Meneer Vraagom skryf weer

  • 1

Uit die akwarium in die waterfront tree ’n man met ’n sopnat geel snyerspak aan. Hy stap deur lang toue mense, weg van die ingang. Hy lyk buite weste, reddeloos soekend. Sy pak is ’n donker mosterdkleur van al die water en sy skoene die blinkswart van uitgespoegde waatlemoenpitte.

*

Jare gelede is in ’n plaaslike koerant oor ’n sekere mnr Dirk Vraagom berig. By ’n onduidelike foto kan ’n mens nog die onderskrif grootliks uitmaak. Dit lui:

Mnr Dirk Vraagom, ’n onderwyser, is die voorsitter van ’n nuwe inisiatief vir leerkragte. Hy is sedert die stigting van die program vir verdere opleiding van taalonderwysers aan die stuur daarvan. Onlangs het sy eerste bundel gedigte, Roeslig uit ’n oudaknag, by die nuwe uitgewery van [onduidelik] verskyn. "Ons moedig die onderwysers aan om kreatief te werk met die Afrikaanse kurrikulum, met opstelle. ’n Notaboek en pen kan jou seggenskap gee en ’n paspoort na ongekarteerde wêrelddele wees," het hy Dinsdag by die geleentheid in die [ink te lig om te lees] gesê.

Sedert sy bundel destyds uitgegee is, het mnr Vraagom baie geskryf, maar nie weer daaraan gedink om iets vir publikasie aan te bied nie. Hy het aan sy destydse uitgewer en huisvriend Patrick verduidelik hy ís wel ’n digter, maar nie die soort wat hy dink die tyd van hom verwag om te wees nie. Destyds, so voel dit vir hom nou, kon hy die gedigte nie op papier kry nie, hoewel hy net so briesend soos soveel ander was. Deesdae is dit egter anders gesteld met hom. Nou gaan skaars ’n dag verby of die eerste weergawe van ’n nuwe gedig vind sy weg na papier. En sy woede is anders; dis geslyp. In ’n vers van hom wat op LitNet verskyn het nadat nog ’n universiteitsbiblioteek en administrasiegebou aan die brand gesteek is, skryf hy uitgebreid oor "kennis geliasseer in ligte laaie".

Soveel jaag hom die harnas in deesdae. Soos op die dun nuuslint op die skerm van ’n mediakanaal bly speel opskrifte deur sy gedagtes. Oor armoede, oor die potsierlike en gierige aanstellery van tegniek bo inhoud in onderwys, oor die vandalisme aan universiteite en oor suiwer nasionalistiese uitsprake vanuit die regbank waar jy sou hoop die land se eie tale beskerm sou word. Wéér ’n tyd wat gemeenskappe ver-mink word, en steeds mag met al sy uitbuitings. Optredes wat daarop gerig is om skole onregeerbaar te maak. Een van die ergste etiekdroogtes die afgelope 100 jaar (want vandag, net soos gister, wéét mense wat is reg en wat bly verkeerd). Die portjacksons van die politiek kaap ons almal se drink- en leefwater.

’n Gedagte begin by hom as reëls op pad na ’n gedig, dan loop dit uit op ’n verhaal, groei aan tot ’n lesing of toespraak. ’n Leeftyd se koerante het onder in sy verbeelding ’n laag leesstof gevorm, en nou blaas die aktualiteit dit aan tot vorme en lewe: ’n Wolk vlermuise klits die lug bo ’n skryftafel waar ’n skrywer ook maar blindelings die werklikheid met sy eie radar op papier probeer aftas.

Hy skryf tot lank nadat almal gaan slaap het oor ’n wêreld onder twee regerings wat niks van hom en sy mense wil of wou weet nie.

Twee bestelle ná mekaar het van sy mense probeer skimme maak. Hy skryf stories vir mense om hulself in raak te sien. Hy lees in ’n NRC Handelsblad ’n stuk getiteld “Spoken word”. Vir eers sien hy dit aan vir ’n soort Nederlands wat op Afrikaans lyk, maar kom dan agter dit is Engels wat net so oorgeneem is. Vir hom is daar nou egter ’n verband tussen die “spoken word” in die verskeie tale: die Engelse “spoken word” vra om perkussie, persoonlikheid, onmiddellikheid. Boeke is plekke vir onthou en verbeel. Dit het die groter ritmes van geskiedenis, hoe groot of klein daardie verhaal ook al mag wees. Hy wil aan sy mense se stories definisie teruggee in ’n tyd wat mense spoke word.

