Keelvol kunstenaars kap korrupsie

  • 2

mikevgraan650

Die land se kuns-en-kultuurgemeenskap is keelvol vir korrupsie. Honderde kunstenaars het hulle stem dik gemaak en skaar hulle nou by ’n grootskaalse teenkorrupsieveldtog om die regering tot verantwoording te roep. Hulle hoop om volgende maand deel te wees van die grootste openbare protes wat die land nog gesien het en nooi almal uit om deel te word van hierdie landwye beweging teen korrupsie. Jean Oosthuizen het met die bekende dramaturg en kultuuraktivis Mike van Graan gesels om meer uit te vind oor hulle planne om korrupsie te help hokslaan.

jean_oosthuizen_200x200Watter rol kan kunstenaars speel in die veldtog teen korrupsie en hoekom het julle besluit om deel te word daarvan?

Kunstenaars is ook landsburgers. As belastingbetalende burgers word kunstenaars in die algemeen, maar spesifiek in die kunstewêreld, deur korrupsie benadeel. Geld wat vir die kunste bestem is, word deur senior amptenare van die Departement Kuns en Kultuur vermors. Belastingbetalersgeld wat vir die kunste bedoel is, word deur korrupte amptenare ingepalm, terwyl kunstenaars hongerlone betaal word of hulle werk verloor. Intussen is daar korrupte amptenare wat geld wanbestee, soos in die geval van die Staatsteater.

Ons moedig kunstenaars aan om by die veldtog teen korrupsie betrokke te raak, omdat dit in belang van alle landsburgers en kunstenaars is dat korrupsie in die kiem gesmoor word.

Maar watter rol kan kunstenaars nou eintlik speel om korrupsie te help hokslaan?

Ons kan ons openbare profiel aanwend om die aandag daarop te vestig en ons netwerke gebruik om gewone burgers aan te moedig om saam strate toe te gaan en teen korrupsie te betoog. Die beoogde optogte in Pretoria en Kaapstad op 23 September is bedoel om die grootste openbare protes te wees wat die land nog gesien het.

Ons gaan sigbaar deelneem en kreatiwiteit daaraan toevoeg deur middel van teater, musiek, visuele kuns, poësie en ander kunsvorme om die breër publiek se aandag te vestig op korrupsie en die nadelige invloed wat dit op die samelewing het. Kunstenaars kan help om groter deelname aan die veldtog teen korrupsie te mobiliseer.

Nog redes waarom ek besluit het om by die veldtog betrokke te raak en ander kunstenaars aan te moedig om dieselfde te doen, is die volgende: die breër burgerlike gemeenskap maak dikwels gebruik van burgerlike organisasies om hulle griewe te lug, soos byvoorbeeld die veldtog vir antiretrovirale middels vir mense met MIV onder leiding van die Treatment Action Campaign, die veldtog vir beter skoolopvoeding deur die Equal Education-beweging en die veldtog vir die beskerming van inligting deur Right2Know. Kunstenaars is grootliks afwesig by hierdie veldtogte, hoewel daardie sake hulle ook raak.

Die antikorrupsieveldtog is bedoel om kunstenaars te betrek by iets wat hulle direk raak. Dit skep ’n geleentheid vir kunstenaars om hulle misnoeë teen korrupsie uit te spreek en alliansies te vorm met ander sektore van die gemeenskap. Wanneer daar sake is wat die kuns en kultuur in die besonder raak, kan ons op ons bondgenote in die breër burgerlike samelewing staatmaak om advies te gee, ons te ondersteun en saam met ons op te staan en ons stemme laat hoor vir dit wat reg en billik is.

Hoe skakel die veldtog Arts for Socio-political Action met die Unite Against Corruption-veldtog – is dit twee verskillende inisiatiewe of is dit alles deel van dieselfde veldtog?

Arts for Socio-Political Action is basies ’n Facebook-groep wat vroeër vanjaar deur Gita Pather, die uitvoerende hoofbeampte van Wits University Theatres, begin is om inligting te versprei oor sake wat die bedryf raak. Hulle tree in gesprek en voer debat oor sake rakende die kuns en moedig die kunstesektor aan om die nodige aksies te neem wanneer nodig vir diegene wat belangsstel.

