Francois van Coke, reeds ’n rock ’n roll-legende en voorman van Fokofpolisiekar en Van Coke Kartel, se eerste solo-album word nou vrygestel. Hy beantwoord ’n paar vrae.
Goeiedag, Francois. Wat gaan aan?
Hei Henry, dinge is besig. Ek beantwoord die onderhoud op ’n vliegtuig op pad Pretoria toe. Ek het so ’n paar shows die naweek en dan volgende week ’n klompie rehearsals tot Woensdag, wanneer die album uitkom. Maar dit gaan goed. Senuweeagtig en opgewonde.

Geluk met die vrystelling van die eerste solo-album – dis geweldig cool ... maar ons kom by die inhoud. Eerstens: in die mediavrystelling word gesê dié album lui ’n nuwe hoofstuk in beide jou persoonlike lewe en jou loopbaan in. Kan jy uitbrei hierop? Is dit waarlik ’n nuwe koers wat ingeslaan word, of is dit eerder ’n soort toevoegsoel tot jou bestaande bands en projekte?
Ek is baie lief vir Fokofpolisiekar en Van Coke Kartel, maar in ’n band-situasie moet ’n mens soms met jou bendelede se keuses saamleef. Ek het by ’n kruispad gekom in 2006 toe Fokofpolisiekar ’n breek gevat het – van die ouens wou ander projekte aanpak en vir my was Fokofpolisiekar die alfa en die omega. Van Coke Kartel het ook van koers verander toe Jason Oosthuizen die band gelos het om Amerika toe te gaan. Wynand het Jack Parow begin bestuur en ons het besluit om net die groter shows te speel en nie onsself dood te toer nie. Ek dink al hierdie goed het bygedra tot ’n verlengde leeftyd vir albei die bands, maar het my ook laat heroorweeg wat ek op lang termyn wil doen. So, ja, dit is ’n nuwe koers. Ek is Francois van Coke tot ek doodgaan, hopelik gelukkig en onafhanklik.
’n Ooglopende vraag is natuurlik oor waar die songs vandaan kom – het jy spesifiek die doel gestel om nou ’n solo-album te doen en toe gaan sit en skryf, of is dit songs wat jy al lank saamdra, maar gedink het nie sal werk vir Van Coke Kartel of Fokof nie? Hoe verskil jou liedjieskryfproses tussen wanneer jy vir een van die ander bands skep en wanneer die oog op die solowerk is?
Dit is alles splinternuwe songs wat geskryf is spesiaal vir hierdie album. Ons het as Van Coke Kartel besluit om nie aan ’n nuwe album te werk in 2014 nie. Dylan was nuut in die band en ons wou net ’n breek vat van nuwe musiek skryf. Dit het my kans gegee om te werk aan songs vir iets anders. Ek het vir Jedd gesê ek wil graag ’n solo-album maak en gevra of hy saam met my sal werk daaraan. In Maart 2014 het ons toe begin werk aan die tunes wat nou op die album is. Die skryfproses vir die meeste van die tunes was maar dieselfde as in Van Coke Kartel, want dit is tog dieselfde skryfspan. Ons het ’n punt gemaak daarvan om nie soos VCK of Fokof te klink nie, so die meeste van die songs is nie riff-driven of vinnig nie. Die meeste van die tunes is ook geskep op ’n akoestiese kitaar. Ons het probeer om die songs te laat werk in hul eenvoudigste vorm en dan daarna uit te brei. Ander tunes is weer as rock songs geskryf en in ’n ander rigting gestuur.
Met die eerste paar luisterslae (en diés daarna) is die uiteenlopendheid van die musiek nogal opvallend – ’n mens kan amper nie dink dat die semijolige inslag van "Die skip" op dieselfde album is as harder tunes soos "Waarheid, weg en lewe" en dan ook daai sagte oorgawe van "Toe vind ek jou" nie. Was die uiteenlopendheid opsetlik? Wat was die uitdagings daarvan om die balans van so ’n album saam te stel en hoe besluit jy wat bly en wat ry?