Sy pen hardloop oor die blad soos ’n insek oor water. Die kringe loop oor mekaar en vertroebel verder in ’n ontstellende simmetrie van lyne wat alles met mekaar verbind.

Mnr Vraagom is ’n woedende, waaksame weervoorspeller: inheemse plekke in bergwindtoestande. Daar is veldbrandwaarskuwings.

Mnr Vraagom is ’n besorgde ekoloog: die stad se soetwaterstrome word al vir jare laat wegsyfer na elders. Die hele biodiversiteit ...

Mnr Vraagom is ’n passievolle argivaris: As niemand dié verhale opskryf nie, wie gaan dit doen? Hoe gaan hulle weet hoe ons geleef het buite die kurrikulum se weergawes?

Mnr Vraagom kom die oggend die Waterfront binne met ’n kop vol aktualiteit, aanbiederstemme in sy ore, idees en verbande wat speel op sy gedagtelint. Hy dink aan die liefdelose bewind wat aan Engels weer en steeds ’n slegte naam gee. Want dit is iets wat eintlik nie soseer met ’n táál te make het nie, maar eintlik alles – wéér – met mag en eksklusiwiteit, ’n vernietigende klassisme van diegene wat wil hê en dié wat nie mag kry nie. Waar portjacksons die wêreld oorwoeker, verdring dit die fynbos.

Daar waar hy sy motor geparkeer het, skryf hy. Hy dink al lank aan die dubbel-sinnigheid van eindrym. Hoedat dit ongerymdhede met sterk ritme en rym verbloem. ’n “Korrupte vorm”, iets soos die politiek.

“Uit die see se notules – 1795–2018”

Aan die branding was niks ongesiens.
Nuwe branders klaar aan diens.
Maar dit is reeds ’n vertekening
Daar was seelug by die ondertekening.
Jy sê dit was nié die see se skuld?
Gewis nie, nog die wind of skulp.
Wat wás sigbaar van die strand?
Was dit skepe? Kon sterre so brand?

II

Gevis uit ’n ou galei:
’n Seekaart met al sy drake.
Soveel in die empire het skipbreuk gely
oor die stand van binnelandse sake.

Hy sou later verder daaraan skaaf. Hy sit sy notaboek en pen terug in sy drasak. Mnr Vraagom het op pad gedink aan destydse gesprekke oor die "taak van die skrywer". Sy standpunt is dat of jy wil of nie, jy iets van die tyd weerspieël, en as dit weer ter sprake kom, ook dan in tye daarna. Dalk moes hy destyds gewoon aanhou probeer het om tog goed aan te bied. Waar is vandag die little magazines?

Hy lees Jonathan Franzen sê dit is ’n dom keuse as die skrywer van gemiddelde talent wat oor byvoorbeeld onwettige immigrante wil berig, ’n roman kies. Mnr Vraagom stem oor eersgenoemde nie saam nie. Hoe kalibreer jy die kronkels van verbeelding? Wéét jy altyd wat jy gaan skryf? Praat hy nie dalk eerder van ’n oorhaastige uitgewer nie? Franzen het dalk wél onbedoeld oor een ding gelyk, dink mnr Vraagom. Gedigte, verhale en essays bied baie moontlikhede vir énige skrywer wat oor so ’n tema wil skryf. Moontlikhede is presies waarvóór die emigrant reis. En dit waarvoor die leser van ’n sekere verhaal kan hoop, is ’n karakter, ’n situasie wat oopgemaak eerder as tóégeskryf word en nie te ver van hulself is nie. En die gedig dan? Dit kan ’n manier van kyk in ’n verhaal wees.

Mnr Vraagom sien dadelik die ontheemde man met die nat pak aan wat soos ’n sak aan hom sit. Dit is of nuusberigte, televisie-insetsels van swerwende, sterwende mense die laaste paar maande, en nóg verder terug, op hierdie enkele man verenig word. Mnr Vraagom sien hom onder die afdak van ’n gebou ingaan, maar hy kom nie aan die ander kant weer te voorskyn nie. Die man lyk op ’n buurman van hom wat tydens klopjagte weggeraak het en van wie hulle nooit weer gehoor het nie. Hoekom dink hy nou aan hóm? Hierdie man is seker goed 30 jaar jonger as wat sy buurman vandag sou wees. Op sy nuuslint lees hy: Vredestyd weer problematies. Tientalle politieke moorde binne enkele jare. Spoken word.

