Formateer

  • 1

Skaars sigbaar in die effense, silwerige skynsel en in die andersins donker gange, sien ’n mens rakke, rye op rye. Van alle hoogtes, groottes en materiale. Skaars hoër as ’n lessenaar of van metaal wat wegsmelt in hoër skaduwees. Ná wat voel na kilometers kronkelgange kom ’n mens soms af op ’n plek waar die pakplek laer is as elders en dan sien jy aan die verre vorms van nog rakke die buitelyne van ’n stad.

Hier en daar tref ’n mens rakke aan waarvan die buitelyne minder stedelik is. Van hulle is planke op bakstene en verder van mekaar, asof dit buitewyke is. In die verte is groot boeke en veraf kissies wat staangemaak is; en lyk soos hutte. In die lanings van die rakkestad is vorms op hoë rakke amper sigbaar.

In die ruim donker hang verre stippels lig. Oor alles is egter die sagte grys van ’n maan buite sig. Dit moet ’n pakhuis wees, hoewel ek geen mure kan sien nie en die dak net vermoed. ’n Ganse wêreld staan hier weggepak.

Nog elke aand is ek te nuuskierig om te voel of ek hier wegraak. Êrens in al hierdie uitgestrekte nêrens moet ’n inventaris wees van al hierdie vir die wêreld verlore en vergete dinge, iets wat daarvan meer as net ’n liasseerplek in die leegte maak.

Bo my is goedgemaakte vase, dalk ’n trekklavier of tikmasjien. Daar is harde houers of dié wat sag soos aanmekaar gestikte motvlerke is. Hier en daar is dit of die lug in ’n rak warm is. Die slaapplek van ’n argivaris? Ek sien hier geen enkele ander mens nie.

Dit is nie soos enige pakhuis of loods waarin ek al bedags was nie. Dit is toe soos ’n boek, maar ruim soos verbeel.

Dokumente, boeke, notaboeke en die klein huishoudelike voorwerpe vanoor geslagte heen word hier meer veronderstel as wat dit sigbaar is. ’n Wêreld vir berg, nie vir uitstal nie. Die vloerplan strek weg in alle rigtings en vermoedens. Soms, en dit was dan ’n wensdroom, bereik ek ’n toonbank met ’n langwerpige lamp wat laag daaroor hang aan kabels uit die hoë nag se nok. Aan die ander kant van die toonbank is dan niks, niemand wat iets kom oplaai of afhaal nie. As my oë gewoond raak aan die donkerte anderkant die buislamp bo die toonbank word buitenste lyne van nóg hoë rakke sigbaar, maar hulle staan ver, ’n hele ent weg. ’n Gebergte buurstad anderkant ’n donker baai.

Ek dra ’n foon by my, maar intuïtief wil ek dit nie aanskakel nie, want dan is hierdie wêreld weg.

Ek bly die plek snags op ’n lukrake plek betree elke keer wat ek daar is. Ek had die gevoel die pakhuis stel my voor sekere take in ruil vir my wandelings daar. Die spelreëls bepaal alles, sonder dat ek weet wat dit is, asof dit op ’n vreemde manier outomaties is en ek die rand betree van die ratwerk van ’n soort tegnologie, een buite tyd. In die afwesigheid van herkenbare feite, help verbeel verder.

By die verskepingsfirma waar ek werk, gaan ek noukeurig lang lyste tabelle deur. En deesdae is dit of daar vir ’n oomblik lank nuwe inskrywings in ’n onbekende taal in van die tabelle staan, maar dan was dit net iets aan my kontaklens, die inskrywing is weg.

Oor middagete lees ek ’n artikel oor ’n uitstalling van werke deur Werther van Zoger, waarin vertel word van ’n groot projek gewy aan hermetiese argiefskuns. Die woorde maak my nuuskierig en daarmee saam kry ek déjà vu. Dit voel soos ’n sleutel in ’n raaisel.

Ek bel die galery. Nee, die ontvangspersoon is nie daar nie; u praat met die uitstaller. Ek vertel vir hom terstond van my droomskuur. Toe ek klaar gepraat het, gons die lyn. Ek moes twee keer vra of hy nog daar is. Dis onverwags, maar hy moet erken na eie inskatting dat hy bes moontlik die mees gerade persoon onder die omstandighede is om ’n verkennende gesprek daaroor te hê – hy sal die volgende dag in die uitstalruimte se koffiewinkel wees.

