Die roeping van filosofie

  • 3

Hierdie intreerede is gelewer deur Willie van der Merwe by sy benoeming as hoogleraar in filosofie aan die Universiteit Stellenbosch op 15 Oktober 1998 in die Konserwatorium in Stellenbosch.

..... 

Opsomming

Filosofie is die enigste dissipline aan die universiteit wat sy bestaansreg ontleen aan selfbetwyfeling en -relativering. In die huidige klimaat van transformasie en rasionalisering is die filosofie daarom in ’n besonder weerlose posisie. Dit is ironies, omdat die wetenskap as kultuurvorm en die universiteit as instelling moontlik gemaak is en steeds gedra word deur die wil tot bevraagtekening wat lewend gehou word in die filosofie.

Omdat die skepsis van die filosofie altyd by sigself begin, kan die vraag: "Wat is filosofie?" nooit afdoende beantwoord word nie. Dit is by uitstek die filosofiese vraag wat filosowe deur die geskiedenis heen tot ’n lewensvraag gemaak het wat hulle met hulle denkarbeid probeer beantwoord het. Dat dit ’n vraag is wat nie beantwoord kan word nie, maar waaraan ’n mens met jou lewe beantwoord – en dus ’n lewensroeping word – het te make daarmee dat filosofie "liefde vir wysheid" of "wysbegeerte" beteken. Die vervulling van die begeerte na wysheid word lewenslank uitgestel, vanweë die eindigheid van die mens. Terselfdertyd maak dit die begeerte na wysheid tekenend van die menslike lewe self. Vir sover alle mense wysheid begeer, gee hulle gehoor aan die roeping van filosofie. Hulle streef ideale na wat nie volkome bereikbaar is nie, soos waarheid, geregtigheid en skoonheid, die klassieke ideale van die filosofie. Al kan hierdie ideale nie bereik word nie, maak die benadering daarvan ’n menslike samelewing moontlik.

Die onwete van die filosofie oor wat dit self is, roep daarom ’n verleentheid op wat tekenend is van die mens se verleentheid om antwoorde te vind op die mees fundamentele vrae van sy bestaan. Die verleentheid van die mens is dat hy nie weet wie hy is nie, dat hy vir homself ’n vraag en ’n sorg is. Kenmerkend van die mens is dat hy die verleë wese, die skaam wese, die blosende dier is. Terselfdertyd is dit sy heerlikheid, want vir sover die mens vir homself ’n misterie is, is hy die beeltenis en gelykenis van God.

Die roeping tot filosofie is daarom niks minder of meer as die roeping om mens te wees nie. Om jou menswees as ’n roeping te beleef, veronderstel egter ’n bewussyn van jou eie eindigheid en ’n besef van die eenmaligheid en onherhaalbaarheid van die lewe. Daarvan getuig die filosofiese spreuk wat sê: "Om te filosofeer, is om te leer hoe om te sterwe." In die lewe van ’n sterflike wese soos die mens is dit die mees begerenswaardige wysheid. Want wie weet hoe om te sterwe, het die kuns van die lewe bemeester.

.....

Dit verbaas my nie dat hierdie inisiasieritueel – een van die oudstes in die akademiese lewe – vandag nog steeds gewild is nie. Van die benoemde word verwag om nog ’n laaste oortuigende rede aan te bied voordat hy in sy leerstoel mag gaan sit, en hopelik slegs figuurlik sal gaan sit. Ek gee toe dat dit nogal spannend, selfs aanskoulik kan wees. Veral omdat die soort intrede wat deur dié rede geregverdig moet word, geensins vanselfsprekend is nie. Dit mag immers nie ’n rede wees wat die benoemde se intrede tot sy vakgebied regverdig nie, want daarin bevind hy hom reeds geruime tyd. Wat ook nie verlang mag word nie, is ’n rede vir sy benoeming, want almal wat die wel en wee van die akademie ken, sal weet dat die beroemde Max Weber gelyk gehad het toe hy dit, ook met verwysing na homself, gestel het dat om van gewone dosent tot volle professor te vorder, van die stand van die sterre afhang.

Ongetwyfeld is die waarneming nog meer van toepassing in ’n klimaat waar teisterende winde van verandering en donker newels van besnoeiing boonop die stand van die sterre verduister. Die een vir wie dit gegun word om in so ’n klimaat te vorder, is eerder onder die indruk van genade en goeie geluk as van regverdigende redes. En soveel te meer as dit gaan om so ’n weerlose en selfontluisterende aktiwiteit soos die filosofie, die enigste dissipline aan die universiteit wat sy bestaansreg ontleen aan selfbetwyfeling.

Wat die filosofie weet, en ander graag vergeet, is natuurlik dat hierdie selfbetwyfeling ’n kultuurvorm soos die wetenskap en ’n instelling soos die universiteit in die eerste plek moontlik gemaak het. En tot vandag toe nog bied hierdie wil tot kritiese refleksie en selfrelativering – soos ’n outonome senuweestelsel – die lewensimpuls vir die wetenskap en die universiteit. Dit sien ’n mens deur die geskiedenis en vandag weer opnuut. Sodra die vanselfsprekende bestaansreg van ander dissiplines, of selfs van die universiteit, deur veranderende eise van die tyd uitgedaag word, raak almal op hulle senuwees, dws hulle begin filosofeer!

Ongelukkig beteken dit nie noodwendig ’n waardering vir die waarde van die filosofie self nie. Inteendeel, dit kompliseer eerder die paradoksale eis waaraan die filosofie uitgelewer is; die eis om sy belang te bevestig deur nie net homself te betwyfel nie, maar ook die selfregverdiging van alle ander dissiplines, van die wetenskap en die universiteit as sodanig, voortdurend te bevraagteken. ’n Mens wil byna sê: In ’n omgewing van strategiese beplanning en rasionalisasie kan jy met so ’n visie en missie verseker wees van mislukking.

Dit laat my dan ook dink aan die opmerking van Odo Marquard, ’n Duitse filosoof wat bekend is vir sy skeptisisme, dat die keuse deur ’n jongmens vir die filosofie meestal nie die begin van ’n suksesvolle loopbaan is nie, maar eerder van ’n persoonlike tragedie. Behalwe uit die optimistiese vertroue van my lewensmaat, het ek in die verlede dikwels ook troos geput uit hierdie waarneming, en hoewel ek nog nie kan aanspraak maak op ’n suksesvolle loopbaan nie, laat u my vanaand glo dat my besluit van veertien jaar gelede om gehoor te gee aan die roeping van filosofie eerder as die gemeentebediening ten minste nie die begin van my ondergang was nie.

Vir hierdie bevestiging van my roeping is ek opreg dankbaar. Daaraan wil ek graag vanaand uitdrukking gee deur van my belewing van hierdie roeping te getuig. Dit gaan dus nie vir my om ’n definisie van wat die roeping van filosofie is of behoort te wees nie, asof ek sou kon weet wat dit vir ander is of moet wees, en asof daar slegs een definisie moontlik of wenslik is nie. Dit gaan vir my uitsluitlik om my persoonlike belewing van my roeping tot filosofie, maar dit hou natuurlik verband met hoe ek die roeping of die opgawe van filosofie verstaan. Trouens, dit is vir my onmoontlik om oor die roeping van filosofie te praat anders as om daarvan te getuig, want my verstaan van die opgawe van filosofie maak dit vir my tot ’n gawe, ’n lewensroeping, waaraan ek probeer gehoor gee.

