Filmresensie: Vice

  • 0

Vice-foto: YouTube

Draaiboek en regie: Adam McKay

Akteurs: Christian Bale, Amy Adams, Steve Carell, Sam Rockwell, Naomi Watts

Geld, mag, seks. Dis die drie-eenheid wat die mensdom aandryf, maar die grootste daarvan is mag. Hierdie biografiese film oor Dick Cheney, Amerikaanse visepresident van 2001 tot 2009, is ’n intrigerende uitbeelding van ’n magtige politieke loopbaan wat oor vier dekades gestrek het.

’n Terugflits kort ná die openingstoneel wys die 22-jarige Cheney (Christian Bale) as ’n harde drinker wat uit Harvard-universiteit geskop is en op die oog af vir ’n nikswerdlewe bestem was. Maar ágter hom staan ’n vrou met ’n missie: sy verloofde Lynne (Amy Adams), wat ten alle koste wil wegkom van haar obskure en ongelukkige kinderjare. Weens die beperkings van die tyd kan sy haar politieke ambisie slegs deur ’n man uitleef, en sy het Dick vir daardie doel gekies.

Hy maak opgang in die Republikeinse Party, maar met die Clinton-presidentskap verlaat hy die politiek en word hoof van die berugte Halliburton-sakeryk. In 2000 word hy deur George W Bush (Sam Rockwell) gevra om saam met hom te staan vir die visepresidentskap, waardeur Cheney oplaas die werklike sentrum van mag in die Withuis betree.

Met The big short (2015) het regisseur Adam McKay op satiries-komiese wyse aan fliekkykers verduidelik hoe die Amerikaanse finansiële ineenstorting van die 2000’s eintlik inmekaarsteek. Vice volg dieselfde werkwyse, maar fokus op die politieke stelsel – en die titel staan nie net vir vice-president nie, dit verwys ook na die verdorwenheid van mag. (“Power corrupts, and absolute power corrupts absolutely,” het lord Acton immers gesê.)

McKay se skroeiende blik is vermaaklik (afgesien van ontstellend), maar hy trap ongelukkig in die slaggat van ’n téénsydige uitbeelding. Dis nie soseer dat Cheney se boosheid ongeloofbaar is nie, dis eerder dat die “Alles aan die Republikeine is sleg”-subteks impliseer dat alles aan die Demokrate dan goed sou wees – wat natuurlik ’n hopeloos naïewe posisie is.

Daar is egter een baie goeie rede om hierdie film te gaan kyk: Christian Bale. Ek misgun Rami Malek nie sy Oscar vir beste akteur nie, maar as dit my keuse was, sou die goue beeldjie aan Bale gaan vir sy werklik uitstaande vertolking.

Sterre:

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top