Freda Linde (1915–2013)

  • 1

Om ewig verwonderd met die lewe om te gaan – elke dag ingestel op die avontuur van sintuiglike ontdekking. Só onthou ek Freda Linde en hoe sy haar oopgestel het, selfs in haar laat tagtigerjare, om ontvanklik te wees vir die wonderwerk wat die dag kan inhou. Haar verbeelding was – ondanks haar verswakte fisieke omstandighede – nooit ingeperk nie.

Hoe fyn onthou ek – eintlik onuitwisbaar – die eerste indrukke wat ek gehad het toe ek Freda in 1962 ontmoet het. Ek was daar met twee boeke onder die arm om met haar te praat, ’n afspraak wat Audrey Blignault vir my gereël het. Vooraf is ek gewaarsku dat Freda eksentriek is en haar nukke kan hê.

Sy het in haar woonsteldeur in Prince Court in die Tuine gestaan en my met ’n vriendelike glimlag binnegenooi. In haar keurige voorkamer vol boeke en met skilderye, onder andere ’n Johannes Meintjies aan die muur, is die gesels grootliks oorheers met haar vertellinge dat haar volgende projek oor ’n haan gaan. ’n Mens moet haar ken om te verstaan hoe ernstig sy dit bedoel het. Dis ernstige sake. Niks te lag nie, Afrikaans se “eseltjieromannetjie” (Jaffie van Eitemal) was reeds ouer as tien en dis net eintlik “’n hanetree na ’n hoendernovelle!”.

Die twee boeke wat ek onder die arm gehad het, Vreemdeling in my stad (1962), wat gevolg het op Die Dammetjie en ander sketse en essays (1960), het benewens haar handtekening geen verdere vermelding gehad nie. In die uur of wat dat ek daar was, het sy my ingelei in ’n wonderwêreld van stories oor diere, plaaslewe, kinders en plante. Met verwondering kon ek luister na haar vele avonture op haar geboorteplaas, Bruintjiesrivier, met die indrukwekkende Langeberge in die distrik Swellendam en ’n entjie buite Bonnievale.

Hierdie Bruintjiesrivier was ’n ryk weelde en Freda kon só vertel dat jy die plaas met sy dakkamer en stel buitetrappe voor jou kon sién. Jy kon die strooimied ruik, die karringmelk, moskonfyt en vars vrugte van die boom op jou tong voel en net droom van ’n ploegland na herfsreën, van die surings, die aandblom en die koekemakranka. Jy voel jy self klim in die boom om die voëlnessie met die eiertjies te bewonder en bou self ’n speelhuisie op die oewer van Riviersonderend.

In 1981 kry ek die geleentheid om saam met Penguin Films ’n dokumentêre film oor Freda vir SAUK-TV te maak. Dit was ’n avontuur en ’n ervaring wat eenmalig in sy soort was. Nie net die organisatoriese om alles reg te kry nie – die navorsing, die teks, die medewerkers en ander tegniese beplannings – maar om letterlik vir Freda te bestuur. Hier het ’n heel ander Freda op die voorgrond getree. Nou die professionele Freda wat dinge na haar hand wil dwing. Ons het vir twee dae saam met haar na Bruintjiesrivier gekom en ons het drie swaar tasse van Freda gelaai – niemand wis die inhoud nie. Toe ons daar kom, word ons gekonfronteer met ’n lysie van hoe ons te werk sal gaan – elke paadjie gemerk, elke plekkie in die ou huis, wat toe nie meer bewoon was nie, gemerk met wat is deur wat geïnspireer. En in die een tas elke boek, tekening of foto wat betrekking het en in die ander twee tasse Freda se ... wel ... ek kan dit net haar garderobe noem. Klere vir winter en somer wat by elke toneel sou pas, ingesluit haar kenmerkende hoede wat sy graag gedra het.