Maar eers moet u my in die gees van Marquard ’n oomblik van tipiese filosofiese skeptisisme veroorloof. Ook al is ek vanaand dankbaar vir hierdie bevestiging van my lewensroeping, is dit nie ’n ontwyfelagtige voorreg om juis in die huidige klimaat jou intrede te maak nie. In ’n land van skaarste tree jy toe tot die geledere van diegene aan die universiteit op wie se vroeë uittrede hoopvol gewag word. En watter rede sou ’n mens aan die vooraand van jou middeljare kon bedink om hierdie onbenydenswaardige eer te verwerf? ’n Kompromis wat hopelik sowel meelewende vriende as nuuskierige toeskouers mag tevrede stel, mag wees dat ’n mens blyke gee van ’n spesiale soort vermoë, ’n vermoë wat jou vervangingswaarde ten minste afstem op jou rakleeftyd (as ek dit so mag uitdruk in die kommersiële idioom wat tans gangbaar is in die universiteitswese), te wete die vermoë om te vergoed vir onvermoë. Of, as ek dit in ’n ander idioom mag stel, een wat afgestem is op beroepsgereedheid eerder as roepingsbesef, naamlik die idioom van uitkomsgebaseerde onderwys: die kompetensie om te kompenseer vir inkompetensie. As u my sal toestaan om die spesifieke soort bevoegdheid tot onbevoegdheid aan te bied as my intreerede, voel ek my bevoeg, omdat ek dan niks hoef voor te doen wat nie ook eerlik die geval is in my belewing van die roeping van filosofie nie. Ek kan dan vir ’n wyle ontsnap aan die vrees wat voortdurend by my spook dat ek eintlik ’n boerebedrieër is wat een of ander tyd uitgevang sal word; ’n vrees wat ek blykbaar in my domheid, volgens Leszek Kolakowski, deel met werklike denkers, as hy verklaar: "A modern philosopher who has never experienced the feeling of being a charlatan is such a shallow mind that his work is probably not worth reading."

Deur niks meer voor te gee as ’n bevoegdheid tot onbevoegdheid nie, hoop ek dus om die vrees van bedrog, en veral selfbedrog, te besweer en miskien selfs nog ’n indruk van diepsinnigheid by u te laat. Terselfdertyd veroorloof dit my om nie ’n akademiese redevoering oor die filosofie aan te bied nie, maar u eerder te betrek by ’n klein persoonlike oefening in filosofie. Daarmee slaan ek seker ’n trant in wat nie gebruiklik is in ’n intreerede nie, maar tog vir my die mees aangewese lyk. Want soos ek reeds gesê het, kan ek oor die roeping van filosofie praat slegs deur daarvan te getuig en dus gehoor te gee daaraan deur ’n persoonlike oefening, hoe onbeholpe ook al, daarin te waag. Daarby is elke poging tot filosofie – ook al geskied dit in gesprek met ander – eenmalig en persoonlik, want soos Wittgenstein ons tereg herinner, kan iemand anders so min namens jou dink wat jy dink as wat hy jou hoed namens jou kan lig.

Laat ek dus begin deur ’n verband te lê tussen my bevoegdheid tot onbevoegdheid en die roeping van filosofie. Om dit te doen is ’n gelykenis meer gewens as ’n argument. Argumente voer redes aan vir ’n waarheid, probeer ’n mens oorreed tot ’n waarheid. Om gehoor te gee aan ’n argument is om in te tree in ’n waarheid. ’n Mens sou kon sê ’n goeie argument is ’n intreerede, ’n redevoering. Gelykenisse, daarenteen, voer nie redes aan nie, maar ontsluit of onthul ’n waarheid. Dit gee toegang tot ’n waarheid, probeer ’n mens inlei, selfs inlyf, in ’n waarheid. Gelykenisse veronderstel ’n bereidheid, ’n gewilligheid tot die toe-eiening van ’n waarheid wat reeds heimlik vermoed word, maar pas geskied as jy jou daarin laat betrek. ’n Mens sou kon sê: Argumente oorreed, gelykenisse inisieer. As ’n goeie argument ’n intreerede is, is ’n goeie gelykenis ’n inisiasieritueel.

Vir my is dit selfs in die algemeen van filosofie waar – soos dit seker in die geloof waar is – dat die logika van die gelykenis, die logika van inisiasie, voorafgaan aan die logika van argumentasie, die logika van redevoering. Gelykenisse laat diegene sien wat oë het om te sien en spreek tot diegene wat ore het om te hoor. So is dit ook dikwels die geval dat die filosofie van ’n denker ’n mens boei en beslag lê op jou nie omdat jy jou daartoe laat oorreed nie, maar omdat jy daartoe verlei word deur ’n selfverstaan wat dit in jou voltrek, ’n selfverstaan wat nie noodwendig ooreenstem met die denker se eie verstaan van sy filosofie nie. Miskien verklaar dit ook waarom die meeste groot filosowe nog altyd skepties was oor hoeveel ander, en by uitstek hulle navolgers, werklik verstaan het van hulle filosofie. Soos Hegel, een van die grootstes in die geskiedenis, wat by geleentheid gekla het dat hy van net een mens weet wat sy filosofie verstaan het ... en dié het dit boonop misverstaan. En Wittgenstein, een van die min filosowe van wie ek meen ek iets verstaan, verklaar selfs onomwonde in die openingsin van sy klassieke Tractatus-Logico Philosophicus, die enigste van sy filosofiese werke wat voor sy dood gepubliseer is, dat die boek waarskynlik verstaan sal word slegs deur diegene wat reeds die gedagtes gedink het wat hy daarin probeer uitdruk. Elders, in ’n nagelate geskrif, verklaar hy selfs dat sy filosofie uit twee dele bestaan. Dit wat hy op skrif gestel het, is die eerste deel. Dit wat hy nie op skrif kon stel nie, die onverwoordbare, is die tweede deel, en volgens hom die eintlike belangrike deel van sy filosofie. Die eerste deel, wat hy wel op skrif gestel het, is slegs die gelykenis wat ons wil inisieer in die tweede, onuitgesproke en onuitspreekbare deel.

So gaan dit meermale in filosofie nie soseer om wat daar geskryf staan nie, as om ’n herkenning van en ’n inlywing in wat daar nie geskryf staan nie. Plato, self ’n meester van gelykenisse, skryf nie verniet dat dit wat vir hom die meeste saak maak, in geen van sy geskrifte staan of sal staan nie, want, sê hy, nêrens in dit wat ’n ernstige mens skryf, staan dit wat vir hom die allerbelangrikste is nie.

Die gelykenis wat ek in gedagte het, is nie my eie maaksel nie, net soos "die kompetensie om te kompenseer vir inkompetensie" nie my formulering is nie, maar die titel van ’n voordrag wat Odo Marquard oor die roeping van filosofie gelewer het. Hy begin sy voordrag met die volgende ietwat grimmige gelykenis wat ’n bietjie uit die toon val van ’n feestelike geleentheid soos hierdie. Diegene wat oë het om te sien en ore om te hoor sal egter onmiddellik die merkwaardige ooreenkomste herken met die ritueel wat nou hier voltrek word.

