Fokusberoep: Motorjoernalis

  • 0

Wens jy jy kon soos Jeremy Clarkson betaal word om in vinnige motors rond te ry? Gerhard Horn gee raad oor hoe om ’n motorjoernalis te word.

Hoekom het jy besluit om ’n motorjoernalis te word?

Ek het nog altyd ’n groot passie vir motors gehad op verskeie vlakke: emosioneel, meganies, die vryheid wat hulle bied, ensovoorts. Ek het ook geweet motorjoernaliste reis die wêreld plat en doen dinge wat min mense ooit die voorreg sal kry om te doen. Meestal hou ek net van die idee dat my weke nooit dieselfde is nie. Ek was baie lanklaas verveeld gewees.

Hoe gaan mens te werk om ’n motorjoernalis te word? Waar kan mens studeer?

Dit is belangrik om ’n agtergrond in joernalistiek te hê. Ek het kommunikasie op Potch geswot, en dis eintlik maar dit. Die belangrikste ding is om ’n passie vir motors en skryf te hê. As jy dit het, is jou kop deur.

Wat is die beste aspek van jou werk?

Ek reis baie, kuier baie, bestuur peperduur motors en slaap elke week in 5-ster-hotelle. Omdat my veld so ’n nis-terrein is, is die geld ook baie goed.

En die slegste?

Die baie reis! Soms is dit lekker, maar dit is moeilik as mens ’n familie het. My vrou noem haarself ’n teerweduwee.

Oor watter karaktertrekke moet ’n mens beskik om ’n motorjoernalis te word?

Uitstekende werksetiek. Goeie skrywer. Jy moet slaap haat.  Jy moet die moed van ’n leeu hê. Vinnig ry is nie vir sissies nie.

As jy nie ’n motorjoernalis was nie, wat sou jy graag wou doen?

Filmresensies.

Wie het jou geïnspireer om ’n motorjoernalis te word? Het jy ’n mentor gehad?

Egmont Sippel – motorskrywer vir Rapport. Nie ’n mentor as sodanig nie, maar ek was nog altyd ’n groot fan van sy goed.

Wat is die een ding wat niemand jou op universiteit vertel het van motorjoernalis wees nie?

My dosente het my niks vertel van motorjoernalistiek nie. Ek moes alles self leer.

Wat is die toekoms van motorjoernalistiek in Suid-Afrika?

Sjoe, moeilike een. Minder skryf, meer video’s. Sosiale media maak ons werk baie meer interaktief. Alles sal ook internet toe skuif namate dit meer beskikbaar word in Suid-Afrika.

Het jy enige raad vir leerders wat ’n motorjoernalis wil word?

Ja. Moet nie die “sprokiesverhaal-weergawe” van motorjoernalistiek verwag nie. Daar is duur karre, reise na eksotiese plekke en soveel salm soos jy in jou mond kan stop, maar dit is ook baie harde werk en baie tyd weg van die huis af.

Gerhard Horn
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top