Nie vir een oomblik was daar verveling nie, want Freda het ons teen ’n pas gedryf. Verduidelikings dat kontinuïteit belangrik is in die maak van ’n film het op dowwe ore geval. In die volgende twee dae het Freda met haar fyn beplanning ons na elke stroompie, elke boomstomp en gehuggie op die plaas geneem en ons vertel hoe dit binne die raam van haar werk inskakel met die boeke wat sy geskryf het. Dat ons beperk was tot ’n 35-minute-eindproduk het Freda glad nie geskeel nie. Nee, wat, dit kan nie tel nie, het sy beslis.

Wel, toe alles klaar was en daar in Johannesburg met die redigering en tegniese versorging begin sou word, hoor ons dat Freda op die trein is en self kom waak oor haar verhaal. Vir die week wat ons daaraan gewerk het, was elke raampie onder haar blik en elke woord van die teks geweeg, en uiteindelik moes verduidelik word dat ons dit binne ons opdrag moet aanbied en dat Freda nou nie oor die tydsduur seggenskap kan hê nie. Voor ons dit by die SAUK kon aflewer, het Freda haar stempel van goedkeuring gegee.

In my talle latere besoeke – nog by die woonstel, haar huis in Kloofnekweg, Tamboerskloof tot ek haar gaan groet het in die Ladies Christian Home in die Tuine – was ons gesprekke gevul met die boeke wat sou kom. Haar ryk en geskakeerde verbeelding, die kunstige inweef van die storie, die vakmanskap by die afwerking en die eindproduk wat deurgaans die Freda-stempel sou dra, was meermale onderwerpe van ons gesprekke.

Toe ek Freda ontmoet het, was sy ’n redakteur by die uitgewer Johan Malherbe in Kaapstad. Sy het hoofsaaklik kinder- en jeugboeke in keurige Afrikaans vertaal om ’n wêreldliteratuur aan die jong leser voor te stel. Haar eerste kinderboek, Swiera van die Waterkant (1959), het uit haar onmiddellike stadsomgewing ontstaan, maar later sou die meeste van haar boeke die herinneringe oes van haar Overbergse kleintyd en daardie kenmerk dra.

My eerste belewenis van ’n boek met haar was met die verskyning van Die Rooi Haan (1963). Toegewyd en met fyn aandag het Freda hieraan gewerk – meestal saans en naweke. Ek onthou ’n ontmoeting in Johan van Rooyen van De Kat-faam se Kaapse huis, waar ons almal gekyk het na die tekeninge van Rainer J Hintz wat die illustrasies sou wees van die rooi haan wat Freda se debuut as kinderboekskrywer van die Overbergse kontrei sou merk. ’n Keramiekbord met ’n rooi haan is gemaak wat die geleentheid gedenk het en altyd deel van Freda se interieurs was.

So oor die jare was daar ’n streep boeke wat gevolg het – elkeen fyn gekonsipieer. Freda het self foto’s geneem en tekeninge gemaak van hoe sy wou hê dat die illustreerders van haar werk daarna moes kyk. In die eerste tien jaar – tot 1973 - het haar eerste dertien titels by John Malherbe verskyn.

Erkenning vir haar sonderlinge talent het gou gevolg. Die CP Hoogenhout-prys vir die beste kinderboek van die jaar 1964 is toegeken aan Snoet-Alleen. Ek onthou die verwondering waarmee ek dit gelees het en pas herlees het. Destyds het ek dit gemerk en weer met vreugde Freda se raak beskrywings gelees. Ek stip die paar voorbeelde aan:

Toto, die hoofkarakter, wat op ’n reuse-naaldekoker afkom: “Hy voel eers bang daarvoor, maar dan begin hy hom verkyk aan die vlerke, wat beaar is soos blare, en ligpers, blou en rosig deurskyn. Die lang, trillende lyf lyk of dit vol klein gaatjies is en daaruit kom ’n wasigheid wat die groot insek omhul soos met ’n dun sluier.”

