nie opgehef word en die markte herstel nie, gaan BBP-groei heelwat vroeër ’n infleksiepunt bereik, en heel moontlik ook bevolkingsgroei – en natuurlik dan die res. Let wel, ek sê NIE die sterftesyfer gaan bevolkingsaanwas enigsens verlangsaam nie, maar wel lewensverwagting as direkte gevolg van grootskaalse armoede, en heel moontlik anargie. Volgens ’n Economist-artikel, “A Grim Calculus” (skakel hieronder), kan indien hierdie inperking vir ’n jaar voortgaan, die VSA en Eurosone ekonomieë met ’n derde laat krimp.

    Dit sal katastrofaal wees – ’n Malthusiaanse “korreksie” dalk?

    Regerings sal moet kies tussen ’n mortaliteitskoers van 5% agv van die virus, of 50% agv hongersnood/geweld. So ’n keuse roep noodwendig ernstige etiese kwessies na vore. En, mag ek byvoeg, die huidige skuld tot BBP vlakke van verskeie lande, oa Japan, VSA, China is onvolhoubaar.

    Kortom, die mensdom word van twee kante af bedreig: ’n aarde wat wankel onder totale oorbenutting (1.75 maal), en ’n uiters brose ekonomie wat ook op die afgrond wankel. Johan, my vraag aan jou is: moet ons nie begin om wyer as ekoteologie te dink nie? Hoe kan hierdie tweeledige bestaanskrisis waarmee die mensdom gekonfronteer word, teologies verreken word?

    Sien die artikel in The Economist:
    https://www.economist.com/leaders/2020/04/02/covid-19-presents-stark-choices-between-life-death-and-the-economy?cid1=cust/ednew/n/bl/n/2020/04/2n/owned/n/n/nwl/n/n/A/441734/n

  • Avatar
    Johan Buitendag

    Dankie aan Naas Ferreira se opmerkings. Sy verwysing na panenteïsme is interessant. Die sleutel is natuurlik sy woorde "God is ook groter as alles". Alhoewel Moltmann in menige boeke hierdie begrip ondersteun (juis ook skeppingsleer), doen hy toenemend afstand daarvan. Ek het hom persoonlik daarna gevra. Hy voel die term het te veel filosofiese bagasie en God se schechina (inhabitasie) druk sy gedagtes oor God in die skepping toereikend uit.

  • Avatar
    Johan Buitendag

    Dankie Marius! Komende van ’n sakeman wat die hoogste sport in die sakewêreld bereik het, is dit vir my baie werd. Ek is dit eens met jou analise dat ons voor ’n geweldige keuse staan: mense of ekonomie wat ironies genoeg, ’n oksimoron is (dus twee kante van dieselfde munt). Ek lees net vanoggend in Rapport ’n artikel van Pieter Malan wat oordeel ons het oorhaastig die Noordelike halfrond se aanpak gevolg, ongeag ons unieke situasie: https://www.netwerk24.com/Stemme/Aktueel/wie-is-weghol-virus-se-ware-slagoffers-20200404

    Net die tyd gaan leer watter kant toe se gevolge die ergste was.

    Jy is reg dat ons wyd moet dink. Ek verstaan eko-teologie juis as so ’n insluitende begrip. Trouens, ons praat al van astro-teologie en soos ek in die een artikel verwys het, “planetêre welsyn”. Nie alleen moet ons wegkom om die mens die sentrum van alles te maak nie, ook nie die aarde nie, maar die heelal. Ek werk nou juis saam aan ’n projek oor die etiek wat iemand soos Elon Musk se Space X volg om nou die ruimte te ontgin.

    Franciscus van Assisi is ons voorbeeld. Die aarde het genoeg vir ons behoeftes, maar nie genoeg vir ons hebsug nie (Ghandi). Ek wil inderdaad sien dat mense tot ’n ander werklikheidsverstaan kom wat soos ’n Gaia, ons organies een maak.

  • Maggies Johan, jy hou nooit op om my te verbaas en aangenaam te verras nie. Nie dat ek minder van jou verwag nie! Ek verstaan die geheelprent beter en reken jy moet nooit ophou om te skryf nie.

