FilosofieKafee: Andrew Nash bekyk opnuut Degenaar se toonaangewende vorm van gesprek

  • 0

“Denke wat kan dans: Johan Degenaar se gesprek as filosofiese kunsvorm” was die onderwerp van die FilosofieKafee-gesprek wat op Vrydagaand 6 Mei 2022 in die Breytenbach Sentrum op Wellington aangebied is. Andrew Nash, wyd gereken as denker en iemand wat Johan Degenaar (1926–2015) op Stellenbosch as student en as mededosent geken het, is genooi om by die geleentheid oor hom te gesels. Willem de Vries berig.

Johan Degenaar was die onderwerp van Andrew Nash se FilosofieKafee-praatjie (Foto: LitNet-argief)

Nash is die skrywer van onder meer The dialectical tradition in South Africa (2009) waarin hy onder andere Degenaar se aansienlike bydraes in hierdie verband binne ’n groter raamwerk situeer. Hy het hom daarvoor goed kon voorberei deurdat hy onder meer politieke filosofie van 1977 tot 1986 aan die Universiteit Stellenbosch gedoseer het, filosofie aan die Universiteit van Wes-Kaapland van 1987 tot 2000, en die geskiedenis van politieke denke aan die Universiteit van Kaapstad van 2006 tot 2015. Daarbenewens was hy van 2000 tot 2006 die redaksionele direkteur van die Monthly Review Press. Nash skryf ook vanuit die oogpunt van iemand wat beleef het hoedat universiteite omskep is in tersiêre bedrywe en het daarna verwys in die gesprek op Wellington. Sy blog www.dialectic.co.za bevat eweneens interessante insigte in hierdie verband.

Vier dekades van Degenaar

Nash het die aand in die Bôrdienghuis-teater op Wellington voor ’n betrokke, meelewende gehoor Degenaar se lewe, werk en aspekte van sy nalatenskap in oënskou geneem. Hoewel Degenaar ’n groot gees was, en ’n groot verskeidenheid mense anders na die wêreld leer kyk het in die vier dekades wat hy filosofie doseer het, is hy vir ’n ruim deel van sy loopbaan op Stellenbosch as ’n dissident beskou as hy dan nie ’n “ketter” sou wees nie.

Nash het in sy bespreking van Degenaar twee geleenthede verhelderend toegelig waar pogings aangewend is op Stellenbosch om hom af te sonder en uit te werk.

Wanneer Nash terugkyk op die 50 jaar sedert sy kennismaking met Degenaar, spreek hy die hoop uit dat ’n soortgelyke ervaring moontlik moet wees, “minstens hier en daar, vir ’n komende geslag studente; ek wil nie hê dáárdie hele universiteit moet verdwyn nie”. Vandaar dan ook sy blywende belangstelling in die wyse waarop Degenaar sy styl van ’n bewuste, oop gesprek gevoer het.

Die Sokrates van Stellenbosch?

Degenaar se soort gesprek vorm ’n tweegesprek met dié van NP Van Wyk Louw se gedagte as ’n manier om gedagtes uit te ruil en deur dié proses ryker te word, nie soseer debat te voer of jou eie standpunt te gee of uit te ruil nie, maar om saam met iemand op ’n soektog te wees na die regte verstaan van ’n saak.

Degenaar word dikwels na verwys as die Sokrates van Stellenbosch, maar die verskille tussen hulle is groot, gee Nash te kenne. Degenaar was wel ’n bewonderaar van die Sokratiese gesprek, maar sy eie vorm van gesprek het merkbaar verskil van dié wat Plato van Sokrates opgeteken het.

“Degenaar het in verskeie van die onderhoude wat laat in sy lewe met hom gevoer is, na Sokrates verwys as sy leermeester en dat dit die deurslaggewende ervaring in sy jare op Stellenbosch was. Hy het gepraat van ’n ontmoeting van ’n aard met Sokrates eerder as die lees van Plato se weergawe van Sokrates. Hy het ’n opstel geskryf oor Sokrates wat ’n ervaring vir talle studente in die tweedejaarsklas daardie jare was.”

Degenaar se styl van vraagstelling het oor die jare ontwikkel in reaksie op omstandighede soos wat hy self ook ontwikkel het, en veral omdat die omstandighede van gesprekvoering soveel anders was as in Sokrates se Athene 2500 jaar voor Degenaar, het hy gesê.