Die situasie van die gelykenis is ’n kompetisie, ’n onthoofdingskompetisie, waarin Chinese laksmanne met mekaar meeding in die virtuositeit van die swaardkuns waarmee hulle teregstellings voltrek. Die tweede finalis – so lui die verhaal – het hom egter in ’n onbenydenswaardige posisie bevind, juis vanweë sy buitengewone vernuf. Sy opponent het oomblikke tevore met onewenaarbare presisie ’n onthoofding voltrek waarop hy moes verbeter. Die afwagting was oorweldigend. Met een byna onsigbare haal van sy vlymskerp swaard het hy op sy opponent verbeter. Sy snit was egter so skoon en presies dat die kop van die slagoffer nie eens gerol het nie. Skynbaar uit die veld geslaan deur die gebeure het die kop van die onthoofde hom verbaas en verbysterd aangekyk ... waarop die laksman hom lakonies versoek het: Knik net jou kop asseblief. Wat die kop moes gedink het voordat dit knik, sê Marquard, moet vergelykbaar wees met wat die filosofie oor sigself dink. Dit is ook nie onvergelykbaar nie, vrees ek, met wat ek self op hierdie oomblik dink.

Daarom, voordat ek knik, moet u my ten minste ’n belydenis vergun. Eintlik moes ek seker begin het met die belydenis, maar ek vrees dat u dan net onder die indruk sou wees van my onbevoegdheid. Deur my belydenis nou eers te doen, hoop ek om darem blyke te gee van ’n soort vermoë om te vergoed vir my onvermoë, want soos u weet, is belydenis, veral in ons hedendaagse wêreld, by uitstek ’n manier om ander in te sweer in die ongemak van jou eie eindigheid. Net diegene wat in die simboliese orde van die samelewing posisies beklee wat ingestel is vir die aanhoor van belydenisse – soos dominees, dokters en terapeute – word, juis omdat dit simboliese posisies is, beskerm teen die oordrag van verleentheid wat ’n belydenis kan vermag. In die alledaagse omgang van mense, op die markplein waar die tradisie van die Westerse filosofie gebore is en nog steeds sy roeping moet vind, bestaan daar egter nie sulke simboliese posisies nie. Almal sweer saam teen die gemeenskaplike wete van ons onwetendheid en almal staan weerloos wanneer dié ongemaklike waarheid weer in ’n belydenis onthul word. Op die markplein is elke belydenis ’n lewensgelykenis. Daarom is die een wat sy onvermoë, sy gebrek aan kennis en wysheid, op die markplein bely, selde gewild. Dink maar aan Sokrates, die lewensgelykenis van die filosofie. Van die orakel van Apollo in Delphi verneem hy dat daar niemand wyser as hy is nie. Omdat hy juis onder die indruk is van sy gebrek aan wysheid, ag hy dit sy roeping om iemand op te spoor wat werklik wys is ten einde terug te rapporteer aan die god dat hy ’n fout begaan het. Hy knoop met almal op die markplein gesprekke aan, maar telkens blyk dit dat selfs diegene met ’n reputasie vir kennis en wysheid net gedink het hulle weet terwyl hulle eintlik nie weet nie. Uiteindelik moet hy die god gelyk gee – nie omdat hy wat Sokrates is, so wys is nie, maar omdat hy ten minste weet dat hy nie weet nie. Met die volgehoue belydenis van sy onkunde maak hy homself egter so ongewild dat hy gevonnis word vir ondermyning van die moreel en ter wille van sy roeping die gifbeker moet drink. In wat die filosofie oor sigself dink, geniet hy wat soos Sokrates sy onkunde bely, nogtans, selfs letterlik, die voordeel van die twyfel.

Wat ek moet bely, en wat u nou reeds moes begin vermoed, is dat ek nie weet wat filosofie is nie.

Dit is ’n verknorsing waarvoor ek ’n paar verskonings wil aanvoer. Die eerste is my jonkheid, ook al mag ek gemeet aan die standaarde van die markplein nie meer so jonk wees nie. Om gehoor te gee aan die roeping van filosofie, behels immers om jouself te onderwerp aan ’n lewenswet wat omgekeerd eweredig is aan die wet van die arbeidsmark, wat eerder probeer tred hou met die hedendaagse samelewing se vlug voor die waarheid van die lewe self. Die lewenswet wat in hierdie vlug ontken word, is dat die verloop van die lewe nie die verlies van die lewe is nie, maar juis die vervulling daarvan. Ons leef in ons eindigheid na ons eie einde toe en ons lewe wen aan waarde en aan waarheid namate ons die einde nader. Dis ’n lewenswet wat van krag bly in die filosofie. Soos Wittgenstein gesê het: In filosofie is die wenner van die resies die een wat die stadigste kan hardloop, oftewel die een wat laaste daar kom. In die roeping van filosofie neem jou beroepsgereedheid nie af nie, maar juis toe na die mate waartoe jy die leerskool van die lewe afgelê het. Eers met jou aftrede is jy gereed om jou intrede te maak.

Filosofie beteken "liefde vir wysheid" of "wysbegeerte", en soos die volksidioom leer, kom die wysheid, as dit ooit kom, pas met die grysheid. Om gehoor te gee aan die roeping van filosofie, vra ’n lewensoffer wat die risiko van ’n persoonlike tragedie inhou, soos Marquard tereg opgemerk het, want die vervulling van die begeerte na wysheid word lewenslank uitgestel. Dit maak die wysheid natuurlik nog soveel begeerliker. En dit maak dat die verleiding van filosofie – anders as ander vorme van verleiding – nie gestil word in toegewing nie, maar eers werklik onweerstaanbaar word nadat ’n mens daarvoor geswig het.

Die meester in die 20ste eeu, na Freud, in die ontsyfering van die geheimtaal van begeerte, is natuurlik die psigoanalitiese Franse denker, Jacques Lacan, wie se insigte ek vroeër reeds betrek het in my verwysing na die simboliese orde van die samelewing. Volgens Lacan word ons almal beweeg deur begeerte, deur ons wil om te wees, ’n gedagte wat teruggaan op Aristoteles wat reeds hierdie begerigheid wat hy energeia noem, herken het as ’n begeerte tot volmaaktheid, die wil tot selfverwesenliking wat die grondbeginsel van die menslike lewe is. Ook in die Middeleeue, en vandag weer in die denke van Emmanuel Levinas, word die eiesoortigheid van ons bestaanswyse as mense nie in die eerste plek vereenselwig met ons denke of ons redelikheid nie, maar met hierdie wil om te wees wat uit begeerte ontspring. Wat ons menslike begeerte egter, volgens Lacan, wesenlik anders maak as dierlike drif is ’n asimmetrie tussen begeerlikheid en bereikbaarheid. Vir die mens lê die begeerlikheid van die voorwerp van begeerte in die onbereikbaarheid daarvan. Wat bereik is of besit word, kan nie meer bekoor nie. Of anders gestel, in die taal van Augustinus, wat ons eintlik begeer is die oneindige. Ons hart kan nie tot rus kom nie, sê Augustinus, voor dit tot rus kom in God nie.