Die Facebook-groep is dus eerder ’n openbare forum as ’n formele struktuur. Baie van die groep se inspirasie spruit uit die stigting van die Creative and Cultural Industries Federation of South Africa (CCIFSA), ’n regeringsinisiatief om ’n verteenwoordigende struktuur te skep vir die kuns-en-kultuursektor. Ongelukkig word dit sedert die stigting daarvan deur kontroversie gekniehalter. Sommige beskou dit as ’n skoothondorganisasie van die Departement Kuns en Kultuur om mee in alliansie te tree; ander glo onwrikbaar daaraan, terwyl nog ’n groep besluit het om dit “’n kans te gee”. Daar is geen formele sambreelorganisasie wat die hele sektor op die oomblik verteenwoordig en saambind nie. Die Facebook-forum is ’n platform waar idees uitgeruil word, om inligting te versprei en veldtogte van stapel te stuur of oor sake van gemeenskaplike belang te gesels.

Die lede van die Faceboek-groep reageer daarop soos wat hulle wil. Toe ons genader is om vanuit die kuns-en-kultuursektor steun te verleen aan die Unite Against Corrupton-veldtog, was hierdie ’n ideale forum om van gebruik te maak om steun te werf, omdat daar reeds meer as 5 700 lede in die groep is.

Meer as 650 kunstenaars in die groep het binne drie dae die veldtog teen korrupsie onderskryf en hulle steun daarvoor uitgespreek. Ons sal aanhou om die groep op Facebook in te lig oor Unite Against Corruption se aktiwiteite en hulle kan dit onderskryf as hulle wil. Ons gebruik ook hierdie Facebook-groep om ander veldtogte te loods en debatte te voer wat met ander veldtogte oorvleuel.

Sommige sal seker sê kunstenaars moet hulle liewer by die kunste hou en dat hulle nou die terrein van die politiek betree. Wat is jou reaksie daarop?

Dit ’n cliché wat van dieselfde ou groepie kom wat reken ons moet politiek uit sport hou of dat godsdiens en politiek niks te doen het met mekaar nie. So asof die kunste, sport en godsdiens in ’n vakuum bestaan. Soos wat ek aan die begin verduidelik het, beïnvloed politieke, ekonomiese en ander sosiale faktore ook die kuns-en-kultuursektor direk.

Hoe so?

Wanneer ’n toneelstuk op die punt staan om te begin en weens beurtkrag gekanselleer moet word, wanneer politieke witbroodjies met belastingbetalers se geld oorsee rondrits en ander nie, wanneer slegs ’n uitgesoekte groepie toegang het tot openbare fondse en daardeur bevoordeel word, kan jy nie sê hou politiek uit die kunste of andersom nie. Ons het net so goeie reg en ook ’n plig om ons regte te verdedig en daarvoor te veg in die belang van kunstenaars as wat enige ander groep of individu het om vir hulle regte op te staan.

Wat is die algemene reaksie van kunstenaars op die veldtog? Hoeveel kunstenaars is al deel daarvan en hoop julle daar sal nog aansluit?

Ons is oorweldig deur die steun wat ons reeds gekry het. Aan die begin het ons gehoop op so 100 kunstenaars wat sou aansluit en dit onderskryf. Voordat ons ons oë kon uitvee, was daar in minder as drie dae reeds meer as 650 kunstenaars aan boord. Dus: in ’n sekere sin het daardie deel van die veldtog om die stempel van goedkeuring te kry reeds tot ’n einde gekom en is dit nie meer die fokuspunt nie, omdat ons reeds genoeg van die land se voorste kunstenaars en persoonlikhede het wat die veldtog onderskryf.

Kan jy enkele van die bekende name noem wat deel is daarvan?

Sandra Prinsloo, Zakes Mda, Shaleen Surtie-Richards, Andrew Buckland en die UH van die Market Theatre, Annabell Lebethe, om maar net ’n paar van die meer as 650 se name te noem.

Wat is die volgende fase noudat julle al soveel kunstenaars aan boord het?