“Die Sokrates wat hy ontmoet het op Stellenbosch in die 1940’s, is ook ’n Sokrates wat gevorm is deur bepaalde interpretasies van daardie tyd. Veral die herontdekking van Søren Kierkegaard (1813–1855), die Deense filosoof wat oor Sokrates geskryf het in ’n eksistensiële register: ’n waagstuk, ’n sprong in die donkerte, ’n sprong van geloof, dat jy nié alles kan uitredeneer nie … Jy moet uiteindelik daardie sprong neem en jy weet nie waar dit gaan eindig nie. Jy hoop vir die beste of aanvaar wat daarvan gaan kom. Degenaar en sy generasie het Sokrates só gelees, deur die lens van Kierkegaard.”

Beskouing en teenstand

Ná die herontdekking van Kierkegaard in die 1920’s en 1930’s het Kierkegaard se idees op Stellenbosch iets van ’n revolusie in die Filosofie-departement daar teweeg gebring, het Nash gesê.

“Hierdie opwelling van filosofiese energie het plaasgevind op presies dieselfde tydstip dat die konserwatiewe faksie in die teologiese kweekskool hul oorwinning behaal het deur van die liberale professor van die tyd, Johannes du Plessis, ontslae te raak. Du Plessis is uiteindelik verwyder uit die kweekskool in 1932.”

Nash het gaan kyk na wat die studentegetalle van daardie jare vertel het. In die vroeë dertigerjare was daar een MA-student in filosofie en in 1933, die jaar ná die konserwatiewe oorwinning, was daar 13 MA-studente in filosofie uit 42 aan die universiteit. In 1934 was daar 14 studente uit 42, in 1941 was daar drie, en teen 1945 was daar 11. In dieselfde tyd het die syfers van die kweekskool gekwyn sedert 1931, die jaar voor die konserwatiewes se oorwinning – tóé was daar 43 studente; in 1937 was daar 12 en in 1939 was daar sewe wat oorgebly het in die kweekskool self, veel minder as waaraan hulle gewoond was.

Nadat Degenaar in 1949 op Stellenbosch aangestel is, is hy na Groningen in Nederland, waar hy sy doktorsgraad behaal het. Toe hy terugkom in 1952, was hy eintlik van die begin af ’n omstrede figuur, het Nash op gewys.

Kultuurskok

“Die ontevredenheid het veral gegaan oor die vorm van sy gebed aan die begin van sy klasse. Soos wat dit die geval was by die kweekskool, het hy ook sy lesings met ’n gebed begin. Maar sy gebede was ’n bietjie anders. Die bekende gebed wat hy tóé gebid het, was: ‘Here, voorheen moes ons van mense Christene maak. Help ons vandag om van Christene weer mense te maak.’ Die omkeer van die woorde was skokkend vir die admissiestudente. Hulle het nog nooit so iets voorheen teëgekom nie.”

Nash het ook verwys na ander gebede van Degenaar, waarvan verskeie weergawes bestaan. Hieronder tel: “Dankie, Here, dat U hierdie aarde so liefgehad het, dat U uself gebreek het om hierheen te kom” en “Dankie vir filosofie wat ons help om die lewe van nader te beskou. Bevry ons van verbeelde sekerhede en maak ons tevrede met ons daaglikse brood wat U vir ons uit die hemel stuur.”

“Sy tafelgebed, wat ek self onthou, is ‘Onse Vader, dankie vir ons vriendskap en maak ons bly.’ Van die lang gebede is deur van sy studente neergeskryf. Dit het ’n geweldige impak op die studente gehad. Dit was duidelik iets wat ’n gevaar was vir die establishment op Stellenbosch, en hulle moes ’n manier kry om hom tot orde te roep of van hom ontslae raak.”

Twee departemente

Nash het as voorbeeld genoem dat die universiteit in 1958, enkele jare ná Degenaar se aanstelling, ’n proses begin het wat gelei het tot die stigting van twee afsonderlike Filosofie-departemente, met die spesifieke doel om Degenaar af te sonder.

“Dit het gevolg op ’n formele klagte deur die NG Kerk aan die universiteit dat hul voornemende predikante blootgestel word aan Degenaar, en dat dit stopgesit moes word. Daar is baie min op rekord daarvan, maar dit blyk dat Degenaar maklik daarmee saamgegaan het en in daardie omstandighede was die kweekskool in ’n ongewone situasie in die gesamentlike bestuur van sowel die Kerk as die universiteit. En vir die volgende jaar, 1959, moes Degenaar verantwoordelikheid neem vir wat gedoen is en moes bykomend idees gegee vir hoe die departement moes wees: Wil jy in die A-stroom of die B-stroom wees? Wil jy in die volwaardige departement miskien wees, of wil jy in die departement wees wat geskep is om hierdie ketter as ’t ware uit te sluit? Ek dink die gedagte was bloot om van Degenaar ontslae te raak.”

