FilosofieKafee-gesprek: "Onthou, vergeet en nostalgie in die Suid-Afrikaanse samelewing" deur Jo-Ansie van Wyk

  • 1
Wat word onthou, of nie, en waarom word dit onthou of vergeet? Hoe hou dit verband met nostalgie? Jo-Ansie van Wyk

Jo-Ansie van Wyk, hoogleraar in internasionale politiek verbonde aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa), was die FilosofieKafee-spreker op 11 November 2022 in Pretoria.

Sy deel haar volledige voordrag by die geleentheid:

Onthou, vergeet en nostalgie in die Suid-Afrikaanse samelewing 

Opsomming

Individue en gemeenskappe onthou en gedenk gebeure, omstandighede en verliese van besondere belang. Ons vergeet ook. Vergeetagtigheid en geheueverlies word, byvoorbeeld, beskou as meganismes om onder meer trauma te verwerk. Die ontwerp, vestiging en instandhouding van ’n openbare geheue, polities-geïnduseerde geheueverlies en vergeetagtigheid het verreikende maatskaplike gevolge. Enersyds is dit polities-voordelig om die verlede en heugenis te mobiliseer, uit te wis of te saniteer. Voorbeelde van geskiedkundige of hedendaagse teenspoed, bevryding, mislukking en sukses word fyn uitgekies, vergeet of veredel tot ’n neusriem of ’n politieke Goue Kalf. In hierdie konteks manifesteer ’n tipe nostalgie as politiese handelsmiddel en oorlewingsmeganisme. ’n Herontwerpte, ’n ontkende of onderdrukte geheue versterk of daag die maatskaplike orde uit. Openbare vorme van vergeet, geheueverlies of amnesie is nie noodwendig fataal nie. Die woord amnestie, byvoorbeeld, is etimologies verbind aan amnesie, maar: wat word onthou, of nie, en waarom word dit onthou of vergeet? Hoe onthou en vergeet ons? Wat is die implikasie daarvan? Hoe hou dit verband met nostalgie?  

Waar is ons tuis, wat laat ons ontheemd en wat beteken dit?   

Nostalgie is onder andere ’n eselsbrug van onthou en vergeet. Veredelde nostalgie manifesteer in openbare heimwee, mites en sosiale artefakte soos openbare vakansiedae, heldeverering en ’n amptelike diskoers oor die struggle, terwyl private nostalgie dikwels blom rondom braaivleisvure, agter herstelde laers met elektriese heinings, en “onthoukos”. Die etimologie van beide heimwee en nostalgie is die verlange na ’n tuiste of tuiskoms wat eens was of wat geïdealiseer word. Dus, waar is ons tuis, wat laat ons ontheemd en wat beteken dit?    

Inleiding

Die kleurvolle Evita Bezuidenhout het by geleentheid opgemerk: “Die toekoms is seker, maar die verlede nie.” Hiermee herinner die befaamde ambassadeur van Bapetikosweti ons aan die belang van onthou, maar die landskap van die brein en die mens se kognitiewe vermoëns is grotendeels nog ongekaart en ken ons slegs ten dele. Om te onthou is ’n kognitiewe funksie van die brein, maar wanneer ouderdom, ’n epileptiese ervaring of trauma dit verweer of beskadig, kan geheueverlies of selfs ’n persoonlikheidsverandering intree. In hierdie konteks is geheue en onthou ’n fisiese en liggaamlike proses wat nie hier ter sprake is nie.

Ek wil graag ons geheue verfris oor onthou, of memory.