Ja, ek wou graag ’n album maak wat nie genrespesifiek is nie en ek wou definitief nie nog ’n straightforward rockalbum doen nie. Ek wou nie VCK of Fokof herkou nie. Ek hou ook van albums wat jy van begin tot einde kan deurluister en ek het gehoop om so ’n album te maak. Ek wou ook nie gehad het alles moet dieselfde klink nie. Om “Die skip” as ’n voorbeeld te gebruik: dit is deur my en Laudo Liebenberg en Jedd Kossew geskryf, maar dit klink nie soos VCK, Fokof of aKING nie. Ons het regtig iets nuut gedoen. Dalk net vir ons, maar dit is iets nuut. Ek dink dit was ’n uitdaging om die album se speellys saam te stel, want dit is so uiteenlopend, maar ek dink dit werk baie goed as jy hom van begin tot einde deurluister. Daar was ’n paar tunes wat nie die album gemaak het nie, selfs ’n Engelse ballade. Maar ek twyfel of enige van daardie tunes ooit die lig sal sien. Dit sou nie pas nie en dit was nie goed genoeg nie.
Daar's ’n swetterjoel verstommende collabs op die album. Van die ouens, soos Laudo Liebenberg en die Heuwels, is natuurlik deel van die Vanfokkingtasties-crowd, maar Arno Carstens en Karen Zoid dra ook by. Hoe het jy met die spesifieke tunes besluit watter collaborators die beste sal werk, of hoe het daardie besluite verloop? Was dit tempting om collaborators vir die hele album te kry, of het jy daardie gevoel van "Nee, hierdie een is net myne" met van die tunes?
Ja, ek en Laudo het al voorheen saam geskryf en ek is ’n groot fan van sy werk en stem. Ek wou nog ’n keer saam met hom iets skryf. Dit was baie pret om weer saam met Hunter aan ’n song of twee te werk, want ons het lank terug saam geskryf. Pierre sing ook saam op Neonlig, want hy sing mooi. Jedd was ook natuurlik baie betrokke.
Ek wou nooit collaborators vir die hele album kry nie. Die mense saam met wie ek op die album gewerk het, is tans my gunstelinge. Ek en Arno het laasjaar goeie vriende geword toe ons saam getoer het en ek dink hy is een van die beste stemme in Suid-Afrika. Hy was my held toe ek 15 was. Ek het ook onlangs vir Karen beter leer ken en ek het verlief geraak op een van haar tunes en sy het baie van Van Coke Kartel se “Tot die son uitkom” gehou. En na ons dit op Zoid Afrika gesing het, het ons geweet ons wil saam aan ’n tune werk.
Alles was natuurlik en almal is goeie vriende. Dit is hoekom ek musiek begin maak het. Ek wou jam en songs skryf saam met my vriende.
’n Mens kry ook die gevoel die album sal in die algemeen vir ’n breër gehoor toeganklik wees as VCK of Fokof ... tog voel dit nie of daar op enige punt opsetlik so geskryf is nie. Trouens, op "Skree" sing jy lustig: "Sal weer voorwaardes stel/ maar vanaand vat ons vlam/ skree so hard as jy kan/ fok jou" – ’n liriek wat ’n mens kan aanneem nie maande se playlisting op, sê maar, Radio Rosestad sal verseker nie. In hoe ’n mate is die album tog vir jou ’n poging om nuwe gehore te bereik? Of is daardie deel van (Suid-) Afrikaanse musikant wees nie regtig op jou radar nie?
Ek hoop dit is vir ’n breër gehoor toeganklik. Ek wil hê baie mense moet die songs hoor. Ek het opsetlik minder geskree op die album. Ek raak ouer en ek is nie so kwaad nie. Ek is lus om minder te skree en baie mense dink ’n geskree is ’n geraas. Daar is hier en daar ’n “Fok jou” op die album, maar ek glo as ek dit sou uithaal, gee ek iets van my eerlikheid prys. Ek hou daarvan om te luister na eerlike songs en dit is hoe ek gevoel het toe ek die song geskryf het.