’n Teologie van dans

Dit blyk daar was minstens een ander poging vóór dit om van Degenaar ontslae te raak, iets wat Nash eers betreklik onlangs te wete gekom het.

In 1954 is ’n publikasie van die Admissiebond, Die Herdenkingsblad, uitgereik.

“Die Admissiebond was ’n studentevereniging vir die voorgraadse admissiestudente. Die blad het net een keer verskyn. Nét in 1959. Al die dosente wat vir admissiestudente klas gegee het, en ook admissiestudente, is gevra om bydraes te lewer. Degenaar was die enigste bydraer wat ’n spesifieke onderwerp vir sy bydrae ontvang het. Wat was sy onderwerp? ‘Die teologie van dans’.”

Nash verduidelik die omstredenheid: Veral op ’n universiteitsdorp is dít ’n sensitiewe kwessie – die moontlikheid dan dat dans tot seks kan lei. En dis nie ’n “probleem” wat in ’n vakuum bestaan nie. Dis ’n probleem omdat seks met swangerskappe saamhang. Die probleem betref families wat eiendom opgebou het en wat vennootskappe in gedagte het. Die plaas langsaan kan baie goed saamgesmelt word met hierdie plaas. Die dogter en die seun ken mekaar van kleins af. As die dogter sou swanger raak intussen, sou al daardie dinge en reputasie in die wiele gery word. Op ’n universiteitsdorp is daar nie ’n subtiele manier waarop ouers ’n ogie kan hou op dit waarmee hulle kinders besig is nie. En die dominees kan nie aan die deure gaan klop of sien wat daar gebeur nie. En dit was deel van die Kerk se rol om seksuele moraliteit te handhaaf in die vyftigerjare, het Nash gesê.

“Die Kerk kon dit nie op ’n opmerklike manier doen nie. Hulle wil nie hê dat die studente van hulle grappe maak of spot of so iets nie. Degenaar kry toe die onderwerp wat moeilikheid verskaf. ’n Uitdaging. Eintlik ’n konfrontasie. ’n Manier om vir hom te sê: ‘Voor jou studente wil jy uitdagend wees, wil jy onkonvensioneel wees. Kom ons kyk in hierdie openbare forum voor die rektor van die universiteit, voor die visekanselier, Gericke en Thom en so aan. Is jy nog altyd met hierdie moeilikste van onderwerpe bereid om jou nek uit te steek of sal jy leer om jou plek te ken? As jy jou nek uitsteek, kan ons jou kop afkap, andersins kan ons jou gewoon daar hou.’ Ek dink nie mens kan daardie Admissiebond anders lees as só nie.”

Dansklas

Hoe het Degenaar hierop gereageer? Eerstens het hy sy onderwerp subtiel aangepas, het Nash op gewys. “Die teologie van dans” het hy aangepas tot “’n Teologie van dans”. In die bydrae het Degenaar geskryf oor die beskouinge van Gerardus van der Leeuw, ’n groot invloed op Degenaar in sy tyd in Groningen. Nog geen mens het al ooit so ’n indruk op hom gemaak nie, het hy geskryf. Hy het na Van der Leeuw verwys as ’n digter van God en vriend van die mens. Volgens Degenaar het Van der Leeuw geglo dat alles in die teologie met dans moes begin, dat teologiestudente trouens hul studies met dansklasse moes begin.

Volgens Van der Leeuw was die Christelike geloof nie net versoenbaar met dans nie, dit laat ’n mens die moontlikheid verstaan dat die mens weer sy oudste taal sal praat, en dit is die taal van die dans. Dit wat spreek van die groot geheimenisse van beweging en teenbeweging, die beweging wat van hierdie aarde uitgaan na God en dié wat uitgaan van God na hierdie aarde.

