Titel: Fractal: A Tale of Three Interventions
Skrywer: Helmut Meijer
ISBN: 9781951985905
Uitgewer: Virtualbookworm.com
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging geskryf en aan LitNet gestuur.
Ek besoek LitNet se webtuiste, en hier is Bettina Wyngaard se rubriek met die opskrif “Israel en Palistina: draadsit raak nou ’n luukse”. Voor my op my lessenaar is die boek wat ek so pas gelees het: Fractal: A tale of three interventions.
Helmut Meijer is ’n bekroonde Suid-Afrikaanse musiekvervaardiger, komponis, sanger, liedjieskrywer, student en onderrigter van die antieke Hebreeuse taal, en nou skrywer van sy eerste boek, Fractal. In Fractal deel Helmut van sy persoonlike ervarings en ontberinge. Dit is ’n baie eerlike blootlegging van homself.
Helmut het in Israel gewoon en het eerstehands ervaar wat die spanning en vyandigheid tussen Israel en Palestina aan die mense doen. Een van sy vriende het hom aan die Joodse gebruike en feeste bekendgestel. Helmut het ná ’n Sjabbat-seremonie ’n belangstelling in Hebreeus en die Joodse gebruike ontwikkel. Dit het daartoe gelei dat hy antieke Hebreeus bestudeer het, en selfs in Israel gaan woon het.
Hebreeus het 22 karakters in sy alfabet. Elkeen van hierdie letters is inderwaarheid ’n prentjie met ’n baie spesifieke betekenis. Wat hierdie boek uniek maak, is die rol wat die antieke Hebreeuse taal in Helmut se lewenservaringe gespeel het. Hierdie kennis het aan hom ’n verklaring van en perspektief op sy persoonlike lewe gegee. Hy het as gevolg van sy leefstyl en toksiese verhoudings gesondheidsprobleme ontwikkel. In 2015 word hy met koronêre hartsiekte gediagnoseer. En hy leer sy eie hart ken. Hierdie reis deel hy met sy leser.
Met al die vryheid wat ons het, vergeet ons dat ons steeds aan die universele wette van die lewe moet gehoor gee. Vryheid is suksesvol net indien die verantwoordelikheid daarvan gehandhaaf word. Hoe en deur middel waarvan hierdie lewensriglyne verkry word, is onbeperk en vry. Antieke Hebreeus het vir Helmut hierdie waarheid oopgebreek. Wie of wat jou bron is, is uniek, soos jou vingerafdrukke. Of jy soek of reeds weet, Fractal gaan jou fassineer en jou bewus maak van die patrone waarin ons verval. Dit sal jou hart goed doen, en jou Engels bevorder. Dit was nogal ’n uitdaging vir hierdie Overberger wie se Engels om en by tienuur soggens opgebruik is vir die dag se kommunikasiekwota. Die deurdruk en Google-skattejag is egter die moeite werd.