![]() Foto: NALN (met toestemming geplaas)
|
|
Sêgoed van Freda Linde “Die lekkerste en gelukkigste stadium van my skeppingswerk is vir my die konsipiëring daarvan. Jy is so opgewonde en oorgehaal. Tog gebeur dit soms dat ek ’n tema laat vaar, soms noodgedwonge, en ander boeke skryf, tot dieselfde tema hom ná jare weer aan my opdring.” (Vaderland, 2 Mei 1983) “Ek sal opmerksaam wees soos iemand wat môre vertrek. Daar is praatsieke mense en stil mense; mense wat met hul hande vaardig is en ander wat met geestesgawes woeker. Maar vir almal geld die reël dat die mens eerder aan sy dade as aan sy woorde geken word.” (Die Burger, 10 Desember 2005) “Om te ontdek sonder ophou, dit is jou erfenis, jou poort tot geluk – nie waar jy loop, nie wat jy sien, selfs wat jy gebruik of besit nie, maar wat jy daarin ontdek.” (Volksblad, 22 Oktober 2001) “Kinders is vir my baie boeiend en ek dink hulle word onderskat – hoewel hulle nie iets sal geniet wat hulle nog nie verstaan nie en wat buite hul beleweniswêreld val nie. ’n Mens moet ’n kind as medewese, op gelyke vlak, benader sonder om ’n spesiale taal te praat, want hy voel dit aan.” (Die Burger, 15 September 1978) “Maar ’n mens skryf nie fiksie vir kinders om hulle te leer nie. ’n Goeie kinderboek voed ’n kind se verbeelding, intellek en emosies. As hy nie op ’n sekere ouderdom daarmee kennis maak nie, laat dit ’n groot leemte.” (Die Burger, 15 September 1978) “Miskien sal ek eendag feiteboeke oor plante skryf as my stories opraak. Maar daar is geen einde aan temas nie. ’n Mens is nog besig met die een tema, dan dink jy reeds aan ’n ander. As ’n mens te lank op een tema broei, word hy soms deur ’n nuwe een verdring.” (Die Burger, 15 September 1978) “As ’n mens vir kinders skryf, moet al jou feite korrek wees en veral jou beskrywings van diere moet haarfyn wees. Kinders is goeie waarnemers en hulle sien gou foute raak wat skrywers maak. Ek maak dus ’n studie van elke onderwerp en dier voor ek begin skryf.” (Hoofstad, 2 November 1976) “Dit is die kinders van die hele volk wat die kultuur van môre skep. ’n Land se kultuur word nie beoordeel aan die klein lagie geleerdes wat as ’t ware soos ’n room bo dryf nie.” “Moenie sê: ‘Dit is bokant my vuurmaakplek nie.’ Maak die vuurmaakplek hoër op.” “Die droom is die natuurlike teelaarde van die daad.” “Ek skryf nie spesifiek vir ’n sekere ouderdom nie. Voor ek my kan kry, is ek in die middel van ’n ‘kinderboek’ en daar het jy dit.” (Beeld, 15 September 1976) Hoe skryf ’n mens vir kinders? Wat is jou resep? “Ek het nie ’n resep nie, maar ek sou sê ek doen dit deur die kinderwêreld in myself op te roep; ook nie willekeurig nie maar wanneer ek in die stemming is. Dit beteken dat ek wat ek skryf, self as werklikheid moet beleef. Dis nie genoeg om net ’n begrip van die kinderwêreld te hê nie. Ek kan onthou dat toe ek Snoet-Alleen geskryf het, ek Snoet-Alleen feitlik kon sien in die maanlig by Toto se deur inkom, so intens het ek die gebeure en die dialoog beleef, en dieselfde geld vir die res van die verhaal.” (Storiewerf, Junie 2000) “Ek meen dat ’n mens nie ’n ouer hoef te wees om aan ’n kind ’n boeiende verhaal te vertel nie. Ek vertel graag stories aan my broerskinders. As ’n mens nie die aanvoeling en aanleg vir jeugverhale het nie, sal moederskap dit seker nie aanhelp nie.” (Beeld, 15 September 1976) “Geen invloede is sterker as dié wat in die gevoelige, vatbare kindertyd uitgeoefen word nie. Daarom het dit wat jong kinders hoor of lees ’n magtige invloed op hul vorming.” (Volksblad, 2 Oktober 1975) “My werksmetode: Ek werk baie ongereeld in die sin dat daar soms ’n lang tyd verbygaan dat ek nie kans kry om te skryf nie, maar ander verpligtings nakom. Maar terselfdertyd dwaal daar miskien ’n tema in my kop rond. Dis ongeveer hoe al my kinderboeke ontstaan het. Ek kry ’n ingewing en dit los my nie maar neem, soms oor ’n lang tyd, vorm aan in my gedagtes tot ek skielik op ’n dag begin skryf. En dan werk ek aaneenlopend met slegs kort tussenposes, en skryf taamlik vinnig en vlot, rofweg met die hand, om die verhaal as geheel op papier te kry. Skaafwerk en veranderings kan later volg, want verhale het ’n manier om te verander terwyl jy skryf – daarvoor is daar in elk geval genoeg tyd as jy eers in beheer is van wat jy skep. Dit duur ook soms geruime tyd voordat ek met ’n stuk werk tevrede is. (Al my verhale en ander skeppingswerk word eers met die hand geskryf. Ek doen slegs joernalistieke-tipe werk regstreeks op die masjien.)” (Storiewerf, Junie 2000) ”Chanelling one’s creativity in the direction of writing for children does not involve an exploitation of talent. There is no difference between one’s approach to children and adults. The important thing is to write good literature.” (The Cape Times, 15 September 1976) |
Gebore en getoë
Christovira Frederika Linde is op 12 Desember 1915 op Swellendam in die Suid-Kaap gebore en het grootgeword op die plaas Bruintjiesrivier in die distrik. Die plaas was dikwels die agtergrond vir haar latere verhale. Dit was hier dat sy die liefde en agting vir die natuur geleer het wat so duidelik uit haar werk spreek. Bruintjiesrivier was ’n “mooi plek. Die groot verskeidenheid plante gaan gepaard met ’n interessante klein dierelewe.”
Sy beskryf haar kinderjare as “gevul met ’n ryke weelde: die dorsmasjien wat kom, die hooimied, karringmelk, moskonfyt, vars vrugte van die boom af, ook die vars wildevrug soos turksvy, hotnotsvy en suurvytjies. En dan was daar nog die lekker van die ploegland ná die herfsreëns, die vet wit suring wat bo lê as die ploegskaar die klam sooi omkeer. Of daar was die verrassing van die aandblom, koekemakrankas en ’n voëlnes met kuikens of eiertjies.” (Aan Amanda Botha, Vaderland, 2 Mei 1983)
Haar ouerhuis het ’n ouwêreldse bekoring gehad, het sy aan Amanda Botha vertel, en die werf het baie plaasdiere gehad. By die natuur en die diere het sy nou aangesluit – dit was altyd vir haar vanselfsprekend deel van ’n plaasmilieu.
As kind was sy leesgierig. Haar ouers het boekrakke vol boeke gehad, onder meer Engelse digbundels, Victoriaanse romans en die werk van Langenhoven.
Sy het vervaard gelees. “Ek weet nie of ek maar gelees het omdat lees ’n nuwigheid was, of omdat my fantasie geprikkel was nie, maar vandag nog dra ek die herinnering daaraan in my soos ’n kosbare skat wat waardevoller word met die jare.” (Vaderland, 2 Mei 1983)
Op Storiewerf het Freda vertel: “My verbondenheid met die natuur het begin in my vroeë kindertyd. Ek was ’n woelige kleuter en my oppasster (ene Lenie Johnston of Johnson) het my geleer om blomme en blare tussen boekblaaie te pers, seker net om my besig te hou.
“Ek het grootgeword tussen Bonnievale en Swellendam. Wintertyd in hierdie gematigde landstreek aan die voet van die Langeberge was destyds ’n lushof van plantegroei, wat tot teenaan die werf en stoep gedy het, te danke aan die tydige reëns en sagte son. Dit was vir my maklik om blare te pers. Daar was die groot gekartelde blaar van die kaneelbol, die simmetries saamgestelde blaar van die ‘turknaels’, daar was kruide en onkruide te kus en te keur. Dis hoe ek op ’n vatbare ouderdom plante en blaarvorms leer ken het en patrone raakgesien het.
“Dis interessant dat twee van my boeke wat op ’n laat leeftyd geskryf is, patrone in die natuur as ’n tema het, naamlik die fantasie, Strepie en Kurfie, en my onlangse Eenders en Anders, wat ’n realistiese werk vir kinders is, om hulle bekend te stel aan die wonder van patrone in die lewe en die natuur. Ek is oortuig dat die kiem, of saadjie, vir hierdie twee boeke in my vroeë kinderjare gelê is, dit wil sê in my kleuterjare tussen die plante en blomme van destydse winters en somers. Dis immers deesdae ou nuus dat die eerste vyf jaar van ’n kind se lewe deurslaggewend is en dat hy, volgens deskundiges, meer leer en aanleer in sy eerste vyf jaar as in die hele res van sy lewe.
“Ek was ’n enigste kind tot op die ouderdom van vyf jaar, waarna my twee broers gebore is, en ek kan onthou dat ek gelukkig was op my eentjie in my spel en verbeeldingswêreld, dat ek my klere met modder bemors het en dat ek goed – kruisbande of iets van my pa – stukkend geknip het, ook dat ek op ’n keer weggeloop het, en hoe hulle my ingehaal en gevang het. Talle goeie dinge onthou ek nog, soos toe my pa en ma my geprys het omdat ek ’n skilpad op die agterkant van ’n sigaretdosie geteken het – een met ’n stertjie wat onder sy dop uitsteek. Ek was toe vier, en hulle het ’n hele ding daarvan gemaak en die tekening gebêre en vir besoekers gewys. Ek onthou my tabberdjie van wit ogieskant, en my hoed met rooi bessies versier.”
As elfjarige meisie het Freda reeds begin skryf, veral gediggies. Gedurende haar skooljare, eers aan die plaasskool Middelrivier en later aan die Seminarie vir Meisies op Worcester en die Jan van Riebeeck Hoërskool in Kaapstad, het sy reeds skryftalent geopenbaar. Sy het haar eerste literêre prys gewen vir kinderindrukke wat sy vir beoordeling na die Suid-Afrikaanse Eisteddfod gestuur het. Dit is later in Die Huisgenoot gepubliseer en in haar eerste essaybundel, Terug na die mimosas, opgeneem, asook die skoolopstel “Ou boeke”. In matriek het sy vier eerste pryse op die eisteddfod gewen en sy het op skool al geweet sy sou ’n skrywer word. Die pryse was onder andere vir die skryf van ’n eenbedryf in die ope afdeling, en ’n eerste prys vir ’n essay in die ope afdeling, benewens eerste pryse in haar eie ouderdomsgroep vir opstelle.
In Die Huisvrou van November 1964 het Freda aan Jeanne Albertyn vertel dat sy baie dankie moet sê vir Essie Malan (later mev BF Barnard), haar Afrikaans-onderwyseres in letterkunde aan die Hoërskool Jan van Riebeeck, wat haar aangemoedig het. Jacques Malan, die bekende joernalis, het van haar eerste jeugwerk beoordeel en het haar ook altyd aangemoedig. Audrey Blignault, met wie sy in 1944 bevriend geraak het, het ook altyd ’n besondere waardering vir haar werk gehad.