    Jy maak my ook sommer lus om te publiseer. Ek het begin met navorsing oor spiritualiteit vanuit my veld (Praktiese Teologie), maar besef ek sal moet uithaal om ’n geïntegreerde publikasie te skep – want jy stel ’n geweldige hoë standaard. Ek leer steeds baie by jou en sien uit na jou komende publikasies.

    Groot dank aan LitNet wat hierdie moontlik maak! Waarskynlik sit ons land met een van die rykste akademiese genepoele in die wêreld, spesifiek in Teologie. Baie dankie vir jou volgehoue bydrae hiertoe! Vrede!

  • Avatar
    Johan A. van Rooyen

    Johan, baie dankie dat jy díé en ander deursigtighede in die Ekologie met my deel, en gedeel het. Ek is geweldig bevoorreg. Sê weer, soos ek vir vele individue al probeer verduidelik het, jy en Danie (Veldsman), is soos min ander, in die SA konteks, ligjare voor. En ongelukkig sal julle werke en denke, soos gewoonlik, eers waardeer word, dekades en miskien eeue, nadat julle die stof veruil het vir ‘n positiewe gees.
    Dit is 'n uiters deursigtige en verantwoordelike artikel. Dankie!

  • Avatar
    Rudolph van Graan

    Met groot dank aan Prof. Johan Buitendag vir ‘n uitstekende onderhoud, en dankie ook aan onderhoudvoerder Pieter de Villiers. Prof. Buitendag trap met ‘n breë voetsool ‘n uiters sensitiewe spoor op ‘n werklikheid wat nou meer as ooit tevore vra om besinning. Dit wil gedoen word! Sy artikels, en hierdie onderhoud in besonder is niks anders as ‘n kunswerk nie.

    Wat iemand gese het oor die werk van Mary Oliver, is op Prof. Buitendag se werk van toepassing: “Her (his) way of regarding the created order can help inform a deeply theological vision of the world.” Prof. Buitendag open ons oë vir hierdie nuwe beskouing. In ‘n ander waardering van die digkuns van Oliver vat iemand anders dit so saam: “Instructions for living a life: Pay attention. Be astonished. Tell about it.” Dit is presies wat die onderhoud van Professor Buitendag doen; laat ons dit almal verder vertel! Ek noem dit graag “goeie teologie as kunswerk.”

    Sien artikels hierbo verwys
    1) https://www.christiancentury.org/article/critical-essay/why-we-need-mary-oliver-s-poems
    2) https://www.ruminatemagazine.com/blogs/ruminate-blog/mary-oliver-pay-attention-be-astonished-talk-about-it

  • Avatar
    Frits van Oosten

    Ek het met groot belangstelling en aandagtig die onderhoud met Prof Johan Buitendag gelees (en bestudeer). Dis is ten ene male verblydend en verfrissend om die in-diepte navorsing en nougesette toegewydheid waarmee Johan die uiters relevante onderwerp behandel, te mag deel. Nog belangriker is dat hy my denkwyse op 'n spoor geplaas het van bewuswording en leergierigheid: om meer te lees en te wete te kom. Daar is verskeie punte wat uiteraard oop is vir debatvoering maar ek het geen twyfel daaraan dat Johan nooit daarvoor sal terugstaan nie. Ek kan maar net hoop om meer uit Prof Buitendag se pen te kan lees! Ook groot dank aan LitNet vir die plasing en aan Pieter de Villiers vir uitstekende en boeiende onderhoudsvoering.

