Filmresensie: The bookshop

  • 0

The bookshop (gebaseer op die gelyknamige 1978-roman deur Penelope Fitzgerald)
Draaiboek en regie: Isabel Coixet
Akteurs: Emily Mortimer, Patricia Clarkson, Bill Nighy, Honor Kneafsey, James Lance

Dikwels as ek ’n fliek kyk wat op ’n boek gebaseer is, sit ek en wonder hoe sekere aspekte in die boek gehanteer is. Gewoonlik met die vermoede dat die boek beter is, omdat dit wat ek op die skerm sien, net nie heeltemal wil bevredig nie. The bookshop was so ’n geval.

Die storie is eenvoudig: Florence Green (Emily Mortimer), ’n jong weduwee, kom in 1959 op ’n pragtige Engelse kusdorpie aan nadat sy ’n verwaarlooste ou huis gekoop het om as ’n boekwinkel in te rig. Sy kry teenstand van die grande dame van die dorp, die deftige, gekultiveerde en skatryk Violet Gamart (Patricia Clarkson). Florence kry hulp uit ’n onwaarskynlike oord: die kluisenaar Edmund Brundish (Bill Nighy) wat in ’n herehuis op die bult woon en nooit met die dorpenaars meng nie. Haar assistent in die boekwinkel is Christine (Honor Kneafsey), ’n bekkige skoolkind uit ’n arm familie.

Die film begin met ’n agtergrondstem, maar wie die spreker is, word eers reg aan die einde duidelik. Gevolglik bind die kyker nie met die verteller nie, want dié en die sentrale karakter (Florence) is nie dieselfde mens nie. Die gebeure stuur af op ’n ontknoping, maar dit het nie werklik ’n gevoel van drama of noodwendigheid nie. Dalk is dit vir die hedendaagse kyker moeilik om te verstaan hoe die verkoop van Nabokov se Lolita mense se argwaan só gaande kon maak.  

Die sterk punte van die film is die besonderse landskappe en die goeie toneelspel van veral Mortimer, Nighy en Clarkson. James Lance is ook onthoubaar as die skrywer Milo North, en die jonge Honor Kneafsey sal ’n mens graag weer wil sien.

Kykers met ’n voorliefde vir nostalgie behoort The bookshop te geniet.  

Sterre: 3

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top