Foxwoodfees: Sandra Prinsloo gee ’n stem aan Olga Kirsch en Nerina Ferreira

  • 0

Die sesde Foxwoodfees vind plaas van 16 tot 25 Oktober 2020 in die lowerryke Houghton-woonbuurt van Johannesburg. (Foto: Foxwood)

Twee vroue wat diep spore in die Afrikaanse kultuurwêreld getrap het se stemme klink vanjaar op by die Foxwoodfees wat van 16 tot 25 Oktober in Johannesburg aangebied word. Sandra Prinsloo is te sien in twee aanbiedings oor onderskeidelik Olga Kirsch, die Joodse digter wat in Afrikaans geskryf het, en Nerina Ferreira, die kleurvolle aktrise en vertaler van kinderboeke en toneelstukke.

Sandra Prinsloo (Foto: Foxwood)

In Die wandelende Jood is Prinsloo op die verhoog saam met Chris van der West. Die teks vir dié produksie, met vertolkings van Kirsch-gedigte, is ’n paar jaar gelede vir die Foxwoodfees geskep. Volgens Pieter de Vos, die feesorganiseerder, is dit ’n belangrike stuk wat die veelsydigheid van Afrikaans demonstreer. “Olga Kirsch het in 1948 na die nuwe staat Israel verhuis, maar altyd haar diepste ervarings bly uitdruk in Afrikaans, en veral in haar gedigte.”

In dié produksie beeld Prinsloo Kirsch se verlange en pyn as gevolg van haar destydse afskeid van Suid-Afrika uit. Kirsch se agtergrond as ’n Joodse dogtertjie van Koppies in die Vrystaat word ook belig. Van der West vul Prinsloo se vertolking aan met Midde-Oosterse komposisies op ’n Keltiese harp.

In Nerina huldig Prinsloo en Danie Stander die gewilde Nerina Ferreira, wat in 2012 oorlede is. Die teks vir dié produksie is saamgestel uit Ferreira se werk, onder meer uit Vasvat van ’n feeks en haar vertalings van Astrid Lindgren se Pippie Langkous-boeke in Afrikaans. Stander sal Ferreira se lewe en werk kontekstualiseer. As poliglot was Nerina tuis in die volgende tale: Afrikaans, Engels, Duits, Esperanto, Fins, Frans, Hongaars, Italiaans, Nederlands, Noors, Portugees, Spaans, Sweeds en Yslands. “Sy het haar onder meer onderskei as vertaler van Shakespeare in Afrikaans, en het in dié vertalings streng by die Engelse dramaturg se digterlike formaat gehou,” sê Pieter de Vos.

Olga Kirsch (Foto: Foxwood)

Die Foxwoodfees, wat vanjaar vir die sesde keer aangebied word, is ’n inisiatief van Jan Groenewald en Pieter de Vos, eienaars van Foxwood House in Johannesburg se Houghton-woonbuurt. Pieter vertel: “In 2002 het Foxwood House geopen en aanvanklik het ons op konferensies en akkommodasie in die tuine gefokus. Jan Groenewald en Clive Rodel het die teater in 2006 geopen, en daarna het ons die ou herehuis as bewaarplek begin gebruik, veral vir materiaal uit die Victoriaanse tydperk.”

Nadat ’n gedeelte van die literator Elize Botha se akademiese boekversameling aan Foxwood House geskenk is, is ’n biblioteek daarvoor ingerig. “Geleidelik het die aksent verskuif van klein hotel en konferensiesentrum na kultuurhuis en restaurant met toenemend al hoe meer teateropvoerings, en as konferensieruimte wat veral Wits en UJ gebruik. Dit het organies in dié rigting gegroei sonder dat ons dit aanvanklik so beplan het – om ons eie belangstellings uit te leef.”

’n Oogmerk van die Foxwoodfees is om nuwe perspektiewe in Afrikaanse letterkunde en verhoogwerk te bevorder, sê Pieter. In die verlede is stukke op die planke gebring wat ver gereis het. Deborah Steinmair se Plant vir my ’n boom, André, wat oor die liefdesverhouding tussen André P Brink en Ingrid Jonker handel, het ’n paar jaar gelede by Foxwood gedebuteer. Dié produksie met Tinarie Van Wyk-Loots en Erik Holm in die rolverdeling het landswyd sukses behaal.

Die produksie Nerina huldig die aktrise en vertaler Nerina Ferreira. (Foto: Foxwood)

Die fees was ook verantwoordelik vir Pruimboom deur Jan Groenewald, wat as Plum tree by die Edinburgh-fees opgevoer is. Plum tree is weer vanjaar op die feesprogram, en word aangebied met die doel om vir twee instansies geld in te samel: Covid & Beyond, ’n organisasie wat armoede en hongersnood op die platteland help verlig, en Angel Touch, ’n instelling wat orgaanoorplantingspasiënte bystaan terwyl hulle op geskikte skenkings wag.

Nog ’n feesproduksie wat ’n multikulturele teaterervaring beloof, is Jan Groenewald se Leonardo se poort, ’n jeugverhaal met outobiografiese elemente. Groenewald is op die verhoog saam met Phil Baloyi, ’n opkomende jong hip-hop-kunstenaar, en die baskitaarspeler Sandile Mbatha.

Foto’s van Anet Pienaar-Vosloo en Dewald van Breda sal ook tydens die fees opgeveil word om geld in te samel vir vryskutkunstenaars wat weens COVID-19 in ’n finansiële krisis verkeer.

Ander hoogtepunte op die Foxwood-feesprogram:

  • Op 17 Oktober bring André Viljoen hulde aan die Afrikaanse sanger Gert van Tonder.
  • Renée Rautenbach Conradie se Met die Vierkleur in Parys word op 18 Oktober met die skrywer bespreek.
  • Op 23 Oktober raak Charl-Pierre Naudé en Pieter Duvenhage filosofies en literêr in ’n Dinkkafee-gesprek.
  • David Hadaway en Heidi Hadaway bied onderskeidelik ’n skilder- en beeldendekunsuitstalling tydens die fees aan.
  • Gedurende die fees kan feesgangers van kleiner snoeperye tot driegangmiddagetes en -aandetes in die Foxwood Restaurant nuttig. Besprekings vir die driegangmaaltye is noodsaaklik.

In die nadraai van die inperkingsmaatreëls word die fees vanjaar nie net by Foxwood House in Houghton aangebied nie, maar ook aanlyn. Belangstellendes kan dus produksies vanaf enige plek in die wêreld meemaak. Die volledige feesprogram, asook inligting oor hoe om produksies virtueel by te woon, is op Foxwood se Facebook-blad en by www.foxwood.tv beskikbaar.

Vir meer inligting, besoek www.foxwood.tv. Kaartjies is beskikbaar by Webtickets of theatre@foxwood.co.za.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top