Sy foto by die artikel het by ’n mens ’n gans ánder mens ingeprent. Ons gesels oor verlangse familie van hom, Cornelis Drebbel en Panamarenko, oor die losse skroewe tussen woorde en dit wat hulle voorstel, oor taal wat kan werk soos Bataafse trane; die meriete van ou ensiklopedieë om te wete te kom hoe in ’n bepaalde era met die wêreldbeskouings tóé alles verstaan is. 

Die geniale Drebbel het klavesimbels gebou wat net deur die son en wind bespeel word. Hy kon moeiteloos sowel towenaar en wetenskaplike wees as die geleentheid daarna vra, soos die uitstappie met die eerste werkende duikboot getoon het. Panamarenko het sowel burgerlugvaart en Da Vinci geïgnoreer en self vliegmasjiene gebou wat nie daarop gestel was of dit kón vlieg nie, ook hout-en-winddiere wat op en neer op strande loop, aangedryf deur brieskrag in die rigting van die gedagte van ’n perpetuum mobile. Elkeen het op sy eie manier suurstof gemaak vir droom en verbeel, of dit nou met wetenskap, vertoonkuns of albei was. 

Vir die duur van die gesprek het hy aan die rand van ’n glimlag gehuiwer wat eindelik verbreed het toe ek instem om aan ’n solo-uitstalling te werk, hoewel ek in my lewe nog nie tevore aan kuns vir myself selfs maar net aan gedínk het nie. Hy het daartoe ingestem om ’n voorwoord te skryf as dit daarop aankom. Hy was kennelik oortuig van die meriete van die projek. Die nuwe era vra om ander maniere van kyk, het hy gesê; kuns vra nou op ’n ander manier erns in die spel en spel in die erns.

Sou hy verbaas wees oor my rusland? Nee, die gesprek bly doodnugter en gesellig. Met "sien jou volgende week, ek weet waar jy ’n goeie werkplek vir jou soort werk kan kry, ek bel jou môre" is ons albei daar weg. In die loop van ’n week van baie gesprekke in sy ateljee het my eerste tentoonstelling vorm aangeneem, aanvanklik met sy hulp wat betref die materiaal en aanbieding daarvan. Hy het voorstelle genoem wat ek gelate soos aanwysings aanvaar het. Hy het ’n inleiding vir die werke in "Berg/plek" geskryf. Die begin van my nuwe beroep het stadigaan opgedaag.

Van meet af aan het finansiers meriete in die werk raakgesien, eerder as dat resensente veel daaraan gehad het. Dit was wel ’n gunstige tyd en klimaat vir die uitstalling. Dit het saamgeval met die eerste Wêreldtentoonstelling van Tegnologie, die een wat alle vorige vergelykbare praalskoue van die vernufsmens oortref het. Groot data is aangewend vir ’n inkarnasie van die destydse Elektrisiteitspaleis. Oor moontlikhede wat reeds bestaande tegnologie bied en wat al daarmee gedoen kan word. In plaas daarvan dat deftige mense die moderne wonders statig deurgestap het, was ’n ieder en ’n elk daar ingeskakel op hul telefoon wat hulle kort-kort voor hulle gehou het soos mense in vorige eeue gebukkend, verwonderd en onthuts sou probeer sin maak van kompasse in die omgewing van ’n magneet. 

Mense soek na begrip vir die nuwe tyd, vir kortpaaie na oorsigtelik verstaan. ’n Tyd lank is gepraat van datatuiniers of kenniskuratorskap. Mense het die kunswerke aangegryp - en dalk meer aan agter die idees en sê-krag daarin as wat die praktiese uitvoering sprekend van kúns was. Werther het bespiegel dat konsepkuns nou meer kans kry omdat die wêreld al hoe meer by abstraksie begin inbeweeg en ons nou ontdek die mate waarin dit reeds plaasgevind het.

Sedert ek my doelgerig aan die erns van die spel wy, het die land van my aandrus in omvang toegeneem, asof dit op ’n vreemde manier ooreenstem met wat elders aan die gang is – onsigbare datastelle neem toe, vermeerder by die sekonde.

Die magdom in die pakhuis saans en die moontlikhede van die nuwe wêreld bedags het my laat terugverlang na vroeëre dae, selfs tegnologie wat ek nie geken het nie. Die pakhuis het my gehoor, want kort daarna, in my omswerwinge, ontdek ek een aand iets op ooghoogte. Vir eers het ek nie geweet wat dit is nie en was net verras dat, in die kilometers van rakruimte, daar skielik ’n voorwerp was wat ek so duidelik raakloop.

