
Die beoordelaars is na die tyd op die verhoog afgeneem saam met twee verteenwoordigers van Distell (agter van links): Simone Benjamin-Carolissen (projekbestuurder), Africa Melane (voorsitter), Tracey Saunders, Lwando Scott, Wayne Muller, Hadley Tituss, Thabo Makgolo (voormalige beoordelaar) en Phumza Lungiswa Rengqe (Distell se korporatiewe bemarkingsbestuurder). Voor sit Beverley Brommert, Roxy Marosa (voormalige beoordelaar), Mariana Malan en Marina Griebenow (foto: Clifford Roberts)
Die room van die teaterwêreld Sondagaand by die 58ste Fleur du Cap-teatertoekennings by die Oude Libertas-amfiteater op Stellenbosch vereer. Dié glansgeleentheid was een van vele wat Wêreldteaterdag op 27 Maart herdenk het.
Die feestelikhede is onder ’n reuse- gespande tent neffens die amfiteater afgeskop met drankies en peuselgoed voor die amptelike oorhandigings in die amfiteater. Daarna is gaste terug vir aandete en drinkgoed onder die tent.
Verlede jaar was ’n moeilike jaar vir die teaterbedryf, aangesien dit uit die mees verwoestende tydperk in Suid-Afrika se teatergeskiedenis moes verrys. Die aantal kwalifiserende produksies – altesaam 71 – het teruggekeer na prepandemievlakke, wat weereens die veerkragtigheid van Suid-Afrikaanse teatermakers demonstreer.

Die vuurwarm klanke van die Hassan Adas Band het die verrigtinge in die amfiteater amptelik geopen (foto: Clifford Roberts).
Die mees bekroonde produksie vir 2022 was Contested Bodies, vervaardig deur Abrahamse & Meyer Productions, wat 16 benoemings ontvang het. Die teatermaatskappy het toekennings ingepalm vir beste regisseur (Fred Abrahamse), beste kostuumontwerp (Marcel Meyer) en die rolverdeling van Matthew Baldwin, Lungile Lallie en Marcel Meyer het erkenning gekry vir die beste spel deur ’n ensemble.
Die toekenning vir die beste vertolking deur ’n akteur was ’n bittersoet oomblik, aangesien wyle Mncedisi Shabangu as die wenner aangekondig is vir sy vertolking van Zacharia in Athol Fugard se toneelstuk Blood Knot. Sy weduwee, Pertunia Nokuthula Maphanga, het die toekenning namens hom ontvang en haar roerende toespraak het menige gas betraand gelaat.

Marina Griebenow, een van die beoordelaars, saam met David Kramer op die verhoog nadat hy die Lewenslange Bydrae-toekenning in ontvangs geneem het (foto: Clifford Roberts)
Mncedisi se naam was een van die vele wat in die gedenkafdeling van die program verskyn het waar kunstenaars wat gedurende die jaar oorlede is, onthou en betreur is. Die musikant Nomakrestu Xakathugaga het by die trappe af deur die gehoor gestap terwyl sy die Uhadi bespeel het, en haar lied het soos ’n klaaglied tussen die stoele bly hang. Lede van Jazzart Dance Theatre het daarna met brandende kerse hulde gebring aan die gestorwe kunstenaars.
Mwenya Kabwe het die toekenning gewen vir die beste vertolking deur ’n aktrise in ’n toneelstuk vir haar rol as Rosa Feigel in Hold Still, wat ook bekroon is vir die beste nuwe Suid-Afrikaanse teks vir die skrywer, Nadia Davids.

Die mees bekroonde produksie vir 2022 was Contested Bodies, wat 16 benoemings ontvang het (foto: Clifford Roberts).
JM Coetzee se Life & Times of Michael K, deur Lara Foot vir die verhoog verwerk – ’n gesamentlike produksie tussen die Baxterteater, Theater der Welt in Düsseldorf en Les Théâtres de la Ville de Luxembourg – het die gesogte Beste Produksie-toekenning ingepalm. Lara Foot, HUB en artistieke direkteur van die Baxter, het met ontvangs van die trofee gesê: “Ek wou hierdie trofee hê en ons het dit reggekry. Die ongelooflike poppe het my van nuuts af geleer om regie te behartig en ook gesimboliseer hoe kunssinnige mense gedurende Covid saamgestaan en oorleef het.”
Die Mozart-opera Le Nozze di Figaro het skoonskip gemaak met Conroy Scott en Brittany Smith wat onderskeidelik die toekennings vir die beste optredes in ’n opera in die kategorieë vir mans en vroue gewen het.

