Van Coke Kartel is terug met ’n klipharde nuwe album, Bloed, Sweet en Trane. Francois van Coke beantwoord enkele vrae.
Goeiedag, Francois. Hoe’s dinge?

Francois van Coke
Foto: Jan Gerber
Dinge gaan goed, dankie man. Ek is nou by die huis na die eerste been van die vrystellingstoer van Bloed, Sweet & Trane. Die shows en verkope het goed gegaan, so ek is redelik gelukkig op die oomblik. Ek sien uit om in Kaapstad en Stellenbosch te speel, so tussen vriende en familie.
Geluk met die vrystelling van Bloed, Sweet en Trane en die sales wat so goed doen. Watter soort reaksie kry jy van jou vertrouelinge oor die album?
Ek het die album vir Laudo en Snake gespeel voordat hy vrygestel is. Hulle het gedink dit is die mees samehangende versameling tunes wat ons nog uitgesit het. Hulle het ook gedink dit het baie energie en dat daar ’n goeie verskeidenheid is. Die reaksie wat ons kry van ons aanhangers is dat hulle dit baie geniet. Daar is uurliks tweets wat deurkom oor die album. Die reaksie is baie positief.
Dit voel of Van Coke Kartel met elke album ’n effens nuwe koers inslaan, tog is daar baie van Wie’s bang se elemente wat voortleef op Bloed, Sweet en Trane … Hoe het julle die album benader met betrekking tot die klank wat julle wou skep en verken?
Wie’s bang was die eerste album wat ons geskryf het na Jedd en Jason deel geraak het van die band. Ons wou dadelik begin skryf na Wie’s bang, want ons het geweet hierdie nuwe kombinasie werk. BS&T is oor ’n lank tyd geskryf en opgeneem. Stuk-stuk tussen al ons toere en vertonings deur. Ons het nooit tyd afgevat om net te fokus op skryf nie. So, as ons ’n Sondag van ’n toer af teruggekom het, sou ons die Maandag inklok soos by ’n 9-5 en dan dadelik begin skryf. Ons wou op hierdie album tunes skryf soos ons dit graag live wil ervaar, so daar is hier en daar minder struktuur, groter solo’s, wilder drum fills en langer musikale dele. Ons het ook alles in die studio aanvanklik saam gespeel, soos ’n band, om daai energie vas te vang. Ons het so tussendeur die hele proses besluit dat dit ’n album gaan wees met min elektroniese elemente en dat dit basies sal bestaan uit dromme, bas, kitaar en stem. Vier ouens wat saam speel in ’n kamer.

Van Coke Kartel
Foto: Jaco S. Venter
Die temas wat aangeraak word in die lirieke voel besonder persoonlik – ek dink byvoorbeeld aan (die befokte) “Sweef”: “My verhouding met drank moes stop/ Kop skoongemaak van al die rommel/ ek is hier en ek lewe nog/ ek sal probeer al sal die verlede my probeer keer.” In watter opsigte verskil jou liriekskepping en aanslag daarmee op Bloed, Sweet en Trane van vorige albums?
Die lirieke vir die album is meer persoonlik as enige van ons vorige werk. Ek dink ek het gedurende die skryfproses besef dit is die tipe songs waarvan ek hou as ek musiek luister. Ek hou van emosie en ek hou van eerlikheid. Dit was nie regtig iets waaroor ek baie gedink het nie, dit is maar net hoe dit uitgekom het.
Wat is die verhouding van die album se titel hiermee? Met ander woorde, wat is die gedagtes agter hoe die titel Bloed, Sweet en Trane van toepassing is op waar julle nou in jul loopbaan en jy in jou lewe is?
Die titel is die som van harde werk, ervarings (daar hét al bloed gevloei) en emosies waardeur ons as ’n band gegaan het die laaste ses jaar. Om dit in konteks te plaas is daar ’n paar lines uit “Een dag op ’n slag”: “Ons het dit als oorleef. Bloed, Sweet & Trane.” BS&T is ’n einde van ’n hoofstuk en ook die begin van ’n nuwe een vir my persoonlik en vir ons as ’n band.
’n Tema wat nogal sterk feature in die lirieke is die stryd met die verlede, en ook geloofsake (of die gebrek daaraan) in die konteks daarvan … Dis natuurlik iets wat al van die heel eerste Fokof-album al feature. Dink jy ’n mens kan ooit uitgewoed raak oor hierdie goed, en watter rol speel musiek/liriekskryf daarin?
Ek dink hierdie album gaan meer oor ’n stryd met die hede. Die verlede is net verantwoordelik vir waar ons nou is, so daar is nou en dan ’n stryd met die besluite wat geneem is. Op die eerste Fokof-album was ons kwaad, maar ek is nie meer kwaad nie. Ek bly in die suburbs, stap met my hond, paartie miskien nie meer so hard nie, maar my gevoelens met betrekking tot geloofsake is nog dieselfde. Ek weet nie of dit ooit uitgewoed sal word nie. Dit is deel van my soos dit is om asem te haal en om musiek te maak. So, die lyne raak party keer nogal vaag, want die lirieke is persoonlik en dit is wie ek is.
Op ’n ligter noot: julle het onlangs ’n toer na Nederland onderneem wat na verneem word besonder lekker afgegaan het (die beeldmateriaal het immers ’n musiekvideo geword). Hoe was daai ervaring en die reaksie van die mense?
Dit was ongelooflik. Ons was nou al ’n paar keer in Nederland en dit was definitief ons mees suksesvolle toer tot op datum. Ons het gespeel saam met Jack Parow en hy het ’n redelike fan base aan daardie kant. So, ons het gespeel vir mense elke aand. Mense in Nederland is nuuskierig oor ons. Dit is ’n goeie plek om te begin. Ons het ook twee van ons gunsteling bands live gesien: Queens of the Stone Age en Iron Maiden. Dit is goed om nou en dan befokte bands te sien!
As ek reg tel, is Bloed, Sweet en Trane jul vyfde album. Hoe dink julle in hierdie stadium oor die toekoms? Watter mikpunte lê nog voor vir VCK?
Op hierdie stadium wil ons net uitgaan en hierdie nuwe tunes befok live speel.
Julle ouens het Suid-Afrika al ’n paar keer platgetoer … Enige gunsteling-bestemmings? Enige plekke waar julle nie sommer weer sal optree nie? Waarom?
Ja, ons het al baie plekke gesien in die land. Pretoria is vir ons soos amper soos huis. Ons is mal daaroor om daar te speel. Ons sal nooit weer in Newtown Johannesburg speel nie. Ons het dit weer op hierdie toer probeer, maar dit werk net nie.
Wat is die sin van die lewe?
Hopelik vind ons eendag uit!

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.


Kommentaar
Lekker interview! Die cd is befok!