Ook die fyn waarneming en suiwer uitbeelding van die mot: “Dis ’n mot. Dit het silwerbruin spikkels. Dis ’n gewone mot ... maar skielik sien Toto die voelers! Hulle was langs die mot se lyf gevou, maar nou lig die mot hulle op, en hulle is vier keer so lank as sy lyf. Die dun voelers woel stadig rondom die mot, kompleet asof hulle proe aan die naglug en die lig van die flits.”

En jy hoor mos die hoep-hoep: “’Wie’t geroep?’ vra Toto. ’Wie-wiet, wiewiet, wiewiet,’ fluit net ’n voëltjie in die ruigtes, maar toe hy regop sit, is alles doodstil. ’n Rukkie later kom ’n hoep-hoep op ’n kranspunt naby hom sit. ’Is dit jy wat geroep het?’ vra Toto. ’Groep’t, geroep’t, wie geroep’t?’ vra die hoepoe.”

Hier is die ontdekking van een van die misterieuse nagdiere, die aardvark. Wat altyd opval, is dat die feite onopvallend in die dialoog ingewerk word. Dit is hierdie verwewing van die feite wat vir vooruitgang van die verhaal sorg. In Snoet-Alleen is daar ook ander voëls en insekte wat pragtig beskryf word.

Met Snoet-Alleen begin Freda se sonderlinge samewerking met kunstenaars oor die volgende dekades. Die illustreerder is Peter Clarke, deur wie se knap illustrasies die leser die bepaalde fantasiestemming kan aanvoel. Hier het ’n besonderse vriendskap tussen Freda en Peter ontwikkel wat ook in dié tydvak iets besonders sê oor Freda wat onvoorwaardelik mense op grond van hul menswees kon aanvaar.

Snoet-Alleen was nie net ’n treffer op die Afrikaanse mark nie. Freda het dit in Engels vertaal, en onder die titel Toto and the Aardvark, het dit die eerste Amerikaanse uitgawe van ’n kinderboek in Afrikaans geword. Die staaltjie hier was hoe om die Yanks aan ’n aardvark voor te stel. ’n Grieks-Amerikaanse illustreerder, Paul Giavanopoulos, het die illustrasies behartig. Meer lynig, nie met die fantasie en towerwêreld wat Clarke in sy werk opgeroep het nie.

In die motivering vir die CP Hoogenhout-prys is Snoet-Alleen ’n goeie voorbeeld genoem van “hoe geslaagd eenvoudige taal en ’n onpretensieuse styl in die hande van ’n ware kunstenaar kan wees”.

Veel plesier het gevolg in Freda se samewerking met die kunstenaar Marjorie Wallace, wat etlike van haar kinderboeke geïllustreer het. Die illustrasies het kunswerke uit eie reg geword, maar dit was altyd die voortreflike vermoë van Freda om woord, klank, ritme en simbool in hegte eenheid saam te snoer binne die beleweniswêreld van die kind. ’n Besonderse samewerking tussen Freda en Marjorie was met die drieluik Jos en die sog, Jos en die bok en Jos en Klos wat tussen 1971 en 1973 verskyn het. Dit word die eerste oorspronklike werk in Afrikaans wat in ’n beperkte woordeskat geskryf is. Laasgenoemde twee titels het onderskeidelik die Tienie Holloway- en die CP Hoogenhout-medaljes verower. Audrey Blignault het na Jos en die bok verwys as “’n kunswerk in eie reg” en altyd na Freda, ’n kindertydse maat van haar, se werk verwys as “’n heel buitengewone en waardevolle bydrae” tot die Afrikaanse kinderlektuur.

Dit was by hierdie geleentheid dat Freda gesê het: “Ek moet erken dat ek nie baie gelukkig sal voel oor enige tipe kinderboek wat ek geskryf het, dit wil sê ook ’n boek vir ouer kinders, as ek moet weet dat ’n volwassene dit nie ook nie sou geniet het nie.”

