Fokusberoep: Onderwyseres

  • 29

Wil jy ’n onderwyser word vir leerders in die vroeë grondslagfase? Charlotte van der Merwe vertel wat dit beteken.

Hoekom het jy besluit om ’n onderwyser te word?

Ek kan regtig nie eintlik onthou nie! Ek vermoed ek is deur my ouers aangeraai (my pa was ook in die onderwys) en het gehou van die idee om kinders iets te leer. Ek was eers by hoërskole betrokke, vir ongeveer ses jaar. Ek het daarna deur my eie kinders met kleuters te doen gekry en besef hier is ek nou in my element! Nadat ek vir nege jaar ‘n speelgroep by my huis bedryf het en gedurende dié tyd nagraads by Unisa my preprimêre kwalifikasie verwerf het, het ek die graad R-pos by Laerskool Stellenbosch gekry, waar ek nou al vir 17 jaar skoolhou.

Hoe gaan mens te werk om ’n onderwyser vir kinders in die grondslagfase te word? Waar kan mens deesdae onderwys studeer?

Die meeste universiteite en kollegas bied voltydse kursusse aan. By Unisa kan jy dit deeltyds doen.

Wat is die beste aspek van jou werk?

Die kinders is ‘n definitiewe beste! Om elke dag deur vrolike, entoesiastiese en liefdevolle kinders omring te word is ‘n ongelooflike voorreg. Kortkop daarna is my kollegas, saam met wie mens ‘n hegte werks- en vriendskapband opbou. In so ‘n mate dat jy moet oppas om nie jou vriende en familie buite die onderwys te verwaarloos nie, want anders kan jy balans verloor.

En die slegste?

Die administrasie is vir my ‘n berg! Daar gebeur so baie dinge deur die loop van die dag wat jy wil opteken, maar jy is konstant by die kinders betrokke en dit moet maar na skool gebeur. Anders as by die senior klasse kan jy nie na skool die leerders se werk nasien en opteken nie. Deurlopende assessering is baie anders by die voorskoolse fase – dit is meestal jou eie waarneming en minder konkrete assessering, byvoorbeeld goed soos potloodgreep, fisiese vermoëns soos spring en huppel, sosialisering met maats, spraak, ens.

Oor watter karaktertrekke moet ’n mens beskik om ’n onderwyser te word?

Liefde vir kinders, passie vir onderrig, GEDULD, vriendelikheid, volwassenheid, verantwoordelikheid, entoesiasme, verdraagsaamheid, deursettingsvermoë, goeie selfbeeld.

As jy nie ’n onderwyser was nie, wat sou jy graag wou doen?

Enigiets skeppends. Ek het al oa pottebakkery, naaldwerk, juwelierswerk, fotografie en skilderwerk gedoen, maar die kreatiewe werk in graad R sluk op die oomblik alle skeppingsdrang in.

Wie het jou geïnspireer om ’n onderwyser te word? Het jy ’n mentor gehad?

My mentor was my tennisafrigter, Gerrie Berner. Ek het as skoolkind redelik kompeterende tennis gespeel en hy was baie meer as net ‘n afrigter, eerder wat mens deesdae ‘n lewenscoach sou noem.

Wat is die een ding wat niemand vir jou op universiteit vertel het van onderwyser-wees nie?

Hoe ontsettend harde fisiese werk dit is! Nadat jy sommige dae nie ‘n oomblik kans kry om stil te sit nie, behalwe gedurende die godsdiens- en besprekingstyd, is daar dae wat ek sport (meestal tennis) afgerig het vanaf 13:00 tot 17:00. As jy dan by die huis kom, is dit soos vir ‘n gewone ma tyd om kos te maak, huis aan die kant, gawe vrou vir jou man en mamma vir jou eie kinders te wees en dan nog dikwels voorbereiding vir die volgende dag. My drie kinders het altyd gesê dat ek ál my geduld by die skool opgebruik en niks oor het vir hulle in die aande nie, wat waar is!

Wat is die toekoms van onderwysers in Suid-Afrika?