As dit waar is, is die begeerte na wysheid – juis omdat die vervulling daarvan lewenslank uitgestel word – die mees verleidelike, maar ook die mees tekenende vorm van menslike begeerte. Nie ons besit van wysheid nie, maar ons onvermoeide begeerte daarna, teken ons as mense. En vir sover ons almal wysheid begeer, gee ons gehoor aan die roeping van filosofie. Dit onderskei ons van die gode, want soos Plato reeds vier eeue voor Christus opgemerk het:  "Onder die gode is daar niemand wat ons ’n filosoof kan noem nie, en geen God het die begeerte om een te word nie. Want die gode is reeds wys en wie reeds wys is, is geen filosoof nie." Terselfdertyd onderskei dit ons ook van die diere, wat nie die oneindige kan begeer nie. Die roeping van filosofie, sê Emil Utitz, behoort tot die eindigheid van die mens wat na die goddelike strewe, want die dierlike aanleg verhoed so ’n strewe, terwyl dit vir ’n god oorbodig is.

Wat ek so pas probeer doen het, is om die verskoning van my jonkheid – hopelik ongemerk – uit te vergroot tot die onvermydelike beperkinge van my menslikheid, in feite tot die gedeelde verleentheid van ons almal se eindigheid. Ek is immers ook nie meer so jonk nie en boonop moet ek antisipeer dat ek selfs met my uittrede nog nie sal weet wat filosofie is nie. Anders trap ek in dieselfde strik as die postmodernistiese Franse duo Gilles Deleuze en Felix Guattari wat op gevorderde leeftyd ’n boek met die verlossende titel Wat is filosofie? gepubliseer het. In die openingsinne skryf hulle: "Die vraag wat is filosofie kan miskien slegs laat in die lewe gestel word, wanneer die ouderdom en die tyd om konkreet te praat aangebreek het ... Dit is ’n vraag," vervolg hulle, "wat gestel word in ’n oomblik van stille rusteloosheid, teen middernag, wanneer daar niks anders oorgebly het om te vra nie." In die res van die boek word daar telkens teruggekeer na hierdie vraag wat skynbaar soveel opwinding verleen in die slapelose ure van bejaarde filosowe. Hulle slaag selfs daarin om ’n hele aantal middernagtelike skimme op te roep rondom die flakkerende kersie van die menslike denke, skimme van die onbewuste, die nog-nie-gedagte, die onsegbare, nooit gehoorde dinge waarvan Van Wyk Louw praat, waarvoor ons huiwer en wat flikker om die grense van ons duister woorde; in kort, dit waaraan ons probeer gehoor gee, tot begrip probeer bring in ons denke, dit wat ons in die eerste plek beweeg tot denke, maar in dieselfde beweging weer ontsnap aan ons begrip en selfs ons edelste gedagtes trivialiseer tot reflekse van ons begeerte. Daarmee word dit ’n boeiende boek, nie soos die titel beloof het oor filosofie nie, maar oor dit wat aanleiding gee tot filosofie, die voorfilosofiese aandrif tot filosofering, die roeping tot filosofie.

Soveel kon Deleuze en Guattari gesamentlik met die wysheid van die grysheid presteer. Die kompetensie waarmee hulle gekompenseer het vir die inkompetensie, het nogtans daarvoor gesorg dat die boek weke lank bo-aan die lys van beste verkopers in Frankryk was en steeds in filosofiese intreeredes aangehaal word.

My tweede verskoning, wat my terselfdertyd die geleentheid bied tot eerbetoon, is dat my leermeesters óók nie geweet het wat filosofie is nie.

Toe ek as eerstejaar aangemeld het op Stellenbosch, het my vakkeuse nie filosofie ingesluit nie, omdat my gemeenteleraar dit ten sterkste afgeraai het. Agteraf moet ek vandag konstateer dat dit een van sy skaars oomblikke van wysheid was. In die redes vir sy renons in filosofie het hy eintlik meer insig getoon in filosofie as die meeste filosowe. Hy het byvoorbeeld aangevoer dat filosofie ’n mens wysmaak om vrae te stel wat liewer ongevraagd gelaat moet word, omdat geen mens dit kan beantwoord nie. Vandag kan ek dit waardeer as ’n rudimentêre filosofiese insig wat hom, ten spyte van sy afkeer van filosofie, binne die filosofie self min of meer die derde posisie in ’n Sokratiese dialektiek laat inneem. Die eerste posisie, soos verwoord in die bekende spreuk van Sokrates waarmee Johan Degenaar graag eerstejaarstudente geïmponeer het, is natuurlik dat ’n onbevraagtekende lewe nie die moeite werd is om geleef te word nie. Die tweede posisie, dié van Epikurus, wat raak verwoord is in ’n tussenwerpsel van ’n ongeïmponeerde student, is dat ’n ongeleefde lewe ook nie die moeite werd is om te bevraagteken nie. Dié dialektiek lei dan tot die derde posisie, oftewel die konklusie van my dominee, naamlik dat die lewe nie die moeite werd is om bevraagteken of geleef te word nie! As hy naas sy eiewysheid ook oor ’n bietjie kennis van die filosofie beskik het, sou hy geweet het dat hy hom op Schopenhauer kon beroep. Die ydelheid van ons bestaan, sê Schopenhauer, spreek uit die hele vorm wat ons bestaan aanneem, uit die oneindigheid van tyd en ruimte gekontrasteer met ons eindigheid in albei, uit die toevalligheid en relatiwiteit van alle dinge, uit alles wat word sonder om ooit te wees, uit die volgehoue begeerte sonder vervulling, uit die voortdurende frustrasie wat die strewe van die lewe self is. ’n Mens kan net sowel, volgens Schopenhauer, die lewe die grootste selfbedrog noem, want dit wat so volledig vervlietend soos ’n droom is, kan nie die moeite werd wees nie.

Nietemin, ondanks die wyse advies om my nie bloot te stel aan die verleiding van die filosofie nie, is ek tog deur ’n senior student wat die lof van die filosofieprofessore besing het, omgepraat om dit as ’n vakkeuse te oorweeg.

Om groter helderheid in my gemoed te kry, het ek gaan aanklop by die kantore van die Filosofiedepartement en, soos die orakel van Delphi dit wou hê, by Hennie Rossouw tereg gekom. Wat nou volg, is sekerlik nie ’n getroue weergawe van die oorspronklike gebeure nie. Dit gaan immers om ’n gesprek van meer as twintig jaar gelede, waarvan ek kwalik al die besonderhede presies kan onthou. By wyse van anekdote sou ek dit egter graag soos volg wou rekonstrueer.