Verdere studie en werk
Om finansiële redes kon Freda nie na skool universiteit toe gaan nie en het sy ná matriek vir twee jaar in ’n versekeringskantoor gewerk, waarna sy in 1937 ’n joernalistieke betrekking by die Unie-Volkspers se koerant Die Suiderstem aanvaar het. By laasgenoemde het Uys Krige, voor hy oorlogskorrespondent geword het, haar aangemoedig om te skryf. Sy het later baie essays, sketse en gedigte onder skuilname soos J van Velden vir die Unie-Volkspers se tydskrif Die Naweek geskryf.
Sy het tot 1950 voltyds as joernalis gewerk. Daarna het sy vir drie jaar (1950 tot 1953) as vryskut-joernalis gewerk totdat sy aan die einde van 1954 Audrey Blignault as redaktrise van Die Huisvrou vervang het. In 1960 het sy bedank om uitgewersredaktrise by die uitgewery HAUM te word. Daarna, in 1964, is sy na John Malherbe Uitgewers, waar sy in dieselfde hoedanigheid gewerk het.
John Malherbe Uitgewers het hulle veral op die publikasie van kinderboeke toegespits. Hier het Freda heelwat bekroonde kinderboeke uit ander tale in Afrikaans vertaal. En daar het sy ook bewus geraak van die groot behoefte wat daar bestaan het aan oorspronklike Afrikaanse kinderboeke, en het sy self begin skryf. Sy het later vertel: “Tydens my tyd by Johan Malherbe toe ons die beste jeugboeke van ander lande in Afrikaans vertaal het. het ek besef dat jeugboeke net sulke goeie letterkunde kan wees en ook tot volwassenes kan spreek.” (Beeld, 8 Julie 1975)
Freda het uiteindelik by die 90 kinderboeke uit ander tale vertaal. Sy het gemeen dat jeugboeke van hoë gehalte wat geskik is vir vertaling in ander tale, goeie ambassadeurs is: “Stilweg bring dit die ontvanklike jong leser ’n simpatieke begrip vir ander lewenswyses as sy eie. Vir die ouer kind is dit ook prikkelend om van ’n vreemde omgewing te lees.” (Beeld, 15 September 1976)
Sy het die illustrasies in buitelandse kinderboeke as voortreflik beskou. “By ons is die illustrasiewerk dikwels onafgerond.” Hoewel sy geen tekenaar was nie, het sy probeer om met ruwe sketse en foto’s haar voorstelle aan die illustreerders oor te dra. Hiervoor moes haar broerskinders dikwels die nodige modelle wees. (Beeld, 15 September 1976)
Terwyl sy aan die vertalings gewerk het, het sy onder die indruk gekom van die groot vraag na oorspronklike Afrikaanse kinderboeke, het sy aan Gertrude Cooper (The Cape Times, 15 September 1976) vertel: “I felt I could make a contribution by writing myself rather than rewriting what was often other people’s bad stuff.”
Aan die einde van 1971 het sy besluit om permanent te vryskut en het sy Namibië (destyds nog Suidwes-Afrika) ’n paar maande later besoek. Hierdie besoek het die inspirasie geword vir Die singende gras, wat drie keer bekroon is.
Hoewel Freda veral as kinderboekskrywer bekend is, het sy wel af en toe vir volwassenes geskryf, en haar heel eerste boek, Terug na die mimosas en ander essays, wat in 1944 verskyn het, was vir volwassenes. Die omgewing van haar ouerplaas tussen Bonnievale en Swellendam het die agtergrond vir hierdie boek gevorm. Letterkundiges van destyds, soos FEJ Malherbe en Gerhard Beukes, het in hul besprekings in publikasies soos Ons Eie Boek die werk as iets nuuts in Afrikaans verwelkom. Vandag is dié “baanbrekersbundel” egter so te sê vergete.
Ná Terug na die mimosas het sy twee allegoriese verhale, Swiera van die waterkant (1960) en Die rooi haan (1963) die lig laat sien. Swiera van die waterkant is in 1982 heruitgegee onder die titel Vlug na sonnige oewer. Met Die rooi haan het Freda in 1960 ’n spesiale prys in die letterkundige wedstryd van Die Landstemgewen.
In Die rooi haan beskryf Freda Linde die lief en leed van die hoenderbestaan, het CE Pretorius in Vaderland van 3 Junie 1964 geskryf: “In die eerste hoofstuk maak die leser kennis met die hoendergemeenskap op Taaibosbult: die aristokratiese Leghorns, die Koekoeke en swart Minorcas – afsonderlike soorte wat deur Oubaas Juriaanse in afsonderlike kampe gehou word. Die hoenderkarakter wat dadelik die aandag trek, is die avontuurlike Kosie Kokken, ’n Rhode Island Red-haantjie wat glo ‘(a)lle hoenders is dieselfde en daar behoort nie verdeeldheid te wees in die hoenderdom nie’ (12). As gevolg van hierdie oortuiging raak hy in ’n geveg betrokke met Bloukan von Kiep, ’n aanstellerige Leghorn-haan. Kosie verloor die ongelyke stryd en word van sy geboortegrond af geboender. Daar word nou verder vertel van al Kosie se wedervaringe totdat hy as volgroeide haan terugkeer na sy geboortekontrei en die onbetwiste leier van die hoenders op Taaibosbult word.
Vir beide kinders en volwassenes is Die rooi haan interessante leesstof. ‘Vir die jong leser sal dit ’n bekoorlike en boeiende hoenderstorie wees, terwyl dit vir die volwasse leser ’n treffende tweede en dieper betekenis bied: die hoenderwêreld word sinnebeeldig van die moderne samelewing met sy snobistiese ‘stande’-verskil; die materialisme en massaproduksie; die maatskappy se onverdraagsaamheid teenoor “afwykings’; die gelykmaking en inperking van die individu; die onsekerheid oor die dag van môre – dié benoude aspekte van die moderne samelewing word indirek aan die kaak gestel in wat op die oppervlak slegs ’n lughartige, humoristiese vertelling skyn te wees. Die skrywer het die hoendersfeer deurgaans goed geteken en die hoenderkarakters raak uitgebeeld. Besonder mooi is die beelding van die skewebeen, Tos, van altyd af ’n rebel.”
’n Bundel essays, Vreemdeling in my stad, is in 1962 uitgegee. Oor hierdie bundel het RvR (vermoedelik Rykie van Reenen) in Die Burger (30 November 1962) geskryf dat dit al met die publikasie van Terug na die mimosas“prikkelend” sou wees om hierdie bundel op te tel en haar deur haar essays te leer ken en by haar te kuier. Hierdie indruk word volgehou met die publikasie van Vreemdeling in my stad: “Ons het hier te doen met ’n individuele gees met wie dit ’n verfrissing is om in aanraking te kom. […]
“Die bundel het wel essays wat enigsins swaar-op-die-hand speels is: Die skryfster praat soms met groot ingenomendheid van haar verbeelding – of is ek ouderwets om te dink dat ’n mens mos nie bra self ‘sê’ nie? – maar in die geheel gesien: Vreemdeling in my stad is ’n essaybundel wat nie sal staan stof versamel op ’n mens se boekrak nie.”
In 1964 is Snoet-Alleen, Freda se eerste kinderboek, gepubliseer. “’n Klein seuntjie, Toto, se kommer oor die veiligheid van ’n erdvark lei tot sy “ontmoeting” met Snoet-Alleen, ’n erdvark wat haarself aan hom kom voorstel. Toto se verlange om haar weer te sien, lei tot ’n ontdekking van die natuur waarin fantasie en werklikheid mekaar voortdurend afwissel. In eenvoudige taal word ’n verhaal vertel wat ses- tot tienjariges sal bekoor en bewus sal maak van die natuur,” het Anna van Zyl in Volksblad van 11 Julie 1987 geskryf.
Elsabe Steenberg (Beeld, 13 Julie 1987) beskryf die 1987-uitgawe as ’n storie “met ’n magiese bekoring en realistiese gegewe”.
Snoet-Alleen is met die CP Hoogenhout-medalje vir 1965 bekroon. Die motivering vir die toekenning van die medalje het melding gemaak van die skrywer se vermoë om atmosfeer te skep, van haar kennis van die natuurwêreld en van haar insig in, en begrip van, gesonde menseverhoudings, maar bo alles, van haar gawe om tot die gedagte-, gevoels- en ervaringswêreld van die kind deur te dring.
“Elke karakter in die boek het ’n eie persoonlikheid wat eerder met suggestie as met baie woorde so treffend geskep word dat hy vir die leser ’n ou bekende word en bly. ’n Opvallende kenmerk van die boek is die skryfster se vermoë om gesinslede met uiteenlopende geaardhede oortuigend te teken en hulle tog in ’n hegte gesin saam te snoer. In die gesinsverband kry Toto ’n gevoel van sekuriteit wat intuïtief deur die leser aangevoel word.
“Dit is ’n verhaal waarin die kind se verbeeldingswêreld en die wêreld van die bekende tot ’n logiese, konsekwente en onskeibare geheel saamgevoeg word. [...] Die verhaal is ’n goeie voorbeeld van hoe geslaagd eenvoudige taal en ’n onpretensieuse styl in die hande van ’n ware kunstenaar kan wees. Met ’n sensitiewe verbeelding, fyn waarneming en suiwer uitbeelding skep die skryfster ’n nuwe wêreld uit bekende dinge. [...]
“Snoet-Alleen is ’n verhaal van veel meer as net storiebetekenis; dit is inderdaad die werk van ’n begaafde kunstenaar. Die illustrasies vul die teks baie goed aan en dra tot die bekoring van die boek by. [...] Spesiale vermelding van die tipografie en die plasing van die illustrasies behoort gemaak te word. Teks en illustrasies vorm so ’n geheel dat hulle, bloot vanuit ’n tegniese oogpunt, ook onskeibaar geword het. Die boek is in baie opsigte ’n voorbeeld van goeie boekproduksie.”
In haar bedankingswoord het Freda onder andere gesê: “’n Kind se gees, net soos sy liggaam, moet groei deur dit wat hy inneem. Die kinderjare is groeijare. Elke oomblik is ’n oomblik van potensiële groei. Daarom moet daar nie eens sprake wees van swak lektuur nie, want hierdeur word hy oneindig meer skade as volwassenes aangedoen. Die meeste kinders het ’n leeshonger en raak só selfs versot op oppervlakkige verhaaltjies, wat ’n valse voorstelling van die lewe gee.
“Want kinders hou ook van koeldrank en koek, en watter ander lekkergoed ook al. Ouers sal egter nooit in der ewigheid hul kinders op lekkergoed grootmaak nie; hulle sal eerder sorg vir eetgewoontes wat opbou en sterk maak. Dieselfde ouer sal toesien dat die kind hom in ’n hoekie afsonder met lektuur wat sy smaak vir altyd bederf.” (Bron onbekend, 20 September 1965)
Snoet-Alleen is in Amerika uitgegee onder die titel Toto and the aardvark en sover vasgestel kon word, was dit die eerste Afrikaanse kinderboek wat in Amerika uitgegee is. Dit is ook in Duits uitgegee. Die Engelse vertaling is in noue samewerking met Freda gedoen en daar is veral aan die aspek van klanknabootsing heelwat aandag bestee. Die illustrasies is deur die Grieks-gebore kunstenaar Paul Giavanopoulos wat sy opleiding aan die School of Visual Arts in New York geniet het en aan wie onder andere die John Armstrong Chaloner Foundation Fellowship toegeken is.