Hoe kan dit wees dat niemand anders die man gesien het en hom probeer help het nie? Wat sou sy storie wees?

Mnr Vraagom drink ’n koeldrank by ’n kiosk. Hy kyk in Robbeneiland se rigting, dink aan bannelinge, dan aan onwettige immigrante. Hy kyk op sy horlosie. Daar is vog onder die glas en dit is moeilik om die wysters uit te maak. Hy kyk op. Die man in die nat geel pak sit nou aan ’n buitetafel by ’n eetplek oorkant hom. Asof hy hom hóór dink het. Die man se pak is ’n donkerder skakering van sy eie hemp. Dis of hy op ’n rare manier ingestap het in die buurt van mnr Vraagom se gedagtes en herinneringe, ’n skakel tussen skakels.

Hy sien die man haal ’n nat beursie uit sy baadjiesak te voorskyn, terwyl hy op sy beurt sy notaboek uithaal. Hy begin onder die eerste weergawe van die gedig met ’n voorlopige titel: “Die man wat niemand wou help nie: ’n verhaal”.

Mnr Vraagom maak notas in sy Croxley-notaboek terwyl die naamlose man wat hy amper herken, maar ook nie, daar op wie weet wat sit en wag:

Aan ’n tafeltjie buite ’n restaurant aan die hawehoof sit ’n man met ’n pak klere aan. Dit stoom in die sonlig. Hy lyk ingedagte, maar besonder ongemaklik. Dalk gekweld. Soos ’n oorbeligte toeris sit en wag hy op ’n bestelling, angstig. Dalk ken hy maar net nie die gebruike van hierdie plek nie.

Waar kom hy vandaan?

Hy het van leegtes ver anderkant die wêreldkaart tot hier gevorder. Van ’n domein waar álles nog niks beteken. Stories en roetekaarte is op allerlei maniere met mekaar verbind.

Mnr Vraagom skommel die letters van woorde en kom só af op sy naam en die omstreke van sy wêreld:

Mnr Maku Wari (akwarium) is oorspronklik van Retwa (water), op die grens van die uitgestrekte wêreld van die Serênn (nêrens), net buite Nisk (niks).

In hierdie eeu, soos in talle wat dit voorafgegaan het, is mense van die Serênn en Nisk uitgewekenes en vlugtelinge. Mnr Maku Wari is geen uitsondering nie. Hy is een van diegene wat onder die vlaag van nie-amptelike verdwynings deurgeloop het. Maar anders as soveel ander mense het hy dit reggekry om te ontsnap deur ’n gat in ’n vragmotor se seil. Retwa het nou ’n ander naam, ’n ander regering en grense. Hy hoor baie dinge daar het dieselfde gebly, terwyl ander dinge verander het. Seker soos maar op elke plek.

Voel hy hom op dieselfde manier soos so baie ander mense vandag ontuis in die wêreld? wonder mnr Vraagom.

Mnr Maku Wari is ’n hawemens. Dit bly vir hom poorte vir ontsnapping, nie vir aankoms nie. Op sy durende reis het al soveel gebeur dat hy op ’n onpeilbare manier uit voeling geraak het met dinge óf dalk net meer opgeneem geraak het in die groot, vreemde hawe van bestaan.

Selfs wanneer hy op ’n nuwe plek aankom, voel dit vir hom of hy nog die ambassade wil bel vir nuus, maar, soos Serênn en Nisk, bestaan die grense van Retwa nog net in die geskiedenis en in die ribbekas van mense soos hy. Die ambassades vind hy nog net terug in briefhoofde en visitekaartjies in die deurmekaar laaie van sy geheue, en in soortgelyke verhale soos dié oor Neutraal Moresnet.

As hy reis dan so goed ken, hoekom is hy vandag so deurmekaar? vra mnr Vraagom hom af. Hoekom is sy klere nat soos dié van iemand wat ten volle geklee in ’n groot bak water geklim het?

Mnr Maku Wari sien ietwat bedremmeld daaruit.

’n Vermoede dan: In hierdie hawestad waarin hy hom wil begeef, moes hy nog ’n nuwe manier van inklaar vind, een in pas met sy gemoed.

Dit is vandag net té warm, dink mnr Maku Wari. Kraaie gly soos hompe melasse van kragdrade af en verdamp voordat hulle teer word. Die kim swem. Op die breë kade los alles in dynserigheid op. Die see klots mompelend. In hierdie ongemaklike omstandighede sit hy aan die windstil tafeltjie en wag. Vir iets. Vir niks.

