
Lewensbydrae-verering: John Kani (foto verskaf)
Die 51ste Fleur du Cap-toekennings was weer vanjaar ‘n spoggeleentheid wat met min ander in die teaterjaarkalender vergelyk. Pryswenners van al 20 kategorieë ontvang nie alleen, soos vantevore, ‘n R15 000-kontantprys nie, maar gaan ook vanjaar huis toe met ‘n nuut-ontwerpte silwer medalje. Die beoordelaars het in 2015 86 produksie bygewoon wat vir dié toekennings gekwalifiseer het, asook 66 studenteproduksies vir die studenteprys. Die beoordelaars is Africa Melane (voorsitter van die paneel), Beverley Brommert, Christine Moritz, Eugene Yiga, Gillian Mitchell, Herman van der Westhuizen, Johan van Lill, Marina Griebenow, Peter Tromp, Steyn du Toit en Tracey Saunders,. Vir ‘n produksie om te kwalifiseer moet dit ‘n minimum speelvak van agt dae oor drie weke hê, in een lokaal.
Soos reeds genoem, is die Fleur du Caps iets waarna die meeste mense in die bedryf baie uitsien. Ek het vooraf sommer by ‘n paar bekendes aangeklop om te uit te vind hoekom hierdie geleentheid vir hulle so besonders is. Beide die teaterveteraan Christopher Weare en die jong skrywer, resensent en akteur David Fick (David skryf vir Broadway World en word regstreeks geprys vir sy eerlike en ingeligte teatermenings) meen dat hierdie geleentheid besonder uniek is in daarin dat dit ‘n geleentheid is vir ou kennisse om mekaar weer te sien en ‘n unieke netwerkgeleentheid bied.
Vanjaar se seremonie is deur die jong regisseur Thando Doni behartig, wat aan die produksie ‘n vars asem gegee het. ‘n Uiteenlopende seleksie van kunstenaars het gesorg vir ‘n unieke fusie van werke – en “fusie” was terloops ook die tema vir die aand. Die sitarspeler Naresh Chauhan, Lingua Franca Spoken Word Movement, Die Nuwe Graskoue Trappers, Music van de Caab met Zenobia Kloppers en Tribal Echo, Bovim Ballet, Sibonelo Dance Company, die jong violis Anele Mhlahlo, saksofoonspeler Heinrich Isaacs en Pedro Kruger, tesame met ‘n geselskap van uitstekende jong sangers, was onder diegene wat vir vermaaklikhede deur die loop van die aand andere gesorg het.
Samsa-masjien was sonder twyfel een van vanjaar se gunstelinge, met ‘n hele aantal pryse wat aan die produksiespan toegeken is. Dead yellow sands, Die seemeeu en Orpheus in Africa was die ander produksies wat met meer as een toekenning huis toe gegaan het.
Die Fleur du Cap-toekennings was soos volg:
- Beste akteur
Gerben Kamper vir Samsa-masjien as Gregor Samsa
- Beste aktrise
Sandra Prinsloo vir Die seemeeu as Irina Nikolajewna Arkadina
- Beste vroulike byspeler
Cintaine Schutte vir Die seemeeu as Masja
- Beste manlike byspeler
Sven Ruygrok vir Epstein: The man who made the Beatles as This Boy
- Beste prestasie in ‘n revue, kabaret of eenpersoonvertoning
Graham Weir vir Dead yellow sands as verskeie karakters
- Beste prestasie deur ‘n akteur in ‘n musiekblyspel
Aubrey Poo vir Orpheus in Africa as Orpheus McAdoo
- Beste prestasie deur ‘n aktrise in ‘n musiekblyspel
Lynelle Kenned vir West Side Story as Maria
- Beste prestasie deur ‘n ondersteunende akteur in ‘n musiekblyspel
Sne Dladla vir Orpheus in Africa as Egbert Washburn / Trooper / Studenteleier /Bap
- Beste prestasie deur ‘n ondersteunende aktrise in ‘n musiekblyspel
Jill Levenberg vir Orpheus in Africa as Lucy Moten
- Toekenning vir die mees belowende student
Kiroshan Naidoo van UCT
- Beste regisseur
Jaco Bouwer vir Samsa-masjien
- Beste beligtingontwerp
Guy de Lancey vir Dead yellow sands
- Beste stelontwerp
Jaco Bouwer vir Samsa-masjien
- Beste kostuumontwerp
Birrie le Roux vir Orpheus in Africa
- Beste klankontwerp, oorspronklike musiekkomposisie of oorspronklike klankbaan
Pierre-Henri Wicomb vir Samsa-masjien
- Beste marionetontwerp
Daar was in 2015 geen produksies wat hiervoor gekwalifiseer het nie.
- Beste nuwe Suid-Afrikaanse teks
Samsa-masjien deur Willem Anker
- Rosalie van der Gucht-toekenning vir die beste nuwe regisseur
Mdu Kweyama vir Missing.