Ai, dit is ‘n hartseer saak vir my. Ek weet die vergoedingstorie is al holrug gery, maar wat wel waar is, is dat as jy goeie mense wil lok, móét jy mededingende salarisse betaal. As ek nie ‘n man met ‘n ordentlike salaris gehad het nie, sou ek nooit kon bekostig om in die onderwys te bly nie. My salaris dek nie eers ons gemiddelde kosuitgawe per maand nie, wat nog te sê van behuising, elektrisiteit, water, vervoer ens. En almal wat so baie te sê het oor onderwysers wat altyd kla oor hul vergoeding, verwag die beste opvoeders vir hul eie kinders, teen ‘n kwart van wat hul in die privaatsektor betaal sou word! Wat onderwysers ook moedeloos het, is die gedurige verandering in kurrikulum, en die gepaardgaande ongelooflik baie ure wat spandeer word om elke jaar of twee ál jou beplanning oor te doen! Ek het so baie simpatie vir jong opvoeders, want as jy nou al, soos ek, lank in die onderwys is, gooi jy nooit weg wat jy weet werk in die klas en vir leerders nie. Jy doen wat die departement wil hê, maar jy behou dit wat werk. Maar om terug te kom na die toekoms: mens sien gelukkig ook pragtige jong opvoeders met soveel entoesiasme en inisiatief vir wie onderwys ‘n passie is, wat jou weer moed laat kry! Maar hoe hulle oorleef, veral die mans in die onderwys, weet ek nie! As ek ‘n boodskap vir ouers kan gee, is dit dit: Koester jou onderwyser, want hy/sy werk elke dag met jou kosbaarste besitting – jou kind. Moenie die onderwyser kritiseer voor jou kind nie, maar bly in gesprek met hom/haar sodat julle saam die beste vir jou kind kan bied. Leer jou kind om opvoeders te respekteer, en moet onder geen omstandighede jou kind se kant kies of toesmeer indien jy weet jou kind is verkeerd nie. Kinders móét leer om verantwoordelikheid vir hul optrede te aanvaar. Wat ek so baie sien, is dat ouers liewer hul kind se maat wil wees as hul ouer! Ek vind ook al hoe meer dat ‘n belangrike deel van my werk as graad R-opvoeder ouerleiding is.

Het jy enige raad vir jongmense/leerders wat onderwyser wil word?

Gaan met oop oë hierin. Jy moet besef dat jy baie hard gaan werk en baie frustrasie gaan ervaar, maar as dit jou passie is, gaan jy ongelooflike werksbevrediging en tonne liefde ervaar. 

  • 29

Kommentaar

  • Waar kan my seun Onderwys studeer, aangesien hy nou in matriek is maar sal nie universiteitstoelating kry met die vakke wat hy tans het nie.

    Hy wil graag by 'n kollege studeer maar ons weet nie waar om te gaan nie.

    Weet wel van AROS maar watter ander opsies het hy? Watter ander kolleges bied onderwys aan vir kinders wat nie universiteitstoelating sal kry nie?

    Byvoorbaat dankie

    Sarie Rowe names my seun Laurent Rowe

     

  • Ek wil graag iets beter as 'n onderwyser word,maar ek het geen ander keuse nie.Ek wil graag 'n Dokter word, maar almal plaas baie druk op my om onderwys te swot ... enige raad vir motivering asb.

  • Wil net graag weet waar my seun verder onderwys kan studeer. Hy is tans besig met sy 1ste jaar by nmmu PE. Hy kom volgende jaar terug Kaap toe maar blykbaar het alles aansoeke hier gesluit. Help asb.

  • Hi,ek woon in kroonstad,wil graag n kurses doen in onderwys,verkieslik graad R of graad 1. Waar kan ek navrae daar oor doen?

