Gerrit Rautenbach praat oor reis en veral oor mooiloop

  • 1

Titel: mooiloop
Samesteller: Gerrit Rautenbach
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799368208

Koop mooiloop by Kalahari.com

Gerrit Rautenbach, stigtersredakteur van die reistydskrif mooiloop en skrywer van twee bundels reisverhale (Kopreis, Queillerie2011en Hartepad, Queillerie 2013) en samesteller van mooiloop – mooiste reisstories (Lapa 2014) is die gasredakteur vir LitNet se splinternuwe reisskryfkompetisie. Hier is nog besonderhede oor hoe om in te skryf.

Gerrit Rautenbach vertel vir Naomi Meyer van mooiloop, en van ver loop met jou gedagtes op reis. Heel onder deel hy van sy mooiste reisfoto's.

Gerrit, vroeër jare het mense wat oorsee gegaan het, teruggekeer en ander mense genooi vir skyfievertonings van hul wedervaringe. Is dit een manier om die boek mooiloop te verduidelik - as 'n skyfievertoning van woorde - of hoe sou jy die inhoud van die boek anders omskryf?

’n Skyfievertoning van woorde ... Wow, ek hou daarvan. Ja, mooiloop se stories gaan oor die ervarings en die verandering of ontwikkeling wat die ervarings by die skrywers gelaat het.

Kan mooiloop hoegenaamd ook as reisgids aangewend word? 

Nee, nie dié boek nie. Daar is wonderlike boeke en tydskrifte wat dit doen, maar mooiloop is nie ’n Rough Guide nie. mooiloop is ’n storieboek. En reis in die breedste moontlike sfeer is die onderwerp.

Waarom sal mense eerder rusbankreis (die boek lees) as om self die tog aan te pak?

Nie almal het die geleentheid om deur die diep Namib te reis of Kilimandjaro te klim nie. Maar amper almal wil graag ’n goeie storie oor iemand se ervaringe en wedervaringe oor sulke ekspedisies lees. Baie stories in die boek is ook terugreise na tye, dinge en plekke van jare gelede. Hennie Aucamp het oor Jamestown in die Oos-Kaap geskryf en Eben Venter oor Aliwal-Noord. Albei plekke is heel anders vandag as wat dit in hulle stories is.

Wat was een van jou persoonlike gunstelingbestemmings?

Die diep Namibwoestyn. Die Krugerwildtuin. Vic-waterval aan die Zambië-kant. Mana-poele. Malawimeer. Ngorongoro-krater. Masai Mara ... seker dan Afrika. Maar ook Praag, Sweedse argipel, Positano, Pai in Thailand, Beirut. Kerina in die Arktiese Sirkel. Almal wonderlike plekke, maar my gunstelingreisbestemming is die volgende een op die lys. In dié geval Suid-Korea.

Vertel ons asseblief nog van "Die agtuurtrein" deur Chris Barnard.

Chris Barnard het die agterblad oorspronklik in die tydskrif geskryf. "Die agtuurtrein" beeld die karakter van die boek mooiloop sekerlik die beste uit. Dit is daarom ook die storie waarmee mooiloop afsluit.

Lees Chris Barnard se Die agtuurtrein.

'n Gesprek met onder andere Gerrit Rautenbach vind plaas by die US Woordfees 2015.

Mooiloop-kuier
Met Gerrit Rautenbach, Nanette van Rooyen, Riana Scheepers en Naomi Bruwer
Aangebied deur Lapa

Mooiloop: mooiste reisstories is al beskryf as kortverhale in ’n aandpak, met stapstewels. Gerrit Rautenbach, Nanette van Rooyen en Riana Scheepers gesels oor reis, lewenslesse en plekke van die hart. Naomi Bruwer tree as gesprekleier op. Dié mense is puik storievertellers en die liefde vir die plekke wat hulle ontdek, slaan deur.
12 Maart 17:30| De Vette Mossel | 180min | R220

Klik hier vir die volledige program.

Foto's: Gerrit Rautenbach

  • 1

Kommentaar

  • Ida Engelbrecht

    Gerrit, jou foto's is kunswerke. Ek het gister Chris se hoërskool Afrikaanse onderwyser, Oom Hansie, ontmoet. Hy het op 'n dag aan Chris se klas gesê: "Wie weet, moontlik sit hier nog 'n Hertzogpryswenner." Met die prysoorhandiging het Chris blykbaar na Oom Hansie verwys as inspireerder. Ek glo dit, want hy was opmerklik 'n onderwyser wat sy werk as 'n roeping beskou het en sy taak liefdevol verrig het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top