Gebakte pere op RSG: ’n radiodramaresensie

  • 1

Foto: Canva

Met Christopher van der Westhuizen en JJ Roberts
Skrywer: Karin du Toit
Regisseur: Lelia Etsebeth

Hierdie tragikomedie is die gesamentlike naaswenner van die RSG Skryfkompetisie in samewerking met die ATKV. Dit is op Donderdagaand 9 April om 9-uur op RSG uitgesaai.

Aanvanklik beland die luisteraar in ’n vrolike gemaksone met ’n skadelose klugtige komedie oor ’n ernstige onderwerp wat eintlik meer diepte en nuanse verdien het. Dit is as ’n klug geskryf en luisteraars verdien ook om net bloot lekker lag. Maar die storie raak onderwerpe aan wat nie altyd genoegsaam ontwikkel word nie en die skrywer kyk die potensiaal van haar eie tragikomedie mis.  

Hoe bloot lighartig durf daar met hierdie soort gegewe omgegaan word? Dus: Goedige lagbuie werk natuurlik aanvanklik en die dialoog is snaaks, maar die eintlike doel is om te lag met ’n traan, en te besin oor onbesonne optrede. Die ontginning van ironie kon die komedie gebaat het en dit gebeur nie in die konstruksie van die teks nie.

Dit gaan oor ’n student, loslit-jonk gespeel deur die talentvolle Christopher van der Westhuizen, wie se onbesonne besluite hom inhaal. Sy meisie is swanger en sy gooi die baba gemaklik en liefdeloos by hom in die koshuis af.

Hierdie toneel moet stewig herbedink word, want haar selfsugtige besluit verander lewens, insluitende die baba s’n. Dit sorg dalk vir ’n gerieflike paar glimlagte, maar verdien om met meer nuanse en insig uitgebeeld en ontleed te word. Alles gebeur net te maklik, sodat die gehoor bloot kan lag vir ’n onverantwoordelike daad sonder om werklik oor die implikasies te besin. Die ma moet dalk ook ontwikkel word en ’n stewiger rol speel, wat Izél Bezuidenhout die geleentheid sou gee om meer mens van haar te maak.

Dis moeilik! Want die kuns is om die verandering wat by ál die jongmense intree te weerspieël en te ontwikkel, want elkeen reageer anders. (Daar het teen die einde wat spel en dialoog betref, feitlik geen verandering ingetree nie.) Wat leer hulle hieruit? Hoe verander die lewe ’n mens?

Tans lag ons miskien net daaroor. Maar dink ’n bietjie. Die tema moes die komedie eintlik in ’n ander, meer tragiese rigting gestuur het, in plaas van om dit as ’n blote klug aan te bied. Dan sou die slottonele die gehoor tot nadenke gestem het. Tans gebeur alles net te vinnig en oppervlakkig.

Die gebeure word afgemaak as bloot goedige vermaak. Tog het komedie baie seekatarms (soos die twee tentakels, tragikomedie en swart komedie), en in ’n bekroonde teks moet elke aspek stewiger aangespreek word.

Wat dus nie oortuigend uitgebeeld word nie, is hoe die betrokke karakters op die moeilike manier leer dat kind grootmaak nie kinderspeletjies is waaroor bloot gegrinnik kan word nie. Om nie te praat van al die praktiese implikasies nie. En na die aanvanklike maagseerlag-insidente, wat luisteraars intens sou geniet het, moes dit tot ernstiger nadenke by die karakters en luisteraars gelei het.

’n Nare skoonma wat ’n huishouding omvergooi, mag werk in hierdie  gedaante, en ons benodig sulke komedies! Maar ’n arme baba wat woerts-warts by ’n studente-pa afgegooi word, is eintlik tragies. In die oomblik is dit snaaks. Maar het die skrywer werklik die gevolge dieper as ’n blote komedie oorweeg, want die storie vra daarvoor?

Die dialoog is aanvanklik los en gemaklik, soos jongmense praat, alhoewel die ouer vrouens se dialoog neig om herhalend te word. Snaaks kan ook lig-tragies word en die karakters omswaai wanneer hulle ernstige lesse leer. Luister ’n bietjie of dit aan die einde gebeur. Die slottonele kon klugtige komedie verdiep het en omgeswaai het tot stewiger introspeksie.