Vier van Freda Linde se boeke het in 1995 onder Lydia Snyman se tien beste Afrikaanse kinderboeke tot op daardie stadium getel, te wete Ken jy die kierangbos? (1967), ’n Tuiste vir Bitis (1980), Strepie en Kurfie (1987) en Die keiserkroon (1984).
Bo-aan Snyman se lys was Ken jy die kierangbos? “Te midde van die voëlkarakters se wedervaringe in die papkuil en riet, en die geheimenisse van die kierangbos, word ’n menslike liefdesdriehoek uitgespeel, ’n religieuse en natuurervaring en -filosofie uitgewerk en ’n standpunt teen die destydse wet op gemengde huwelike uitgespreek.”
Vir Snyman was dit nie maklik om tussen ’n Tuiste vir Bitis en Die singende gras te kies nie. “Albei plaas ’n dier in die middelpunt, om in die mense se reaksies en optrede deur ’n hele mikrokosmos die universeel menslike bestaan te belig. My stem gaan egter vir Bitis, met gepaste bewondering onder meer vir die wyse waarop deernis met ’n slang verwek word sonder sentimentaliteit, en die oopkloof van die aard en gevolge van vooroordeel by die mens.”
Oor die ander twee het Snyman haar as volg uitgespreek: “Strepie en Kurfie se uiters oorspronklike tema sluit aan by ’n eeue oue uitspraak van Plato en word uitgewerk in ’n fantasie. Die boek is by uitstek ’n voorbeeld van byna perfekte integrasie van tema, skryfstyl en inhoud. Dit is beslis nie bloot ’n eenvoudige storietjie vir kinders nie.
“Die subtiliteit in Die keiserkroon met sy hegte struktuur en fyn ontwikkeling word selde in ’n prenteboek aangetref. Dit is ’n ontdekkingstog in die mistieke kwaliteit van die mens-natuur-verhouding. Maar meer nog, die keiserkroon ontwikkel stelselmatig tot ’n simbool van die onbereikbare en van bevryding. Vir Snyman weerspieël hierdie vier werke uit die kosbare oeuvre van Freda Linde die skrywer se veelsydigheid.” (Boekewêreld, 15 November 1995)
Die singende gras word in 1973 gepubliseer en met die Scheepersprys vir Jeuglektuur vir 1974 bekroon, asook met die WA Hofmeyr-prys vir 1976. In 1990 word dit ook bekroon met die goue medalje van die Namibiese Kinderboekforum.
Dit vertel die verhaal van ’n Damara-seuntjie, Lans, wie se pa hom by die Weissfelds se hotel langs die pad na die Hardapreservaat in Namibië los. Lans verdien sy verblyf deur die hotel se lokaas, ’n verwaarlooste kameel in ’n stowwerige kampie teen die hoofpad, te versorg.
Die kameel, Jesha, word die middelpunt waaromheen die hoofintrige en newe-intriges in verskeie vlakke van skakeringe ingeweef word. Die karakters reageer elkeen op sy eie manier teenoor die kameel. Alles het om die een of ander rede om die kameel begin draai – dit was nie net meer Lans en Jesha nie – hoewel niemand behalwe Lans regtig iets vir haar oorgehad het nie.
Eendag wanneer hy genoeg geld gespaar het, wil Lans vir Jesha koop en op ’n lang reis deur die woestyn gaan. Nóg Lans nóg Jesha is gelukkig by die hotel en as hy die dag weggaan, gaan dit so ver as moontlik wees. Dinge by die hotel begin skeefloop en tot Lans se ontsteltenis word die kameel as slagding verkwansel. Dis sy taak om Jesha op haar laaste reis te vergesel en tydens dié paar dae saam kry Lans tog ’n smakie van die swerftog met die kameel waarvan hy elke dag gedroom het. (Resensie deur Sophia van Taak, Weg!, Junie 2009)
In haar commendatio vir die WA Hofmeyr-prys het Lydia Snyman, een van die beoordelaars, haar commendatio só afgesluit: “Die singende gras is veel meer as ’n genotvolle verhaal. Dit sluit aan by die belewenisveld van die jong leser en is gevolglik jeugliteratuur, maar dit is ook nog ’n geïntegreerde, meervlakkige literêre werk; ’n belangrike bydrae tot die Afrikaanse prosakuns.” (Beeld, 13 September 1976)
Dit is in Engels en in Duits vertaal, asook in Nama en Kwanyama. Hans Baumann, ’n bekende Duitse kinderboekskrywer, het die Duitse vertaling onderneem, en in ’n brief waarin hy die vertaalprojek bespreek het, het dit duidelik geblyk dat hy nie bewus was dat dit ’n jeugboek is nie, wat ’n kompliment vir Freda was.
In haar motivering vir die toekenning van Scheepersprys aan Die singende gras het Audrey Blignault gesê: “Op een vlak word ’n boeiende, genotvolle jeugverhaal vertel in verfrissende Afrikaans; op ’n ander vlak word die menslike verhoudinge in ’n veelrassige klein gemeenskap verhelderend belig terwyl die boek in die diepte ’n roerende pleidooi word vir die behoud van die natuurlewe in die aangesig van vernietiging. Die groot verdienste van die boek is dat die verhaal, die mensbeelding, die landskap en die natuuragtergrond deurgaans tot ’n stilistiese eenheid saamgeweef is. Die konkrete besonderhede in die beeld van die landskap, die plant- en dierelewe is wesenlik deel van die mensbeelding en van die opeenvolgende gebeurtenisse in die ontwikkeling van die verhaal.” (Die Burger, 21 Oktober 1974)
In haar bedankingstoespraak ná die ontvangs van die Scheepersprys het Freda Linde onder andere gesê: “Dit is ’n verhaal wat met my die loop geneem het. Ek het destyds nie geweet hoekom nie. Ek het eers ná voltooiing van die boek, by die herlees, besef dat baie dinge in myself wat my na aan die hart gelê het, in die verhaal gestalte gekry het.
“Ek is dankbaar dat die boek goed ontvang is. Die verstand en gemoed van die jeugdige is fris en ontvanklik en ek hoop dat die boek tot baie jeugdiges sal spreek. Die bekroning deur die Akademie sal dit nog meer lesers laat vind.” (Beeld, 23 Oktober 1974)
In 1971 is Jos en die sog by John Malherbe uitgegee. “Dit is die storie van ’n vark, wat die boek baie ongewoon maak, want daar is nie baie stories oor varke nie. Maar hierdie prenteboek, met die besonder lewendige illustrasies van Marjorie Wallace, is in verskeie ander opsigte ook ongewoon. Die woordeskat beslaan net ’n kwart van die aantal woorde van die teks. Dit bring natuurlik mee dat daar heelwat herhaling is. Daar is egter nie net ’n herhaling van woorde nie, maar ook van klanke, en net deur dié woorde en klanke vernuftig en op ’n skeppende manier in te span, maak Freda van die bont sog en van Jos lewende karakters, en van ’n eenvoudige gegewe ’n onderhoudende verhaal,” skryf Lydia Snyman in Die Burger van 13 Augustus 1971.
Met haar volgende Jos-boek, Jos en die bok (1972), verower Freda die Tienie Holloway-medalje vir kleuterlektuur in 1973. In haar motivering vir die toekenning van die medalje het Audrey Blignault gesê dat Freda met Jos en die bok die vermoë tot buitengewone vormgewing bevestig. “In die oorspronklike verhaal van ’n seuntjie en ’n boerbok word kind en dier albei lewende persoonlikhede. Die onverwagte wending in die vertelling dat Jos eers die bok jaag en die bok dan vir Jos, verhoog die spannende aksie en ook die humor wat reeds in die gang van die vertelling lê.
“Die agtergrond van die plaaslewe in die verhaal is eg en oortuigend. Die aard van ’n onberekenbare en baldadige bokkapater blyk ook duidelik uit die dier se voorkoms, sy houding en sy tergende optrede.
“In aansluiting by die belewenisveld van die kleuter is die visuele beeld ’n onmisbare deel van die kleuterboek. Die illustrasies in hierdie boek deur die kunstenaar Marjorie Wallace is goed geïntegreer met die geskrewe teks en is kunswerke in hul eie reg. In die geheel is Jos en die bok ’n heel buitengewone en waardevolle bydrae tot die Afrikaanse kleuterlektuur en erken die Akademie dit as sodanig met die bekroning van die Tienie Holloway-medalje.” (Die Burger, 15 Oktober 1973)
In haar bedankingswoord het Freda die groot rol wat die kunstenaars wat die illustrasies van haar kinderboeke doen, beklemtoon. Ook uit die motivering vir die toekenning van die Tienie Holloway-medalje het dit duidelik gespreek dat letterkundige maatstawwe ook geldig is vir kleuterboeke – iets wat haar verheug: “Ek moet erken dat ek nie baie gelukkig sal voel oor enige ander tipe kinderboek wat ek geskryf het, dit wil sê ook ’n boek vir ouer kinders, as ek moet weet dat ’n volwassene dit nie ook sou geniet het nie.” (Die Burger, 15 Oktober 1973)
In 1973 verskyn die derde boek met Jos as hoofkaraktertjie, naamlik Jos en Klos, en daarvoor het Freda weer die CP Hoogenhout-medalje vir kinderlektuur ingepalm (1974).
In 1975 was Freda wéér die ontvanger van die CP Hoogenhout-medalje toe haar bundel spreukryme, By die oog van die fontein (1974), bekroon word, en in 1978 het sy hierdie medalje haar eie gemaak toe Die kokkewiet en sy vrou (1977) vereer is.
By die oog van die fontein is beskryf as “baie oorspronklik met fyn aanvoeling en subtiliteit, fantasie, asook ’n subtiele, spottende humor en ’n opwindende en verrykende bydrae tot die Afrikaanse kinderlektuur”. Freda was baie dankbaar dat sy die toekenning ontvang het, veral omdat die bundel heeltemal onvertaalbaar is, as gevolg van die Afrikaanse idiome en spreuke wat nie van die taal self geskei kan word nie.
Die kerndeel van die verhaal van Die kokkewiet en sy vrou is op ’n ware verhaal gebaseer en was aangeteken in ’n brief wat haar moeder aan haar geskryf het. Toe sy dit ontdek, was sy met ander skryfwerk besig, maar die verhaaltjie “het in my geheue bly steek, al was ek besig met ander dinge”. Eers teen die einde van 1975 het sy weer ’n kans gehad om by die storie van die kokkewiet en sy vrou uit te kom, en ses jaar nadat sy met die kern van die verhaal in haar moeder se brief kennis gemaak het, is dit gepubliseer, het Amanda Botha in Die Transvaler (datum onbekend) geskryf.
Die kokkewiet en sy vrou vertel die verhaal van die twee kokkewiete wat in ’n rankplant op Kleinplasie in die tuin van die ou man en sy vrou nes gemaak het. “Die twee vreugdes in die twee ou mense se lewens is die gefluitroep van die twee kokkewiete in hul tuintjie. Martinus, die jong seun wat elke dag die melkkannetjie kom haal, word al meer betrek by die kokkewiete in die verwaarlooste tuintjie. Maar dan bespuit die ou man die rankplant vir insekte en die twee kokkewiete verdwyn en net die spikkeleiertjie bly oor,” het Hannie Schutte in Transvaler (16 April 1977) geskryf.