In my onbesonnenheid wou ek van hom weet wat filosofie is. U moet in gedagte hou dat dit ’n gesprek was sonder afspraak. Dit sou my egter inisieer in die afspraak van my lewe. Die gesprek het ongeveer so verloop: Hy het my vraag oor wat filosofie is (en wat ek bloot informatief bedoel het), simpatiek aangehoor en met groot erns bejeën. Wat ek my herinner, is dat hy geen tyd of moeite ontsien het om op ’n meesterlike wyse aan my uit te lê dat die vraag wat ek gestel het, dié filosofiese vraag by uitstek is nie, dat dit die vraag is wat deur die geskiedenis van die filosofie heen telkens opnuut gestel is deurdat elke filosoof probeer het om met sy eie lewe en denkarbeid, in gesprek met andere voor hom en in sy eie tyd, op ’n geloofwaardige manier daarop te antwoord. Sy antwoord op my vraag het vir my as jong student wat danksy my dominee slegs ’n negatiewe beeld van die filosofie gehad het, ’n fassinerende besigtigingstoer geword deur die historiese galery van groot filosowe. By meer as een is ’n wyle vertoef en is verduidelik hoe hy die vraag probeer beantwoord het. Ek was onder die indruk van name wat ek nog nooit voorheen gehoor het nie, maar waarvan ek terselfdertyd besef het ek eintlik veronderstel was om te weet, aangesien hulle kennelik beroemde filosowe was. Presies watter name die revue passeer het, kan ek nie meer vandag met sekerheid sê nie, maar dit kon enige gewees het van Sokrates, Plato, Aristoteles, Augustinus, Aquinas, Descartes, Kant, Hegel, Schopenhauer, Nietzsche, Marx, Husserl, Wittgenstein, Heidegger, en so meer. Dit was ’n intimiderende ontdekking. My galery van filosowe het immers voor die gesprek min of meer uit twee bestaan, Salomo en Jan Smuts, waarvan ek gemeen het dat eersgenoemde die saak reg verstaan en laasgenoemde die saak misverstaan het! Rossouw het so omsigtig met die vraag wat filosofie is, omgegaan dat ek aan die einde van die gesprek onder die indruk daarvan was dat hy my wou laat besef dat dit ’n ope vraag moet bly.

In my stommiteit kon ek natuurlik nog nie toe die wysheid van die verduideliking waardeer nie. My oordeel was dat die voorbode van my gemeenteleraar deur die professor bewaarheid is. Ek kan maar vanaand erken dat daar meer as ’n sweem van besorgdheid by my was – soos daar miskien ook vanaand by u ten aansien van my is – oor hoe dit moontlik is dat so iemand, wat nie eens die basiese vraag in sy vakgebied kan beantwoord nie, en boonop sy onkunde probeer verbloem deur voor te gee dat ’n hele skare beroemde voorgangers ook nie beter gevaar het nie ... ja, hoe so iemand ’n professor kon wees.

Kan u dink dat ek my op my fiets op pad terug na die koshuis ernstig afgevra het of die universiteit hiervan bewus is en wat my daaromtrent te doen staan!

Terug in my kamer het ek egter tot die oortuiging gekom dat die kompetensie waarmee die professor vergoed het vir wat ek beskou het as sy evidente inkompetensie vir my benydenswaardig genoeg was om myself vir die filosofie in te skryf. Die eerste klasse wat ek by hom gevolg het, het gehandel oor die vraag wat filosofie is. Dit het my so geboei dat ek sonder meer geswig het voor die verleiding van die filosofie.

Eers jare later sou ek in die biblioteek begin snuffel en tot die ontdekking kom dat die hele destydse professorekorps in die filosofie aan dieselfde kwaal van onwetendheid oor wat filosofie is, gely het. Van die onheilige driemanskap het Johan Degenaar miskien nog die hardste en die mins suksesvolle probeer om hom daarvan te genees deur dit selfs tot die tema van sy proefskrif te maak. Soos die titel, “Die herhaling van die vraag na die filosofie”, reeds aandui, kon hy ook nie verder vorder as ’n diagnose van die kwaal nie. Na ’n grondige bestudering en deeglike uiteensetting van Immanuel Kant, Karl Jaspers en Martin Heidegger, drie werklik groot filosowe, se onderskeie pogings om sonder te veel verlies van aansien die vraag onbeantwoord te laat, bly daar vir Degenaar ook nie meer te konstateer as ’n verleentheid nie: Die vraag, sê hy, moet deur elkeen wat meedoen aan die filosofie vanuit sy situasie en op ’n persoonlike wyse gestel word, want dit is die enigste wyse waarop daar met die vraag omgegaan kan word. Nie deur ’n antwoord daarvoor te gee nie, maar deur dit toe te eien as jou eie vraag, deur dit selfs tot die vraag van jou lewe te maak waarin alle ander lewensvrae meeklink.

Degenaar se merkwaardige vernuf om te vergoed vir sy onbevoegdheid om die vraag wat filosofie is te beantwoord, spreek dan juis uit die handomslag waarmee hy hierdie verleentheid omklink tot ’n heroïese lewenslot, ’n afspraak, ’n lewensroeping. Reeds in die eerste sinne – wat sekerlik heel laaste geskryf is, nadat die denke sy gang gegaan het – word die leser onherroeplik ingesweer in die heldhaftige hervoltrekking van die eeue oue oefening in selfontgogeling wat filosofie is wanneer hy verklaar: "Dit is beter om onder te gaan en sodoende met die wesenlike te doen te hê, as om al sprekende oor die wese van die probleem die probleem oppervlakkig te behandel en skynbaar op te los, sonder om werklik met die wesenlike te doen te hê." Die wesenlike, om die verwysing te sluit, is die onagterhaalbaarheid, die uitgestelde vervulling, die onvervulbare begeerte, die blinde roeping van die filosofie self – en daarom die herhaling van die vraag na die filosofie. Daarmee beaam hy die mooi uitspraak van Karl Jaspers wat verklaar het dat hy weet wat filosofie is deurdat hy daarin lewe, al kan hy nie ’n definisie daarvoor gee nie.

Die derde lid van hierdie driemanskap van onwetendheid, my promotor Willie Esterhuyse, het ook ’n indrukwekkende vermoë getoon om vir sy onvermoë te vergoed. Trouens, hy was die een wat die bevoegdheid van filosowe tot onbevoegdheid – selfs op die markplein – verkondig het as ’n besonderse soort bevoegdheid. Sy benadering heel van die begin af was een van handeling, van nie te lank te vertoef by die probleem waarin sy kollega Degenaar ondergegaan het nie. Van die begin af was hy ’n denker wat wou afskeid neem, eers van die metafisika in die filosofie, toe van apartheid in die politiek. Die Gordiaanse knoop van onwetendheid moes deurgehaak word. Die meesterlike slag wat hy daarvoor ontwikkel het, en wat min hom kan nadoen, is om nie toe te laat dat jou eie onkunde oor wat jy doen jou verhinder om dit met oortuiging in die openbaar te doen nie. In navolging van Nietzsche, die filosoof wat hom sekerlik die meeste geïnspireer het, het hy getoon dat die put van persoonlike filosofiese selfbetwyfeling juis die bron van sosiale verandering en vernuwing kan wees.

Mits u dalk skepties is oor of hierdie deel van my voordrag wel die deel is waarin ek die lof van my leermeesters besing, wil ek u verseker dat ’n leerling in die filosofie sy leermeesters geen groter eer kan bewys as om hulle juis daarvoor te prys dat hulle hom nooit probeer leer het wat filosofie is nie, en ook nooit voorgegee het om self te weet nie. Een van die heel grootste filosowe in die geskiedenis, Immanuel Kant, het tereg verklaar dat dit nie moontlik is om aan iemand te leer wat filosofie is nie, hoogstens om hom te leer filosofeer. Waarvan ek hulle graag sou wou verseker, is dat hulle my geleer filosofeer het, maar dit sou wees om die kompliment vir myself te neem. By alles wat ’n leermeester ’n leerling kan leer, is daar immers één ding wat hy hom nie kan leer nie (sê Augustinus), maar wat hy self moet ontdek, en dit is dat wat hy van sy leermeester leer, ook waar en waardevol is. Waarvan ek hulle dus wel kan verseker, is dat niemand met meer uitnemendheid kon probeer het om my te leer filosofeer nie. Sonder dié lewensvoorbeelde was ek dalk vandag vooruitstrewend en welvarend, maar armer aan die avontuur van toenemende verwondering oor die misterie van die lewe self. Soos hulle sal weet, is dit geen goedkoop avontuur nie. Dit laat my menige slapelose nag veg met die verskriklike wete dat ek eintlik, ten spyte van al my inspanning, al hoe minder en minder van al hoe meer en meer weet en nou reeds kan voorsien dat ek uiteindelik niks van alles af gaan weet nie – en boonop daarvoor betaal word, ook al is dit gelukkig ’n loon wat weerspieël hoe min ek weet. Deur my oë te open vir die misterie van die lewe self, het hulle my nogtans behoed van die lewenslot van andere wat al hoe meer van al hoe minder weet, totdat hulle met hulle aftrede alles van niks af weet nie en dit graag deel met die getroue lesers van die briewekolomme in die dagbladpers.