“Degenaar vertel dan verder van sy bewondering vir Van der Leeuw. Dit bied ’n skets van Van der Leeuw se gedagtes en spreek die hoop uit dat hemel en die dans met mekaar in verband gebring word, weliswaar op ’n wyse waaraan ek en u nie gewoond is nie, en dat dit belangstelling by die teoloë sal aanwakker. Degenaar spreek (in sy bydrae) nie ’n oordeel uit oor dans nie. Hy maak geen verwysing na seks nie. Hy het wel ’n standpunt uitgespreek teen dogmatisme en ten gunste van ’n verskeidenheid toelaatbare standpunte eerder as een ortodoksie. Dit wys dat ’n mens van ’n mentor iets kan leer en terselfdertyd jou eie standpunt kan vorm.

“Die veronderstelling van die mense wat die uitdaging aan hom gerig het, is omgekeer en hy gee vir hulle in die plek daarvan ’n filosofiese beeld van die lewe.”

Nash laat blyk dat die Admissiebond se blad ingegaan het teen die gedagte van professore wat studente allerhande vreemde opvattings inprent. In die bydraes van admissiestudente self is verse “wat hulle knaend aangehaal het”, dié wat “saamhang met hul slawerny”. “Die hele tema van voorwaardelike oorgawe, die begeerte om as Christen ’n slaaf te wees, selfverloënend, selfs selfkruisigend. In ’n soortgelyke trant word daarin ontdek ‘Christus is my Heer en ek is sy slaaf’. Daardie beeld van slaaf wees kom voortdurend na vore.

“’n Mens kry die gevoel dat die admissante in ’n soort van gyselaarsituasie geplaas word. Hulle is gesê om op te pas vir die gevaar, vir Degenaar. Enigiets wat hulle skryf, kan dan teen hulle gebruik word en daarom kan hulle niks anders doen as om skuld en nederigheid te bely nie. Die hooggeplaastes vaar uit teen teenopvattings, en spreek hulle uit ten gunste van die ankers van die volk. Ek is omtrent seker dat die Broederbond ’n hand daarin gehad het.”

Soos genoem, word Degenaar telkens met die Sokratiese gesprek in verband gebring, en hy het Sokrates bewonder. Die besonderse soort gesprek wat Degenaar tot iets van ’n kuns verhef het, was egter ánders as die Sokratiese gesprek wat hy bewonder het, het Nash benadruk. Daar was ’n kenmerkende struktuur aan sy dialektiek wat gerekonstrueer kan word.

Ná die ontmoeting met Sokrates: Suid-Afrika is nie Athene nie

Die manier waarop Degenaar hom onderskei het in sy benadering ná die ontmoeting met Sokrates op Stellenbosch kón nie onveranderd bly nie. Die omstandighede het verander en nuwe geslagte studente het by hom opgedaag met nuwe idees van hul eie, het Nash gesê.

“Ek het uitvoerig daaroor geskryf. As jy daaraan dink … Sokrates was ’n kritikus van Athene, van die stad Athene, sy eie stad, in ’n tyd toe Athene die toonbeeld was van die beskawing in daardie tyd, toe daar na Athene opgesien is. “Suid-Afrika, onder apartheid in daardie jare, was nie in dieselfde kategorie nie. Soms was een van die beskrywings wat gegee is dat Suid-Afrika die muishond van die wêreld is. Die apartheidsbewind het gedink dis onregverdig, maar hulle het nie ’n bestel voorgestel soos die Athene van Sokrates se tyd nie. Sokrates het ook nie juis met jonger mense gepraat nie. In die dialoë van Plato waarvan Degenaar gebruik gemaak het, vind dit wel hier en daar plaas, maar op ’n triviale manier. In die dialoë van Plato is daar een waar ’n jongerige dronklap verskyn, een waar ’n vrou verskyn, en ek kan aan een dink waarin ’n jong persoon verskyn, maar net in die verbygaan. Dit was meestal mans, dié mense in sy eie tyd. Die omstandighede was anders. Die hele struktuur van Sokratiese dialektiek was anders as Degenaar s’n. En dit hang saam met die omstandighede waarin dit plaasgevind het.

“Die struktuur van Plato se dialektiek, van Sokrates se dialektiek soos dit in Plato se dialoë weerspieël word, kan ’n mens met vier basiese stappe saamvat: Eerstens soek jy ’n begrip waaroor daar verskil is, daar is getwis oor waaruit byvoorbeeld 'regverdigheid' bestaan. Dan om verder te kom, soek jy teenvoorbeelde wat nie inpas by die eerste definisie nie. Jy soek iets wat jy as regverdig sou beskou, maar wat nie pas in daardie bepaalde definisie nie. As jy dít gedoen het, moet jy ’n manier kry – die derde stap – om die twee te versoen. Om die definisie uit te brei om die begrippe te kan versoen, om die definisie uit te brei tot jy eindig met ’n uitgebreide begrip van regverdigheid of wat ook al. As jy dáárby uitgekom het, dan kan jy jou definisie regverdig.”