“Freda Linde vertel die verhaal van die vriendskap tussen mens en mens en mens en dier op ’n eenvoudige en sober manier. Sy neem die lesertjie, sonder dat hy dit agterkom, op ’n ontdekkingsreis. Afgesien van die vroegtiener se gevoelige reaksies op dinge, leer hy ook die ou meneer en tante ken. Baie dinge word fyn gesuggereer en die lesertjie moet dit vir homself uitmaak. Dit is ’n pragtige kinderboek.”
In 1980 word ’n Tuiste vir Bitis gepubliseer en daarmee het Freda haar tweede Scheepersprys vir Jeuglektuur verower.
Lucas Malan (Hoofstad, 20 April 1981) het ’n paar ooreenkomste tussen Bitis en Die singende gras raakgesien, “soos die sonderlinge verhouding tussen ’n jong seun en sy ‘troeteldier’ en die onsimpatieke houding van sommige volwassenes jeens dié dier wat ’n bedreiging vir die vriendskap word. In ’n Tuiste vir Bitis is die hoofkarakter se emosionele betrokkenheid egter minder genuanseer en dra die groter klem op die feitelike daartoe by dat hierdie werk as boeiend eerder as ontroerend bestempel kan word.”
“Die verhaalgegewe is ongewoon en boeiend: Martinus is besig om ’n pofadderwyfie in die veld mak te maak. Sy is aan sy voetstappe gewoond, sy ken sy stem, hy kan haar met ’n stok streel. Maar die dag toe hy gedwing word om haar met blote hande na veiligheid te bring omdat ’n onverskillige seun met ’n rekker haar wil vernietig, besef hy: “Dis nie meer Bitis nie, maar gevaar, koud, onbekend, wat hy hardhandig vasdruk.’ Nou het hy wel ’n hok en ’n sak nodig. Dit is maar die begin van die verhaal van hoe Martinus die tradisionele vyand van die mens teen die mens moet beskerm.”
Vir Erne Potgieter (Die Burger, 9 Oktober 1980) slaag Bitis daarin om ’n jeugboek te bly: “daar word nooit deur ’n volwassene kommentaar gelewer nie; die perspektief is deurgaans dié van Martinus. Die ander figure in die verhaal word ook in kompleksiteit uitgebeeld, byvoorbeeld Tokkels, die bruin tronkvoël wat Martinus se slang wil skiet.
“’n Sterk tema in die verhaal is vooroordeel. Die mens was nog altyd (natuurlik) bevooroordeeld teenoor die slang, maar meestal is sy vrese ongegrond: die slang verdedig eerder as om aan te val, hy is baie verwondbaar, en baie mooier as wat die mens wil raaksien. […]
“Freda Linde is ’n ware kenner van die natuur en sy kán woorde gebruik. Haar beskrywing van die boek se agtergrond en Martinus se ervaring daarvan is vir Potgieter op sigself ’n ervaring daarvan: ’nog altyd het hy slange bewonder oor hul sagte gang, ook vir Bitis. Net water kan beweeg soos ’n slang. Maar die rye, rye ribspiertjies wat so sag en honderdvoudig riffel, was onder sy hande één sterk snoer wat golf van weerstand. Nou, agterna voel hy nog hoe haar rugskubbetjies soos knoppies teen sy palms druk in haar worsteling om los te kom. Maar weerstand het hy verwag. Daar was net die een ding wat hom van stryk gebring het, die kille aanraak.’
“Freda Linde is ’n skryfster wat woorde kán gebruik. En ’n Tuiste vir Bitis is waarskynlik die beste boek vir jong lesers wat nog uit haar pen verskyn het.”
In 1981 het Penguin Films ’n dokumentêre film oor Freda vir SAUK-TV gemaak en Amanda Botha (op LitNet) het dit meegemaak: “Dit was ’n avontuur en ’n ervaring wat eenmalig in sy soort was. Nie net die organisatoriese om alles reg te kry nie – die navorsing, die teks, die medewerkers en ander tegniese beplannings – maar om letterlik vir Freda te bestuur. Hier het ’n heel ander Freda op die voorgrond getree. Nou die professionele Freda wat dinge na haar hand wil dwing. Ons het vir twee dae saam met haar na Bruintjiesrivier gekom en ons het drie swaar tasse van Freda gelaai – niemand wis die inhoud nie. Toe ons daar kom, word ons gekonfronteer met ’n lysie van hoe ons te werk sal gaan – elke paadjie gemerk, elke plekkie in die ou huis, wat toe nie meer bewoon was nie, gemerk met wat is deur wat geïnspireer. En in die een tas elke boek, tekening of foto wat betrekking het en in die ander twee tasse Freda se ... wel ... ek kan dit net haar garderobe noem. Klere vir winter en somer wat by elke toneel sou pas, ingesluit haar kenmerkende hoede wat sy graag gedra het.
“Nie vir een oomblik was daar verveling nie, want Freda het ons teen ’n pas gedryf. Verduidelikings dat kontinuïteit belangrik is in die maak van ’n film het op dowwe ore geval. In die volgende twee dae het Freda met haar fyn beplanning ons na elke stroompie, elke boomstomp en gehuggie op die plaas geneem en ons vertel hoe dit binne die raam van haar werk inskakel met die boeke wat sy geskryf het. Dat ons beperk was tot ’n 35-minute-eindproduk het Freda glad nie geskeel nie. Nee, wat, dit kan nie tel nie, het sy beslis.
“Wel, toe alles klaar was en daar in Johannesburg met die redigering en tegniese versorging begin sou word, hoor ons dat Freda op die trein is en self kom waak oor haar verhaal. Vir die week wat ons daaraan gewerk het, was elke raampie onder haar blik en elke woord van die teks geweeg, en uiteindelik moes verduidelik word dat ons dit binne ons opdrag moet aanbied en dat Freda nou nie oor die tydsduur seggenskap kan hê nie. Voor ons dit by die SAUK kon aflewer, het Freda haar stempel van goedkeuring gegee.”
Qualitas het in 1982 die verhaal Prinses van die park gepubliseer met ’n heruitgawe in 2005 deur Anansi. Dit was die gevolg van ’n berig wat in die Pretoria News verskyn het oor die buitengewone verhouding tussen Phineas Matsi, destyds opsigter van die Austen Roberts-voëlpark in Pretoria, en Rosy, ’n bloukraanvoël.
Rosy het oor ’n tydperk van ses of sewe jaar “dol verlief” geraak op haar menslike bewaarder. Hierdie verskynsel by diere, veral voëls, om “verlief” te raak op hul mensevriende, staan onder deskundiges bekend as inprenting. Rosy is van kleins af hans grootgemaak. Niks wat sedertdien gebeur het, kon haar daarvan oortuig dat sy eintlik ’n kraanvoël is nie. Haar hele lewe lank is sy verknog aan mnr Matsi.
Rosy se verhaal het in die Pretoria News van 19 Junie 1975 verskyn. Johan van Rooyen, destyds redakteur van dieTown, het ’n uitknipsel van die berig aan Freda gestuur. Sy was baie ingenome met Rosy se verhaal en dit het uiteindelik gelei tot Prinses van die park. (Suid-Afrikaanse Oorsig, 10 Junie 1983)
In 1990 is ’n ou kinderverhaal wat Freda in Afrikaans verwerk het, om “godsdienstige redes” onaanvaarbaar vir die destydse Transvaalse Biblioteekdiens bevind. Dit het gevolg kort nadat ’n ander boek wat sy vertaal het, om dieselfde redes die wind van voor gekry het op Potchefstroom: die Engelse kinderboekskrywer Leo Lionni se boek The rabbit garden is deur Freda vertaal as Die konyntjies en die slang, wat Elsabe Steenberg “onthuts” gehad het oor die “blatante satanisme” daarin. (In die boek voer ’n slang verbode appels aan twee konyntjies.) (Beeld, 19 April 1990)
Die boek wat onaanvaarbaar vir die Biblioteekdiens was, was Maanwys, wat die verhaal vertel van ’n trop olifante tydens ’n droogte. Koning Groottand stuur die olifante om water te soek, waarna hulle ’n meer ontdek, maar dis die Maan se meer en die woonplek van konyne. Dié se huise word vertrap, en Maanwys Konyn, die konyn van die Maan, gaan praat met die indringers omdat hulle die Maan se heiligdom onteer het: “Kniel voor die Maan en vra hom om vergiffenis.” Die olifante doen dit en trek weg. Die verhaal is gegrond op ’n fabel uit die Panchatantra, ’n versameling moraliteitsverhale wat in Sanskrit opgeteken is.
Al wat Freda oor die gebeure te sê gehad het, was: “Dis ’n bekende legende wat ek in rymvorm oorvertel het. Ek dink dis heeltemal onskuldig.”
In 1999 word Eenders en anders uitgegee, met ’n herdruk in 2005. By die bekendstelling van dié boek het Lydia Snyman die volgende oor Freda Linde se oeuvre te sê gehad: “’n Ryke skat voorwaar in omgang, maar ook in oorspronklikheid, lewenswaarhede en gekonkretiseerde abstrakte idees. En daarby is sy steeds vernuwend tot en met haar jongste werk.” Vir Eenders en anders het Freda die MER-prys vir Jeugliteratuur vir 1999 ontvang.
Op Storiewerfskryf Marianne Breytenbach (4 Julie 1999) oor Eenders en anders dat dit nie net ’n storieboek is nie – eerder ’n opvoedkundige publikasie: “Die jong leser sal dit egter nie só sien nie, want daarvoor is die inhoud té boeiend en word dit so speel-speel aangebied dat dit die kind se belangstelling sal prikkel. […] Die inhoud van die boek is saamgestel rondom die syfers 1 tot 5. Elke syfer en alles wat daaroor gesê word, dien as ’n aparte hoofstuk onder die opskrif ‘Alles wat een is’, ‘Alles wat twee is’, ensovoorts.
“Die skrywer maak gebruik van veral fauna en flora – meestal inheems – om elke syferbegrip aan die kind oor te dra, maar terselfdertyd sit sy die kind aan die dink oor die kosbaarheid van lewe en dit wat ons het en waarom ons dit moet bewaar. Die publikasie is egter hoegenaamd nie ’n sedepreek nie.
“Neem die volgende uittreksel uit die hoofstuk ‘Alles wat drie is’ as voorbeeld: Kroon- en kelkblare van blomme het ook soms drie-patrone. Klein sieraad van ons veld-orgidieë is die blou disa, ’n ryke samestelling van blou, pers, olyf en wit met sy eie patroon: sy drie kelkblare is diep hemelsblou en een van hulle vorm sy kappie. Sy pers kroonblare tel ook drie. Twee sit onder sy kappie en die derde vorm sy breë lip wat ondertoe krul. Jy sal die merkwaardige blom miskien by Bettiesbaai of Tafelberg sien, maar niemand mag hom pluk nie.
“Uit die uittreksel blyk die besonderse skryfstyl wat in die publikasie gebesig word, sowel as die boeiende manier waarop inligting oorgedra word. Die skrywer maak plek-plek gebruik van rymelary, op ander plekke van ’n spreekwoord of twee, en daar is selfs ’n verwysing na ’n vers deur Leipoldt. En wat inligting betref: die boek wemel van inligting oor interessante en onbekende dier- en plantsoorte, soos die eenhoring, die jerboa van Noord-Afrika en die heliophila. Soos egter afgelei kan word uit die uittreksel oor die disa, word telkens net genoeg inligting verskaf om die kind nie te verveel nie, maar hom/haar te prikkel om die verskynsel self te ondersoek.”
