Ek was 23 jaar oud toe Franz Marx my toekoms heeltemal verander het. Hy kon baie verder as ek sien. In 1979 was ek vars uit die universiteit en pas deur Pieter Fourie by Kruik se hooftoneelgeselskap aangestel. ’n Stewige kontrak het my die sekuriteit van ’n vaste werk vir ’n hele paar jaar verseker; ek was in die wolke oor die aanstelling. Ons het in daardie dae twee toneelstukke in repertoire opgevoer vir die eerste ses maande van die jaar, dan kry ons ’n kort vakansie en keer terug vir die volgende twee toneelstukke vir die res van die jaar.
Die eerste helfte van daardie jaar het vinnig gevlieg en na die vakansie het ons in aller yl begin repeteer aan Anastasia vir die tweede helfte van die jaar. Ek was skaars ’n week daar toe Pieter my wou spreek. Hy het ’n oproep van Franz Marx ontvang. Franz het my die hoofrol in ’n film aangebied en Pieter het sonder om twee keer te dink, kontrak of te not, vir my gesê: “Gaan, vlieg, die wêreld wag vir jou.”
Ek het jare later vir Franz gevra hoe hy dit kon regkry om my uit daardie kontrak te bevry. Sy antwoord was: “Ek het vir Pieter gesê ek kan baie meer vir jou doen as hy.” En Franz het.
So beland ek in Johannesburg, ’n groentjie van 23, in die hoofrol van Franz se film Pasgetroud. Hy het my touwys en gerus gemaak as ek onbeholpe gevoel het voor die kameras, hy was só vol grappe en só slim. Franz was geniaal. Vlymskerp. Gulhartig.
Eendag, toe ons vir middagete breek, roep hy my eenkant. Hy het vir my ’n oudisie vir ’n musiekblyspel gereël, sê hy. By die Stadskouburg. Dis ’n groot produksie vir Truk en hy sal my vat. Ek het heftig geprotesteer – ek is ’n aktrise, ek het geen sangopleiding nie, sê ek – ek sal mos nooit werk in so ’n ding nie, my stem sal dit nie hou nie. “Basta,” sê Franz, “jy sal nooit weet as jy nie probeer nie.”
Om alles te kroon neem hy my die volgende week na ’n boetiek en koop vir my klere vir die oudisie. Leggings en ’n toppie wat jy op die heup knoop, rooi stewels en oorbelle.
Franz het my vir die oudisie kom haal. Onderweg het hy my die leviete voorgelees – dat ek moet glo in myself, dat my toekoms blink voor my lê en dat ek my eie grootste vyand is met al die gemoun en “ek kan nie”.
Hy het nooit doekies omgedraai nie. Hy het my ook oortuig (baie wyslik) dat ek te jonk was om verloof te wees – daar was te veel dinge wat voorlê, al kon ek nie op daardie oomblik dink aan wat dit nou eintlik kon wees nie.
Jy kon baie verder as ek sien, liewe Franz.
Dit was Franz wat my gebel het om te sê ek het nié die hoofrol in die Truk-produksie gekry nie, maar Nick Taylor was in die teater tydens my oudisie en wil my graag die hoofrol in sy musiekblyspel Christian aanbied.
Die res is geskiedenis. Franz, jy het die deur vir my oopgemaak, jy het die weg berei.
Ons het mekaar vir jare nie gesien nie, maar ek het gesien hoe jy skep en skryf en vreugde bring met Agter elke man, Egoli en soveel meer.
Hoeveel mense in die bedryf het jou “mentor” genoem? Jy het die deur vir ontelbare mense in ons bedryf oopgemaak. Akteurs, regisseurs, noem maar op.
Tog was jy uiters privaat en het met die jare al hoe meer kluisenaar geword. Die eerste keer wat jy in die gehoor was tydens een van my optredes, was in Mei 2014, Stellenbosch, by Aan de Braak met ’n Vuur gevang in Glas.
Dit was wonderlik om jou weer te sien, jou te hoor sê: “Jy is briljant; Hennie kan met reg trots wees op jou.” Komende van jou, was dit ’n groot kompliment.
Nou is jy én Hennie weg – maar die spore wat julle in my lewe gelaat het, kan geen wind wegwaai nie.
Rus in vrede, liewe Franz. “Ek weet nie hoekom ek so moet suffer nie,” aldus tannie Stienie in Agter elke man.
Nooit, nooit vergete.
Lees ook Nic de Jager se huldeblyk aan Franz Marx.
Kommentaar
Roerend, Amanda, baie dankie. Ek was saam met Frans in 'n seweseunsspreekkoor in 1959 op Sentraal in Bloemfontein. Toe al was hy pure kunstemaker. Rus sag Frans.
Van die mooiste huldeblyke wat ek nog gelees het.
Franz Marx, geniaal op steroids. Net jammer mens het so min (niks) van Franz die mens geweet nie. Mooi trap op die anderkantse oewer van die Groot Rivier, Franz.
Ja, absoluut.
Besonderse herinneringe, Amanda - 'n onvergeetlike mooi ode.
Franz Marx was "true to himself". Hy het sy lewe geleef elke dag op sy terme.