Volgens Griekse mitologie was Mnemosyne die godin van onthou en geheue. Daar was egter nie ’n godin of god vir vergeet nie.  Mnemosyne was die moeder van Uranus (Hemel) en Gaia (Aarde), en nege dogters, die Muses. Mnemosyne was ook die bewaarder van die sogenaamde poel van geheue in Hades, die onderwêreld, waardeur gewone sterflikes kon gaan om hulle geheue te herwin voordat hul reïnkarnasie plaasvind. Later haal Plato haar aan en verskyn sy as die sogenaamde lamp van Mnemosyne in kunswerke. Buiten die gender van geheue (vroulik!), sien ons dat sy voortleef in die 21ste eeu. Haar dogters, die Muses, is etimologies aan die woord museum verbind. Ons verwys na iets wat ons help onthou as ’n mnemoniese instrument en ons skryf memo’s om ons kollegas aan besluite te herinner. State onderteken Memoranda van Verstandhouding om hul bilaterale verhouding te organiseer. Bekendes herroep hul herinneringe in memoires en ons gedenk afgestorwenes met die woorde, In Memoriam.

Voorts is Mnemosyne se verbintenis met lig en water simbolies van begrip en bewustheid. Alles mooi en wel, maar die verhaal van Mnemosyne is ook duister. Haar poel van water is geleë in Hades, die onderwêreld. Ons weet hoe herinneringe kan wond en ’n hellevaart soortgelyk aan Dante s’n kan wees. Tweedens, Zeus is die vader van Mnemosyne se nege dogters, die Muses. Wat is dan fout hiermee? Wie wil dan nie ’n afstammeling van ’n oppergod wees nie? Myns insiens is die skadu hiervan geleë in die mag oor en van geheue en herinneringe. Elkeen van die Muses was verantwoordelik en dus ’n inspirasie vir ’n kunsvorm of wetenskap.

Ek skaar my by die Duitse kunstenaar Anselm Kiefer in sy besinning oor Duitsland ná die Tweede Wêreld-oorlog:

  • Wat moet onthou word? Wie besluit dit?
  • Hoe moet ons onthou?

Kiefer veronderstel dus dat openbare herinneringe in hierdie konteks vorm (inhoud) en prosesmatigheid vereis. Kiefer verwys ook na die instrumente of sosiale artefakte hiervan in sy beskrywing van een van sy kunswerke waarin hy ’n sinkbad gebruik. Volgens Kiefer het die Nazi’s ná bewindsaanvaarding sinkbaddens vir Duitse huishoudings uitgedeel om higiëne te bevorder; ’n handeling wat Kiefer met die Nazi-idee van Duitse rasreinheid teenoor die vuilheid van ongewenstes verbind. Vir Kiefer was die ontdekking van een van hierdie baddens in sy ouma se solder ’n konfrontasie met Duitse en sy eie geskiedenis. ’n Gewone, maar histories-gelaaide sinkbad word later die leitmotif van sy werk. In een van sy uitstallings herkonstrueer hy ’n beeld van Hitler en sy generaals rondom ’n sinkbad met bootjies waartydens Operasie Seeleeu, die voorgenome inval in Brittanje, beplan word.   

Hoffmann stel dit onomwonde: “In memories, too, begin responsibilities.”  

Die geskiedenis het bewys hoedat kunstenaars of imbongi’s instrumente van heersende ordes is, of as sodanig herskep word. In die Sowjet-unie en Nazi-Duitsland, byvoorbeeld, was wetenskaplikes instrumente vir ’n vorm van tegno-nasionalisme ter wille van onder meer mag en rasveredeling. Ons kan dus die patriotiese en nasionalistiese funksie van die Muses herken.  

Onthou en geheue (oftewel memory) as ’n idee

Ons ken die mag van geheue: ’n weddenskap gewen op grond van ’n beter geheue of die forensiese waarde daarvan wanneer ooggetuies se geheue ’n boef skuldig bevind laat word, maar, volgens die heilige Afrikaan Augustinus is geheue ’n wispelturige en reuse-stoorplek.

Ek wil voorts enkele aspekte van geheue uitlig: die nut en aard van geheue, die tydsaspek van geheue, en die ruimtelike dimensie van geheue.