’n Rolindeks ken ’n mens nog as ’n spil waaraan kaartjies met kontakbesonderhede draai vir vinnige verwysing. Hierdie een is egter anders as daardie weergawes op die kantoortafels van weleer. Die taamlik lang silinder het ’n reeks gleuwe waarin kaartjies aangebring kan word, maar dit lyk of dit ’n baie spesifieke patroon volg, amper soos die drom of bladmusiek van ’n draaiorrel. En dit het my laat dink: Wat as ’n onbedoelde aspek van die ontwerp van die rolindeks verryk kon word? Is dit indekspatrone? Bied dit benewens plek vir kaartjies ook ’n ander funksie, een wat klankherhaling, harmonie en melodie tot gevolg het?

Dit het vir my daar so vreemd opgeval, dat ek séker was ek gaan binnekort die ekwivalent daarvan in die buitewêreld kry. Ek het aangevoel dit is ’n voorteken.

Bedags het ek deur die blinde ruimte van die internet gesoek en rondgebel met my versoeke en vermoedens. Dit is ongelooflik hoe gou ou tegnologie onthou word, maar dat die fisiese voorwerp self feitlik nêrens meer te vinde is nie. Nietemin, ’n vae afskynsel van die "egte" een ontdek ek eendag op die internet-argief waar ou webwerwe nog besoek kan word. Ek het onmiddellik die nommer onderaan die webwerf gebel. Tot my verbasing het die foon gelui. ’n Vrou het saaklik geantwoord. Ek het my rede vir die oproep verskaf en gevra of die rolindeks steeds te koop is. Dit blyk toe dat dit saam met ander ware steeds in ’n stoorvertrek is. Ons maak toe ’n dag en datum vas wat ek dit sou afhaal.

Die kantoor spoor ek op in die raserige klinksteenklowe van Soutrivier se nywerheidsgebied. Dis ’n klein maatskappy wat al vir jare lank spesialiseer in die opstel van verpersoonlikte databasisse en vir die versoening daarvan met ander stelsels. Verder as opwip kon die kantoor egter nooit vorder nie: Vroeër jare sou dit ’n byderwetse indruk skep. Maar nou is dit skaars meer as ’n uitgepakte krat. Wanneer die assistent-bestuurder-hoof-en-huurder aftree, sou net die kantoor in Buchhaut, noord van Gutenberg, nog bedryf word.

Ek was reeds besig met voorwerk vir ’n uitstalling, ’n biënnale waarvoor kunstenaars werk onder die titel "indeks en roetekaart" sou lewer.

Om en by hierdie tyd het Werther al hoe meer van sy tyd in ’n berghut deurgebring in ’n plantasie by ’n groot opgaardam in die binneland – vhy was besig met die skep van ’n ingewikkelde ensiklopediestelsel as hulde aan bedreigde en verdwene tale. Elke inskrywing sou op spesiaal behandelde inheemse plantmateriaal wees waarop hy ’n Latynse naam sou aanbring en dié in soveel van die tale wat in die voorafgaande eeu verlore gegaan het, soveel as wat hy daarop kon inpas. Dit skakel in by ’n komende rondreisende uitstalling oor invloede en dinamieke op en deur Esperanto. Verskeie kunstenaars verken daarin aspekte van die verdwene staat van Neutraal-Moresnet. Werther se bydrae noem hy ’n uittreksel uit Moresnet se presidensiële biblioteek.

Ek was saam toe hy na Antwerpen se galery vir moderne kuns is waar die uitstalling vir eers gehou gaan word. In die ruimte waar die Neutraal-Moresnet-verkenning sou wees, was in hierdie stadium  ’n uitstalling van die rolprentmaker Lars von Trier, sy eerste werk vir ’n galeryruimte:  Op ’n afstand is ’n groot diamant in ’n glaskas. ’n Ent daarvandaan hang ’n kopstuk aan ’n koord uit die plafon. Wanneer jy die kopstuk opsit, verskyn die diamant voor jou en jy kan daaraan draai en selfs daarin rondbeweeg. Dit was ’n fantastiese ervaring, met sublieme musiek aan die binnekant van daardie gletseragtige wêreld. Ek wou onmiddellik sy agent opsoek vir die videograaf se kontakbesonderhede om meer te wete te kom van die manier waarop hy daardie landskap in die diamant geskep het.

