
Die laaste foto van Franz Marx wat by Volkskombuis in Stellenbosch geneem is. Hier is Franz saam met Nic de Jager, Marida Swanepoel en Herman Binge. (Foto: Nic de Jager)
Korrelkop.
Verbete argumenteerder.
Hoogs intelligent en kreatief.
Lojaal teenoor vriende.
Groot plesier gehad om ’n aweregse argument in ’n gesprek in te gooi, dan terug te staan en te kyk na die slagveld.
Verloopte kerkman, maar toegewyde Dopper, as só iets moontlik is. Die Dordtse Leerreëls en die Heidelbergse Kategismus moes jy nie aanraak nie – die dreigende swaard van Damokles sou skielik op jou neerdaal.
Geskool in Namibië en Bloemfontein, het hy – goeie pianis – Stellenbosch toe gekom om musiek te swot. Oorgeslaan na drama onder Fred Engelen. In die vyftig of so jaar wat ek hom geken het, het ons mekaar baie gespot – as hy Die geheim van Nantes ophaal om my te beledig, het ek hom vinnig aan Jy is my liefling herinner. Skaakmat.
Destyds, toe TV nog jonk was, het dit gereeld gebeur dat mense jou op straat voorkeer en ’n geselsie aanknoop – nie altyd seker wié dit is nie, maar dié gesig was op TV. Op ’n dag in Adderleystraat word ek deur ’n kyker voorgekeer. Sê dié toe: “Ag, meneer Marx, ek wil net vir jou sê hoe ons jou TV-werk waardeer. Ons kyk só graag na Agter elke man! Teken asseblief hier op die papier!” Ek het toe maar geteken: Franz Marx. En die fên het dankbaar die aftog geblaas.
Al ís dit die beloop van die lewe, soos wat ’n mens ouer word, word jy ook filosofies oor afskeid van vriende. En dis ’n swáár afskeid, hierdie een.

Altyd omring deur vriende: Franz Marx saam met Chris van Niekerk, Nic de Jager en Ingrid Howard. (Foto: Nic de Jager)
Lees ook:
Amanda Strydom se huldeblyk aan Franz Marx: Franz Marx: Hoeveel mense het jou “mentor” genoem?
Kommentaar
Marx was geniaal. "Egoli" kan met enige sepie ter wêreld kompeteer en moes selfs wyer bemark gewees het. Sy uitbeelding van Danie Bosman was ook nie van sy tyd nie. Veel meer Europees in benadering en fyn genuanseerd. Treffende "In Memoriam".
Franz het my sterwende vrou Dalene op Hanover in die Karoo kom groet. Hy het sieker as sy gelyk. Ons het saam by Darlingstraat gaan eet. Ons het vir mekaar gejok oor die film wat ons saam gaan skryf en maak. Heerlik. Dit was die laaste sien. Dis sleg om te weet hy bestaan nie meer nie. Hy los 'n gat in die lug.
Dankie vir die uitmuntende reekse wat uit jou pen gevloei het. Rus in vrede.
Mooi, Nic.
Dankie Nic! Pragtig geskryf. Franz was 'n kunstenaar en mentor van formaat. Rus in rede
Dankie Nic. Mooi gedoen.
So gebeur dit as 'n mens uitstel om op te volg op gedagtes wat jou dwing om weer kontak te maak met ou vriende. Ek en Frans (voor die verandering in spelling) was saam in matriek by Sentrale Hoërskool, Bloemfontein, en het saam aan kunswedstryde deelgeneem. Ons was té aweregs om gewild te wees. Later het ons vir 'n tyd saam gespeel vir TRUK. Dis nou al maande dat ek daaraan dink om met hom in aanraking te kom: nou is dit te laat.
Kort maar SO raakvattend. Veral gek oor sy gewoonte om 'n argument op die tafel te gooi en dan terug te sit vir die slagveld. SO tipies van hom! En dan die "tit for tat" met jou in DIE GEHEIM VAN NANTES en hy in JY IS MY LIEFLING!