’n Tegniese verduideliking van die nut van geheue en herinneringe verskaf ’n tipologie:

  • ’n Werkende geheue (working memory) wat, byvoorbeeld, iemand in staat stel om te brei of hekel. Herhaling skep ’n techne, ’n vermoë om iets te skep.
  • ’n Verwysende geheue (reference memory) verbind of assosieer herinneringe: bobotie herinner my aan my ma, of as ek aan Verwoerd dink, dink ek aan my ouma wat sy foto bo haar bed opgehang het. Bertrand Russell het na hierdie verwysende geheue as spieëlkennis (mirror knowledge) verwys. Een beeld reflekteer ’n ander beeld.
  • ’n Prosedurele geheue (procedural memory) skep die vermoë om iets te doen: hoe om ’n vergadering te lei.
  • ’n Verklarende geheue (declarative memory) stel ons in staat om iets te identifiseer: twee wiele en ’n staalraam is tipies ’n rolstoel of ’n fiets, ensovoorts.

Die tydgebondenheid van geheue is deel van die wispelturige aard daarvan, maar, skryf Collingwood in Speculum mentis, or the map of knowledge “[h]istory, and the same is true of memory [...] is the mind’s triumph over time”.

Herinneringe veronderstel ’n verlede waarteen ’n hede afspeel. Tyd vervaag geheue en, soos ons kinderspeletjie Telefoontjie, raak die oorspronklike boodskap ’n gedekodeerde weergawe of ’n heeltemal nuwe boodskap. ’n Tradisie van oorvertelling word later oor soos in “plus” vertelling. Dit sluit aan by Bertrand Russell se idee dat ’n herinnering dus nie noodwendig akkuraat en proporsioneel tot die hede en toekoms is nie, maar dat dit proporsioneel is tot wat dit van die verlede weerspieël.  

Spanning stomp ons korttermyngeheue af en Alzheimerlyers onthou dikwels herinneringe van dekades gelede, maar vergeet hul eie name. ’n Zeitgeist kan vergete gebeure laat onthou, herdenk of vergeet word. Soms, ter wille van vrede, vergeet ons gerieflikheidshalwe gister se skewe woorde. Of, soos in die geval van ons Waarheids- en Versoeningskommissie (WVK), is belydenis (dus herroepe geheue) en amnestie-aansoeke aan ’n sekere periode gekoppel.

Aristoteles verwys na geheue in terme van ouderdom en skryf in ca. 345 vC: “The very young and the old have poor memories; they are in a state of flux, the young because of their growth and the old because of their decay.”

Ek het voorheen verwys na die heilige Afrikaan Augustinus se beskrywing van geheue as ’n reuse-stoorplek. Dus: ruimte. Elders verwys hy na museums en biblioteke (albei ruimtes) as “paleise van herinneringe”. C Louis Leipoldt verwoord die ruimtelikheid van geheue en herinnering wanneer hy die versugting uitspreek:

Wys my die plek waar ons saamgestaan het
Eens, toe jy myne was –

Hierdie geheue-ruimte-tyd-verbintenis manifesteer in die geografie van geheue en herinneringe. Sekere plekke wek herinneringe op: Bloedrivier, Magersfontein, Isandlwana, die Voortrekker-monument, blokhuise in die Karoo, ensovoorts. Gedenktekens word by soortgelyke plekke opgerig.   

Herinneringe as die “doolhoof van die politiek”

In sy briewe aan Lucilius skryf Seneca oor die aard van geheue. Hy tref ’n onderskeid tussen onthou, kennis, wysheid en bewustheid. ’n Doolhof van begrippe.

Ek leen die uitdrukking “doolhoof van die politiek” by die Franse filosoof Jean-Jacques Rousseau om die verbintenis tussen politiek, geheue en herinneringe te verduidelik. Volgens Rousseau het elke samelewing ’n verpligting om kulturele kennis van geslag tot geslag oor te dra. Die nut hiervan is duidelik: dit spaar tyd en verdiep kennis. Eeue heen is Bybels en Korans gememoriseer as bronne van gesag, onderdanigheid en kennis. Hoewel hierdie pedagogiek nie oral meer beoefen word nie, is memorisering inderdaad voordelig. Medici met swak geheues kan lewens kos of verkort, maar: wat is die maatskaplike impak wanneer die pedagogiek van onder andere die mediese wetenskap verander word?

Suid-Afrikaners onthou en vergeet op verskillende maniere.