Werther het nou in die loop van die dag voorgestel ek trek die deur van my groot ou stadswoonstel agter my toe, klim op die vliegtuig en reis na ’n plek waar die nuwe en ou wêreld mekaar nog vind, maar op ’n ander manier as dié wat aan ons albei bekend is. Hy het die vermoede uitgespreek dat ek meer sleutels sou kry as ek nader aan die natuur beweeg. Hy was van mening dat my pakhuis vinniger sinryker sou word as ek eers uit die stad is. Ek het by ons gedeelde galeris te hore gekom van ’n plek wat nie aan ’n kunstenaarsverblyfprogram gekoppel is nie, maar al die voordele van een bied en geleë is aan die rand van ’n buurt waarby tegnologiereuse intrek en dit brei as voorstudie vir die stad van die môre.  

Die vlug was lank, maar toe ek met my huurvoertuig die opset nader, het alles daar my moegheid laat wegval. Die voertuig kon sonder moeite vorder deur die berge tot aan die see, maar daar moes ek dit vir die duur van my verblyf parkeer. Die slimbuurt is net vir voetgangerverkeer ingerig tot net voor die kaaie en sloepe van ou skeepswerwe aan ’n sanderige baai.

Hoewel die geboue afgeleefd daaruit sien, het die plek ’n soort elektrisiteit daaraan, ingeprent deur die moontlikhede wat dit inhou. In ’n koffiewinkeltjie in die hoofstraat sit ’n paartjie en kaats ’n spokerige bal tussen hulle selfone wat hulle aanwend soos rakkette. Ek het gou opgelet hoe gewild bluetooth-pingpong is. Iemand anders was gesonke in ’n gesprek met ’n miniatuurweergawe van iemand op ’n kampeerstoel wat uit die skerm van ’n foon opgewip het. Ek kon nie onderskei of dit ’n mens of virtuele assistent met vakansie is nie. As ’n foon lui of vibreer het iemand gekyk daarna of dit ’n ontvouende toertjie is.

Hoewel dit kort voor my aankoms gesneeu het, is die sypaadjies broodwarm danksy spesiale stroke in die teer. Hier kon jy elke dag op dieselfde plek in jou gunstelingplek gaan sit, sal die kelners weet jou telefoon is die afgelope tien dae sewe keer daar opgemerk en die "bespreek"-hologram voor jou sal wegglip wanneer jy dan ’n bestelling plaas. Op duisend maniere en nog talle ander word gemaksones hier tegnologies verfyn.

Ek het stadig gestap deur die waterfront van die buurt. Aan dik glaspanele tussen paaltjies verskyn en verdwyn munisipale boodskappe en weervooruitsigte. Dit lyk soos ontvouende grafeerkuns eerder as teks op ’n skerm. Dit dra geensins by tot ligbesoedeling nie. Daar is iets ingestudeerds in die terloopsheid van die hele buurt, soos die stel van ’n rolprent waar die verfilming opgehou het vir die dag maar alles en almal steeds op bystand is.

My blyplek, ’n hut, is hoër op, aan die bergkant, anderkant hierdie stad in sy voorproewe, die laboratorium vir nuwe dinge. Gaandeweg let ek nog van môre se onderdele op: die volop sonpanele, sommige is deure of afdakke, daar was nog talle dinge wat ek wou bekyk. Ek wil eers weer aan die werk kom hier waar dit vir my voel ek is nou nader aan die buurt van die pakhuis se aard, die skuur tussen hier en nêrens, maar waarbinne ’n wêreld weg- of reggepak staan. Om watter rede, dit weet ek nie.

Gou word die straat aan die see ’n buitewyk en word die pad van herwonne plastiek en teer weldra ’n goeie ou stofpad, ’n stuk wêreld net buite die grootste deel van die begroting. Op pad na die hut kon ek op ’n draai nog kyk oor die water aan die hawebuurt. Daarna draai die pad weg en boontoe en word dit ’n boswêreld met wandelpaadjies. Die wifi-sleutel vir die boshut herken my bespreking en die deur gaan oop toe ek die ou koperknop wou draai. Hier kon ek ongestoord werk, met alles wat ek maar kon nodig hê vir die twee weke: ’n paraffienstofie, ’n yskas wat laai van ’n sonpaneel op die dak. In die huis was nagenoeg alles van hout, van die toonbanke, tafels en stoele tot die rakke en vensterrame en die breë halftoe stoep. Fyn veseldrade en koperstroke was half onopsigtelik in die rame aangebring. Die volgende oggend sou ’n afleweraar vir my koffiebone, melk, margarien en piesangbrood bring wat ek kon rooster. 

Ek het my rugsak uitgepak en my notaboeke en skootrekenaar opgestel. Laastens het ek die rolindeks uitgehaal. Onmiddellik het dit meer tuis begin voel. Ek sit koffie wat ek saamgebring het op die stofie en haal my aantekeninge uit. Die middag gooi ’n gloeiende skerm in vier panele op die groot werktafel.

