Gaan Godzilla die DA finaal begrawe?

  • 9

Antie Helen kan goed huis skoonmaak.

Lindiwe is skoon uit die politiek gewerk. Patricia is net uit die party gewerk, maar daai plan het ’n bietjie gebackfire toe Cyril haar minister maak. Kom daarvan as mens met ’n coloured antie sukkel – hulle ken nie van handdoek ingooi nie. En Mmusi wil nie luister en mooi maak met die wit kiesers ten koste van swart kiesers nie. Wat maak mens as toutjies trek van die kantlyn af nie meer werk nie, en jy ook net soveel keer per dag op Twitter kan gaan?

Dan, ten spyte van die feit dat jy kamstig die politiek verlaat het, stel jy jouself beskikbaar vir ’n posisie binne die party wat jy besig is om kontroversiële twiet vir kontroversiële twiet in die grond te werk.

Ten spyte van Helen Zille se self-erkende verknogtheid aan die koloniale projek, is sy in haar hart van harte ’n Afrika-politikus. Die soort politikus wat nie kan aanvaar dat demokrasie van tyd tot tyd bewindsoorname deur ander met ander idees vereis nie. Die soort politikus wat glo dat hulle die enigste persoon is wat die spesifieke party of land kan lei, lewenslank as dit moet.

Hiermee probeer ek glad nie te kenne gee dat Zille nie ’n groot impak op die Suid-Afrikaanse politieke landskap gehad het nie. Sy was woke voordat woke die in-ding was. Sy het, as joernalis en as politikus, stereotipes vernietig en baanbrekerswerk gedoen. Haar fout, soos alle Afrika sterk-man politici, is dat sy met moeite mag deel.

Onthou destyds toe sy, Patricia en Lindiwe saam op DA-plakkate poseer het? Kleurgrense, gendergrense, die glasplafon – dis als in een enkele foto vernietig. Dit kon fantasties wees. Dit het die potensiaal gehad om die DA waarlik grondverskuiwend nie net in SA-politiek nie, maar in wêreldpolitiek, te maak. Margaret Thatcher was toe natuurlik al uit die politiek, en Angela Merkel se ster was aan’t styg. Maar in Afrika was (en is, steeds) Ellen Johnson Sirleaf die uitsondering eerder as die reël.

Vir ’n kort, kort rukkie kon ons glo die trifecta van vroue kan verandering in Suid-Afrikaanse politiek bring. Wat kan verkeerd gaan? Drie intelligente, gemotiveerde, sterk leiers kan mos net die party vorentoe vat, of hoe?

Hulle kan, as al drie bereid is om mag te deel; as ego’s nie in die pad van die groter projek kom nie.

Zille het nog altyd die gawe gehad om potensiaal raak te sien en te ontwikkel – solank die persoon se ster net nie blinker as haar eie skyn nie. Lindiwe het te gewild begin raak. Baie mense het DA gestem omdat hulle in Lindiwe die toekoms van die party gesien het. Dus moes sy gaan, al is dit ten koste van die party. Natuurlik is die amptelike weergawe anders, maar dit word algemeen aanvaar dat “persoonlikheidsverskille” die oorsaak was van Lindiwe se plotselinge besluit om eerder te studeer. En maak nie saak hoe gaaf Mmusi is nie, vir baie mense bly hy maar die plaasvervanger vir Lindiwe as regmatige troonopvolger.

Die situasie met Patricia is moeiliker om te lees. Zille se ondersteuning van De Lille was dalk deel van ’n strategie om Maimane se gesag te ondermyn.

Waar laat dit die DA noudat Zille weer terug is in amptelike hoedanigheid? Maimane, wie se posisie in leierskap alreeds ’n geruime tyd onder druk is, kan erger druk verwag. Amptelik mag hulle dalk in verskillende sfere werk, maar die DA, soos die meeste ander partye, bestaan maar uit verweefde groepe.

Die party mag dalk hoop dat Zille se terugkeer die uitvloei van steun na die Vryheidsfront kan stuit. Dalk gebeur dit. Maar enige sogenaamde liberale party wat op konserwatiewe kiesers se steun moet staatmaak om te groei, is in elk geval besig om in die hek te duik.

Zille se terugkeer, en die baie waarskynlike uittog van Maimane, mag dalk oor die kort termyn die DA se wit ondersteuners tevrede hou. Ek verwag egter dat hulle swart kiesers gaan verloor. En iewers langs die pad gaan hulle besef dat hulle enigste kans op ware groei by swart kiesers lê – dieselfde kiesers wat hulle besig is om te vervreem.