Ons is bewus van herkurrikulering en dekolonisasie in onderwys, maar verbeter dit ons kennis? Revisionisme kan inderdaad voordele inhou om ’n meer omvattende geskiedenis te vertel, maar dit gooi egter ook ’n lang skaduwee. Dit kan eenvoudig deur onsigbaarheid plaasvind, soos Freud se moeder teenwoordig in haar afwesigheid.

Tzvetan Todorov skryf in The uses and abuses of memory van ’n unieke kenmerk van die 20ste eeu: die industriële skaal waarop geheue en herinneringe veral in China, Duitsland en die Sowjet-unie vernietig is; gebeure wat herinner aan die Enseklopediste ná die Franse-rewolusie met hul eie kalender ensovoorts. Primo Levi verwys na Nazi-Duitsland se oorlog teen geheue. Nie alleen is geskiedenis uitgewis nie, maar daar is ’n nuwe geskiedenis geskryf. Milan Kundera skryf in The book of laughter and forgetting hoedat hierdie tipe vernietiging aan een van Tsjeggo-Slowakye se presidente die bynaam “Die President van Vergeet” besorg het. Georganiseerde vergeet of geheueverlies word ’n regeringsfunksie waartydens mense, standbeelde, tale, boeke en museums verwyder of vernietig word. Tog waarsku Eva Hoffmann in Shtetl teen georganiseerde geheue en herinneringe. Sy verwys na die “outomatisering van Joodse geheue” van die Tweede Wêreld-oorlog, waartydens die narratief van vervolging en vernietiging herhaal word sonder dat daar oor dit besin word om soortgelyke gebeure te voorkom en aan te spreek. Hoffmann stel dit onomwonde: “In memories, too, begin responsibilities.”  

Suid-Afrika

Soos ander state drup ons geskiedenis met bloed. Ter wille  van oorlewing skoppelmaai Suid-Afrikaners tussen afsondering, aanvaarding, en restourasie. Die Aanhef van ons Grondwet, een van Suid-Afrika se ontstaansdokumente (founding document), noem dat Suid-Afrikaners “die ongeregtighede van ons verlede” erken, en “diegene wat vir geregtigheid en vryheid in ons land gely het”, huldig.

Die Franse filosoof Paul Ricoeur skryf in Memory, history, forgetting dat ontstaans- en stigtingsmites vir sommiges glorieryk en vir ander vernederend is. Hiermee word ware én simboliese wonde deel van ’n onderdrukte of kollektiewe geheue wat identiteite vorm. Ricoeur waarsku teen die misbruik van herinneringe. Ons het genoeg voorbeelde in Suid-Afrika.

Sedert 1994 is ten minste drie geheue-verwante verwikkelinge sigbaar: die veredeling van die struggle en gepaardgaande sekulêre teologie, politiese geheueverlies as regering (statecraft), ’n kreef wat gewoond daaraan raak, en ’n onvermoë om die verlede af te handel.

Die veredeling van die struggle en gepaardgaande sekulêre teologie

Dis vanjaar 120 jaar sedert die einde van die Boere-oorlog en ek, as Afrikaner, is nog nie oor die oorlog nie. In my familie het vier geslagte gelede daaraan deelgeneem, maar dis deel van ons wese, gesprekke, familiemites en -patologie: Oupa se broer is deur Joiners gemartel, vermoor en in ’n droë rivierwal begrawe. Op my tuisdorp in Namakwaland staan sy naam op ’n gedenkteken. Daarvolgens het hy “vir vryheid en reg” geveg en gesterf. ’n Edel saak veredel deur al die voorafgaande faktore. Dan die kollektiewe geheue van die erfsonde van die Afrikaner: apartheid.

[Terloops, ek erken die rivierwal in die verhaal van Mnemosyne.]