Marianne Breytenbach skryf verder: “Die wins van hierdie besonderse kinderboek is tweeledig: die kind leer waardering vir dit wat hy/sy het en rondom hom/haar sien, en die kind maak kennis met veral nuwe plant- en diersoorte. Weens die heerlike en baie subtiele filosofiese ondertoon is dit die soort publikasies wat ’n kind sal stimuleer om dieper as net die oppervlak te dink.”
Freda Linde het aan Storiewerf vertel dat sy met Eenders en anders die kind wou bekendstel aan die wonder van patrone in die natuur en die lewe deur hom op ’n “ontdekkingstog” te neem na die dinge wat hy elke dag om hom sien, maar nog nooit van naby beskou het nie. “Feite kan net so vreemd en boeiend as fiksie wees. My benadering in hierdie boek is persoonlik. In plaas van ‘kyk hierdie padda’ sê ek: ‘Kom ontmoet Platanna, ook bekend as Plandoeka, van die Poele.’ Dit gee aan die platanna ’n soort identiteit, wat tot die kind spreek. Ek doen dit sonder om feite te verdraai of feite vals voor te stel.
“In die hoofstuk ‘Alles wat vier is’ kom vier-vlerkiges aan die beurt, onder andere:
Die meeste kewers het ook vier vlerke,
maar toktokkie het syne nie gebruik nie
Toe het hulle vasgegroei
Nou leef hy doodtevrede met
sy harde dop en met sy
pote op die aarde.
“Met ander woorde wat nie gebruik word nie, kan vasgroei, nutteloos word. Nie net inhoud nie maar ook taalritme kan bydra om ’n teks boeiend te maak. Dis belangrik dat ’n kind self moet ontdek in plaas van gedurig inligting gevoer te word (by die een oor in en by die ander uit).
“As hy self één enkel blomstruktuur ontleed het, sê een met vyf kelkblare, vyf kroonblare, tien meeldrade (vyf langes en vyf kortes) en ’n stempel wat in vyf verdeel soos ’n fyn blommetjie, gaan hy met ander oë na alle blomverskynsels kyk: vier-patrone, drie-patrone of wat ook al.”
In Rooi Rose (18 Augustus 1999) skryf MK só oor Eenders en anders: “Een, twee, drie, vier, vyf … As jy eers hierdie lieflike boek gelees het, sal jy weet hoeveel van die wondere van die plant- en diereryk rondom jou jy in jou een hand kan vashou.
“Met behulp van die getalle een tot vyf ontgin Freda Linde die betekenis van hierdie telwoorde. Van dit wat een en enig is (een brein en een hart), dit wat twee-twee sáám is (ouers, saadlobbe om ’n plantjie), en so verder tot by die ryke verskeidenheid van vyf (tone, vingers, sintuie, kroonblare). En dan dié slotsom:
want al is jy ook
anders as ’n ander
bly jy nog soos blom en blaar
deel van ’n patroon.
’n Boekie vir klein en groot om te koester.”
’n Toevalligheid in Freda se boeke is die feit dat die meeste van haar boeke se hoofkarakter ’n seun is. Sy kan dit self nie verklaar nie. “Ek meen dat dit dalk is omdat ek ietwat van ’n rabbedoe op die plaas was. Ek het perde bloots gery en sulke tipe van goed gedoen. Ek dink egter nie dit maak ’n verskil nie, want meisies lees ook seunsboeke.”
In ’n onderhoud met Beeld van 8 Julie 1975 het Freda gesê dat skrywers nie altyd meer tyd het as ander mense nie. “Hulle moet gewoonlik ook ’n bestaan maak. Die tyd en toewyding wat skryf verg, moet hulle van iets of iemand anders neem, wat ook ’n aanspraak daarop het. En al doen ’n mens dit met ’n skuldige gewete, doen jy dit tog.”
Sy het dié tyd van haar ouers “gesteel”, want die boek is gedurende haar vakansies op die plaas geskryf. Sy het dankbaar onthou dat haar ouers nooit gekla het nie, hoewel hulle alleen op die plaas was en sekerlik na geselskap uitgesien het. Nie alleen het hulle nie aanspraak op haar tyd gemaak nie, maar alles so prakties en gerieflik moontlik vir haar skryfwerk ingerig en haar net aan die etenstafel gesien het. “Die boeke kon slegs in daardie ongerepte atmosfeer die lig gesien het. Dit kan nie herhaal word nie.”
Freda Linde is op 7 Maart 2013 op 97-jarige ouderdom in die Lady Christian Home in die Tuine, Kaapstad, oorlede.
Huldeblyke
- Audrey Blignault in 1973 by die toekenning van die Tienie Holloway-medalje vir Jos en die bok: “Met hierdie toekenning erken die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns die besondere bydrae wat Freda Linde op die gebied van die Afrikaanse kleuterlektuur gelewer het. Die kleuterlektuur stel besondere vereistes aan die skrywer. Naas die verbeelding, die fantasie en die vermoë om te vertel, verg hierdie afdeling van die letterkunde ook ’n begrip van en ’n insig in die belewenisveld van die kleuter. Dit is veral hierdie begrip en insig wat vir die skrywer van die kleuterboek sy uitgangspunt bepaal. Juis omdat dit ’n hoogs gespesialiseerde onderneming is om só vir kleuters te skryf dat hulle ’n verhaal werklik belewe, is hierdie afdeling van die letterkunde nog in ’n groot mate onontgin in Afrikaans. Freda Linde het met haar boeke vir die voorskoolse kind die bewys gelewer dat sy die vermoë het om binne die raamwerk van dié gespesialiseerde belewenisveld ’n kunswerk te skep. Haar besondere verdienste is dat woord, klank, ritme en simbool in elke kleuterboek wat sy geskryf het, ’n hegte eenheid vorm.”
- Lydia Snyman (in 1971): “In al Freda Linde se werk lewe die natuur soos ’n mens dit selde ervaar, want hier sien jy dit deur die oë van karakters wat elkeen op sý manier kyk. Maar ook in werke wat min, of selfs niks, met die natuur of die platteland te doen het nie, is Bruintjiesrivier nog altyd daar: Dit is daar waar Freda Linde haar eie manier van kyk en dink voel en moes geleer het – die waarnemingsvermoë, die aandag aan klein besonderhede, die aanvoeling vir stemming en atmosfeer, die fyn humor waar selfs ’n omgevalde toktokkie, met sy spartelende pootjies, as snaaks kan ervaar; die respek vir die geordende ongekunsteldheid van die natuur, en die onvermydelike lewenswaarhede wat die natuur jou kan leer. Hierdie eienskappe is ook opvallend in die uitbeelding van die stad in die essays in Vreemdeling in my stad en van die lotgevalle van die kat in Maraaia Prima-donna. Haar skryfstyl is sober en eenvoudig, maar as ’n mens dit bestudeer, besef jy dat elke woord funksioneel is, dat selfs die keuse van name veelseggend is, dat klanke en die gevoelswaarde van woorde net reg ingespan is om veel meer te suggereer as wat gesê word.
“Haar essays vir volwassenes het reeds ’n plek in die Afrikaanse letterkunde, maar haar grootste bydrae as skryfster is sekerlik dat sy een van die eerste skrywers was wat van die Afrikaanse kinderboek letterkunde gemaak het. Al haar kinderboeke, ook dié in versvorm, is boeiende leesbare verhale van ongewone oorspronklikheid wat knap vertel is. Maar terselfdertyd beeld hulle veel dieper idees uit. Soms gebruik die skryfster haar ongewone karakters om ’n eenvoudige waarheid uit te beeld; soms word van die karakters en gebeure in die werk simbole; soms word die hele werk ’n allegorie.
“Vir die volwassene is hierdie werke ’n interessante en genotvolle letterkundige studie, vir die kind is hulle stories wat hom na ’n ander wêreld verplaas. Die kind lees hulle omdat hy van die stories hou, maar tog is dit onvermydelik dat hy die diepere betekenis wat aan die verhale hul vorm gegee het, sal aanvoel.”
- Amanda Botha: “Om ewig verwonderd met die lewe om te gaan – elke dag ingestel op die avontuur van sintuiglike ontdekking. Só onthou ek Freda Linde en hoe sy haar oopgestel het, selfs in haar laat tagtigerjare, om ontvanklik te wees vir die wonderwerk wat die dag kan inhou. Haar verbeelding was – ondanks haar verswakte fisieke omstandighede – nooit ingeperk nie [...]
“Freda Linde het boeke vir kinders van alle ouderdomme geskryf. Sy kon haar in elk van die boeke inleef en elkeen dra die stempel van ’n meestershand. Sy het verdien om Afrikaans se mees bekroonde kinder- en jeugboekskrywer te word. Sy was veelsydig en eenmalig – haar gelyke is daar nie. […]
“Freda Linde sou uiteindelik verskillende generasies lesers na haar werk trek. Haar woorde het in ander vertalings oor die wêreld gesweef, maar altyd was sy getrou aan haar Overbergse wortels. Dit is daardie lojaliteit en integriteit wat haar as mens gemerk het. Haar nalatenskap is groot en gewaardeerd – dit verteenwoordig die beste werk in hierdie genres wat in Afrikaans gelewer is.” (LitNet, 9 April 2013)
- Johann de Lange:
Stroomgebied
Freda Linde (1915–2013)
Hoe saggies gésel my die Juliereën
hoe gésel my die reën
deur oop neonstrate sonder ’n boodskap
van die dag wat nooit gewees het nie:
’n Halwe nag kon dag gebring het.
So naby kon die dag begin het
net tien treë oor die donker perk.
– Selfs tien treë nie.
Nie vir al die roem en luister nie.
Nie ’n woord, ’n roep, ’n fluisterinkie.
Jy het nog sluwer weggeglip
as hul beloftes soos rookringe.
Maar hoe kon jy die klein dingetjies agterlaat
jou kind se skoentjies onder my bed
en êrens – waar? – jou oker trui
verweerd en sag soos die daeraad?
En die slytige kindjie van die skoentjies –
het jy geweet sy sou gaan
onverleë soos ’n kind
op blinker voetjies ...
Maar dié stukkende skoentjies?
Daar was ’n dag toe iemand kortaf was
(en jy so windverwaaid in die straat)
en ’n nag het gekom toe al die stemme stil was
in hul onwetende stil verraad
maar die klein dingetjies het jou niks gemaak nie
en roep nog onophoudelik na jou
skuldloos en klein, verlore, verniet:
die nederige glas met die blom van jou lippe
en die leë parfuumbotteltjies
en die getroue sleutel van jou deur.
Sleutels slyt af en vergeet maar hierdie een
het kort gelede nog in jou koorsige palm gelê.
Stroomgebied, droomgebied, ebvloed
skuif sag oor die rimpelende grense.
Oorsuis die gespitste stiltes.
As die verkeer ophou en die mense
spoel jou maatslag oor die stil balkonne
Stroomgebied, droomgebied,
sus jy die weerlose wens.
“Verdrinken is vergeten worden en vergeven.
“Is dit nie vir jou mooi nie –
“vergeten worden en vergeven?
“Het is een oud, zeer heimwee overwinnen.”