Laatmiddag is ek af dorp toe om te gaan bene rek. Dit is opvallend en vir my vreemd om soveel mense in die skemer te sien, elkeen wat met spookagtige beelde praat wat glim en dan wegglip. Die fone waaruit die hologramme opwip en uitklap en in terugglip het terselfdertyd iets hiperaktief en besluiteloos daaraan. Vreemd genoeg voel hierdie buurt nader aan my nagrusplek as wat ek dit ooit elders al ervaar het.

Die eerste aand, dit moes die vars lug gewees het, het ek sonder meer aan die slaap geraak. Ek is in ’n gans ander deel van die pakskuur as waar ek al tevore was. Hier staan nie juis rakke nie, maar is boeke van allerlei groottes en vorms losweg gepak in stapels. In amperlig sien ek stapels met merendeels groen en bruin buiteblaaie wat oorgaan in rondgestrooide boeke van ’n ligte kartonkleur en dan is daar dié met ’n marmering van wit en blou aan die buiteblaaie. Ek loop daarheen en slaan lukraak ’n hardeband oop. Al die bladsye is blou. Op van hulle is baie ou afdrukke van visse en dan weer verderaan is bladsye donker van ’n aanhoudende, bewegende skrif. Sommige boeke het geen visse in nie. Ander het net wiere in. Ek kon die skrif nie gelees kry nie. Is dit ’n ensiklopedie van ’n baai, gepak in sy eie studieveld?

Die boeke met die sandkleurige omslae is almal bundels met die bladspieëls van gedigte waaroor die woorde bly fluister en beweeg in wat vir my voel al die tale van die wêreld moet wees. Die grondplan het die gegewe herhaal – die smal strook lettertipes tussen twee groot velde, aan die een kant die land en die ander die see met sý ensiklopedie. Ek kry geen bladsy te lees nie, maar herken in die bewegende, dowwe letters die inskrywings wat ek so in die tabelle op kantoor aan stofdeeltjies toegeskryf het.

Al het ek my notaboeke reggepak en alles opgestel, het ek vir eers net aan Werther se raad gedink en toe besluit om eerder te gaan stap in die berg as om verlore te raak in die werk wat nog maar vorm aanneem.

Die pad klim steil na die welkome onherbergsaamheid van ’n stuk natuur. Kort voor lank is die laaste berghut agter struike en het die struike aangroei tot groter struike en dan bome. Die paadjie word ’n vae stippellyn. Bakens moet ek self aanstip. My foon se landkaarte kon nie sin maak van waar ek is nie en ek skakel dit af om die battery te spaar.

Nog vir ’n tyd lank klim die roete en ek bereik ’n klein plato. Daaragter sug die berg weg tot ’n lang dal vol grasse en verderaan ’n bos so groot soos ’n stuk plantasie. Hier was geen paadjies nie en geen selfoonkamera sou reg kon laat geskied aan die geure en gevoel van die omvouende panorama nie. Ek het afgesit na ’n bos met hoë bome.

Van naderby sien ek die stamme is verder van mekaar af as wat ek gedink het. Ondervoets word wat vir eers lyk na stukkies ou geroeste draad, gou ’n stil tapyt van dennenaalde. Dieper in die bos gee dit pad voor mos en varings. Die dennenaalde vorm ’n natuurlike netwerk van paaie, dan wandelgange.

Ek het seker ’n kilometer ver by die bos in gevorder toe die loom ligkolle verspikkel. Ek loop tot by ’n plek waar dit sterk skemer is en sien ’n reeks dun gare wat helder skyn op een kol. Ek stap daarheen. Die gare groei aan tot ’n skitterende blok, ’n muur, en toe sien ek dit is ’n helder leegte.

Hier diep in die bos is ’n klipperige strook waarop niks groei nie onverwags. Kolle water daarop laat wolke verdubbel. Dit strek weg na weerskante, ’n soort natuurlike brandpad. 

In die middel van die klipperigheid kom ’n man aangeslof, ’n hekwag by ’n gans ander wêreld. Hy het ’n verweerde manelbaadjie en swart broek aan en in een hand hou hy ’n afgeleefde hardebolkeil. In die ander is ’n lang staf. Ek kon hom duidelik sien teen die stamme agter hom, al was hy deurskynend en moeg.

