Gloria Bell: ’n resensie

  • 0

.....................

Gloria Bell
Draaiboek: Sebastian Lelio en Alice Boher
Regie: Sebastian Lelio
Akteurs: Julianne Moore, John Turturro, Michael Cera, Holland Taylor, Caren Pistorius

.....................

Die lewe sou seker makliker gewees het as die liefde net makliker was. Gloria Bell is ’n trefseker ondersoek na dié dilemma in die lewe van ’n vyftig-plus-vrou.

Twee soorte verhoudings vorm die kern van die verhaal: die verhouding tussen ouers en kinders, en die verhouding tussen lewensmaats, oftewel minnaars. Gloria (puik vertolk deur Julianne Moore) is al twaalf jaar geskei, en haar twee volwasse kinders is reeds in hul eie lewens gevestig. Haar ma (Holland Taylor) leef nog, maar ook sy het op ’n gesonde en gebalanseerde wyse haar eie lewe.

Gloria het haar werk en haar beste vriendin, maar sy is uiteraard soms eensaam. Sy is lief vir dans en gaan gereeld na ’n klub vir ouer mense, waar sy een aand ’n aantreklike vreemdeling ontmoet. Arnold (John Turturro) is nog net ’n jaar geskei, maar sy eksvrou en twee volwasse dogters is steeds sterk aanwesig in sy lewe. Gloria en Arnold begin ’n verhouding. Maar ... (Daar is altyd ’n “maar”.)

20th Century women (2016) het ook die klem op vrouekarakters geplaas, maar daar is ’n hemelsbreë verskil tussen die samelewing van die 1970’s en vandag. Hierdie intelligente, fyngestemde drama kén vroue en laat reg geskied aan hoe hulle keuses in 2019 lyk.

Ten slotte is die fliek se boodskap te vind in die simboliese betekenis van die kat – gespeel deur ’n skreeulelike, allerpragtige sfinks (een van daai haarlose nommers wat soos ET lyk).       

As jy ’n romantiese fliek verwag, gaan Gloria Bell jou nie bevredig nie, maar dis hoog aan te beveel vir enige kyker wat iets meer kompleks soek.

Sterre: 4

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top