Anderkant ander riviere, die Okavango-, Zambezi- en die Limpopo-rivier, lê die struggle. Ons, as wit mense, sal nooit in menseheugenis die ander geskiedenis verstaan of voordeel daaruit trek nie. Ons, as wit mense, sal buitestaanders bly, en vir ons was 1994 inderdaad ’n Rubicon, ’n rivier. Die struggle is ’n Goeie Kalf waarteen geen kritiek uitgespreek mag word nie. Nelson Mandela is tot sekulêre teoloog verhef, maar die voorhang het geskeur en die skrif staan teen die muur. Die ligte is af en die Black Diamonds is wel-af.  

Politiese geheueverlies as regering (statecraft)

Politici en sosiale entrepreneurs, waarna die akademikus Maria Todorova as “agente van nostalgie” verwys, span dikwels geheueverlies en vergeetagtigheid vir politiese gewin in. Die verlede word doelbewus vergeet, uitgevee of in ’n ander lig aangebied. Politiese geheueverlies (amnesie) is geïnstitusionaliseer in Suid-Afrika. Die WVK was ’n amptelik-vervaardigde amnesie en selektiewe geheue wat probeer het om die verlede aan te spreek deur beskuldigdes die geleentheid om amnestie te gee. Ironies genoeg is amnestie en amnesie etimologies verwant. Volgens Ricoeur sluit amnestie en amnesie ’n “geheime pakt” wat nie geheueverlies skep nie, maar eerder doelbewus vergeet en vergeetagtigheid by die samelewing induseer. Buiten die impak wat dít op wit Suid-Afrikaners het, is die impak hiervan ook op die res van die bevolking sigbaar: die regering begaan foute, maar die ANC is goed en edel.

Hierdie staatsgeïnduseerde geheueverlies is egter ’n gerieflike en verleidelike politiese instrument. ’n Onlangse voorbeeld was president Cyril Ramaphosa se toespraak op Versoeningsdag (16 Desember). Ramaphosa het behendig hierdie staatsgeïnduseerde geheueverlies omskep in staatsgeïnduseerde onthou/heugenis en Suid-Afrikaners herinner aan die verlede se politiese vergrype. Elders in die land is die gebeure van 16 Desember 1838 herdenk, terwyl ander Suid-Afrikaners die stigting van uMkhonto we Sizwe (MK) op 16 Desember 1961 herdenk het. Verdeling, in plaas van versoening, het die president oor die politiese doellyn te midde van onrustigheid in sy eie party gedra.

Staatsondersteunde geheueverlies is dus die gevolg van ontkenning en uitwissing. ’n Voorbeeld hiervan is openbare vakansiedae. Jeugdag (16 Junie) is die herdenking van die gebeure in Soweto in 1976. Daar is egter ook ’n ander 16 Junie wat die jeug van ons land betref. Op 16 Junie 1900 het Lord Roberts, die Britse Kommandeur in Suid-Afrika tydens die Boere-oorlog (1899–1902), sy verskroeide aarde-beleid aangekondig, wat onder andere talle vroue en kinders in konsentrasiekampe gelaat het.

Die sogenaamde vrygeborenes is van die eerste en vernaamste slagoffers van hierdie toediening. Luister gerus na die gesprekke van skoolgaande kinders: 1994 was Suid-Afrika se Jaar Nul en die bevrydingstryd glorieryk. Die gevolge hiervan is kognitiewe dissonansie: die leerplan verskil van gesprekke rondom die pappot en die braaivleisvuur. Vrygeborenes besef dat die bevrydingstryd en die huidige Suid-Afrika verskil. Julius Malema en sy meelopers besef die politiese waarde van hierdie kognitiewe dissonansie en vervang hierdie staatsgeïnduseerde geheueverlies met ’n gemeenskapgedrewe heugenis/memory/remembering. Die EFF skep vernuftig ’n tipe nostalgie-tuisnywerheid waar die “ware” en dus ’n geïdealiseerde verlede en sy beloftes gekommunikeer word.

Teenstrydig met bogenoemde sing sommige Afrikaners ’n getoonsette weergawe van Die Belofte van Bloedrivier en “De la Rey, De la Rey”. Ander Afrikaners wend hulself tot ’n tipe selfopgelegte geheueverlies, selfsensuur en onttrekking waartydens die verlede intiem in die privaatheid van wonings en om braaivleisvure vergeet of onthou word. Die verlede word hier dus geprivatiseer, omdat die verlede waarna die openbare domein verwys of oor swyg anders is.