........
Die ontknoping word ook te gemaklik afgemaak. Die oorgang van komiese naïwiteit, wat aan die begin werk, na kinderlike volwassenheid waar karakters gedurende ’n lang, moeilike tydperk gegroei het, en die verantwoordelikheid wat tot hulle moes deurgedring het, word te gerieflik eenvoudig teen die einde uitgebeeld.
.........

Die ontknoping word ook te gemaklik afgemaak. Die oorgang van komiese naïwiteit, wat aan die begin werk, na kinderlike volwassenheid waar karakters gedurende ’n lang, moeilike tydperk gegroei het, en die verantwoordelikheid wat tot hulle moes deurgedring het, word te gerieflik eenvoudig teen die einde uitgebeeld.

’n Mens besef die teks is as ’n blote vermaaklike klugtige komedie geskryf, maar dit beteken nie dit moet sy eie moontlikhede ignoreer nie. Die vereis, in die herskryf (dus meer as een weergawe van die teks), dat die implikasies van wat gebeur, weer bedink moet word.

Die musiekbrûe onderstreep nie die tonele genoegsaam nie. Maar dit kon ook eintlik nie anders  nie, omdat dit bloot ’n klugtige komediepad gevolg het. “Ai, die jonges darem!”-boem-boem-boem-musiek, in plaas van: “Dis dalk aanvanklik snaaks, maar onbesonne dade het ernstiger gevolge”  moet in die luisteraar se gedagtes bly en die musiek moet dit aandui. Die stuk kon by meer in- en uitdowe of pouses tussen tonele, in plaas van raserige “jong” musiek, gebaat het.

Mense verander, en die luisteraar moet dit in die spelers se spel, nuanses en stemgebruik hoor. Maar die teks bied hulle nie altyd daardie geleentheid in die derde bedryf nie.

Die jeug vang graad in grootword, sou die bondige opsomming wees. Maar wat het veral die ma, wat haar baba so maklik afgegee het, werklik hieruit geleer? Sy word as karakter verwaarloos en misgekyk. Mens wonder baie oor haar en haar gerieflike verdwyning uit die grootste deel van die teks. ’n Lekker stewige gesprek tussen haar en die jong pa later kon baie probleme reggestel het. En wat van die arme bloedjie? Natuurlik moeilik om so ’n jong kind (behalwe in baba-byklanke) uit te beeld. Maar na al die tyd wat hier verloop het tot by graad kry? Hoe ervaar die kleinding wat gebeur het? Weer eens is ’n gesprek en ontginning hiervan nodig.

Kortom: Die skrywer moet besluit presies wat sy met die komedie wil sê en of dit maar net as ’n sitkom aangebied word. Wat probeer die bekroonde komedie eintlik by die luisteraar tuisbring in plaas van blote vermaak?

Maar vele luisteraars, sou ’n mens vermoed, kon die stuk bloot as ontsnappingsmateriaal ervaar het en dit was moontlik ook die skryfster se doel. Maar dit kon soveel meer gewees het.

Kyk byvoorbeeld wat het ’n rolprent soos My F Marelize met ’n tragiese, aanvanklik komiese, selfs belaglike (fiets)situasie reggekry. Hier is ’n tragikomedie van formaat wat elke aspek van die gesin se menswees, en die hantering van hul dilemma, oortuigend en selfs emosioneel uitbeeld. Die soet en suur onder die komedie brand in jou brein in.

Gebakte Pere kan tans  op die RSG-webwerf gehoor word.

  • Radioteater word op Donderdagaande om 20:00 op RSG uitgesaai.

Lees ook:

Persverklaring: RSG Radioteater, Kalahari-sterre deur Adam Willemse op Donderdagaand 23 April om 20:00

Hartsprogramme op RSG

  • 1

Kommentaar

  • Is dit regverdig dat Leon, wat self nog vir radio skryf en regie behartig, hier oor mense se harde werk agter 'n toetsbord en in die ateljee sy redelike afbrekende sê te sê kry?
    Karin du Toit is, myns insiens, een van 'n handjievol jonger skrywers wie durf om nuwe en soms taboe onderwerpe radioteater toe te bring. Talent soos dit moet ondersteun word.
    Sou graag wou hoor van skrywers wat nie "flesh in the game" het nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top