Gaslight Trump en die Republikeine van Amerika?

  • 1

In hul 2020-liedjie "Gaslighter" sing die Chicks, voorheen bekend as die Dixie Chicks, die volgende:

You just had to start a fire, had to start a fire
Couldn’t take yourself on a road a little higher
Had to burn it up, had to tear it down
Tried to say I’m crazy
Babe we know I’m not crazy, that’s you
Gaslighting
You’re a lie-lie-lie-liar.

Terwyl die liedjie nie spesifiek op Trump gemik was nie, het Natalie Maines dit in Oktober 2020 gebruik om die uitgaande Amerikaanse president se Korona-respons te kritiseer.

Na die gebeure van die afgelope week, met die sedisie-aanval op die setel van die Amerikaanse regering, kan die liedjie met ewe veel vrug op die Republikeinse Party gemik word.

Voordat Trump sy ondersteuners opgesweep het, het ander verkose Republikeinse amptenare met die Stop the Steal-skare gemeng. Tydens die aanval, terwyl hulle moes skuil, het van die amptenare, teen instruksies in, met twiets aangedui waar in die gebou Nancy Pelosi en Mike Pence was, totdat hul eie inligting opgedroog het. Na die aanval het mense soos Ted Cruz steeds voortgegaan met die valse bewering dat die verkiesing ongeldig was. Enkele ander, soos Kelly Loeffler, wat daardie selfde dag ’n loesing in Georgia gekry het, het tot hul sinne gekom en hul ondersteuning vir die mosie onttrek.

Voor die aanval was Republikeine ondersteuners van Blue Lives Matter - ter ondersteuning van polisie wie gekritiseer is oor hul hantering van swart mense en in reaksie op die Black Lives Matter-protesveldtogte. Tydens die Capitol-aanval is een polisiebeampte, ironies genoeg ’n Trump-ondersteuner, gedood en tientalle ander beseer.’n Tweede polisiebeampte het in die hospitaal aan sy beserings beswyk. Toe maak blou lewens nie meer saak nie. Weer eens het die oorgrote meerderheid Republikeinse amptenare verkies om eerder te swyg as om die geweld te veroordeel.

Melania Trump het, in haar enigste reaksie op die sedisie-aanval, heel eerste haar medelye met die protesteerders wat gesterf het, uitgespreek, en die polisiebeamptes in die verbygaan aan die einde genoem. Die boodskap was duidelik: Die protesteerders is belangriker as die polisiebeamptes wat in die uitvoering van hul pligte gesterf het. Blou lewens maak saak net solank dit gebruik kan word om wit mag te bevestig. Die oomblik dat dit nie meer gebeur nie, die oomblik dat polisiebeamptes probeer om die reg teen Trump-ondersteuners te handhaaf, is hulle lewens nie veel werd nie.

Trump was selfs bereid om sy ondersteuners teen sy visepresident te rig indien Pence nie die grondwet en die wil van die mense ignoreer nie.

Terwyl Republikeinse amptenare in ’n klein vertrek saam met hul Demokratiese kollegas geskuil het, het hulle geweier om maskers te dra toe dit vir hulle aangebied word. As direkte gevolg het verskeie Demokrate sedertdien positief getoets vir Korona en moes hulle in isolasie gaan. Mens moet wonder of dit nie dalk so beplan was nie.

En sedertdien? Republikeine weier steeds om Trump verantwoordelik te hou vir sy aandeel in die aanval. Selfs sedert daar videomateriaal vorendag gekom het wat wys hoedat hy die aanval tevrede dophou terwyl van sy geselskap lag en dans, terwyl dit hom dae gevat het om hoegenaamd teen die geweld te praat, steeds ondersteun hulle hom.

Steeds weier hulle om die beskikbare regsmeganismes om hom uit sy pos te lig, te gebruik. Steeds weier hulle om hom te veroordeel. Steeds weier hulle om die geweld en die geweldenaars van verlede week se aanval aan te spreek.

Selfs erger, terwyl Demokrate probeer om geregtigheid te laat geskied, wil Republikeine nou eenheid predik. Vergewe en vergeet, asof die gewelddadige omverwerping van ’n verkose regering nie sedisie is nie. Staan saam, terwyl hulle indien die situasie omgekeer was, blou moord sou geskree het.

Dis wat gaslighting is. Doen die verkeerde ding, en maak dan asof dit die slagoffer se skuld is. Oortree die wet, en sodra jy tot verantwoording geroep word, laat lyk jy die persoon wat jou tot verantwoording roep, onredelik en selfsugtig.

En terwyl hulle dit doen, gaan Trump voort met sy dreigemente.

Die oorgrote meerderheid van die Republikeinse Party het duidelik besluit mag is belangriker as demokrasie. Goed en wel, maar hulle besef steeds nie Trump gee nie om vir hulle nie.

Die oomblik dat hulle nie meer van diens is nie, is hulle net so vervangbaar soos enigiemand anders.

Hulle gaan dit besef eers wanneer Trump-ondersteuners een van sy lojale lakeie vermoor. Dan is dit te laat.

 

  • 1

Kommentaar

  • Dis jammer dat hierdie rubriek hom ook skuldig maak aan valse bewerings, wat presies is wat die Republikeine gebruik om hulle volgelinge aan te hits.

    Ek vermoed dat die "videomateriaal" waarna verwys word (sonder om enige skakel ter stawing te verskaf) dieselfde een is wat al herhaaldelik "debunk" is, en eintlik 'n video is wat geneem is voorafgaande aan die president se toespraak op 6 Januarie (https://www.newsweek.com/fact-check-trump-family-hold-capitol-riot-watch-party-1559971).

    Die oorlede polisie-agent, Brian Sicknick, is nie tydens die bestorming van die Kapitool gedood nie, maar het later in die hospitaal aan sy beserings beswyk. 'n Tweede polisieagent, Howard Liebengood, het 'n paar dae later selfmoord gepleeg.

    Kelly Loeffler het nie 'n "loesing" gekry nie: ten tye van skrywe het sy 2,194,824 stemme gehad (49%) teen Raphael Warnock se 2,288,483 (51%).

    Ander opmerkings:
    Dit is nie duidelik hoekom die (Dixie) Chicks genoem word nie. Hulle het immers nie die term "gas lighting" uitgevind nie. Dat Natalie Maines deel is van die sanggroep moet ook uitdruklik genoem word, want dit is nie duidelik in die teks nie. (Ek het aanvanklik aangeneem sy was 'n politikus/aktivis wat die liedjie gebruik het om Trump te kritiseer.) Dit is ook nie duidelik hoe die sangeres die liedjie gebruik het as kritiek op Donald Trump as die liedjie nie spesifiek op Trump gemik was nie.

    Dis jammer dat die oorsprong van die term "gaslighting" nie genoem word nie (dis immers die onderwerp van die artikel). Beskrywings van die tegnieke wat sosioloë herken as deel van "gasligthing" met spesifieke voorbeelde van Republikeine sou die artikel verryk het.

    Ek sien baie parallelle tussen wat tans in die V.S. afspeel en die jare 80/90 en ook nou in SA, veral met betrekking tot disinformasie. Dit is 'n kommerwekkende tendens, veral met so baie mense wat hul inligtingwinning tans beperk tot bronne soos Youtube en TikTok, in plaas van betroubare nuusbronne.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top