Persverklaring: RSG Radioteater, Kalahari-sterre deur Adam Willemse op Donderdagaand 23 April om 20:00

  • 0

Die drama, Kalahari-sterre, deur Adam Willemse, is as die algehele wenner aangewys in die 2025 RSG Radiodramaskryfkompetisie in samewerking met die ATKV. Dit bied baie stof tot nadenke. Dit is ’n aangrypende drama vol humor en patos, met herkenbare karakters wat baie deernis wek. Die talentvolle rolverdeling sluit onder andere spelers soos Dean Balie en Andre Samuels in.

Drie vriende en hulle jong bestuurder vertrek op ’n reis na die dorpie Askam. Dit blyk nie net ’n gewone reis te wees nie, maar ook ’n ontdekkingsreis, ’n reis na self, na identiteit en aanvaarding. Boeta, Benji, Lulu en Paul bied ’n vertoning aan wat dit waag om die ander sy van menswees uit te beeld vir ’n konserwatiewe, landelike gehoor. Ten spyte van veral Boeta en Paul se kommer, is die vertoning ’n reuse sukses en is daar ook sprake van vergifnis en herstel van ’n onseker verhouding tussen Boeta en sy weerbarstige pa, Ruben.

Oor die skrywer – Adam Willemse

Adam Willemse is ’n skrywer, oud hoërskoolonderwyser, ’n voltydse psigometris en ’n deeltydse opvoeder in sielkunde. Voorheen van Pretoria, is hy al amper ’n dekade lank woonagtig in Vishoek, Kaapstad. Sy eerste skryfwerk is as tiener gepubliseer. Daar is ook van sy skryfwerk te vinde in die Litnet argiewe. Hy hou daarvan om stories te vertel, en skryf minder as wat hy graag sou wou. Wanneer hy nie skryf nie, waag hy sy hand aan beeldende kuns of versorg hy sy groeiende versameling orgideë. Saans kan jy hom vind op sy rusbank met ’n Skandi-noir reeks op die TV besig om te hekel en ’n worshond of twee teenaan hom opgekrul.

***

Kalahari-sterre, is geskryf deur Adam Willemse, en die spelers is Dean Balie, Andre Samuels, Wessel Pretorius, Eben Genis, Susanne Beyers en Royston Stoffels. Joanie Combrink het die regie behartig. Die uitsending is Donderdagaand 23 April in Radioteater om 8 uur op RSG of rsg.co.za en beskikbaar as potgooi en op Spotify na afloop van die uitsending.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top