Degenaar se vorm van gesprek

In Suid-Afrika in daardie tyd, net soos wat dit nie ’n voorbeeld was vir die res van die wêreld nie, was ook definisies dikwels nié op die spel onder die apartheidsbewind nie, het Nash gesê. Hy het verduidelik dat in Degenaar se gesprekke mense byvoorbeeld die tuislandbeleid sou bespreek en gesels oor entiteite wat tóé nog nie bestaan het nie. Daar wás definisies, maar dit was nie duidelik wat die betekenis daarvan was nie. En die mense wat só gedefinieer is, het ook geen aandeel gehad in die skep van die definisie self nie, en het hulle daarteen verset. Nash het dit toegelig met die trekarbeidbeleid van destyds.

“Degenaar het een oggend in ’n klas vir eerstejaarstudente gevra of enigiemand daar ’n berig in Die Burger gelees het wat vertel het van die NG Kerk wat die regering gevra het om die trekarbeidbeleid meer menslik te maak. Volgens die beleid bly gesinne in die tuislande en die mans trek na die myne toe om daar vir die res van die jaar te werk en elke jaar vir ’n paar weke weer huis toe te gaan.

“En die idee dat só ’n beleid ménsliker gemaak kan word, het vir Degenaar kennelik verbaas. Ek dink nie iemand het daardie berig gelees nie, maar agterna, aan die einde van die klas, was ons uit na die middel van die Ou Hoofgebou en daar het mense begin gesels. Dit is daaruit en soortgelyke gesprekke dat ek gesien het hoe Degenaar se styl van gesprek gewerk het en hoe dit verskil het van die Sokratiese dialoë.

Hoe is dit moontlik?

“Die tipiese eerste reaksie van Degenaar, die vraag wat hy gevra het as ’n bepaalde situasie geskets is, was nie ‘Wat bedoel jy daarmee?’ nie. Dít het later gekom. Hy het nie vir ’n definisie gesoek nie. In die konteks van apartheid, in die trekarbeidgeval veral, bring ’n definisie jou nêrens nie. Jy kan tien definisies of meer of beter definisies gebruik. Die vraag waarmee hy begin het, is: ‘Hoe is dit moontlik?’ Daar is ’n klómp vrae wat jy op daardie trant kan vra. Dat die Kerk kan dink dat hierdie beleid mensliker gemaak kan word? Hoe kan jy dink dat dit mensliker gemaak kan word?

“Dit het ons wat studente was, gedwing om te dink: ‘Wat ís die maniere?’ Om ons in die teenstanders se koppe te plaas. Maar ons moes dan begin dink: Wat is die veronderstellings wat onderliggend is aan die versoek aan die regering? Stapsgewys het Degenaar ons dan aangespoor om die gedagtegang agter die trekarbeidstelsel byvoorbeeld, of ’n ander vraagstuk, duideliker te begryp. En hy het geluister, nie net na ons standpunte en sentimente nie, maar ewe sterk na die begrippe wat ons gebruik. Só kon hy ons bewus maak van konseptuele apparate waarvan ons self dikwels onbewus was. Maar dan, die tweede stap, gereeld in die loop van die gesprek sou hy ons verder bewus maak met die vraag: ‘Wat bedoel jy daarmee?’ Sou hy daardie vraag vra, dán sou hy van ons vereis dat ons definieer wat ons idees is en sodat ons ’n skerper fokus op ons eie gereedskap moes kry. Dít was die vraag wat die beginpunt is van Sokrates se verstaan van die dialektiek. Hiér was die vraag nie soseer ’n struikelblok in die gesprek se vordering nie. Dan, dikwels, as ons daarmee vordering maak, en iets nuuts bykom in die gesprek, was die formulering wat hy sou gebruik: ‘Dis ’n oulike skuif wat jy nou maak.’ Het ons ’n skuif gemaak? Wat is dit wat hy nou sy applous voor wil gee? Dan kon hy verduidelik, en ons kon dan saam daaraan meedoen, hoe die hele vraagstuk in ’n ander lig geplaas word deur middel daarvan.