JM Coetzee se Life & Times of Michael K, deur Lara Foot (foto bo) vir die verhoog verwerk, het die gesogte Beste Produksie-toekenning ingepalm (foto: Clifford Roberts).
Mikayla Joy Brown van die Universiteit Stellenbosch het die toekenning vir mees belowende student ontvang.
David Kramer en Peter Cazalet het vanjaar se Lewenslange Bydrae-toekennings ontvang. Kramer is vereer vir sy onmeetbare bydrae tot die kuns- en vermaaklikheidsbedryf as ’n plaaslik en internasionaal bekende kunstenaar, sanger, liedjieskrywer, kitaarspeler, skepper en vervaardiger van ikoniese musiekteaterproduksie en ’n argivaris van Suid-Afrikaanse musiek en stories.

Die dansers van Jazzart Dance Theatre in aksie (foto: Clifford Roberts)
David was duidelik aangedaan toe hy almal wat bygedra het tot sy kreatiewe loopbaan bedank het, met spesifieke verwysing na sy pa wat 60 jaar gelede op sy 11de verjaardag vir hom ’n kitaar huis toe gebring het en ook sy vriend, die wyle Taliep Petersen, saam met wie hy verskeie bekroonde musiekblyspele geskryf het.
Peter Cazalet het erkenning gekry vir sy groot bydrae tot die plaaslike en internasionale kuns- en vermaaklikheidsbedryf, aanvanklik as ’n balletdanser en daarna as ’n bekroonde stel- en kostuumontwerper en CAPAB se hoof van ontwerp. Sy blywende en boeiende verhoogontwerpe stel ’n hoë standaard en word steeds bewonder en gebruik in huidige produksies, onder meer in die onlangse Cinderella. Peter het met ontvangs van die toekenning opgemerk: “Hoe gelukkig kan ’n ou man wees. Dankie.”

Die Mzanzi Tenors het met hul diep stemme bekoor (foto: Clifford Roberts).
Empatheatre, ’n navorsingsgebaseerde teatermaakmetodologie, het aan mederegisseurs Neil Coppen, Dylan McGarry en Mpume Mthombeni die toekenning vir innovasie in teater besorg. Hul vermoë om konneksies tussen mense en plekke te skep deur hul praktyk van openbare storievertelling en luister is onoortreflik.
Verskeie ontvangers en dié wat trofees oorhandig het, het hul dank aan die Fleur du Cap-teatertoekennings uitgespreek, maar ook aan almal wat help om teater in Suid-Afrika aan die lewe te hou en die hoë standaarde te handhaaf. Menige spreker het ook gesê die toekenningsgeleentheid is ’n viering saam met familielede wat almal ’n gemeenskaplike doel het.

Pertunia Nokuthula Maphanga ontvang die toekenning vir die beste vertolking deur ’n akteur namens haar wyle man, Mncedisi Shabangu (foto: Clifford Roberts).
“Dankie aan al die teatergangers wat ons ondersteun; ons is baie lewendig en aan die gang!”
Daar is ook verskeie male hulde gebring aan Kunstekaap, omdat dit ’n platform vir jongmense en nuwe kuns gee.
Marinda Engelbrecht en Margit Meyer-Rödenbeck het die trofee vir beste teaterproduksie vir kinders en jongmense gewen vir Vlooi en die geheim. Marinda het gesê as hulle met hul produksies net een kind per dag vir die teater kan wen, sal hulle aanhou met hul werk. Margit het bygevoeg dat kinders in die huidige samelewing baie vasgevang is en agter mure skuil. Covid het dit verder versterk. “Die teater is hulle veilige plek en ons maak hulle deel van die storie. Hulle kan kom ontsnap van die lewe daarbuite. En dis hoekom ons aangaan.”

Marinda Engelbrecht en Margit Meyer-Rödenbeck het die trofee vir beste teaterproduksie vir kinders en jongmense vir Vlooi en die geheim ontvang (foto: Clifford Roberts).
Die beoordelaars vir die 2022-teaterjaar wat die genomineerdes en wenners aangewys het, is Africa Melane (voorsitter), Beverley Brommert, Hadley Tituss, Lwando Scott, Mariana Malan, Marina Griebenow, Tracey Saunders en Wayne Muller.
Die Fleur du Cap-teatertoekennings is deur Distell geborg. Die 58ste geleentheid was die laaste onder die Distell-banier, want die maatskappy is pas deur Heineken gekoop.
By die aanvang van dié teatertoekennings in 1965 was dit bekend as die Three Leaf Awards, en het in 1978 die Fleur du Cap-teatertoekennings geword om een van Distell se voorste wynhandelsmerke te vier.