Wat lê dan in die DA se toekoms? Koalisie met konserwatiewe partye, of die knie buig voor die ANC en daar opgeneem word. Zille se trots sal nie die laasgenoemde opsie toelaat nie. Dus, kalsifisering van die DA se demokratiese waardes en die terugval na ’n spierwit, irrelevante partytjie wat nie enige verskil op die politieke landskap maak nie.

Dis die DA waarvoor Zille nou veg.

Dis eintlik heeltemal in pas met die rigting waarin die res van die wêreld beweeg. Konserwatiewe, onderdrukkende waardes bly maar gewild, onder die bolangse lagie liberalisme. Kyk maar wat gaan aan in Trump se Amerika, of Johnson se Brittanje. Hulle het nie per ongeluk aan bewind gekom nie. Daar is ’n ryk aar van konserwatiewe wit kiesers wat eintlik maar met heimwee terugverlang na die dae toe wit mag die norm was. Hulle het daai aar raakgeboor.

“When people are used to privilege, equality can feel like oppression.” Dis hoekom sogenaamde liberale in Suid-Afrika nou begin kla oor swart bemagtiging. Dis hoekom Maimane soveel teenkanting begin kry het toe hy meer swart leierskap binne die DA probeer opbou het.

Zille bedoel waarskynlik goed deur weer tot die politiek toe te tree. Al waarin sy egter slaag, is om haar legacy as progressiewe leier stadig maar seker te ondergrawe.

Dis jammer, maar dis ongelukkig so dat kiesers kry presies wat hulle verdien. 

  • 9

Kommentaar

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    Die DA sou moontlik beter gevaar het met Mazibuko aan die stuur ja. Toe verloor die party steun. Dit was eintlik voorspelbaar want baie mense is na die DA gelok wat polities eintlik gladnie tuis voel in die DA nie. Dit gaan interessant wees om te sien wat in 2021 gaan gebeur met die munisipale verkiessings. Die party se oog is waarskynlik ook op die 2021 verkiessing en nasionale leiers speel al meer en meer 'n rol in die veldtogte van plaaslike verkiessings, om mense te probeer aanmoedig om te gaan stem. Want veel minder mense stem tipies in die munisipale verkiessings as in die naionale en provinsiale verkiessing. Ek dink die DA vrees groot skade by munisipaliteite. In verskeie tussenverkiessings sedert 8 Mei het die DA nou al bloedneus gekry.

  • Maar dit was mos juis toe Zille leierskap oorgegee het aan Musi dat die storie so agteruitgegaan het of hoe?

  • Avatar
    Gustaf Claassens

    Bettina opper goeie en geldige punte en die keer stem ek grootliks saam.

    Helen Zille is (steeds) die mees bekwame leier van almal. Sy het dit oor en oor bewys. Dit bly egter 'n ope vraag of haar TERUGKEER die uittog van kiesers uit die DA sal stuit. My gevoel is NEE. Inteendeel, die DA gaan verder steun verloor. Die keer, meerendeels uit Swart geledere. Die probleem is dat die persoon Zille 'n besprekingspunt (sien verdelings-faktor) opsigself geword het wat met 'n lang relaas debatte gepaard gaan. Geen manier hoe so-iets goed kan wees vir enige politieke party nie, veral nie met 'n media (en politieke kommentators) wat haar tans nie goedgesind is nie.

    Indien die DA wil vorder moet hy 'n vername duik kan maak in die groot poel swart kiesers. Iets wat nou moeilik gaan gebeur aangesien partye soos die ANC en EFF haar as die kolonialistiese swak skakel daarteen gaan gebruik. Nie dat haar kolonialistiese twiet nie meriete het nie maar wel oor die manier hoe dit deur die ANC en EFF verbuig gaan word.

    Zille kon of sou van veel meer waarde gewees het as 'n politieke kosultant vir die DA. Die party sou haar (so ook Tony Leon en andere) tydens verkiesings strategies as sprekers kon aanwend. Dit sou baie meer aanvaarbaar (en suksesvol) wees as wat dit tans in haar amptelike nuwe rol die geval is. Ja, sy sal verseker meer prinsipieële waarde en logika tot die party toevoeg. Maar, dit gaan kom teen 'n prys en dis 'n moeilike een, naamlik steun. Swart steun veral terwyl die vloei na die VF ook nie gestuit gaan word nie. In die geval van die VF is dit bloot 'n natuurlike proses wat vanweë omstandighede lank geneem het om plaas te vind.

    Tyd sal leer.

  • "Daar is ’n ryk aar aan konserwatiewe wit kiesers wat eintlik maar met heimwee terugverlang na die dae toe wit mag die norm was. Hulle het daai aar raakgeboor."

