Soos die bykans vergete reënboognasie van die 1995-Wêreldrugbytoernooi het Suid-Afrikaners van alle kleure, tale en herkomste verlede Vrydag op kleurvolle wyse voor die parlement bymekaargekom. Op ʼn vermaaklike maar ernstige noot het hulle protes aangeteken teen die vlaag van korrupsie wat die land teister. Jean Oosthuizen was daar en het hierdie fotobeeld saamgestel.
Meer as 650 individue uit die kunste-en-kultuur-wêreld het hulle binne ʼn week aangesluit by die Unite Against Corruption-veldtog. Onder hulle is van die land se bekendste kunstenaars uit verskillende dissiplines. Sommige is veteraanaktiviste uit die stugglejare, terwyl baie jong kunstenaars ook by die veldtog aangesluit het.
Sangers, kletsrymers en digters het hulle stemme Vrydag dik gemaak teen alle vorme van korrupsie. Verskeie bekendes uit die vermaaklikheidswêreld het kleur aan die geleentheid verleen. Die dramaturg Mike van Graan het ’n kort toneelstuk geskryf wat deur die dramastudente van die UK opgevoer is. Die bekende akteur Deon Lotz en Mark Gevisser, die skrywer van Thabo Mbeki se biografie The Dream Deferred, was ook onder diegene uit die kunstewêreld wat protes aangeteken het.
Burgerlike organisasies, verteenwoordigers van politieke partye en lede van die publiek het soos een man kragte saamgesnoer om die bal aan die rol te sit vir die grootste protesveldtog teen korrupsie wat die land nog gesien het.
Lede van die Arts for Socio-Political Action, Right2Know, Treatment Action Campaign en die Equal Education-beweging was onder die nieregeringsorganisasies wat hande gevat het om saam onder die sambreel van die Unite Against Corrupton-veldtog voor die parlement teen korrupsie te betoog.
Musiek, visuele kuns, poësie en ander kunsvorme is ingespan om die aandag te vestig op volgende maand se massabetoging teen korrupsie wat op 23 September in Kaapstad en Pretoria plaasvind.
Lees ook die onderhoud oor die protesaksie met Mike van Graan. |

Die bekende akteur Deon Lotz en kontemporêre kunstenaar Philip Hibbers was onder die kunstenaars wat die geleentheid bygewoon het.

Die uitvoerende direkteur van die African Arts Institute, dramaturg en kultuuraktivis Mike van Graan gesels met Mark Gevisser, skrywer van Thabo Mbeki se biografie The Dream Deferred.

Mfundu Hashe, Mike van Graan en Mark Sampson

Colleen en Paul Sturrock sê hulle is gewone Suid-Afrikaners wat moeg is vir korrupsie.

Vusi Sizweqpmu van Right2know

ʼn Groepie van die betogers voor die parlement

Verskeie lede van die Treatment Action Campaign was teenwoordig.

Moeg vir leuens

Hoe het ons hier beland?

Sommige betogers het meer as een plakkaat gehad.

Korrupsie ken nie kleur nie.

President Zuma was nommer een in die betogers se visier.

Hierdie vroue maak dit duidelik Marikana is nog lank nie vergete nie.

Daar was selfs ʼn “korrupsieverklikker” wat mense vir korrupsie getoets het.

Die komediant Mark Sampson van Africa Clockwise

Mfundo Hashe dra ʼn gedig voor.

Een van die betogers neem ʼn blaaskans.

Teiken nommer een, die land se nommer een

Daar is gedans, gesing, gesit en gestaan.

Die openbare beskermer Thuli Madonsela was ongetwyfeld die gunsteling.

Die parlement

T-hemde het hulle eie storie vertel.

Die Right2know-organisasie was sigbaar teenwoordig.

Met vlymskerp satire het die twee akteurs die draak gesteek met president Zuma. Die linkerkantse een het die rol van die President vertolk en die een regs het met “gebaretaal”, maar ook hoorbaar, getolk en elke woord wat die “President” gesê het, op komiese wyse weerlê.

Swart en wit saam teen korrupsie

Beskerm die openbare beskermer.
Artists unite against corruption – Mike van Graan |
Kommentaar
Mooi gebaar - kom ons doen dit meer gereeld!