Op ’n ernstiger noot: Hoewel my leermeesters nie voorgegee het om te weet wat filosofie is nie, het hulle in die verlede gestalte gegee, en gee hulle steeds gestalte, aan filosofiese ideale. Dit is ideale, soos die wysheid self, wat nie volkome bereikbaar is nie, maar juis daarom van wesenlike belang is in die samelewing van mense. Ons leef in ’n tyd en ’n wêreld wat behep is met die bereiking van doelwitte, die afstemming van middele op doeleindes, die omwisseling van insette in uitkomste; in kort: behep is met die rekenkunde van resultate. In hierdie beheptheid met berekenbare resultate word kennis ook al hoe meer beskou as ’n kommoditeit waarvan die nuttigheidswaarde aantoonbaar moet wees. Dit is seker ook nie op sigself verkeerd nie, want – soos Bertrand Russell tereg opgemerk het – wat ’n mens van nuttige kennis kan sê, en dis ook al wat ’n mens daarvan kan sê – is dat dit besonder nuttig is. Dit het die wêreld gemaak tot die oorbenutte plek wat dit vandag is. Die gevaar is egter groot dat daar in so ’n rekenkunde van resultate nie genoegsaam rekening gehou word met daardie ideale wat ons berekening en ons bereik te bowe gaan, maar juis daarom in ons benadering daarvan ’n menslike lewe in die wêreld moontlik maak en sodoende bepalend is vir wat vir ons as mense werklik nuttig en nie nuttig is nie.

As ek maar een voorbeeld mag noem van ’n besonder nuttige soort kennis: die mediese wetenskap, wat in die Griekse tyd ononderskeibaar was van die filosofie en wat van al die wetenskappe vandag nog miskien die naaste aan die filosofie is. In die mediese wetenskap gaan dit immers om die ideaal van die oorwinning van lyding en dood. Maar ’n mediese wetenskap wat die mens dien, is nie een wat in oormoed meen dat hierdie ideaal bereikbaar is nie, maar een wat besef dat dit net benaderbaar is, in die versagting van pyn en die beskerming van lewe.

So is dit ook gesteld met die ideale wat in die filosofie nagestreef word, byvoorbeeld die ideaal van die ware kennis van onsself wat helaas net benaderbaar is in die verruiming van die menslike gees, die ideaal van ’n volmaakte wêreld wat helaas net benaderbaar is in die voortdurende stryd om ’n regverdiger samelewing, en die ideaal van die oorwinning van ons eie onvolkomenheid wat helaas net benaderbaar is in ’n viering van verwondering oor die misterie van die lewe self.

Ek wil dit graag sien as die drie ideale, dié klassieke filosofiese ideale van waarheid, geregtigheid en skoonheid waaraan my leermeesters en voorgangers gestalte gegee het.

Die vierde klassieke ideaal, dié van ’n deugsame lewe, inspireer van my ander kollegas wat selfs ’n sentrum daarvoor in die lewe geroep het. Hoewel ek hulle graag hierin wil help, moet ek bely dat ek selde verder vorder as verbystering oor al die ondeugsame dinge wat mense kan bedink! In my onvermoë kan ek niks nuuts toevoeg aan die gestalte wat my vorige en huidige kollegas aan hierdie ideale gee nie, maar ek wil my daartoe verbind om hierdie tradisie van filosofiebeoefening waarvan ons almal in die departement die erfgename is, in ’n nuwe tyd en omstandighede te help voortsit.

My verstaan van die roeping van filosofie verhoed my dus om vir u te sê wat filosofie is – asof daar slegs een antwoord op die vraag moontlik is en asof enige antwoord iets anders kan wees as die ritueel van ’n persoonlike gelykenis waardeur ’n mens ander probeer inisieer in die roeping tot filosofie. ’n Mens gee gehoor aan die roeping van filosofie as jy bely dat jy nie weet wat filosofie is nie. Dit is ’n belydenis, selfs ’n volgehoue, lewenslange belydenis van onvermoë. Maar dan nie van ’n onvermoë wat ’n verleentheid is nie – of liewer, as dit wel ’n verleentheid is, dan nie ’n groter verleentheid is as die verleentheid van ons menslike onvermoë self nie. Dit is slegs ’n verleentheid in die geselskap van onnadenkende en eiewyse mense wat nog moet ontdek dat dit wat werklik saak maak in die lewe en die samelewing van mense, juis dit is waarvan mense die minste weet. Ons weet nie wat die lewe is nie, om nie te praat van die liefde nie; ons weet nie of ons gees of liggaam is nie – of, indien albei, waar die liggaam eindig en die gees begin nie; ons weet nie wat denke is nie, of kennis, of waarheid of skoonheid of die goeie. En weet ons seker wie ons self, die mens, is?

Natuurlik beskik ons vandag oor meer van ’n sekere soort kennis, ’n besonder nuttige soort kennis aangaande die wêreld en onsself – meer as ooit voorheen, en miskien selfs meer as wat goed is vir ons. Dis ’n soort kennis wat van ons, in die woorde van Descartes, die meesters en besitters van die wêreld maak, terwyl dit ’n kleed van vergetelheid trek oor die vrae wat ons in die eerste plek tot menslikheid, en daarom tot nadenke en uiteindelik tot filosofie beweeg. Soos die drie vrae waartoe alle filosofiese en lewensvrae, volgens Kant herlei kan word, te wete: "Wat kan ek ken?" "Wat moet ek doen?" en "Wat mag ek hoop?", en wat saamsluit in die een enkele vraag: "Wat is die mens?" Het Heidegger nie vandag nog meer gelyk met sy opmerking dat daar nog nooit voorheen soveel geweet is oor die mens as in ons tyd nie ... en tog nog nooit voorheen so min geweet is wie die mens is nie. Nog nooit voorheen het die mens vir homself so bevraagtekenbaar, so tot ’n vraag geword, as juis in ons tyd nie.