    Nog 'n stukkie veralgemening. Na baie jare se werk in swart woongebiede is daar een gemeenskaplike versugting en dit is sekuriteit, eiendom en werksgeleenthede.

    Wat verkeerd geloop het, is dat mense met min of geen ervaring hul ewe skielik
    in leierskapposisies bevind en geen benul het van wat van hulle vereis word nie.

    Jy word nie gebore met vaardighede en kennis nie. Dit is goed wat aangeleer word
    onder leiding van bekwame leermeesters, waarvan ek ’n hele paar in my lewe gehad het en ewig dankbaar voor is. Die ANC het op talle vlakke ervare mense eenvoudig op die sylyn geskuif en vervang met politieke aanstellings en kadervergoeding. Glo my die eerste vraag was nie hoe word dit gedoen nie, maar hoeveel geld is daar in die skatkis en is die kollektief en party bo alles gekies.

    Die huidige gemors is te wyte nie aan ’n versugting na die verlede nie, maar aan bekwame leiers wat verby kleurgrense kan kyk en Suid-Afrika eerste stel en nie die welsyn van hul party nie.

    Een swaeltjie maak nie somer nie en een voorbeeld kan nie alles dek nie, maar toe ek vir die eerste keer soos ’n gewone belastingbetaler my munisipale rekening by my ou werskplek betaal, was my eerste ontmoeting met ’n kleurlingvrou wat al jare daar werk.

    Sy groet my nie met ’n 'Goeie môre, hoe gaan dit nie' maar storm op my af met
    die volgende woorde: 'Goeie god meneer - jy moet onmiddellik terugkom want die
    k......s weet nie wat hul doen nie.' Dit is die eerste keer wat ek dit op skrif stel.

    Selfs my gerustellende woorde dat dit beter sal gaan, kon haar nie oortuig nie.

  • Die olifant in hierdie gesprekskamer is dat daar, soos dit my lyk, geen voor die hand liggende ander leier is wat vir alle belangegroepe swart, bruin, wit, arm, ryk, jonk, elke soort geslag, stedeling, plattelander aanvaarbaar is nie. En dit op 'n stadium dat die party se identiteit en waardes ook verwarrend is.

    Lees gerus wat James Selfe in 'n onderhoud oor Lindiwe se. Ek sal darem baie graag wil weet wat presies daar gebeur het.

  • Avatar
    Gustav Franzsen

    Ek dink HZ se grootste bydra tot die samelewing was haar regruk van onderwys in die Weskaap. Die impak daarvan is onmeetbaar belangrik en gelukkig ook blywend, want dit leef voort in kinders wat 'n beter opvoeding gekry het.

    MAAR sy gaan, ek is nerves, beter onthou word as die tannie wat die DA finaal oppe syspoor geplaas het. Die DA gaan voortaan in dieselfde klein kieserspoel as die VF+, Cope, Pers Koeie et al hengel.

    Ek sal maar geduldig wag virre sosiale, liberale demokratiese party on gestig te raak en intussen fingers gekruis hou dat Cyril die mad opkom.

  • Avatar
    Lief Vir SA Vlakvark

    Op grond waarvan stem ‘n kieser vir ‘n party? Sodat sy party van keuse die landsregering kan oorneem? Onder dwang? Op grond van materiële omkopery? As slaaf van ‘n historiese hierargie en feodalisme? Op grond van leierskap? Om rassistiese redes? Om die eie soortige se selfbelange te bevorder? Om ideologiese redes? Om neo-kolonialistiese redes? Stem vir die party wat hy glo die belange van alle Suid-Afrikaners sal bevorder? Vir eie gewin onder die vaendel van nepotisme en korrupsie? Om as belangegroep ook in die parlement aangehoor te kan word? Om selfbeskikking vir die eie groep te bevorder? Ander redes?

    Nogal ‘n ingewikkelde formule vir die beplan ing van ‘n party-visie, missie en strategie! En voeg by die bredie die speserye van diversiteit! Dit maak die lewe interessant!

    Maar mag regverdigheid en naasteliefde regeer!

  • Gustav Franzsen, dit is vir my duidelik dat Helen Zille terug is om te red wat te redde is. Die skuif om meer swart stemme te wen het toe geboemerang en aangesien sy aandadig aan die 'innovasie' was, voel sy dis haar morele plig om weer in te gryp. Haar energie en werkywer is verstommend maar, weer eens, diep in haar agterkop besef sy haar bydrae tot die sirkus wat die huidige bedeling is (PFP-strewe, Black Sash ens, onthou jy) en lê sy met mening in om 'n verandering teweeg te bring.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top