Nog onlangs was iemand saam met hom op die reis. Die paadjies na talle geliefde plekke in Retwa sou begin toegroei het, as sy nie ook daar was om dit saam met hom weer te verbeel nie. Reeds in sý herinneringe kom onmoontlike dinge by. Verlange is ’n spookpyn.

In die diorama van toerisme is hy die ene stilsit en uitkyk oor die see. Die seemeeue krys eers weer as hulle ’n ent verder van hom af is. Vog verdamp uit sy baadjie en laat lyk dit soos die maanhare op die spook van ’n leeu.

Hoe sou mnr Maku Wari die akwarium beleef het? wonder mnr Vraagom. Het dit van hom ’n ander mens gemaak?

Hy lê en hyg aan die rand van die poel. Hy het op ’n plek tussen bekende stories beland. ’n Plek waar die wêreld anders geword het as dié wat hy geken het. Hy het geen idee hoe hy daar beland het of wie hom uit die water gered het nie.

Hy skrik soos ’n bewustelose wat bygekom het. ’n Ou man met ’n duikpak aan kyk besorg na hom. Hy help die man orent, steeds onseker, sê dan in ’n kalm, vertroulike stemtoon: “U gaan hopelik nie weer so iets probeer doen nie, nè?” Mnr Maku Wari gee hom stadig en hakkelend die versekering dat sy optrede eenmalig is en sê dat hy ingeval het nadat hy uit nuuskierigheid daar rondgekyk het. Hul Sakwoordeboekengels verwring hul aksente. Die een kan die ander nie plaas nie.

Mnr Maku Wari bereik ongemerk die uitgang. Sy nat kaartjie en “duikpak” van linne laat egter niemand ’n wenkbrou lig nie. Agter hom is die akwarium nog net ’n galery van stadig vlieënde vorme soos los gedagtes. Hy dink aan die ontmoeting. Asof dit ’n manier van inklaar was soos iets in ’n droom.

Nou sit mnr Maku Wari aan die ronde stiltetjie van ’n wit tafel aan die kade. ’n Bries vee die ongemak weg van sy slape.

Mnr Vraagom sien die man kyk weer in sy beursie. Sien hy daar ’n paar silwer vissies flits? Maak hy sy oë toe, weer oop en sien dan muntstukke? Die tienrandnote vou seker soos bedrukte wiere oor die sente. Hy is uit die akwarium, maar ook nie.

Mnr Maku Wari vermoed hy is al te lank buite op die hitte van die dag. Hy sit en word al hoe ongemakliker aan die karakterlose tafeltjie op hierdie bladstil dag waar die somer helder advertensies vir allesverterende mooiweer deurgee.

Van die man se baadjie, broek, hemp en das blý krul lui en wierend stoom, sien mnr Vraagom.

Sy gedagtes swem sonder vasmeerplek: die wêreldkaart van sy jeug. Die baie tale van sy grootwordwêreld. Later, gedigte voorgelees op ’n berg waarbo ’n buitensporige sekelmaan die nag tot ’n gaas van sterre geprik het.

“Meneer, ek is bekommerd u kry sonsteek. Kan ek u vra om op die stoep te kom sit?” vra ’n kelnerin, asof mnr Vraagom haar by die storie ingeskryf het. Hy is naby genoeg aan hulle om te hoor iets simpatieks slaan deur in haar stem.

Hy lyk effens duiselig toe hy regop staan. Die strome en getye agter sy ooglede voel besonder sterk. Hy volg die kelnerin. Toe hy op die groot stoep gaan sit, is sy pak reeds aansienlik droër.

Agter hom is hy bewus van iemand wat sit en skryf. Dit gebeur gereeld: Jy dink jy herken iemand, maar dan is dit iemand anders. Verder is die plek vol van die geur van platgestrykte servette, die koelte van wind in skaduwee. Die helder wêreld daarbuite geraam in donker vensterbanke. Die hemel dobber die see vol.

Mnr Vraagom sit ’n haastige punt aan die einde van die sin en kyk op. Mnr Maku Wari kyk nie links of regs nie.

Waar die maanhaar van ’n spookleeu was, is nog net ’n donker kol oor die skof van sy baadjie. Nou lyk hy al amper soos menige toeris hier in hierdie hawerestaurant. Hy het al die servette op sy tafel na eenkant opsy geskuif. Sy koffie en ’n lang glas water is voor hom.