    • Ek stel voor dat jy die Vrystaatse Universiteit kontak, of die naaste onderwyskollege. Groete, Naomi Meyer, inhoudsbestuurder

  • CHARMAINE WALL

    EK VRA NAMENS MY DOGTER,SY WIL BAIE GRAAG ONDERWYS STUDEER,IN WES KAAP,WAAR SAL SY GEHELP KAN WORD,BEHALWE BY UNIVERSITEIT.DANKIE

    • Hallo Charmaine, dalk kan jou dogter uitvind watter onderwysdiplomas daar by 'n instansie soos Boland Kollege aangebied word. Groete, Naomi Meyer, inhoudsbestuurder

  • Ek stel belange daarin om n nasorg onderwyseres te word. Baie geduld, baie lief vir kinders. Wat is die value en vlak wat ek moet he? Waar kan ek gaan studeer? Indien moontlik sal ek graag deur die posted wil studeer, sien dat ek in n rolstoel is. Help asb

    • Hallo Michelle, kontak asseblief 'n onderwyskollege of vir UNISA met jou navraag. Groete, Naomi Meyer, inhoudsbestuurder

  • Ek wil vanaf die jaar 2017 onderwys grondslagfase studeer, maar ek wil dit deur die pos studeer terwyl ek werk.

    • Jy kan by Unisa of universiteite swot. Daar is ’n paar instansies om van te kies. Ek het ECD by Skills Pro Fochville geswot en maak nou klaar. Dit is ’n twee jaar kursus met vier kontaksessies.

  • Nestmei Fraser (moeder) Anestia (Dogter)

    My dogter het std 8 maar wil bitter graag verder gaan studeer in kleutersorg onderwys of iets soortgelyks. watter kollege naby die huis in Rustenburg sal u aanbeveel?

    • Is daar enige leser wat hier van hulp kan wees, asseblief? Groete, Naomi Meyer, inhoudsbestuurder

  • Chantel Viljoen

    Ek is 'n gekwalifiseerde grondslagfase-onderwyseres, maar die werk is maar skaars vir grondslagfase-onderwyseresse. Ek oorweeg dit om 'n kursus te doen om kinders te help wat leerhindernisse het. Kan u my miskien raad gee en miskien waar ek so iets kan doen. Sal dit baie waardeer.

    • Google bietjie leessentrums,visuele terapie en impaksentrum. Jy kan ook kyk na wiskunde-sentrum en self jou eie sentrum vir ekstra klasse of huiswerkhulp begin. Sterkte.

  • charmaine wall

    My dogter oorweeg ook onderwyseres grondslag fase, hoe gaan sy te werk? Ons woonagtig in Kraaifontein.

  • ek wil graag onderwys studeer, maar volgens my kwalifikasies moet ek eers 'n oorbruggingskursus doen voordat ek met my graad begin. is dit meer wys, want ek wil dit deur die pos doen?

    • Ek nooi graag enige leser met die nodige inligtng uit om te reageer op hierdie navraag. Groete, Naomi Meyer, inhoudsbestuurder

    • Hallo Stephnie, ja, jy moet 'n kwalifikasie hê. Kontak byvoorbeeld jou naaste universiteit van tegnologie en doen navraag oor diplomakursusse in die preprimêre onderrig - of vind uit by 'n Opvoedkunde Departement by 'n universiteit. Groete, Naomi Meyer, inhoudsbestuurder

  • Goeiedag
    Ek werk tans by die Gauteng Health maar is baie ongelukkig. Ek is 41 en het ’n groot passie vir kinders. Ek wil ’n beroepsverandering maak en wil graag vir graad R of een skool gee. Kan mens by ’n skool aansoek doen en so leer?

  • As ’n mens deeltyds leer vir ’n jaar en voltyds by ’n skool werk kry jy dan ’n onderwysgraad of ’n diploma? Moet ’n mens drie jaar voltyds leer by ’n onderwyskollege of ’n universiteit om ’n graad te kry?

  • Doreen Maritz

    Goeie more ek is al 33in die onderwysberoep het by verskeie kleuterskole gewerk en self ook my eie skool al 10jaar maar het nog nooit gekwalifiseer nie alhoewel al my kennis en ondervinding al baie meer as die boek kennis is sal ek baie graag wil kwalifiseer hoe maak ek asb

    • Hallo Doreen, ek stel voor jy skakel 'n instansie soos Boland Kollege of 'n universiteit soos Universiteit Stellenbosch se Departement Opvoedkunde en vra wat hulle voorstelle is. Groete, Naomi Meyer, inhoudsbestuurder: LitNet

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top