Mornings Uncle Cyril!
Ek sien in Uncle se brief Uncle is wee baie trots oppie investment van BMW in ôs land. Wêkskepping en innie infrastructure en soe ante. Is nogals iets om oo bly te wies.
Maa Uncle, ek het sieke maa PTSD. Ek wiet hulle sê is net as mens inne oolog was of trauma gehad het lat mens it kry. Maa ek het it, wan elke kee as ek sien Uncle praat van enagiets met lektriek te maak, dan voel it ek wil kôtasem raak, en ek beginne swiet op my voo’kop.
Wan is mossie normal om soe an te gan as Uncle wiet ôs hettie lektriek ie! Ja, Uncle, ek wiet ie nuwe ministe van lektriek het nou allie magte, en ek wiet hy sê lat daa nou minnere loadshedding is wan ôs ammel wêk nou innie winter soe mooi saam. Wiet Uncle, die oumense het altyd as mens by hulle ankom met ’n liegstorie, gevra of ôs hulle try ve’tel lat bokdrolle rosyntjies is. Offie anne ene: “Ek mag groen lyk, maa ’n bok vriet ie an my nie.” Nou elke kee as ek hoo hoe loadshedding minnere is, dan voel it ek channel allie oumense wat ek ken, en somme vi dai evil pop Chucky oek mettie kop wat soe innie rondte swaai.
Wan sien, Uncle, is sieke technically true lat daa minne loadshedding is. Maa ek wens ieman wil ’n graph maak van hoeveel klagtes oppie chatbot Alfred geload is van ôse load ie mee shed ie. Ek bly innie klein plekkie, Uncle, en Uncle wiet mos nou bietere as ek allie municipalities is in wards opgedeel. Nou in ôse klein ward in ôse klein plekkie is daa ’n massa increase in breakdowns. En nou praat ek ie van een hys vi ’n paa ure nie.
Soe ’n wiek trug net na die lektriek angegan het, toe sien ôs net blou vlamme byrie substation ytkom, en toe issit lights out virrie hele buurt. Ôs is nou al soe gereeld op Alfred se case lat ek vewag enage dag gan hy my ’n nickname gie en antwood met “Howzit, long time no see.” Maa chatbots kan sieke noggie lieg ie. Anyway, soe ôs log toe ’n fault. Innie ou dae van elke dag se loadshedding, as die hele neighbourhood affect is, dan kom ie technicians somme daai selle dag of ie next dag. Maa dag twie, toe daa nog niks issie, toe lat ek een vannie politicians bel om uit te vinne wat angan. En wiet Uncle wat? Ie technician sê toe ôs neighbourhood is fault number 200. Vi die klein plekkie waa ek bly. Vi ’n fault wat preference kry wan is ’n multi-user fault. Ek het eeste vekeed vestaan en gedink is maybe virrie municipal area, wat ses of sewe dôpe is. Maa toe issit ie, is net vi ôs een dôp. 200 foute. Vyf dae late toe kô hulle by ôs yt. Vyf dae, twie inbrake by ôs hys, ses inbrake virrie straat, deel vannie paving ookant ie pad is weggedra en vannie fencing is oek missing. Nou praat ek ie ees van allie vleis wat afgegan het oo die fridges afgeys het ie. Ommie ees te praat van allie wêk wat ie gedoen issie. Wan sien Uncle, sonne lektriek wees kommie alleen ie, hy bring tjommies sam.
Soe excuse my lat ek lag as ek sien Uncle brêgh oo ôs ie eeste land in Afrika is wat lektriek BM’s gan export na Europe oe. Ôs sal it moet export, Uncle, wan hiesa gan ôs mee as een dag met Jan Tysbly se karretjie ry as ôs lektriek karre gan koep. Ek is honest, Uncle, ek het trust issues mettie lektriek. Even as hulle sê daa issie loadshedding ie, dan maak ek maa planne asof ie lektriek enage oomblik kan afgan.
En ie anne riede hoekom ek lag, Uncle, is van nervousgeid. Eestens, gan daa lektriek wies vi BMW om sy karre te kan maak? Of gan hulle oek mee as een dag sonne lektriek sit en dan moet hulle agte raak met hulle targets? I mean, mens kan oek net soevel son en wind harvest voo it oek ie genoeg issie.
Plustens, daa is al hoe mee jitters oo ôse policy met Poetin. As hy hiesa kô meeting hou, en ôs arrest hom ie, dan issit koebaai investments hello sanctions. As ôs lucky is. As ôs ie somme pens en pootjies innie oolog beland ie.
Soe Uncle, sorry lat ek ie sam met Uncle excited is oo lektriek karre nie. Kô ôs kry ees ie basics reg. Gie vi ôs lektriek. Elke dag, heeldag. Dan gan ôs na ie next level toe. Wan ôs wil ammel lektriek BM’s ry.