…
In die nanag hoor ek nog die Juliereën
wis ek hoe die vog vergader om die koue steen. (Johann de Lange blogspot, Maart 2013)
- Philip de Vos: “Met die loop van jare was ek veel meer voorbarig, en nie meer skaam om celebrities te nader om foto’s van hulle te neem nie. Eers was dit slegs vir ’n foto-uitstalling maar later kon ek vir hulle sê dit was vir my fotoboek Milieu. Weer eens het ek vir Freda Linde gebel. ’nee,’ sê sy. En na ’n bietjie gesoebat sê sy: ‘Ja, maar onthou jy mag net twee foto’s van my neem!’
“’n Dag of drie daarna was ek toe met my kamera as enigste wapen by die voordeur van haar huisie in Kloofnekweg, Kaapstad. Na ’n koppie tee, was dit tyd vir die twee foto’s. Net toe ek my kamera wou wegpak en tot siens sê, sê sy: ‘Jy kan ’n derde foto ook neem, want ek hou van hierdie potplant van my wat byna tot by die plafon rank.’
“Toe ek die negatiewe tuis ontwikkel, het ek besef dat hierdie nie juis my mees inspirerende foto’s was nie en ek bel haar terug: ‘Mejuffou Linde, ek moet groot verskoning maak, al drie foto’s is om een of ander rede uit fokus en heeltemal onbruikbaar.’ (Partykeer help dit om ’n bietjie te lieg.) En in dieselfde asem vra ek hoekom ons nie foto’s in die Kompanjietuin kan gaan neem nie. Want toe ek by Cape Town High onderwyser was, het ek haar dikwels met haar strooihoed met die flaprand die laning sien afstap.
“En haar antwoord: ’nee!’ Maar – die volgende dag uit die bloute kry ek ’n telefoonoproep. ‘Ek het daaroor nagedink, en miskien kan ons twee foto’s in die Tuine gaan afneem.’
“Ek kon dit nie glo nie. Op ’n wonderlike sonnige Kaapse oggend het ek foto’s van Freda geneem waar sy met haar strooihoed die laan afstap en later vir my teen die yslike boomstamme poseer. ‘Weet jy,’ sê sy. ‘Ek het ’n boek geskryf wat by hierdie einste boom afspeel.’
“En ons twee foto’s het later ’n stuk of 20 geword, en deur die oog van my lens het ek skielik ’n mens gewaar …
“En toe – ’n jaar of drie gelede sien ek haar weer. Hierdie keer was dit op die top van Seinheuwel. Dit was ’n winderige agtermiddag. Freda, klein en inmekaargekrimp het langs haar vriendin Eleanor Esmond-White se rolstoel gestaan terwyl Johan van Rooyen se dogters Emma, Katie en hulle broer Quacky by die hange van Seinheuwel afstap om hulle pa se asse te gaan uitstrooi. En toe onthou ek dit was in Johan se huis waar ek haar die eerste keer gesien en te skaam was om met haar te praat.” (Versindaba, 8 Maart 2013)
- Le Roux, Marina: “Freda Linde was ’n prolifieke, presiese, soms miskien selfs ’n puntenerige skrywer. Elke detail, van teks sowel as illustrasie, moes korrek wees, veral dié oor diere, voëls en plante. Sy was immers ’n natuurkind, ’n plaaskind van Bruintjiesrivier, naby Bonnievale in die Swellendam-distrik. Haar verstommende kennis van, en liefde vir, die natuur en haar kontrei – wat haar kinderjare gevul het met ‘ryke weelde’ – is ’n deurlopende tema in haar werk. Haar interessante en soms ongewone hoofkarakters is dan ook dikwels uit die natuur: soos ’n pofadder, ’n erdvark, ’n kameel, kiewiete, duiwe en ’n kraanvoël. Mense speel meestal ondersteunende rolle as mentorfigure in die sensitiewe wisselwerking tussen kinders, jongmense en die natuur.
“Linde was ook ’n besonder veelsydige skrywer en was ewe suksesvol met fantasie, realisme, poësie, vaklektuur en selfs met beskrywings van ou volksverhaalvertellings soos Botter-aas (1966) en Die stadsmusikante (1967). Sy het die totale ontwikkelingsfases van die kinderleser bemeester en dit betrek by prenteboeke, prentestorieboeke tot by veelvlakkige jeugromans. Enkele voorbeelde ter illustrasie is Snoet-Alleen (1964), ’n Tuiste vir Bitis (1980) en Die singende gras. Laasgenoemde is Linde se mees bekroonde werk en haar persoonlike gunsteling. Dit is, soos Die Keiserkroon later, gesitueer in Namibië. Sy skryf uitvoerig oor die ‘lang pad’ van hierdie boek met ’n ‘siel’ in In ons goeie boekies.
“Nadat MER Die singende gras gelees het, het sy onder andere aan Linde geskryf: ‘Dit is ’n bevoorregte wat die lewenswaarheid kan sien: dit is ’n besondere wat die kern van sy ewemens beskryf’ – presies wat Linde gedoen het in hierdie voortreflike jeugboek.
“Toe ons in die sewentigerjare van die platteland terugkeer na Stellenbosch, kon my vriendskap met Freda Linde hernu word. Vanaf 1971 was sy vryskutskrywer en het sy tyd gehad vir reis. Dit het besoeke aan Stellenbosch ingesluit en gesprekke met my senior studente. Hulle is telkens geboei deur haar ongekunstelde, pretensielose aanslag, haar verbeeldingryke, onbevange siening van alledaagse dinge, ’n verbete toewyding aan haar ambag en haar onkreukbare vertroue in en respek vir haar lesers. Tydens een van haar besoeke, het die studente ’n pragtige collage van illustrasies uit haar boeke aangebied. Sy was kinderlik verras en opgetoë daarmee. ‘Ek was baie bevoorreg om met knap kunstenaars saam te werk. My sukses is in ’n groot mate aan hulle te danke,’ het sy ruimhartig erken.” (Die Burger, 17 Maart 2013)
- Amanda Botha op LitNet: “Met die herroeping van momente uit Freda se lewe is dit ook nodig om ’n kantaantekening te maak oor haar gawe van vriendskap. Sy was lewenslank omring deur ’n klein groepie vriende wat altyd daar vir haar was – maar vir wie sy ook deur dik en dun sou ondersteun. Freda Linde sou uiteindelik verskillende generasies lesers na haar werk trek. Haar woorde het in ander vertalings oor die wêreld gesweef, maar altyd was sy getrou aan haar Overbergse wortels. Dit is daardie lojaliteit en integriteit wat haar as mens gemerk het. Haar nalatenskap is groot en gewaardeerd – dit verteenwoordig die beste werk in hierdie genres wat in Afrikaans gelewer is.” (LitNet, 9 April 2013)
- Danie Botha: Dit is baie moeilik om ’n enkele paragraaf of paar paragrawe uit Danie Botha se huldeblyk aan Freda Linde na vore te bring; gaan lees dus gerus sy hele huldeblyk by https://www.litnet.co.za/n-huldeblyk-aan-freda-linde-die-smaak-van-suringwortels.
- Hettie Scholtz: “Nie net kunstig met die woord nie, maar ook met die beeld is hierdie skrywer, want sy teken vir afleiding, veral wanneer sy omgekrap is, of gekwel. Treffend haar vergeelde skets van ’n kleuter, meer as ’n halfeeu gelede geteken. Dis die oë wat jou vang. Miskien lyk hulle vandag nog so, daardie oë.
“En dit is haar prestasie, ook met skryf: ’n sonderlinge vermoë om deur te dring tot die essensie van ’n saak, en dit geloofwaardig te herskep. Sy skryf met die hand, tik dit dan veel later oor. ’n Leeftyd lank was dit op ’n ou Remington wat sy net ná matriek aangeskaf het, onlangs eers vervang met ’n Royal.
“Dis ’n deurleefde, deurdagte proses wat nooit as te nimmer met die spoed van ’n rekenaar vervang kan word nie. Want só is Freda Linde: eksie-perfeksie, oorspronklik, en met ’n weerlose skoonheid in die herfs van haar lewe.” (Insig,Oktober 1999)
- Lydia Snyman: “Haar werk kan nie net beskou word as genotvolle kinderliteratuur nie, maar moet as waardevolle letterkunde verwelkom word. Die kenmerk van haar skrywerskap is haar vernuwende denke en volledige oorspronklikheid.” (Vaderland, 2 Mei 1983)
In die boek Freda Linde, wat deur Carl Lohann saamgestel is en in 1983 deur Perskor uitgegee is, het Lydia Snyman geskryf dat dit opvallend is dat Freda Linde in al die jare wat sy as skrywer bedrywig was, onafhanklik en oorspronklik geskep het, sonder dat sy ooit met enige groep of beweging in die letterkunde geassosieer kon word.
“Daar is miskien ’n effense ooreenkoms in die aard van sommige van haar verse met dié van Leipoldt, maar in haar werk is daar nie spore van direkte beïnvloeding nie. Trouens, Freda Linde het dwarsdeur haar loopbaan ’n eie oorspronklikheid gehandhaaf en het ook telkens as vernuwer opgetree. Van haar heel eerste werk, Terug na die mimosas (1944), sê Gerhard Beukes in 1944 in ’n koerantresensie: ‘Die verskyning van hierdie bundel essays is dubbeld welkom – eerstens om die nuwe rigting in ons letterkunde wat dit inlui: dié van die kunsessay, en tweedens om die hoë standaard daarvan.’ En van dieselfde bundel sê FEJ Malherbe ook in 1944 in Ons Eie Boek: ‘Hierdie skryfster het geleer om deur haar eie oë te kyk en om wat sy gelees het, te verwerk tot eie oorspronklikheid.’
“Die rooi haan is in 1959 geskryf, in 1960 in ’n wedstryd bekroon, maar eers in 1963 uitgegee, omdat verskeie uitgewers dit van die hand gewys het. Jan Rabie noem dit ’n ‘vonkelnuwe fabel in moderne styl’. Hierdie verhaal beweeg reeds ver weg van die realisme, nog vóór die Sestigers se werk wat deur so ’n wegbeweging gekenmerk word. Haar eerste kinderboek, Swiera van die Waterkant (1959) was na my wete die eerste kinderboek met ’n simboolstruktuur in Afrikaans.
“Die herskepping in hierdie bepaalde vorm van die ou sprokies in Botter-aas (1966), Die stadsmusikante (1967) en Stadsmuis en Veldmuis (1969) is Freda Linde nog nie nagedoen nie. Jos en die sog (1971) was die eerste oorspronklike werk in Afrikaans wat met ’n beperkte woordeskat geskryf is.
“Van die spreukryme in By die oog van die fontein (1974) sê MM Walters: ‘Met hierdie bundel bring Freda Linde iets nuuts in Afrikaans …’
“Dit is dus duidelik – en merkwaardig – dat Freda Linde dwarsdeur haar skrywersloopbaan nooit navolger was nie, maar vernuwer gebly het. Ook wat die temas in haar werke betref, toon sy ’n eie oorspronklikheid. ’n Tuiste vir Bitis is byvoorbeeld na my wete die enigste werk in die wêreldkinderliteratuur met die geskiedenis van ’n adder as leitmotiv.
“Hoewel die skepping van genotvolle leesstof vir kinders ’n belangrike bydrae kan wees as dit van goeie gehalte is, is Freda Linde se grootste bydrae seker die feit dat sy een van die eerstes was wat van die kinder- en jeugboek in Afrikaans letterkunde gemaak het, en dit konsekwent volhou. Haar werk het onteenseglik ’n waardevolle plek in die Afrikaanse letterkunde, ten spyte van die feit dat die kinderliteratuur in literêre kringe misken word.