Carlo Daniels het nie net een nie, maar twee toekennings ontvang: vir beste nuwe regisseur vir No Complaints – New Day, New Dawn en vir beste ondersteunende akteur in ’n toneelstuk vir The Unlikely Secret Agent (foto: Clifford Roberts).
Die aand was nie net ’n viering van talent nie, maar ook ’n geleentheid om lewende optredes deur ’n wye reeks kunstenaars te geniet. Gaste is deur die loop van die aand vermaak deur die Imbhewu Marimba Band, Hassan Adas Band, Kayline Lavendal Ndhlovu en Zinzi Nogagu, die Mzansi Tenors, Janel Speelman, Zimbini Makwetu en DJ Shelly.
Africa Melane se afsluitingswoorde namens die beoordelaars het die teaterbedryf en hul invloed op die samelewing baie raak opgesom: “Geen stad soos groot soos Kaapstad kan sonder kunstenaars oorleef nie. Ons word na ’n ouditorium genooi waar ons ons probleme by die deur kan agterlaat – deels om na ander mense se probleme te luister – maar julle reflekteer ons terug na onsself. Julle nooi ons om te besin oor aangeleenthede, kwessies en kwellinge wat ons moet aanroer. Julle nooi ons ook om te vier en herinner ons dat daar probleme is, maar wat hierdie ongelooflike land se wese laat voortbestaan, is sy mense, en julle weerspieël hul stories op die verhoog.”

Beverley Brommert, die langsdienende beoordelaar, oorhandig die Lewenslange Bydrae-toekenning aan Peter Cazalet (foto: Clifford Roberts).
Die volledige lys wenners is:
Mees belowende student: Mikayla Joy Brown, honneursstudent van die Universiteit Stellenbosch
Beste nuwe Suid-Afrikaanse teks: Nadia Davids vir Hold Still
Beste nuwe regisseur: Carlo Daniels vir No Complaints – New Day, New Dawn
Beste teaterproduksie vir kinders en jongmense: Marinda Engelbrecht en Margit Meyer-Rödenbeck vir Vlooi en die geheim / Kipper and the Secret
Beste vertoning deur ’n ensemble: Marcel Meyer, Matthew Baldwin en Lungile Lallie vir Contested Bodies as Doctor James Barry, Lord Charles Somerset en John Nobody
Beste vertoning in ’n revue, kabaret of eenmanvertoning: Daniel Newton vir Shadow Boxing as Flynn
Beste vertoning deur ’n akteur in ’n musiekblyspel of musiekteater-vertoning: Earl Gregory in Star+Crossed as Billy
Beste vertoning deur ’n aktrise in ’n musiekblyspel of musiekteater-vertoning: Isabella Jane in Star+Crossed as Bess
Beste poppespel-ontwerp: Adrian Kohler van Handspring Puppet Company vir Life &Times of Michael K
Beste beligtingsontwerp: Gideon Lombard vir Karatara
Beste stelontwerp: Greg King vir Fordsburg’s Finest
Beste kostuumontwerp: Marcel Meyer vir Contested Bodies
Beste klankontwerp, oorspronklike musiek of lewendige optrede: Gideon Lombard vir klankontwerp in Karatara
Beste optrede in ’n opera, manlik: Conroy Scott vir Le Nozze di Figaro as Figaro
Beste optrede in ’n opera, vroulik: Brittany Smith vir Le Nozze di Figaro as Susanna
Beste optrede deur ’n ondersteunende akteur in ’n toneelstuk: Carlo Daniels in The Unlikely Secret Agent vir verskeie rolle
Beste optrede deur ’n ondersteunende aktrise in ’n toneelstuk: Berenice Barbier in Who’s Afraid of Virginia Woolf as Honey
Beste optrede deur ’n aktrise in ’n toneelstuk: Mwenya Kabwe in Hold Still as Rosa Feigel
Beste optrede deur ’n akteur in ’n toneelstuk: Mncedisi Shabangu in Blood Knot as Zacharia
Beste regisseur: Fred Abrahamse vir Contested Bodies
Beste produksie: Baxterteater, Theater der Welt Düsseldorf en Les Théâtres de la Ville de Luxembourg vir Life & Times of Michael K