“Soms was daar iets van ’n uitroep van hom as iemand iets beskryf het: ‘Daar lê ’n hele wêreld daaragter.’ En dan moes ons ’n groter konteks gee vir die situasie. Ons moes ons méér probeer indink. Ons moes ’n greep kry op die ervaringswêreld waarbinne ’n bepaalde standpunt gehuldig kan word, waar dit beskou is asof dit voor die hand liggend is. Op hierdie manier, stadig maar seker, het Degenaar met ons gevorder. Dikwels het hy dan afgesluit deur ons aan te moedig met: ‘Dis belangrike vrae wat julle vra.’ Dat die vráág belangrik kan wees, dat dit ’n prestasie kan wees om ’n vraag te vra, dat dit werk kan wees om by ’n vraag uit te kom, was vir ons ’n nuwe ervaring.

“Sonder dat dit gesê word, is ’n vraag wat daaruit voortkom: ‘Kan julle self gestand doen aan die stappe wat julle nou in die gesprek geneem het? Kan julle self leef volgens die argumente wat julle hier ontwikkel het? Om dit anders te stel: Wat sal van julle word? Sal julle gestand doen aan die ambisies wat julle uitspreek aan die behoefte aan regverdigheid wat julle self uitspreek in só ’n gesprek?’ Ek noem nou één voorbeeld, daar was ander, soos die Swartbewustheidsbeweging.”

’n Solidariteit anderkant standpunte

“Wat die hele proses moontlik gemaak het, was die solidariteit van Degenaar met die studente met wie hy gepraat het,” het Nash gesê. “Dit was solidariteit wat op ’n hele verskeidenheid maniere betuig moes word. In gevalle waar studente in die moeilikheid was, sou Degenaar – al sou hy nie saamstem met die standpunte wat hulle gehandhaaf het of die redes wat hulle in die moeilikheid laat kom het nie – sou hy hulle probeer beskerm, sou hy hulle probeer raad gee waar hy kon, sou hy stap na waar hulle is, dat hy vir hulle iets kan sê, aanmoedig in hulle strewes. Dit was ’n noodsaaklike bestanddeel van sy tipe gesprek.”

Verwondering

Mariana Kruger, die medereerder vir die geleentheid, het dit gehad oor Degenaar se verwondering oor die wêreld. In die gesprek met die gehoor blyk dit heelparty oudstudente van Degenaar kon saam met Nash ’n terugblik bied op die besonderse mens wat Degenaar was.

Nash het gewys op Degenaar se durend vriendelike manier van doen teenoor vriend en vyand, ook dat die aard van die Degenaar-gesprek veral na vore gekom het in die gesprekke ná die klas, en in ’n beperkter mate in die klas self. Uit die gehoor het Andries Gouws aangesluit by Nash se stelling oor Degenaar se merkwaardige vriendelikheid in ’n by tye bepaald onvriendelike opset.

“As ek in Degenaar se posisie was, sou ek so uptight gewees het met al hierdie vyandige mense rondom my. Hy was hierdie ontspanne, minlike man met humor. Hy kon by geleentheid ook skerp opmerkings maak, maar sy basiese houding was baie humoristies en hy was oop om met enigiemand in gesprek te tree. Ek het al gewonder wat die sielkundige aspek was van hierdie geweldige oopheid van hom. Dat idees hom nie bedreig nie en dat hy kalm kon bly en altyd nuuskierig.”

Nash was dit met hom eens dat ook hierdie aspek van hom merkwaardig was. Hy vertel toe van ’n laaste keer wat hy by Degenaar gekuier het. Hy was toe al in Somerset-Wes ná die oorlye van sy vrou, Jetty. “Ek dink dit was die laaste keer dat ek hom gesien het voordat hy heeltyds in die siekeboeg geplaas is. Hy was self al besig om taamlik deurmekaar te raak. Ons het Somerset-Wes toe gery en op die strand gaan stap. Daar was klein kinders, seker so drie of vier jaar oud, wat in die sand gespeel en ’n kasteel gebou het. Hy het na hulle gestap om te kyk wat hulle maak en het hulle daarna gevra. Daardie kinders het sonder om te huiwer gesien hier is ’n vriend van hulle en het begin verduidelik hoe die sandkasteel werk. Daar was iets van ’n onskuld aan hom en ’n bereidwilligheid om geduld te hê, ook al het mense kwetsend teenoor hom opgetree.”

Gouws het genoem dat Degenaar vir soveel en totaal uiteenlopende mense so ontsettend belangrik in hulle lewe was. “Hy het nie klone gemaak nie en hulle het in geweldig verskillende rigtings gegaan. Ek is verskriklik nuuskierig oor daardie aanvanklike skok en die kombinasie van uit ewewig te val en gefassineer te wees deur Degenaar.”