Van so naby af kom mnr Maku Wari nou skielik nog duideliker in kaart. Nooit sou jy storms van dié see vandag verwag nie. Dolosse strek weg in ’n betonkrans om die baai. Onstuimige weer was hier nooit nie.

Iets soos ’n magneet het vir lank tussen hulle voortbestaan, ná die verdieping-hoë deinings, ná die dans op die buitenste rand van verbystering. Hy verlang op ’n manier waarop sterk emosie behoue bly êrens in die ink van ’n neergepende gedig. Om aan haar te dink is om na Retwa te verlang.

Soos gesprekke al hoe verder van die naaste ambassade af, het hulle kontak verloor: al hoe vreemder name, al hoe meer dowwe kolle en swak verbindings. Totdat ook die foon stil was. Twee mense deel ’n droewige raaisel. Hoe kan ’n stuk land net wegraak?

’n Kelnerin het een van die buitedeure toegetrek en dit is nou donkerder binne. Buite maak die son die wêreld oorbelig.

Hy is steeds tussen verhale, besluit mnr Vraagom. Hoeveel mense, bure en familie het in ’n skeur tussen die groter verhale beland? Te veel in sy eie buurt, in elke gemeenskap. Jy kan vandag hele streke se mense daar vind.

Mnr Maku Wari betaal en stap uit in die laatmiddag. Hy loop tot op ’n plek wat uitkyk op ’n gedeelte van ’n droogdok waar ’n groot, verwaarloosde geroeste passasierskip is. Laat strale skyn honderde sterre, sommige so groot soos mossels aan die romp. Die naam het al afgeroes. Hoe kan só ’n skip nog die droogdok haal? wonder mnr Maku Wari. Winsgewend kan dit nie wees nie. Die gevoel van hoop is vir hom ’n vreemde, gedempte skok. Die besef dat hier mense is wat sal bou uit liefde, het hy nêrens meer verwag nie.

Van êrens murmel note uit ’n klankversterker. Op die breë kade los alles op in dynserigheid. Vir mnr Maku Wari is die blues nou helder en weids. Hy gaan maak hom tuiserig op ’n bankie onder ’n koorsboom.

’n Ent verder teen die kaai op is die kitaarspeler, mnr B'lesu Kaitra (blueskitaar). Hy het ’n wegwipsnor van suiwer seesproei en ’n middelpaadjie soos meeuvlerke. Sy oë is bewegende inlegwerk, asof dit kyk, maar nie sien nie. Sy hele wese hou hy skuil agter ’n masker van ingestudeerde toerisme; net die musiek is van hom. Mnr Maku Wari sit en soek na beskrywing, na ’n eie geleier vir sy indrukke en storie. Alles voel so onderweg.

Stukkies as dwarrel verby hom. Aangewaaide ink. Iets wat van ’n bladsy losgekom het. ’n Sterk basuinwind het opgesteek asof dit alles wil wegvee. Vir mnr Maku Wari het dit vir so lank gevoel of hy probéér inklaar by ’n poort waar hy nog nie was nie dat sy storie by binnelandse sake verkeerd geliasseer geraak het. Tussen versin en heroorweeg deur het iets hom bly ontgaan. En nou sit hy verwonderd en kyk na ’n ou uitspansel aan die kant van ’n skrootskip met die seker wete dat versterking en ’n nuwe laag verf daarvoor op pad moet wees.

Mnr Vraagom sit regop en rek homself uit voordat hy verder skryf. Die man in die geel pak het al begin aanstap, in die rigting van die toerismekantoor. ’n Verhaal soos dié van mnr Maku Wari het nie ’n einde nie. ’n Wens is soms al werklike blyk van klaarte. Ek sal jou na haar laat bly verlang, mnr Maku Wari, maar die koors gaan verby wees.

Op kragdrade, in koeler weer, sal mossies sit, hier vir die somer uit Sessimo, ook die duiwe van anderkant Weidu. Mnr Maku Wari was verniet bekommerd en onseker. Die klanke wat die mense wat verbystap maak, kry in die komende dae en maande vir hom samehang, raak met verloop van tyd vir hom bekende sinne, word syne wat hy ook bo-oor die basuinwind kan hoor. Dié klein haweland word vir hom ’n poort van woorde na ’n wye wêreld, met alles wat hy nodig het daarin, paspoort en seggenskap.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top