Waarop dit aankom in die lewe, ontsnap aan ons wete. Of as ons dit weet, vir sover ons dit weet, weet ons nie hoe om dit te sê nie. Soos Augustinus wat moes bely dat hy weet wat tyd is, solank niemand hom vra wat dit is nie. As hy moet sê wat tyd is, ontdek hy dat hy nie weet nie. Of Aquinas, die ander groot Middeleeuse filosoof en teoloog, wat verklaar het dat hy wat weet dat hy niks van God weet nie, nog die meeste van Hom weet. In ons onvermoë om met sekerheid te weet wat die antwoorde is op die mees fundamentele vrae van ons bestaan, stuit ons op die misterie, die vraaglikheid van ons bestaan self. Ons denke, sê Kant, word getreiter met vrae wat ons nie kan afwys nie, omdat dit met die aard van ons denke self gegee is, maar wat ons ook nie kan beantwoord nie, omdat dit vrae is wat die vermoë van ons denke te bowe gaan. Om gehoor te gee aan die roeping van filosofie, is om gehoor te gee aan hierdie vrae. En miskien begin die wysheid wat ons almal begeer, by die besef dat ons hierdie vrae nie kan beantwoord anders as om daarop te antwoord met die lewe wat ons leef nie.

Die onwete van die filosofie is dus nie ’n verleentheid nie. Of as dit is, is dit omdat die filosofie tekenend is van die verleentheid van die menslike lewe self. Wat dit beteken, is dalk nog dié mees betekenisvolle wete wat ons kan hê van onsself. In die geskiedenis van die filosofie is by herhaling probeer om ’n beeld aan ons voor te hou van wie ons is. In die meeste van hierdie beelde kan ons onsself herken. Ons is die denkende wese, die sprekende wese, die simboliserende wese; ons is die spelende wese, ons is die laggende wese, ons is die begerende wese ... om maar enkele van die beelde op te noem. Ons is selfs, in die woorde van Iris Murdoch, die wese wat beelde maak van homself en dan al meer op die beelde begin lyk.

Maar miskien is ons dit alles en nog meer, omdat ons in die eerste plek die verleë wese, die skaam dier, die enigste blosende wese is. Gode en diere bloos nie en faal nie, want hulle is wat hulle is. Slegs ’n wese wat nie is wat hy is nie, wat vir homself ’n vraag is, wat nie saamval met homself nie, maar homself moet vind iewers tussen homself vooruit te wees en homself te agtervolg, slegs so ’n wese wat nie net nié weet wie hy is nie, maar ook weet dat hy dit nie weet nie; ’n wese wat homself in sy eie onwete kan betrap, ’n wese wat tot selfbedrog in staat is en in staat is om homself in die bedrieër en die bedroëne te herken ... Slegs so ’n wese kan bloos. Wittgenstein het net half gelyk as hy sê dat niks so moeilik is as om nie jouself te bedrieg nie. Nog moeiliker is om nie te bloos nie.

Omdat ons kan bloos, kan ons ook dink, en praat en speel. Want wat die denke ook al mag wees, dit is behoedsaamheid vir verlies van aansien; en wat die taal ook al mag wees, dit bly ’n tastende toenadering, ’n min of meer geslaagde misverstand. En wat is spel anders as die nabootsing van ons verlore onskuld? Ook omdat ons kan bloos, kan ons lag, want wat is die lag anders as ’n vervlietende opheffing van verleentheid, ’n bevrydende oomblik van vergetelheid in die wete van ons onwete – of hoe anders snap ’n mens ’n grap? – ’n momentele streling van die breuk, ’n toedekking van die wond wat ons bestaan ten diepste is. Ons is die denkende, simboliserende, spelende en laggende dier omdat ons die blosende dier is. En ons is die blosende dier omdat ons vir onsself ’n vraag en ’n verleentheid, ’n soeke en ’n sorg is.

Sou dit te veel gewaag wees om in hierdie verleentheid van ons bestaan die oorsprong van ons begeerte, en veral ons begeerte na wysheid te vind? Die onwete van die filosofie is dan nie ’n kwaal waaraan slegs diegene ly wat aan die roeping van filosofie gehoor gee nie. Dit is die kwaal, die kwetsuur, van ons menslikheid. Om mens te wees, is om besorg te wees oor wat dit beteken om mens te wees. En presies die kwetsuur is ook – as ek met Pascal mag spreek – ons kroon, ons heerlikheid, want vir sover ons vir onsself ’n geheimenis is, is ons die beeld en gelykenis van God.

So is die roeping tot filosofie wat my betref niks minder of meer as die roeping om mens te wees nie. Om jou menswees as ’n roeping te beleef, veronderstel verwondering oor die misterie van die lewe self; dié verwondering wat soos Aristoteles reeds gesê het, die enigste aanleiding is tot filosofie. En dié verwondering veronderstel ’n bewussyn van die eenmaligheid, die onherhaalbaarheid, die eindigheid van die lewe self. Miskien het dit daarom vandag onvanselfsprekend geword om jou menswees as ’n roeping te beleef, want in die hedendaagse wêreld is dit nie in die mode om aan die dood herinner te word of dood te gaan nie. Waaraan ’n mens egter gehoor gee as jy gehoor gee aan die roeping van filosofie, is die onafhandelbare opgawe om in die reine te kom met jou eie eindigheid. Om te filosofeer is om die dood in te oefen, sê Plato. Of in die woorde van Cicero: Dis om te leer hoe om te sterwe. Dit mag morbied klink, maar dit is in feite nie, want om te leer hoe om te sterwe is in die lewe van ’n sterflike wese die enigste begerenswaardige wysheid, die wysheid wat nodig is om die kuns van die lewe te bemeester.

Ek weet nie of dit is wat die kop in die gelykenis van Marquard gedink het nie, maar dis wat hierdie kop van my dink vóór dit knik.

Meneer die rektor: Dit is min mense beskore om ’n loopbaan te maak van die begeerte na wysheid wat ons almal beweeg, en beloon te word vir die roeping tot ’n menslike bestaan waaraan ons almal probeer gehoor gee. Ek is die universiteit opreg dankbaar vir die voorreg om my lewensroeping op hierdie wyse te kan uitleef, en veral verlig dat u na vanaand sal weet om nie méér van my te verwag as ’n kompetensie om te kompenseer vir my inkompetensie nie.

Dames en here kollegas: U weet nou dat waar dit gaan om kennis en wysheid, ek myself in u geledere nie as die eerste nie, maar as die laaste onder gelykes sien. In u moeilike taak om die vrae te beantwoord wat ons as mense wel kan en moet beantwoord, kan ek u nie tot veel hulp wees nie. Hoe groter u kundigheid is, hoe meer sal my onkunde blyk, maar hoe moontliker word dit vir my om dáárdie vrae te formuleer en te herformuleer waarvan die antwoorde ons ontwyk, terwyl dit ons bestaan ten diepste raak, en dáárdie idees te ontgin wat die lewe sinvol maak. Ek wil u graag uitnooi om met my hieraan mee te doen, want hierin is ons almal eerstes onder gelykes.

Kollegas in die Departement Filosofie: Ek vrees dat ek vanaand aan julle niks meegedeel het wat julle nie reeds nie geweet het nie. Hoewel julle moontlik nie sal saamstem met my verstaan van die roeping van filosofie nie, en miskien selfs verkies om vir julle eie belewing van filosofie juis die woord "roeping" te vermy, was daar by nog nooit twyfel dat filosofie vir elkeen van julle nie net ’n beroep nie, maar ’n passie en ’n lewenswyse is. My indruk is dat almal van ons filosofie beoefen nie omdat dit toevallig ons nering is nie, maar omdat ons dit werklik nie kan verhelp nie. Dit is vertroostend en inspirerend. Ek wil julle graag bedank vir die omgewing van uitnemendheid en toegewydheid wat julle skep, vir julle kollegialiteit en vriendskap.