Ek het nie geroer nie. Hy het sy hoed argeloos neergesit in ’n vlak poel in die klip en aanhou loop. Uit die bos agter hom, aan sy linkerkant, het ’n klaasneusmuis, ’n bruin swaan en ’n grys hert getree en hulle het saam uit die hoed gedrink. Ek was oorbluf. Die man het intussen ’n entjie aanbeweeg, tot by ’n langwerpige stuk dooie hout. Hy het sy loopstok deur ’n knoets gesteek en sy baadjie uitgetrek. Hy het dit aan die lang loopstok vasgemaak en toe is dit of ’n bries opsteek - ek kon sien die manelbaadjie wapper soos ’n seerowersvlag al kon ek self geen wind voel nie. Toe begin die stomp stadigaan opstyg, maar net ’n entjie, en sluit aan by ’n onsigbare lugstroom bo die songebakte klip. Ek tree na vore in die oopte en sien die man vorder vinnig na die kim, gou ’n stippel wat wegraak in die natuurlike gang in die bos.

In my verwarring het ek het die bome aan weerskante van die klipperige rif aangesien vir groot groen marmermure water. Toe ek terugdraai, het die hoed versteen geraak tot ’n natuurlike ronde vorm in die klip. Van die waterdrinkers was geen teken meer nie. Ek het oor die natuurlike grens van klip – wat ook geen klip is nie – getree na die dieper bos waarin die muis, die swaan en die takbok verdwyn het. Dit is gou weer donker onder die digte blaredek, maar aan hierdie kant van die bos is konstellasies ligpunte wat die indruk wek dat die bome na mekaar toe buig. Natuurlike vertrekke, houtgrotte. Die ru sirkels is aan mekaar verbind met die gangtapyt van derduisende dennenaalde.

Ek stap van die een leegte ’n volgende binne. Tussen die stamme aan die oorkant van een van die bossale sien ek beelde van wat ek dink ’n projektor moet wees. Takbokke beweeg stadig aan agter ’n skool visse wat swem in die vorm van ’n soort bewegende skrif wat vir kwiksilwer oomblikke op ’n pointillistiese weergawe van ’n swaan lyk. Ek stap onmiddellik nader en trap amper in ’n hittelose groen vuurtjie waarrondom naaldekokers malend uitkring soos die kolking in ’n sterk stroom. Sou ek in ’n projek van die slimbuurt wees?

Terwyl ek my gedagtes probeer bymekaar kry, spring ’n massiewe hert vanuit ’n buursaal vinnig deur my. Ek skrik en proe bloed. Vir ’n oomblik dink ek hier was die een of ander impak, maar ek kom gou agter ek het net my lip raakgebyt.

Ek is verreweg meer verwonderd as wat ek verskrik is. Ek herken iets aan hierdie wêreld met sy natuurtapyt, bossale en bewegende wonders. Die stippels lig en verrassings herinner my op ’n onbepaalde manier aan ’n gans ander soort bergruimte, die eie lewe van die pakhuis. Ek het geen idee hoe die twee by mekaar aansluiting vind nie.

Uiteindelik kom ek op lukrake wyse uit waar ek begin het, by die hoeddam. Ek kies koers deur die bome waar die wêreld se bos eienbaar bosagtig is, met regte stamme, egte groen mos en steeds die stil tapyt van denne. Niks meer nie en niks minder nie.

Terug by die struiksoom net bo die hutte kry my foon weer ’n sein nadat ek dit aanskakel. Ek daal af na die hut en sien daar is kos afgelewer - twee dae se etes staan op die stoep. Ek kyk na die datum op my foon. Twee dae het verloop vandat ek bergop is. Alles word stadiger soos wat ek akklimatiseer ná my tydraaisel, my staptog buite tyd. Hoe het ek dit reggekry om so lank daar rond te dwaal? Ek het die deur moeg agter my toegetrek.

Vir die eerste keer wat ek kan onthou, is daar nog voorwerpe op die rakke op ooghoogte. En is daar beweging. Van die kruike en vate flits en verander dan van vorm of verdwyn of kom nader. Dan is dit weer ’n ruk lank stil. Dit verg ’n hele tydjie voordat ek bepaal daar moet ratwerk in die pakskuur wees wat in beweging gebring is. Die spel het verander nog voordat ek kon weet wat dit is. Ek begin aantekeninge maak, nadat ek moeilik wakker geword het.

Ek herken in daardie netwerk van bossale ’n soortgelyke plek as die pakskuur, maar dit woel van die onliasseerbare lewe, dis drome wat by kere in tyd en ruimte in- en uitglip, ’n dal vol oeroue simbole. Hoe lank is dit al daar?

Vandag kan ek skaars my eie handskrif lees. Dit verg twee of drie keer se herlees voordat die woorde stillê in hul bedoelde betekenis.