Ons doelwit is nou om die publieke betrokkenheid wat reeds bestaan, prakties om te skakel na voete in die strate wanneer die optogte later die maand en volgende maand plaasvind. Dit sal wonderlik wees as die kuns-en-kultuurgemeenskap – insluitend vriende, families en ondersteuners – minstens vyf persent kan uitmaak van elke optog wat beplan word en dat daar 100 000 mense sal wees wat op 23 September deelneem aan die groot optog wat beplan word. Ons doelwit is om minstens 5 000 van hulle in die kuns-en-kultuursektor te mobiliseer. Daar is ook kleiner betogings, soos die een op 7 Augustus voor die parlement, waar ons ook probeer om minstens vyf persent van die deelnemers uit die kunstewêreld te mobiliseer.

Waaraan is die huidige hoë vlak van korrupsie in die land toe te skryf?

Daar is verskeie faktore. Ons eie politieke sisteem is die broeiplek vir korrupsie. Politieke lakeie meen hulle is verantwoordbaar aan hulle partybase eerder as aan die kiesers. Daarom tree hulle nie volgens hulle gewete of met integriteit op nie, maar vanuit eie politieke belange. Politieke eiebelang beskerm die korruptes en diegene wat sonder vrees vir vervolging wandade pleeg en dink hulle is bo die wet verhewe omdat hulle die regte politieke kontakte het.

Niemand weet wie befonds ons politieke partye nie, en ook nie hóé hulle befonds word nie. Ek het geen twyfel dat korrupsie ook hier geen geringe rol speel nie. In die mededinging vir tenders speel boeties vir baantjies dikwels ’n groot rol. Diegene wat tenders kry, is baie keer die voorbokke om geld aan politieke partye te skenk wat op plaaslike, provinsiale en sentrale vlak in beheer is om seker te maak tenders word aan hulle toegestaan.

Dan is daar ook die buitensporige verbruikersmentaliteit en die sug na rykdom van mense in ons gemeenskap wat so gou as moontlik wil ryk word. Die konsep van “ubuntu” is ’n absolute mite in ’n gemeenskap waar elkeen na sy eie belange omsien (veral hulle wat polities goed geplaas is) ten koste van ander.

Dit is waarom daar op so ‘n groot skaal gelieg en gekul word om posisies te bekom wat mense in staat stel om op openbare fondse te teer. Maar dit is natuurlik nie beperk tot die openbare sektor nie. Unite Against Corruption maak dit duidelik dat die veldtog teen korrupsie ook korrupsie in die private sektor insluit. Ek verwys onder andere na saamspanning oor prysvasstellings, asook na mense se persoonlike lewens wat in die versoeking gestel word om omkoopgeld te betaal om boetes vry te spring of vir dienste waarop hulle in elk geval geregtig is.

Daar is bitter min rolmodelle in ons gemeenskap met integriteit, eerlikheid en menslike ordentlikheid. Niemand vertrou regtig meer die politici nie. Dit smeer af op die hele land se kollektiewe moreel, want almal begin glo as “hulle” daarmee kan wegkom, waarom nie ons ook nie? Dit is die begin van ’n glybaan tot nog groter korrupsie.

Watter sigbare aksie beoog die kunstenaars wat aan die veldtog deelneem en hoe wil julle te werk gaan?

Ons het kunstenaars uitgenooi om aktief teen korrupsie betrokke te raak in hulle onderskeie kunsforums, maar om dit ook in die openbare domein te doen. As voorbeeld word digters genooi om gedigte te skryf rondom die tema van korrupsie wat op strategiese plekke soos bushaltes vertoon en onder pendelaars versprei sal word. Visuele kunstenaars sal gevra word om kreatiewe plakkate te maak en spotprenttekenaars om spotprente te teken wat gedurende die nag op strategiese plekke aangebring sal word waar almal dit kan sien. Ek het ook ’n kort toneelstuk geskryf wat deur die dramastudente van die UK opgevoer sal word tydens van die betogings. Ons wil graag hê daar moet oral langs die roetes waar die optogte plaasvind, kreatiewe optredes wees soos sang deur musikante, voorlesings uit die letterkunde, treffende plakkate, ens. Dit is slegs enkele voorstelle, maar ons is oop om na enige voorstelle van kunstenaars te luister wat met hulle eie kreatiewe idees vorendag kom. Wat ook al die aksies mag behels, ons is gretig dat protes in ons land al hoe meer kreatief moet wees.

Sluit die veldtog alle kunsvorme in van skryf, sang, toneel, ens?