Dames en here, studente: Ek sou my plig versuim as ek julle nie waarsku teen filosofie nie. Dit is inderdaad lewensgevaarlik. Min wat daarvoor swig, oorleef dit uiteindelik, want dit bring ’n mens in gesprek met wat die grootste geeste in die geskiedenis van die mens gedink het oor wat werklik saak maak in die lewe, en dit voer ’n mens mee op ’n ontdekkingsreis van die gees wat nie voor die dood kan eindig nie. Wees daarom dubbeld gewaarsku: Ek gaan my bes doen om julle in die versoeking te lei.

Ouers, familie en vriende: Baie dankie vir julle aanmoediging en belangstelling deur die jare, ook al het julle nie geweet waarmee ek my besig hou nie en vermoed dat ek ook nie weet nie. Omdat baie van julle groot moeite gedoen en koste aangegaan het om hier te wees, het ek my voordrag in die eerste plek aan julle gerig. Al het ek weer eens gefaal om vir julle te sê wat filosofie is, kon ek julle hopelik inisieer in hoe ek dit beleef.

Aan my gesin: Net julle sal weet hoe moeilik dit meestal vir my is om aan hierdie roeping te probeer voldoen. Dankie dat julle dit verduur, begryp en op allerlei maniere plesierig maak. As ek vanaand hierdie voordrag aan jou opdra, Lettie, besef ek dat dit maar skamele erkenning is vir die offers wat jy al ter wille van my moes bring en altyd met jou kenmerkende blymoedigheid gedoen het. Soos altyd, laat jy my nogmaals bloos ...

... En hiermee knik ek.

Lees ook

Tussen Jerusalem en Athene: Die christelike geloof in die hedendaagse kultuur

Dichter, filosoof en theoloog Willie van der Merwe: "Dit leven – ook het allermooiste ervan – heeft alleen waarde omdat het vergankelijk en vervlietend is"

  • 3

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    Van die beste, in die sin van toepaslikste, intreeredes wat ek beleef het, al is daar meer religie of teologie in as wat ek my sou veroorloof.

  • Henning Janse van Vuuren

    “To be or not to be” in Afrikaans. Dis die ware vraag, ou Willie.
    Of nie.
    Die inhoud van jou toespraak is verbysterend. Eerstens moet ek bely dat ek nie weet wat wiskunde is nie. Filosofie is vir my min of meer die dieper vraag na die sin van bestaan en raaiselagtige metamorfose by fisiese afsterwe. Sommige mense lag vir dit wat in boekwinkels onder “esoteries” resorteer; maar spiritualiteit, religië en mediese wetenskap oorkruis tog soos spatare oor die popliteale fossa.
    Jou intreerede bevat heelwat interessanthede, bv.: “Vir die mens lê die begeerlikheid van die voorwerp van begeerte in die onbereikbaarheid daarvan. Wat bereik is of besit word, kan nie meer bekoor nie. Of anders gestel, in die taal van Augustinus, wat ons eintlik begeer is die oneindige. Ons hart kan nie tot rus kom nie, sê Augustinus, voor dit tot rus kom in God nie.”
    Dit verklaar moontlik hoekom selfdood gewild is onder 1% van die bevolking: Augustinus se onrustige harte wat weerloos en lewensmoeg na die aantrekkingskrag van waters van rus aangetrokke voel. Moontlik is dit selfs ’n finale evolusionêre geestesdaad om die dop self te moet afskud.
    Na heelwat oorpeinsing punt my kompasnaald tans na wat eerder ’n lewenswyse as ’n geloof genoem kan word. Boeddhiste volg bv. ’n bepaalde lewenswyse omdat dit verstandig is, nie omdat ’n god dit beveel nie.
    Karma beteken jy saai wat jy maai, elke handeling het dus ’n gevolg. (Boeddha het reïnkarnasie blykbaar nie verwerp nie, maar eerder gesê daar is ’n soort kontinuïteit – iets soos die vlam wat van een kers na ’n ander oorgedra word.)
    Hindoes weer, glo in Brahmaan, die onpersoonlike Absolute, Wêreldsiel of God. Hierdie Absolute vul die heelal en is daarmee verenig. Hulle glo dat die siel nie saam met die liggaam sterf nie, maar ná sterwe in ’n nuwe liggaam wedergebore kan word. (Niks wat jy nie reeds weet nie.)
    Enigiets is dus moontlik. Die siel is soos ’n waterdruppel wat siklies bly terugval in die see. Dit verklaar tot ’n mate die wysheid wat heelparty ‘ou’ koppe op jong lywe ronddra. Wysheid in die grysheid is beperk tot aardse beuselagtigheid, glo ek. Iewers het ek gelees ’n siel kan so 5% wêreldse insig in een leeftyd verwerf. Wêreldse insig is van geen waarde aan “die ander kant nie”, omdat die siel een met ‘God’ is, en dus reeds is waarna ons op aarde streef. ’n Speletjie.
    Hiermee gaan ek akkoord: “Om te filosofeer is om die dood in te oefen, sê Plato. Of in die woorde van Cicero: Dis om te leer hoe om te sterwe. Dit mag morbied klink, maar dit is in feite nie, want om te leer hoe om te sterwe is in die lewe van ’n sterflike wese die enigste begerenswaardige wysheid, die wysheid wat nodig is om die kuns van die lewe te bemeester.”
    Dankie, dit was lekker.

  • Margaret Cordier

    DIE MAKER
    was reeds aan die Begin
    profeet, digter, beeldhouer en musikant.
    skepper van ’n kosmos uit sy hand.
    Uit alles woes en leeg,
    roep die Woord: “Laat daar wees”
    breek atome deur die kors
    ontplof stof tot
    kroonskepping van Sy lof.

    Helaas klim eie wil op die leer
    teen die boom van kies en keur
    en aan die lat van self regeer,
    in vrywil onder self beheer
    het bittersoet en wrang
    die vervloekte vrug
    van self gaan hang.

    In die plek wat was
    het ’n nuwe tak gegroei.

    Hang aan die boom;
    die wonder;
    die balsem aan die bas
    die gom;

    die Maker.

    MC.

    “Sovêr as mens wysheid begeer gee hulle gehoor aan die roeping van filosofie. Wysheid lewenslank uitgestel.” – Willie van der Merwe.
    Waarheid; geregtigheid en skoonheid is nie maar klassieke ideale nie, maar is ’n Persoon.
    Die vervloekte vrug van selfregeer en ’n begeerte om in kennis selfs verby God te groei – was daar sterfte – die mens se geeshet gesterf en kommunikasie met God (wat gees is) is afgesny.
    Deur vereenselwiging met die sterfte en opstanding in die Maker is kommunikasie en vriendskap/ kindskap herstel. Die wederbare se gees lewendig gemaak.
    Laat een aand by Unisa se biblioteek lees ek iets uit ’n Middeleeuse boek waar ’n filosoof die volgende raaisel gee. “Satan vra vir God of hy wat God is, ’n rots kan maak waaroor selfs Hy as God nie kan spring nie”. Daar is geen antwoord gegee nie.
    Oppad huistoe in my voertuig vra ek: “Here wat is die antwoord?”
    Vinnig kom die antwoord: “Ek Is...die Rots”
    Ja Hy Is. Ek Is.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top