Ek kry die inval dat dit ’n goeie idee sal wees om vir my rolindeks se liasseerkaartjies ’n matrys te probeer skep. Die nag voel ek weer die ratwerk aan, maar die raklewe het tot stilstand gekom. 

Ek stap af na die buurt vir ’n verandering. Ek kom niemand teë wat ’n gesprek met ’n mens  aanknoop nie. Dit is feitlik onmoontlik om kontak te maak met diegene wat met hologramme verseil geraak het.

Ek keer terug ná ’n koppie koffie in ’n restaurantjie. Twee mense het daar sit en bluetooth-pingpong speel, maar vir ’n oomblik het ek daar helder voor my ’n verwarde hert sien spring, van die een foon na die ander en terug. Asof iets van die [unknown error] bos of die pakhuis nog met my praat [try to refresh page].

Terug in die hut begin ek met die oorskryf van die woorde wat saam met die rolindeks gekom het. Altans ek dink dis woorde, maar dit sou akronieme ook kon wees. Die oorskrywery vra om noukeurigheid eerder as begrip (dit is dieselfde rol oorgedra tussen generasies intikkers, versoeners, oorbruggers en optekenaars). Dalk was die woorde en besonderhede in die rolindeks ook met fyn aandag aan besonderhede oorgetik en opnuut gestoor? Dit sou in die tagtigerjare kon wees wat dit aangebring is toe ’n instelling se houers indekskaarte vervang is met die ietwat anderste formaat van die rolindeks.

Eintlik is indekskaarte vandag steeds die beste opsie. Dit kan nie per ongeluk in hul totaliteit uitgevee word nie (buiten as daar ’n brand of oorstroming is). Dit is net vatbaar vir mot en roes en daarteen kan ’n mens vandag immers beter reëlings tref. Van indekskaarte, na rolindekse soos dié wat moeiliker te stoor is. Hoekom? En toe terug ná iets wat moontlik die indekskaarte voorafgegaan het – dalk die keuse om lang lyste op papier te maak? (Nota vir voorwoord van uitstalling: Om met indekskaarte in kaart te bring wat nie meer te karteer is nie. Die buite(ont)wyke van begrip.)

Hier raak die rolindeks op sigself interessant: Niks lyk vreemd of gejaag aan die handskrif op die klein harde geel kaartjies nie - dit is netjiese drukskrif, maar die woorde is volgens my aan geen herkenbare taal te koppel nie.

Ek skryf die woorde sorgvuldig oor en kontroleer die spelling.

Dit is al weer laatmiddag. Waarheen is die tyd?

Ek blaai deur wat ek geskryf het. Uiteraard is nie alles bruikbaar nie. Ek besef dit. Ook dat die rolindeks al hoe meer “ongekaart” raak. Ek sit en maak aantekeninge, sketse, my aandag geheel en al op die tafelblad voor my. My stip beskouing laai die rolindeks met moontlikhede.

Ek vul die woorde in op die skema wat ooreenstem met waar hulle in die rolindeks voorkom. En dit lýk ook soos die musiekpapier van ’n draaiorrel. Ek blaai ingedagte aan die rolindeks wat rus op twee driehoekies. Ek is soos iemand op soek na ’n verre radiostasie. Al hoe meer soek die woord ding en die ding duidelikheid. Aangespoel deur verbeelding word dit soortname in die branding tussen gestrande letters en seë van betekenis, name op vergeet se verskuiwende plattegrond. (Nota oor formulering en betekenis: Woorde het, meer nog as die suiwerheid van die woord self, ook die integriteit van die juisste konteks nodig, sodat dit kan uitwaaier in verhale.)

Ek onthou ’n beeld soos ’n herinnering, dat die bries die rolindeks stadig uittel by ’n venster en hoe dit speels dobber en wei op die naaste bosse en klip. Dit kom tot rus met een kant in ’n vlak poel water asof dit drink of daarin kyk. 

Die rolindeks is groter as die som van al die inskrywings en toepassings daarvan saam. Die rolindeks wag vir niemand nie. Die rolindeks is. Dit is soos wat my rusland se pakskuur is. Dit is ongestoord en vol stilte. Dit spreek net hard tot die verbeelding. 

’n Manie van David Rockefeller: Luidens berigte het sy Rolodex so uitgegroei dat dit glo ’n eie aparte vertrek geverg het. Hy het trouens ’n spesiaal-vervaardigde Rolodex gehad in die Rockefeller Centre in New York. En op elke kaartjie was die datums en plekke van vergaderings asook persoonlike besonderhede – by die 200 000 van die kaarte, elk 3 by 5 duim groot, oor mense soos Betty Ford, John F Kennedy, Nelson Mandela, Neil Armstrong en Bill Gates. Later van tyd is die hele versameling gestoor in liasseerkabinette in kamers op sy landgoed Kykuit.