’n Ander voorbeeld van ontwerpte geheueverlies is die gebrek aan ’n gesprek rondom die gebeure in die ANC se opleidingskampe. Slegs enkele publikasies verwys na menseregteskendings en diegene wat daaroor navraag doen word gerieflik uitgeworpenes. Laat ons dit nou maar erken: die ANC het meesterlik ’n kontra-narratief en ’n mite van die bevrydingstryd as slegs heroïes en glorieryk van sy, soms bloedige, verlede geskep. Kortom: ’n nostalgiese en geïdealiseerde blik op die verlede.

Nostalgie

In ’n essay oor die lig en donker van onthou en vergeet, herinner Ignês Sodré ons dat uitermatige vrees, droefheid of ’n oortreffende bewustheid van smart situasies skep waarbinne vergeet nie kan plaasvind nie. Droefheid is dus die wond van die onvermoë om te vergeet, of, volgens Freud, die moeder teenwoordig al is dit slegs in haar afwesigheid. Hiermee word droefheid dus ’n rou-ervaring en ’n depressie soortgelyk aan Mnemosyne se donker water in Hades se onderwêreld. “Reïnkarnasie” kan net volg ná terapie en die hantering van nostalgie wat tipies met hierdie proses geassosieer word.

Die herstel of onthou van herinneringe om betekenis te skep en vestig, is ’n politiese daad. Die staat, politieke partye en etniese groepe kan herinneringe uitvee, falsifiseer of saniteer. Die gevolg hiervan is ’n tipe geheueverlies (amnesie) ter wille van skaamte, verdriet, oorwinnaarsgeregtigheid en/of mag.

Soos ander state drup ons geskiedenis met bloed.

Herinneringe bind ons aan ons families, vriende, ons belewenisse en geskiedenis. Dit laat ons tuis voel.  Die hunkering na die verlede is ’n hanteringsmeganisme vir die ontnugtering van die hede. Daar is dus ’n soeke na ’n retrotopie in plaas van ’n utopie. Hierdie melancholie en nostalgie is onskuldig en geen skuldgevoel oor die verlede bestaan nie. In dele van die voormalige Oos-Duitsland manifesteer dit as Ostalgie, ’n hunkering na die Oos-Duitse staat, kultuur en lewenswyse. In Warskou in Pole manifesteer dit as sogenaamde Blokalgia, ’n verwysing na die stad se woonstelblokke en die lewenswyse van inwoners tydens die kommunistiese era. 

Suid-Afrikaners staan nie buite hierdie verskynsel nie.

Die herkoms van die woord nostalgie is twee Griekse woorde: nostos (’n tuiskoms, huiswaarts) en algia (tuiste). Koshuiskinders het ’n woord hiervoor: homesick. Ouma en oupa het gewoon heimwee gehad.

Politiese verlange na ’n orde wat was, kom aan albei kante van die Suid-Afrikaanse politiese spektrum voor. Buiten die ANC se bevrydingsromantiek, vind dit ook neerslag in die EFF se quasi-militêre voorkoms. Sommige wit Suid-Afrikaners omskep hulle voorstedelike kombuise in plaaskombuise, afgerond met ’n (moderne) Aga-stoof. Woonhuise in die styl van plaasopstalle kom in sekere woongebiede voor. Ouma se kappie pryk op die kapstok by die voordeur en Oupa se netjies-gevlegte karwats bly ’n gesprekspunt.

Die akademikus Svetlana Boym verwys hierna as herstellende nostalgie (restorative nostalgia) waar onthou veilig en onskuldig is, en die verlede geromantiseer word as ’n tyd sonder trauma, verdriet en verlies.

Anders as wat herstellende nostalgie die huis (die verlede) onbevraagd herskep, talm peinsende nostalgie (reflective nostalgia), volgens Boym, op bouvalle (“lingers on ruins”). Kortom: dit is ’n bevraagtekening van die verlede en beskouing van die verlede as die verlede sonder enige romantisering of verdoeseling daarvan.

