Filmresensie: The Revenant

  • 1

revenant300The Revenant

Regie en draaiboek: Alejandro Iñárritu

Spelers: Leonardo DiCaprio, Tom Hardy, Domhnall Gleeson, Forrest Goodluck, Lukas Haas

 

Hoe meer flieks ek van regisseur Alejandro Iñárritu sien, hoe meer kom ek onder die indruk van hoe ‘n uitsonderlike filmmaker hy is. As ’n mens kyk na Amores perros (2000), 21 Grams (2003), Babel (2006), Biutiful (2010) en Birdman (2014), is dit sulke uiteenlopende films, maar elkeen het die trefkrag van ’n klein kernbom. Birdman, verlede jaar se Oscar-wenner, het hy boonop gemaak terwyl hy moes wag om voort te gaan met hiérdie film!

Laat ek dit dadelik sê: The Revenant is nie plesierige kykstof nie. Maar hel, wat ’n fliek! Dis die straightforward (en grootliks ware) verhaal van Hugh Glass, ’n Amerikaanse pelsjagter in die 1820’s, wat aan die Missouririvier deur ’n beer verskeur word. Deur ’n sameloop van omstandighede word hy vir dood agtergelaat deur die man wat daarvoor verantwoordelik was om by hom te bly. Teen alle verwagting in oorleef Glass sy beserings. Die res van die fliek gaan oor sy bomenslike tog oor berge en dale en sneeuvelde terug na Fort Kiowa, waar sy moordenaar skuil, sodat hy kan wraak neem.

As liefhebber van geskiedenis was dit vir my fassinerend om ’n indruk te kry van die Frontier-tydperk: die pelsjagters en “trappers”, hul interaksie met die Indiaanstamme, die forte en handelsposte. Daarby laat die landskaptonele jou verwonderd staar, danksy puik kinematografie (en nog meer indrukwekkend in die Imax).

As daar enige geregtigheid in die wêreld is, moet Leonardo DiCaprio darem vanjaar ’n slag die Oscar vir beste akteur wen – hierdie is al sy sesde nominasie. En wat beste regisseur en beste film betref, plaas ek my wedgeld op Iñárritu en The Revenant. Dis ’n fliek wat jy nie gou sal vergeet nie, indien ooit.

Sterre: 5

 

  • 1

Kommentaar

  • Anthonie Van Bosch

    Ek stem saam dat die toneelspel skitterend was. My opinie is dat ons tans te veel geweld in die wereld het, en behoort hulle minder van hierdie tipe films te maak.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top