Na hierdie erkenning kon Freda voltyds begin skryf. Die verskil het gekom dat sy nie meer beperk was om net met vakansietye op haar ouers se plaas te kon skryf nie. Haar hele vakansie was deur skryfwerk opgeneem. Haar ouers, aan wie sy altyd erkenning gegee het vir ’n gelukkige kleintyd en wat haar later as skrywer sou ondersteun, het met vakansies die buitekamer vir haar gerieflik ingerig dat sy ongestoord kon skryf. Sy kon nou langer projekte aanvaar en een daarvan was Die singende gras (1973), wat haar ingegee is na ’n besoek aan Namibië. Dit is ’n boeiende, genotvolle jeugverhaal wat menslike verhoudinge in ’n veelrassige klein gemeenskap verhelderend belig en terselfdertyd ook ’n pleidooi is vir die behoud van die natuurlewe in die aangesig van vernietiging.

Met die herlees hiervan – veertig jaar na die verskyning daarvan – kon ek opnuut waardeer hoe ’n gevoelige barometer Freda was wat verhoudinge betref. Die groen tema was nog nie gebore nie, maar die boek is dalk een van sy vroegste – en beste – eksponente. Die boek het verskeie vertalings beleef en is in Duitsland as voorgeskrewe werk in skole gebruik. Die werk het beide die Scheepersprys vir Jeuglektuur (1974) en die eerste – tot dusver enigste – jeugboek geword wat die gesogte WA Hofmeyr-prys ontvang het (in 1976).

Freda Linde het boeke vir kinders van alle ouderdomme geskryf. Sy kon haar in elk van die boeke inleef en elkeen dra die stempel van ’n meestershand. Sy het verdien om Afrikaans se mees bekroonde kinder- en jeugboekskrywer te word. Sy was veelsydig en eenmalig – haar gelyke is daar nie.

Met die herroeping van momente uit Freda se lewe is dit ook nodig om ’n kantaantekening te maak oor haar gawe van vriendskap. Sy was lewenslank omring deur ’n klein groepie vriende wat altyd daar vir haar was – maar vir wie sy ook deur dik en dun sou ondersteun. Haar oudste vriendin was Audrey Blignault. Hulle het mekaar as kinders ontmoet toe Audrey by haar tantes by die Abbey op Drew, ’n klipgooi van Bruintjierivier af, kom kuier het. Daar was ook ander, soos Ingrid Jonker, met wie sy ’n vertrouensverhouding gehad het – hulle het saam gewerk by John Malherbe en altyd het Freda die foto’s en briewe van hierdie vriendskap naby haar gehou.

Onder skrywers en kunstenaars wat na aan haar beweeg het, was Johannes Meintjies (wat ook ’n mooi tekening van haar gemaak het), Lydia Pienaar, ’n kinder- en jeugboekfoendie, Anna Bairos-Jonker (Ingrid se suster), Johan van Rooyen en sy kinders (’n dogter is Freda se peetkind), Eleonor Esmonde-White en Ann Walton, illustreerders van haar boeke en die fotograwe Jansje Wissema en Anne Fischer. Die skrywer Anna-Louise Heiberg was ook ’n naby vriendin van Freda.

Iemand wat sy altyd waardeer het, was Hennie Aucamp, omdat sy hom onthou het as die eerste wat haar debuutwerk, Terug na die mimosas, wat in 1944 deur Unie Volkspers uitgegee is, hoog aangeslaan het en altyd ’n voorspraak vir haar was wanneer daar oor die Afrikaanse kortverhaal gepraat is. Ook was MER daar wat haar deur briewe bemoedig het en groot waardering vir haar kinder- en jeugwerk gehad het.

Freda Linde sou uiteindelik verskillende generasies lesers na haar werk trek. Haar woorde het in ander vertalings oor die wêreld gesweef, maar altyd was sy getrou aan haar Overbergse wortels. Dit is daardie lojaliteit en integriteit wat haar as mens gemerk het. Haar nalatenskap is groot en gewaardeerd – dit verteenwoordig die beste werk in hierdie genres wat in Afrikaans gelewer is.

 

  • 1

Kommentaar

  • Freda Linde het The Giving Tree, deur Shel Silverstein, vertaal na Die liefde van 'n boom. Een van my gunsteling boeke van alle tye.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top