Kollegiale dinamiek

Johan Degenaar se destydse kollega, André du Toit (Foto: Jean Oosthuizen)

’n Vraag uit die gehoor het gehandel oor die denke van Degenaar tesame met dié van sy kollega indertyds, André du Toit.

Daar was ’n duidelike harmonie tussen die twee, het Nash gesê en verwys na sy ervaring van toe hy ’n student was. “Du Toit was jonger en was Degenaar se student. Hy het die meer konvensionele gedeelte van die kursus gegee, logika byvoorbeeld. Dit is nie iets wat veel ruimte vir oorspronklike skepping oorlaat nie. Jy moet leer hoe die struktuur van ’n argument werk. En dit het hy geweldig deeglik gedoen. Dit het vir Degenaar ruimte gegee om meer vryswewend te wees. Terselfdertyd het wat Du Toit ons geleer het, vir ons iets van ’n raamwerk gegee wat vir ons gehelp het om Degenaar se werk te verteer.”

Dit dans steeds nie op Stellenbosch nie

’n Vraag van Lamé Ebersohn was: As dit dan so is dat Degenaar dan so met julle almal gedans het op Stellenbosch, wat is dit dan nou dat die mense nog steeds dink dans is sonde, metafories gesproke? Want dit dans nie in Stellenbosch nie, ook nie in die Filosofie-departement nie. Hoe het dit gebeur? Hoe kan ons dit weer kickstart? Hoe kan die institusionele kultuur van universiteite verander word en sorg dat mense studente raak en nie as kliënte beskou word nie?

Uit die gehoor is ’n gesprek op LitNet genoem waarin David Benatar en David Attwell oor die val van die Universiteit van Kaapstad en dies meer gesels. Nash hou nie van die aanslag waarvolgens Attwell ’n onderhoud met homself gevoer het en alles daarin baie netjies bespreek word nie. Wat hulle nie insien nie is dat universiteite sakeondernemings geword het, het hy gesê.

“Die laaste waarin hulle (universiteite) belangstel, is dat iemand oor iets moet dink of nuuskierig wees. Die hele projek van ’n universiteit gaan nou oor ranglyste. Jy moet jouself as individu bevorder, jy moet ’n A-gradering kry. Die departement moet op hierdie of daardie ranglys wees en die universiteit verkieslik boaan ’n ranglys.”

Ranglyste

Nash het die oorsprong van die ranglyste kortliks bespreek. “In die vyftigerjare het die Amerikaanse koerant US News & World Report besluit dat dit ’n goeie ding is om nuwe lesers te kry as hulle ranglyste van spesifieke produkte maak. Hulle sou hul ouens uitstuur om te kyk wat die beste tien grassnyers byvoorbeeld is, om te kyk wat is dit wat mense soek in ’n grassnyer. Of dit sal gholfstokke wees. En dan maak hulle ranglyste van die tien bestes. Toe kom hulle by universiteite uit. Van die universiteite het dit geweier. Dit wérk nie so nie. Die universiteit is nie só ’n ding nie. Jy kan tien haardroërs kry en aan ’n joernalis sê was jou hare tien keer en maak dit droog en vertel vir ons daarvan. Maar jy kan nie dieselfde doen met ’n universiteit nie. ’n Universiteit kan ’n leeftyd in beslag neem en jy sal nog altyd besig wees om dit 50 jaar later te verteer.

“Maar die universiteite het dit mettertyd aanvaar. Wat hulle dit laat aanvaar het – ek is nie ’n groot kenner daarvan nie – is die gedagte dat daar gebou word aan die formule van wat ’n top universiteit is. Hierdeur sou die reputasie van ’n top universiteit verkry kon word. En dan het Harvard en Yale en so aan gedink, wel ons hét die reputasie. Die ryk mense se kinders kom hierheen, hulle wil hier wees. Nou? Alles hang daarvan af. Die resultaat is – as ek my ervaring by UCT as maatstaf neem – die dosente word afgeraai om klasgee ernstig op te neem. Hulle word gesê die manier waarop jou prestasie aan die universiteit gemeet word, is die aantal en die prestige van die publikasies. Jy moet publiseer. Jy moet oorsee publiseer. Moenie plaaslik publiseer nie. Moenie eers praat met die kollega in die kantoor langs jou nie. Wat jy moet doen, is om aanmekaar artikels voor te lê. Dít maak die werk wat gedoen word, onleesbaar.” En daarmee saam hang wat hy na verwys as die opkoms van fop-vaktydskrifte.