Die vreemde langwerpige rolindeks tol stadig in my skuur, hoog bo die pakhuisvloer. Ek kan dit amper sien. Die kaartjies is soos stukkies spesiale plastiek wat data tussen hemelruim en die aardse gang van sake verwerk en/of invorder. Vanaand is dit allermins stil – ’n geruis van baie papiere klink uit die rolindeks soos wat dit uitsendings maak op allerlei frekwensies. Sterk en swak seine. Klank en geraas. Die rolindeks is ’n vreemd geveerde voorwerp, dit argiveer data en buig die kyker se verbeelding daarheen.  

Ek haal diep asem en kom tot ’n besef: Ek het in ’n soort barok van die gees tereggekom. Ek het weggeraak tussen die goedafgewerkte kruike van verbeel, die slordige liasserings van hersenskimme, die beloftes van hologramme en die gissing van vermoedens. Waar ampergramme en ander woorde waak teen die skyn van afdoende, of selfs enige, betekenis. 

Ek gaan tot laat slaap môre want ek moet baie dinge doen. Noudat die pakhuis tot meer as een bergplek aangegroei het, begin ek iets begryp van my aandeel in die spel wat ek nietemin nie verstaan nie. En die spel speel vir ’n verandering saam – ek betree die skuur dig teenaan die plek waar die rakke en die see ensiklopedieë ontmoet. Moedig begin ek die onbegonne taak om die eerstes in die naaste vlak rakke te pak.

****

Terug uit die buiteland sien ek die toekoms begin opdaag: ’n Maatskappy adverteer bluetooth-pingpong wat net op ’n nuwe soort foon gespeel kan word.

Ek dink onwillekeurig terug aan die hert wat heen en weer tussen twee fone spring. Nou, vir die eerste keer, kry ek rofweg ’n idee vir wat ek vir die biënnale gaan aanpak. Ons idee van die totaliteit van kennis is so naïef soos ’n ensiklopedie se aanspraak op ’n begin, middel en einde van ’n onderwerp. My interne rolindeks blaai tot by wat ek nie eens geweet het ek soek nie: Die uitstalling in Antwerpen, die telefoonnommer van Lars von Trier se videograaf.

(Vir die voorwoord vir die uitstalling: In ’n ingewikkeld geworde wêreld gryp die kunstenaar alles aan vir leidrade soos wat hy ’n groter konteks met beelding probeer peil, die regte woorde en betekenisse probeer vind om iets mee te sê oor die tydsgewrig. Ná ’n verkenning van verwarring en die opskryf van soorte logika en formate wat geredelik pas in die droomfabriek, sowel as die pakskuur van die onbewuste kom dan ’n elegie tot stand oor die tradisionele, bekende maniere waarop die mens kennis dissemineer. Hierdie werk soek die rol van die kunswerk op in ’n tyd waarin soveel verlore gaan in die opeenvolging van formate.)

’n Reuse-hert beweeg stadig deur die lug na die kyker. Dit spring van papier, na ’n glibberige strook mikrofiche en dan deur ’n rekenaarskerm waarna dit bestaan uit ’n digte, spokerig gloeiende string ene en nulle in die vorm van ’n hert. En wanneer die bok teenaan die kyker se kopstuk is, gee die tekstuur van suiwer data mee en klink gewyde musiek op, in ’n ruimte so donker soos die binnekant van ’n rekenaar of ’n geslote katedraal. Gou begin dofweg die binnekant van ’n argief sigbaar raak. Boeke sonder die ordening van swaartekrag sweef stadig daarin en klim in onsigbare strome. Daar waar die hart van die hert is, is die enigste vaste rak. Daarin pryk ’n volledige stel boeke, rotsvas en werklik soos ensiklopedieë.

As iemand een van daardie boeke sou afhaal om deur te blaai – die algoritme sal sorg dat nie elke kyker die geleentheid kry nie – krioel fyn ystervylsels op die bladsy wat dan orden en begin met die woorde: "In die ruim donker hang verre stippels lig. Oor alles is egter die sagte grys van ’n maan buite sig. Dit moet ’n pakhuis wees, hoewel ek geen mure kan sien nie en die dak net vermoed. ’n Ganse wêreld staan hier weggepak."

Lees ook

Meneer Vraagom skryf weer

Die robot

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top