Ook op "Skree" verskyn die lirieke: "Werk hard aan paaiemente/ ek woon langs my middeljare/ as ek môre nie meer hier is nie/ hoef ek dalk nie my belasting te betaal nie". Buiten daai pragtig-siniese "dalk" blyk dit – soos ons ook al in vorige onderhoude bespreek het – dat die "grootwordproses" sy tol eis, maar ook maar aanvaar word. Daar word in die mediavrystelling gepraat van die nuwe hoofstuk in die persoonlike lewe – hoe lyk dinge op daardie front? Is die einde van die uitwoed op die horison, of word dit nog lustig omarm? Hoe weeg dit wat verloor is/word, op teen dit wat gewen is/word?
Ek sal nooit uitgewoed wees nie, want daar sal altyd goed wees wat ek bevraagteken of nie mee saam stem nie, maar ek sal nooit grootword nie. Ek speel vir ’n lewe en ek sal my bes doen. Ek sal meer verantwoordelikhede aanvaar en ek is gereed daarvoor.

Foto: Jaco S. Venter
Die album word op 8 April in Sgt Pepper in Langstraat, Kaapstad, bekendgestel. Jy't ’n paar swaargewig-musikante opgeline om saam te speel by die geleentheid. Sal dit die algemene line-up wees wanneer jy met hierdie materiaal toer? Of hoe lyk die plan daarmee? Is daar ’n geheel-en-al-solo-toer op die kaarte (net Francois en kitaar), of sal jy verkies om saam met medemuso's aan te hou toer? Wat is die voordele en nadele van kleiner en groter set-ups op toer?
Dit is my band vir die launch-toer. Ek sal verkieslik saam met die ouens werk en ek verkies ook om met die 5-stuk-band te speel. Almal in die band het ook ander commitments en sal nie altyd beskikbaar wees nie, maar ek sal ’n plan maak soos ek aangaan. Ek ken darem genoeg bekwame musikante. Ek en Jedd sal nog steeds die kleiner en teater-shows op ons eie aanpak. Ek sal ook moontlik in die toekoms shows op my eie doen, wie weet?
Dit is lekker om met ’n band te speel en ons kan die songs doen soos dit op die album klink, maar dit kos klomp geld om ’n band op die pad te vat en dit is definitief meer moeite om te toer met vyf mense as met twee.
Die vraag duik natuurlik ook op: In hoe ’n mate dui die solo-album op verminderde toer- en opneemskedules saam met VCK en Fokof? Is die plan om weer binnekort op te hook met al daai ouens en nuut te skryf en aan te hou gig, of sal dit geleidelik meer die solo-aanslag wees? Wat sal die voor- en nadele van so ’n vooruitsig wees?
Fokofpolisiekar speel al ’n paar jaar nie konstant nie, maar ons speel genoeg. Ons speel nou op die oomblik baie, want ons launch ons biere en daar is nog ’n paar wat uitkom die jaar. Van Coke Kartel het aansienlik minder begin toer sedert begin 2014 en ons speel net die groter shows en feeste. Ek gaan fokus op die solostorie vir die volgende jaar. Maar VCK en Fokof gaan aan soos voorheen en ons was onlangs in die studio met Van Coke Kartel om te werk aan iets nuut. Daar sal ook een of ander vrystelling wees voor die einde van die jaar.
Laas toe ons op LitNet gepraat het (Oktober 2013) was die laaste vraag wat die sin van die lewe is, en jou antwoord was: "Hopelik vind ons eendag uit." Het jy dalk intussen uitgevind? Wat de fok is dit?
Nee, steeds aan die soek, my bru.


Kommentaar
Was laas met Gé Korsten se "Seeman" so opgewonde vir Afrikaanse musiek soos met hierdie kêrel (en sy bands) en Heuwels ens. Great!!