Ja, beslis! Ek is vol vertroue dat kunstenaars uit die hele spektrum en van alle kunsvorme in die openbaar na vore sal kom om die veldtog te onderskryf.

Dink jy die regering gaan hom hoegenaamd daaraan steur?

Die ANC-regering is onder groot druk. Die Nkandlakwessie is nog lank nie verby nie. Met volgende jaar se plaaslike verkiesings om die draai, en met die ANC se groot terugslae by die stembus in groot metropolitaanse gebiede tydens die vorige verkiesing, glo ek dit sal ’n wake-up call vir die ANC wees as ons daarin slaag om genoeg mense te mobiliseer om strate toe te gaan.

Die ANC het na die vorige verkiesing in Mei daarmee gespog dat hulle steeds meer as 62 persent van die land se steun kon kry ondanks Nkandla, maar toestande is nou heelwat anders. Numsa is nie langer deel van Cosatu nie en die vakbondbeweging is in twee geskeur. Daar kan makliker ’n draaipunt kom ten gunste van weerstand eerder as om soos in die verlede blind lojaal te wees teenoor die regerende party. Die regerende party mag dalk ’n vertoon van bravade tentoonstel en maak asof hulle nie omgee nie, maar ek sal verbaas wees as die ANC nie daadwerklik gaan poog om die openbare mening te probeer verander en hulle verbintenis tot goeie dienslewering en ’n korrupsievrye regering voor volgende jaar se plaaslike verkiesings te probeer bewys nie.

Daar word in die volgende paar weke en maande ’n hele paar optogte en betogings teen korrupsie beplan, en veral die groot meneer op 23 September. Is daar van die kunstenaars wat self aan die betogings gaan deelneem, en wat beplan julle om sigbaar te wees?

Van die kunstenaars wat aan die optogte gaan deelneem, sal duidelik onderskeibaar wees van die res en die kunsgemeenskap se stem duidelik en helder laat uitstaan deur middel van T-hemde, plakkate en die klere wat hulle sal dra. Ons dink ook aan ander idees om meer sigbaar te wees tydens die protesoptogte.

Kunstenaars kan hulle stemme op baie maniere laat hoor. Kort na die destydse wapenskandaal het jy ’n gedig geskryf, “They of the people”,waarin jy oorlog verklaar teen die wanpraktyke in die samelewing. Wil jy dit nie asseblief met LitNet se lesers deel nie?

Ja, seker.

They of the People

They of the people
By the people
Met to declare war

Fight poverty!
Combat illiteracy!
Take up arms against disease!
Terminate unemployment!
Eliminate racism!

Then they of the people
By the people
Bought their weapons of war
3 submarines
4 corvettes
44 helicopters
52 jets

Then they of the people
By the people
Marched off to war

They shot off their mouths
Executed traitors
Killed a few messengers
Tortured the truth
Took no prisoners

Then they of the people
By the people
Drove back in the spoils of war

For they of the people
By the people
Each had a four-by-four.

Baie dankie en sterkte met julle planne, Mike. Wat moet mense doen wat graag by julle veldtog wil aansluit? Waar kan hulle meer daarvan te wete kom en wie kan hulle kontak?

Baie dankie vir LitNet se belangstelling in die veldtogte. Enigiemand wat graag by die teenkorrupsieveldtog wil aansluit, kan Unite Against Corrupton se webwerf besoek by www.uniteagainstcorruption.co.za. Diegene wat as kuns-en-kultuur-beoefenaars wil deelneem, kan vir my ’n e-pos stuur by art27m@iafrica.com.

  • 2

Kommentaar

  • Dit is hoog tyd. Sonder kuns en kultuur is `n land se kunstenaars gemuilband - dit laat my dink aan Andre P Brink se Hanna X, wie se tong uitgesny is.

    Goeie, positiewe stap, dié!

  • Anthony Wilson

    Kunstenaars was van die vroegste tye ALTYD aan die VOORPUNT van sosiale en politieke verandering! Is dit nie die kunstenaars wat die boodskap van Wit Nood en Apartheid en Onderdrukking die wêreld ingeneem het nie? Nie die boontjietellers en connected comrades wat vandag regeer nie. Gaan kyk maar na Willem Wikklespies wat elke tema aangespreek het!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top