“Maar in die laaste instansie bly Freda Linde se werk in ’n groot mate soos die natuur waaruit hulle gegroei het: eg, met oënskynlike eenvoud, ’n wêreld wat elke keer opnuut ontdek kan word, georden tot in die kleinste besonderheidjie, in detail en totaliteit nuut, al is dit bekend, en ontsluitbaar slegs vir diegene wat met die wonder van kinderoë kyk, of dié volwassenes wat moeisaam geleer het om verder te kyk en te waardeer as die voor-die-hand-liggende.”
Publikasies:
|
Publikasie |
Terug na die mimosas en ander essays |
|
Publikasiedatum |
1944 |
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewer |
|
|
Literêre vorm |
Essays |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Swiera van die waterkant (In 1982 heruitgegee onder die titel Vlug na sonnige oewer deur Qualitas) |
|
Publikasiedatum |
1960 |
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewer |
Pretoria: HAUM |
|
Literêre vorm |
Kinderboeke |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Vreemdeling in my stad : essays |
|
Publikasiedatum |
1962 |
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Essays |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Die rooi haan |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewer |
|
|
Literêre vorm |
Prosa |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Engels 1969 |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Snoet-Alleen |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
|
|
Uitgewer |
|
|
Literêre vorm |
Kinderboeke |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
CP Hoogenhout-toekenning 1965 |
|
Vertalings |
|
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
As jy kan fluit op hierdie maat |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
086966087X (hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: John Malherbe |
|
Literêre vorm |
Kinderverse |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Dakkuiken |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
0624030113 (hb) |
|
Uitgewer |
|
|
Literêre vorm |
Kinderboeke |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Duits 1968 met die titel Das Täubchen aus dem Dach |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Botter-aas |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
186820006X (hb) |
|
Uitgewer |
|
|
Literêre vorm |
Geen |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Ken jy die kierangbos? |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
1868200035 (hb) |
|
Uitgewer |
|
|
Literêre vorm |
Kinderboeke |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Die stadsmusikante |
|
Publikasiedatum |
1967 |
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: John Malherbe |
|
Literêre vorm |
Kinderboeke |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Engels 1972 |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Maraaia prima-donna |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
|
|
Uitgewer |
|
|
Literêre vorm |
Kinderboeke |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Engels 1982 |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Stadsmuis en veldmuis |
|
Publikasiedatum |
1972 |
|
ISBN |
0869660241 (hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: John Malherbe |
|
Literêre vorm |
Kinderboeke |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
|
Publikasie |
Jos en die sog |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
186843334X (hb) |
|
Uitgewer |
|
|
Literêre vorm |
Kinderboeke |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
|
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Jos en die bok |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
|
|
Uitgewer |
|
|
Literêre vorm |
Kinderboeke |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Tienie Holloway-medalje 1973 |
|
Vertalings |
|
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Jos en Klos |
|
Publikasiedatum |
1973 |
|
ISBN |
0869660594 (hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: John Malherbe |
|
Literêre vorm |
Kinderboeke |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
CP Hoogenhout-prys 1974 |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
|
Publikasie |
Die kraai wat Jantjie was |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
|
|
Uitgewer |
|
|
Literêre vorm |
Kinderboeke |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Die singende gras |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
|
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Jeugfiksie |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
|
|
Vertalings |
|
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
By die oog van die fontein: twee-en-sestig spreukryme |
|
Publikasiedatum |
1974 |
|
ISBN |
0798103876 (hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
|
Literêre vorm |
Berymde spreuke |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
CP Hoogenhout-toekenning 1975 |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
In die boog van die sekel: die verhaal van graan |
|
Publikasiedatum |
1975 |
|
ISBN |
0624006964 (hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Niefiksie |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Die kokkewiet en sy vrou |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
|
|
Uitgewer |
|
|
Literêre vorm |
Kinderboeke |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
CP Hoogenhout-toekenning 1978 |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Die sirkus |
|
Publikasiedatum |
1979 |
|
ISBN |
0799500984 (hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Kinderpers |
|
Literêre vorm |
Kinderrympies |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
|
Publikasie |
’n Tuiste vir Bitis |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
|
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Kinderboeke |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Scheepersprys vir Jeuglektuur 1983 |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Die gesiglose en ander eenbedrywe |
|
Publikasiedatum |
1980 |
|
ISBN |
0798603838 (hb) |
|
Uitgewer |
Pretoria: HAUM |
|
Literêre vorm |
Eenbedrywe |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Vlug na sonnige oewer |
|
Publikasiedatum |
1982 (Heruitgawe van Swiera van die Waterkant) |
|
ISBN |
0868441902 (hb) |
|
Uitgewer |
Pretoria: Qualitas |
|
Literêre vorm |
Kinderboeke |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Silwermedalje van Qualitas Uitgewers |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
|
Publikasie |
Prinses van die park |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
|
|
Uitgewer |
|
|
Literêre vorm |
Kinderboeke |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Engels 1988 Dias Uitgewers |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Die keiserkroon |
|
Publikasiedatum |
1984 |
|
ISBN |
0868443646 (hb) |
|
Uitgewer |
Pretoria: Qualitas |
|
Literêre vorm |
Kinderboeke |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Tienie Holloway-medalje 1985 |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Mevrou Hesseltein se duiwe |
|
Publikasiedatum |
1985 |
|
ISBN |
062402198X (hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Kinderboeke |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Engels 1988 HAUM |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Die fluitspeler |
|
Publikasiedatum |
1987 |
|
ISBN |
079591203X (hb) |
|
Uitgewer |
Pretoria: Daan Retief |
|
Literêre vorm |
Kinderboeke |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Engels 1987 Daan Retief |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Strepie en Kurfie |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
1868437256 (hb) |
|
Uitgewer |
|
|
Literêre vorm |
Kinderboeke |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Alba Bouwer-prys 1989 |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
|
Publikasie |
Maanwys |
|
Publikasiedatum |
1989 |
|
ISBN |
0947454160 (hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Anansi |
|
Literêre vorm |
Kinderboeke |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Pienke |
|
Publikasiedatum |
1991 |
|
ISBN |
0795923740 (hb) |
|
Uitgewer |
Pretoria: Daan Retief |
|
Literêre vorm |
Kinderboeke |
|
Pryse toegeken |
Eerste prys in Daan Retief se Kleuterverhaalwedstryd |
|
Vertalings |
Engels 1991 Daan Retief |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
|
Publikasie |
’n Vlieër in die wind |
|
Publikasiedatum |
1998 |
|
ISBN |
1868435997 (hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Anansi |
|
Literêre vorm |
Kinderboeke |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
|
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Eenders en anders |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
0624042995 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Kinderboeke |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
MER-prys 1999 |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Die stemme in die berge |
|
Publikasiedatum |
2002 |
|
ISBN |
1868435229 (hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Anansi |
|
Literêre vorm |
Kinderboeke |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
Freda Linde as vertaler:
- Aardema, Verna:
-
- Die reënmaker van Kapiti: ’n Nandi-verhaal.Kaapstad: Anansi, 1990 [ISBN 094745439X (hb)]
- Waarom muskiete in mense se ore gons: ’n verhaal uit Wes-Afrika.Kaapstad: Anansi, 1992 [ISBN 0947454934(hb)]
-
- Andersen, Hans Christian:
-
- Duimelise. Kaapstad: HAUM, 1982 [ISBN 079860848X (hb)]
- Die standvastige bliksoldaat. Pretoria: Qualitas, 1982 [ISBN 0868441864 (hb)]
-
- Ardizzone, Edward:
-
- Kool word skeepskok: nog ’n Tim-verhaal.Mandini: Qualitas, 1979 [ISBN 086844104X (hb)]
- Tim en Charlotte. Mandini: Qualitas, 1976 [ISBN 0869600524 (hb)]
- Tim se heldedaad. Durban: Qualitas, 1974 [ISBN 0949975095 (hb)]
- Tim stokalleen. Mandini: Qualitas, 1975 [ISBN 094997529X (hb)]
-
- Asbjornsen, PC en JE Moe: Die bokbroers en die trol. Kaapstad: Anansi, 1993 [ISBN 1874885869 (hb)]
- Bemelmans, Ludwig: Madeleine. Pretoria: Qualitas, 1987 [ISBN 0868446237 (hb)]