  • Avatar
    Spook Speurder

    Dankie vir u mooi en interressante skrywe, en kommentare. Ek hou van die beskrywing van Genesis as van die digkuns. Jou woorde Johan, van anders dink, anders doen, gee meer sin daaraan dat Johannes ons vra om ons denke te verander en dat hy goeie rede daartoe sou hê.
    Ek wil vra dat ons aandag aan twee vreemde geeste, wie God 'n hand laat bysit, gee, dat ons daardeur moontlik nader aan 'n verstaan van Genesis 1:28 mag kom.
    Die eerste gees ken ek as die slang en ook as Lucifer. God laat hom aan sy skepping, die mens, verander en daarna roep God 'n volgende gees uit, wanneer Hy die aarde as vervloek aandui, oor Adam se optrede na Lucifer se doene. Ek voel daar is 'n geestelike aspek aan die verskil in die verhouding tussen Adam en die grond, dat die werking van 'n verdere gees ingetree het.
    Met die dat die mens by God gewandel het en toe weggestuur uit God se teenwoordigheid is, lei daartoe dat sy denke en sintuie verander, en ons kan sien dit verander so ver bv dat met Enos se generasie die mens na God begin roep het, God so ver buite hoor en sig.
    In God se optrede met die toelating van die slang tot die mens het die betekenis van Genesis 1:28 moes verander het. Wat Paulus van praat, oor “Christus in my”, glo ek nie is vergelykbaar aan hoe die eerste Adam by God voor die slang se toetrede was nie. Hier kry ons nou met mense wie deur die val gegaan en anderkant uitgekom het, met hernude denke en vele meer te doen.
    Kan ons dan sê dat Genesis 1:28 na Adam se wese as mens verwys het, eerder as net na sy werke of take, dus sy kwalitiet van wees, dis van om sy wese te benoem en beskryf, dat daar 'n element van Heers is wat heilig goddelik is, soos Jesus van kindertjies praat, maar toe weggeval het, miskien met die toetrede van ander geeste tot Adam. Daarby, alreeds het die skepping, of deel daarvan, soos in Genesis 2:4 van generasie verander, van die hemel af lyk my aarde toe, en Genesis 1:28 het Genesis 2:15 geword.
    Nou die met God se gees tot alle mense beskikbaar, gegewe die voorwaardes daaraan verbonde, word ons bekend met wysheid en verander ons ons denke en tree ons meer verantwoordelik op, meer selfbewus en ons so uit eie wil vrylik aan Christus kan wil gee, dan nie meer selfsugtig nie, of minder of anders so, teenoor wat destyds aan ons gegee is om op te pas, of eerder dan, om voor om te gee. Ons kan die liminale spasie wat as gawe tussen ons uit liefde ontknoop, saam betree.
    Hoekom sal ek my leke opinie hier lig anders as dat u skrywe dit toelaat en ons vrae antwoorde soek. Ek glo ek kan na Johannes wys, en na Paulus, en sê dat ek probeer om my denke en weë te verander, dat as ek wakker word glo ek die Christus my sy lig sal gee, soos aan ons elkeen vertel, tot ons byvoeg en ons só vermeerder as ons ons verminder, verander ons ook in ons verhouding tot daai twee geeste se houvas oor ons.
    Om ons vraag:”Waarvandaan die lewe?” te verander na “Die skepping is bloot materieël, dis ons uitgangspunt, so hoe ontstaan die lewe uit materie?” is om 'n oorspronklike wetenskaplike waarneming te verander om by 'n teorie te pas. Dis radikaal verkeerd, deesdae tog ‘n algemeen aanvaarbare proses van kennis vergaar en manipuleer, is dit nie?

  • Baie dankie vir hierdie gespreksartikel, dr. Buitendag, wat in hierdie dae van Christelike- geloofsontkenning, verdagmakery en verduistering, ’n voorwaar ’n riem onder die hart is.

  • Topically related to this important discussion is the following interesting book by a Dutch author:
    ==> https://books.google.co.za/books?id=1UHdDgAAQBAJ

    Moltmann, who was mentioned in the interview, has been cited in this book, too (on pages 57).
    For illustration here is a nice quote from page 60:
    "We zijn vreemdelingen in de wereld. Maar dat wil niet zeggen dat we ongeinteresseerd zijn in de wereld. Als Christus voor deze wereld gestorven is, dan delen wij in zijn zorg voor de wereld."

  • As ek so al die kommentare lees, kry ek mos snuf in die neus. Marcellus se woorde “something rotten in the state of Denmark” dreun hier in my agterkop. Dit wil al vir my voorkom of ons hier te make het met daai koning wat so ewe kaalgat rondstap. Van watter nut is die studie van die Teologie nou eintlik? Het dit nie al saam met die filosofie ’n dood gesterf nie? Is dit nodig om sewe jaar op universiteit jou pa se geld te mors net om ’n mitologiese boek uit die outyd te kan verstaan, en storietjies daaruit vir ander mense te verklaar?
    Ek vra maar net.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top