Klimaatskrisis en verskuiwende waardes

’n Vraag wat Degenaar destyds aan ’n klas gevra het en wat een student by die FilosofieKafee tot vandag onthou, is: Wat is ’n universiteit? Dit is ’n vraag wat ’n paneelbespreking sou regverdig. En die voorstel is gemaak dat dit as sodanig by ’n volgende FilosofieKafee bespreek kan word.

Nash lees tans wyd oor die klimaatkrisis en sien daarin dat die universiteite nie aan die kragte wat dit ontketen het, sal ontkom nie.

“As ons dink aan wat die universiteit word, moet ons ook dink aan die ineenstorting van klimaatstelsels. In sommige opsigte is dit die opsigtelikste dryfveer agter ’n breë ineenstorting van samelewings wat reeds miskien al verskeie dekades aan die gang is.”

Hy bring dit in verband met wat mens toenemend sien: groter ongelykheid en ’n groter gerigtheid op markwaarde as die enigste werklike vorm van waarde. “En dit is onhoudbaar. Miskien nie in ons leeftyd nie, maar in ons kinders se leeftyd, sal dit op groot skaal die samelewing inhaal.

“Die mees onlangse (klimaatswetenskap)verslae gee te kenne dat die laaste kans reeds verspil is ten opsigte van die temperatuurstyging van 1,5 grade Celsius wat voorspel word.”

Nash meen die internet se infrastruktuur soos dit daarvoor tans daar uitsien, kan beteken dat dit waarskynlik gaan verdwyn. “Die internet kan nie gehandhaaf word soos nou nie, want daar kan nie die hele tyd soveel krag gewek word nie. In ’n stadium sal ’n hele klomp stelsels begin verkrummel.”

Terug by Degenaar. Hy het nie opleiding of ’n sistematiese nuuskierigheid oor wetenskap gehad nie en sou iets soms interessant vind, het Nash gesê. “Daar was ’n soort naïwiteit aan hom. Sy verhouding met die sterre was nie dié van ’n sterrekundige nie, maar van dié van iemand gevul met verwondering by die aanskoue daarvan.”

Uit die gehoor is gevra na die huidige konteks en die rol van Degenaar se denke, gegewe ’n veel verander(en)de wêreld en tyd. Vir ’n vorige generasie was passievolle gesprekke, teenspraak en diskussie gedurig aan die gang in jou gesin en daar waar jy ook al was. Maar nou het die wêreld so verander – hoe kry mens jou kleinkinders van die iPads weg? Hoe kry jy mense se belangstelling terug by verwondering? Die wetenskap het ook al baie dinge verklap. Ons het ánders na die sterre gekyk, ons was meer betrokke by die dinge. Die mense vra nou baie meer vrae. As jy meer vrae vra, word jy miskien meer sinies …

Nash het daarop gewys dat waar dit gaan om samelewing en die versnellende gang van tegniek, daar toenemend én bewustelik ménslike kontak moet plaasvind, op ’n ménslike skaal. “Dit is nie net in terme van individue waarvan ons praat nie, maar die mensdom.”

***

  • Besoek dialectic.co.za vir Nash se blog waar onder meer ’n vierdelige bespreking van sy beskouings oor Degenaar se werk te lees is.
  • Lees Andrew Nash se FilosofieKafee-lesing op LitNet.
  • Die volgende FilosofieKafee-geleenthede vanjaar vind plaas op 1 Julie, 2 September en 4 November in die Breytenbach Sentrum op Wellington. Besoek https://filosofiekafee.blogspot.com.

Lees ook:

Johan Degenaar in 2007 op LitNet: “Afrikaans-wees in Afrika en die Wêreld 2000

Johan Degenaar op LitNet: “Die spanning tussen voortbestaan en geregtigheid

Jean Oosthuizen se indrukke en foto’s van die US se huldigingsgeleentheid by die afsterwe van Johan Degenaar

Pieter Duvenhage se LitNet Akademies-artikel, “Albert Camus: Eksistensialisme, die Afrikaanse wêreld en die taak van die verbonde intellektueel

Willie van der Merwe se intreerede in 1998 by sy benoeming as hoogleraar in filosofie aan die Universiteit Stellenbosch: “Die roeping van filosofie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top