- Bill, Helen E: Skoene geskik vir ’n koning. Kaapstad: Qualitas, 1976 [ISBN 0868440671 (hb)]
- Bolliger, Max:
-
- Die kinderbrug. Kaapstad: HAUM, 1981; Pretoria: Daan Retief, 1989 [ISBN 0798606193 (hb); 0795917643 (hb)]
- Die mooiste lied: ’n verhaal. Kaapstad: HAUM 1981, 1982; Pretoria: Daan Retief, 1989/1990 [ISBN 0798608471 (hb); 0798606193 (hb); 079592108X (hb); 0795917643 (hb)]
- Die ontevrede prinsie. Durbanville: Kinderpers, 1981 [ISBN 0799501220 (hb)]
-
- Bowden, Joan Chase: Die boontjie seun.Kaapstad: John Malherbe, 1980 [ISBN 0869661531 (hb)]
- Buck, Pearl S: Die middelste jakkalsie.Kaapstad: John Malherbe, 1978 [ISBN 086996123X (hb)]
- Carle, Eric:
-
- Die haan wat wou reis.Durbanville: Kinderpers, 1987 [ISBN 0799501352 (hb)]
- Die ruspe wat so honger was. Kaapstad: Human & Rousseau, 1985 [ISBN 0798119101 (hb)]
-
- Cunningham, Julia: Bontjie. Kaapstad: John Malherbe, Anansi, 1968, 1990 [ISBN 0947454314 (hb)]
- Domanska, Janina: Ding dang dong dis Kersfees. Mandini: Qualitas, 1977 [ISBN 0869600885 (hb)]
- Duvoisin, Roger: Jasmyn. Kaapstad: Kinderpers, 1974 [ISBN 0799599542 (hb)]
- Ets, Marie Hall: Speel met my.Pretoria: Qualitas, 1984 [ISBN 0868443557 (hb)]
- Freeman, Don: Vlieg hoog vlieg laag. Oranjezicht: Anansi, 1989 [ISBN 0947454187 (hb)]
- Freschet, Berniece: Die ou brulpadda. Mandini: Qualitas, 1974 [ISBN 0949975125 (hb)]
- Galdone, Paul:
-
- Die geskiedenis van Moeder Babbelkous en die wonderlike avonture van haar seun Koos. Kaapstad: Kinderpers, 1975 [ISBN 0799500690 (hb)]
- Die verstommende vark: ’n ou Hongaarse sprokie. Durbanville: Kinderpers, 1982 [ISBN 0799501247 (hb)]
-
- Godden, Rumer:
-
- ’n Familie katjies. Kaapstad: Anansi, 1990 [ISBN 0947454381 (hb)]
- Gouedons.Pretoria: Qualitas, 1987 [ISBN 0868446181 (hb)]
- Die ou vrou in die bottelhuis. Pretoria: Qualitas, 1984 [ISBN 0868443573 (hb)]
- Rabbedoesie: die verhaal van ’n sakpoppie. Pretoria: Qualitas, 1984 [ISBN 0868443565 (hb)]
-
- Gebroeders Grimm: Die sewe rawe. Pretoria: HAUM, 1983 [ISBN 0798608536 (hb)]
- Hall, Donald: Die oskar-man.Pretoria: Qualitas, 1985 [ISBN 0868445975 (hb)]
- Harris, Rosemary: Skoonlief en die monster. Kaapstad: HAUM, 1981 [ISBN 079860641X (hb)]
- Hauff, Wilhelm: Die kleine Moek: ’n sprokie. Kaapstad: Kinderpers, 1974
- Henry, O: Die geskenk van die wyse. Kaapstad: HAUM, 1984 [ISBN 0798608730 (hb)]
- Holding, James: Meneer Maanskyn en Omar. Mandini: Qualitas, 1979 [ISBN 0868441198 (hb)]
- Hutchins, Pat: Rosetta die hen. Durbanville: Kinderpers, 1982 [ISBN 0799501239 (hb)]
- Jewett, Sarah Orne: Die wit reier. Kaapstad: HAUM, 1966
- Johnston, Tony: Daar doer. Kaapstad: Anansi, 1991 [ISBN 0947454535 (hb)]
- Keats, Ezra Jack:
-
- Die ene sneeu. Mandini: Qualitas, 1977 [ISBN 0868440949 (hb)]
- Peet se stoeltjie. Mandini: Qualitas, 1979 [ISBN 0868441252 (hb)]
- Fluit vir Willie. Mandini: Qualitas, 1980
-
- Keeping, Charles:
-
- Charlie, Charlotte en die goudgeel kanarie. Kaapstad: HAUM, 1968; Kaapstad: Anansi, 1991 [ISBN 0947454527 (hb)]
- Josef se plant. Kaapstad: HAUM, 1968; Kaapstad: Anansi, 1990 [ISBN 0947454497 (hb)]
- Sias en die karperd. Kaapstad: Anansi, 1990 [ISBN 0947454403 (hb)]
-
- Knab, Linda Z: Die nuwe dag wag. Pretoria: Qualitas, 1983 [ISBN 0868443492 (hb)]
- Lang, Andrew: Aladdin en die wonderlike lamp. Kaapstad: HAUM, 1981 [ISBN 0798606355 (hb)]
- Latimer, Dick: Die lang tog na die reënbooghart. Kaapstad: Human & Rousseau, 1982 [ISBN 0798114185 (hb)]
- Lenski, Lois: Pappa Smal. Mandini: Qualitas, 1976 [ISBN 0869600710 (hb)]
- Lindbergh, Reeve: Bennie se skuur. Kaapstad: Anansi, 1994 [ISBN 1868430154 (hb)]
- Linde, Freda: The singing grass. Londen: Oxford University Press, 1975; Kaapstad: Tafelberg, 1984 [ISBN 0192713647 (hb); 0624020487 (hb)]
- Lionni, Leo:
-
- Frederik. Kaapstad: Anansi, 1992 [ISBN 187488501X (hb)]
- Geraldine, die musiekmuis. Pretoria: Qualitas, 1982 [ISBN 0868442097 (hb)]
- Die paddas. Pretoria: Qualitas, 1987 [ISBN 086844622X (hb)]
- Die swemmertjie. Kaapstad: Dias, 1988 [ISBN 1868200167 (hb)]
- Tiko en die goue vlerke. Kaapstad: Anansi, 1990 [ISBN 0947454470 (hb)]
- ’n Vis is ’n vis. Durbanville: Kinderpers, 1973 [ISBN 0799500445 (hb)]
-
- Lopshire, Robert: Dis mos toor! Kaapstad: John Malherbe, 1982 [ISBN 086966171X (hb)]
- McCloskey, Robert:
-
- Lennie. Kaapstad: Kinderpers, 1974
- Die eendjies kom. Pretoria: Qualitas, 1985 [ISBN 0868445967 (hb)]
- ’n Tyd van wonder. Kaapstad: Anansi, 1991 [ISBN 0947454810 (hb)]
-
- Michel, Anna: Klein wilde olifant. Pretoria: Qualitas, 1984 [ISBN 0868443581 (hb)]
- Michel-Dansac, Monique: Die man wat berge versit het. Durbanville: Kinderpers, 1973 [ISBN 0799500461 (hb)]
- Ness, Evaline: Kosie Skote en kammalielies. Mandini: Qualitas, 1978 [ISBN 0868440981 (hb)]
- Niehaus, Paddy Bouma: Nicolaas en die bere. Pretoria: Qualitas, 1983 [ISBN 0868442127 (hb)]
- Obrist, Jürg: Goudskepel. Durbanville: Kinderpers, 1983 [ISBN 0799501298 (hb)]
- Papas: Die mooiste van almal. Mandini: Qualitas, 1975 [ISBN 0869600516 (hb)]
- Piatti, Celestino en Ursula: Barbara en die waaierstert-muis. Kaapstad: Kinderpers, 1976 [ISBN 0799500968 (hb)]
- Politi, l: Lied van die swaeltjies. Mandini: Qualitas, 1975 [ISBN 0949975370 (hb)]
- Ramsbottom, Margaret: Die towenaar se kissie. Kaapstad: John Malherbe, 1982 [ISBN 0869661817 (hb)]
- Reesink, Maryke: Die towerperd: ’n ou Russiese sprokie. Kaapstad: Kinderpers, 1974
- Reeves, James: Die twee beertjies. Mandini: Qualitas, 1979 [ISBN 0868441279 (hb)]
- Robbins, Ruth: Baboesjka en die drie konings. Kaapstad: Anansi, 1991 [ISBN 0947454721 (hb)]
- Sawyer, Ruth: Rol roosterkoek rol! Mandini: Qualitas, 1977 [ISBN 0868441007 (hb)]
- Schweitzer, Byrd Baylor: Amigo. Mandini: Qualitas, 1977 [ISBN 086844037X (hb)]
- Skofield, James: Dit reën! Dit reën! Pretoria: Qualitas, 1987 [ISBN 0868446173 (hb)]
- Sutcliff, Rosemary: ’n Vaarwel by Olimpia. Kaapstad: John Malherbe, 1972 [ISBN 0869660292 (hb)]
- Tresselt, Alvin en Cleaver, Nancy: Die legende van die wilgerbord. Mandini: Qualitas, 1979 [ISBN 0868441236 (hb)]
- Watts, Bernadette: Dawie se laaste wagdag. Kaapstad: Tafelberg, 1975 [ISBN 062400774X (hb)]
- Wilde, Oscar: Die selfsugtige reus. Kaapstad: HAUM, 1984 [ISBN 0798608706 (hb)]
- Wildsmith, Brian:
-
- Die meulenaar, sy seun en die esel. Durbanville: Kinderpers, 1989 [ISBN 079950145X (hb)]
- Professor Noag se ruimteskip. Kaapstad: Oxford University Press: 1981 [ISBN 0195702964 (hb)]
- Die snaakse eendjie. Kaapstad: Kinderpers, 1972 [ISBN 07995003310 (hb)]
- Die twaalf geskenke. Kaapstad: Kinderpers, 1972
- Die meulenaar, sy seun en die esel. Kaapstad: HAUM, 1969
- Eekhorinkies. Kaapstad: Kinderpers, 1974 [ISBN 0799500526 (hb)]
-
- Willard, Nancy: ’n Vry konyn. Kaapstad: Anansi, 1995 [ISBN 1868431355 (hb)]
- Williams, Jay: Die stadsheks en die plaasheks. Kaapstad: John Malherbe, 1981 [ISBN 086966167X (hb)]
- Winter, Jeanette: Kom speel buite. Pretoria: Qualitas, 1987 [ISBN 0868446238 (hb)]
- Yashima, Taro: Die kraaiseun. Pretoria: Qualitas, 1983 [ISBN 0868443514 (hb)]
- Zavrel, Stepán: Die laaste boom. Kaapstad: HAUM; Pretoria: Daan Retief, 1981/1992 [ISBN 0798606215 (hb); 0795921047 (hb)]
Artikels oor en deur Freda Linde:
- Albertyn, Jeanne: Een van ons medewerkers gesels oor ’n bekende skryfster. Die Huisvrou, November 1964
- Botha, Amanda:
-
- Freda Linda put uit haar kleintyd. Vaderland, 2 Mei 1983
-
- Botha, Danie: ’n Huldeblyk aan Freda Linde: Die smaak van suringwortels. LitNet, 2 Mei 2013
- Botha, Elize. 1965. Suid-Afrikaanse skrywers van die sestigerjare. Johannesburg: SAUK
- Cooper, Gertrude: Writing up to children. The Cape Times, 15 September 1976
- De Lange, Johann: Stroomgebied: Freda Linde (1915–2013) [gedig]; Johann de Lange blogspot, Maart 2013
- De Vos, Philip: Freda Linde. Versindaba, 8 Maart 2013
- Freda Linde 1915–2013. Stellenbosch writers
- Freda Linda. Storiewerf
- Freda Linde claims yet another coveted award. Pretoria News, 19 Mei 1983
- Freda Linde presteer. Die Burger, 12 September 1978
- Freda Linde vereer. Volksblad, 23 September 1975
- Freda Linde word by alma mater gehuldig. Netwerk24, 22 April 2013
- “Kind word gevorm deur dít wat hy lees”. Volksblad, 20 Oktober 1975
- Le Roux, Marina: ’n Lewe toegewy aan die kind en sy literatuur. Die Burger, 17 Maart 2013
- Linde, Freda:
-
- Bruintjiesrivier – toe en nou. Tydskrif vir Letterkunde, Augustus 1973
- En wat het die jeug geërf? [toespraak by ontvangs van 1974 se Scheepersprys vir Jeuglektuur). Beeld, 23 Oktober 1974
- Die misterie van taal en die kind. Vrystaatse Biblioteke, Oktober–Desember 1992
- My kindertyd en die invloed van die natuur op my werk. Storiewerf, Junie 2000
-
- Marais, Willemien: Kinderboekskrywer vier 90ste verjaardag. Volksblad, 13 Desember 2005
- Omvattende boek oor kinderboekskryfster. Transvaler, 19 Maart 1984
- Pienaar, Sarie: Sy laat natuur tot kind spreek. Die Burger, 15 September 1978
- Roberts, Richard: Jeugboekskrywer sterf in die Moederstad. Volksblad, 8 Maart 2013
- Skryfster kry medalje. Oosterlig, 24 September 1975
- Snyman, Lydia:
-
- Kinderliteratuur – die subtielste literêre kunsvorm? Boekewêreld, 15 November 1995
- Patrone in die werk van Freda Linde. Storiewerf, 2 Oktober 1999 [toespraak by die bekendstelling van Eenders en anders]
- Vernuwende werk was nog altyd Freda Linde se waarmerk. Beeld, 16 Desember 2005
-
- Van Zyl, Dorothea: Bekroonde jeugboekskrywer word 90. Die Burger, 10 Desember 2005
- Whitfield, Lesley: Die literêre soortlikheid van die fantasie, met spesiale verwysing na die Narnia-verhale van CS Lewis, die Huppelkind-reeks van WO Kühne en Ken jy die kierangbos? van Freda Linde. M-verhandeling, Universiteit van Kaapstad, 1986
- Wyngaard, Heinrich: Lekker lees is die kind se belangrikste lekkergoed. Die Burger, 20 November 1996
Freda Linde se LitNet ATKV-skrywersalbum is oorspronklik op 2013-05-02 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.
Bron:
- Knipselversameling van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel (Wyno Simes en Annelien Diedericks) vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.