Beide vorme van nostalgie manifesteer in Suid-Afrika. Terwyl sommige Suid-Afrikaners die politiese orde voor 1994 vir alle staatsmislukkings blameer, reken ander Suid-Afrikaners dat die verlede die verlede is en dat apartheid nie vir alle staatsgebreke verantwoordelik is en gehou moet word nie.    

Wat is egter die nut van politiese nostalgie? Volgens Todorova behoort ons krities om te gaan met sogenaamde “memory entrepreneurs” wat nostalgie vir politiese doeleindes aktiveer of afskakel. Die burgery moet dus polities waaksaam wees wanneer politiese nostalgie ter sprake is sodat burgers nie mislei word nie. Nostalgie bly’n simptoom en ontsnappingsmeganisme van ’n ongemaklike verlede én hede. Die politieke klas se onvermoë om die beloofde politiese utopie te verwesenlik, word dus vervang met ’n geïdealiseerde retrotopie of ten minste die artefakte (bevrydingsliedere, militêre uniforms, parades, slagspreuke, vlae en herdenkings) van hierdie retrotopie.  

Staatsondersteunde nostalgie herdenk hierdie retrotopie. Enige besoeker aan die Vryheidspark in Pretoria sal opmerk dat politiese geheueverlies daar voorkom. Sommige reken dieselfde kan van die Voortrekkermonument se vriese gesê word.

’n Interessante geval is die politiese nostalgie en geheueverlies rondom Nelson Mandela. Dit het ’n politiese doodsonde geword om hom te kritiseer. Let egter op hoe vernuftig sy geskiedenis en persona tot ’n kommersiële handelsproduk omskep is. Sy gevangenisnommer, 46664, het ’n winsgewende handelsmerk geword. 466/64 Fashion is, byvoorbeeld, ’n modemaatskappy wat ’n sogenaamde bevrydingsklerereeks ter ere van Mandela verkoop en deur die Nelson Mandela-stigting onderskryf word.

Die kommersialisering van Mandela het sy stigting genoop om onder meer ’n saak by die World Intellectual Property Organisation (WIPO) oor die domeinnaam mandela.org aanhangig te maak. WIPO het in 2019 beslis dat die domeinnaam slegs deur die stigting gebruik kan word en dat die aanvanklike eienaars daarvan geen aanspraak daarop kan maak nie. In sy uitspraak het WIPO onder andere verwys na al die ander handelsmerke wat wêreldwyd deur die stigting geregistreer is. 

Nostalgie is ook ’n lokval. Restouratiewe nostalgie is, byvoorbeeld, een van die verklarings vir die opkoms en instandhouding van nasionalistiese politiese aktiwiteite. Nostalgie is soms ook ydel in sy verheerliking van die verlede as glorieryk en die hede as ondraaglik.

Ná 1994 is ’n ná-mite (aftermyth) geskep. Hierdie mite daag Suid-Afrikaners se geheue van die geskiedenis én die geskiedenis van die land se geheue en herinneringsvermoë uit. Suid-Afrikaners onthou en vergeet op verskillende maniere. Die toekoms van onthou en vergeet in Suid-Afrika is onseker solank politiese gewin die dryfveer daarvoor is. Suid-Afrikaners onttrek na en hou verskillende retrotopies en utopies in stand; ’n stand van sake wat deur politiese entrepreneurs uitgebuit word. Hierdie toedrag van sake sal nie verander solank die hede nie aan die verwagtinge van alle Suid-Afrikaners voldoen nie. 

Lees ook:

LitNet Akademies Weerdink: Die "Die Land"-musiekvideo, mites en nostalgie

’n Ontleding van nostalgiegedrewe advertensies in Suid-Afrikaanse tydskrifte

"O moenie huil nie, o moenie treur nie": Nostalgie in tydskrifadvertensies

Nostalgie as sosiale konstruk in advertensies in die Suid-Afrikaanse tydskrifmark

Rooibostee, awê en oepsies

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top