Filmresensie: That Sugar Film

  • 0


 sugar250That Sugar Film

Draaiboek en regie: Damon Gameau

As daar nou een fliek is wat almal moet gaan kyk, is dit hierdie een. Dit gaan oor die kos wat ons eet en ons gesondheid, of eerder ongesondheid, dus raak dit elkeen van ons. Indien nie direk nie, dan indirek deur die mense naaste aan ons vir wie ons (mede)verantwoordelik is.

Dis juis dié verantwoordelikheid wat die Australiese filmmaker Damon Gameau aangespoor het tot sy groot suiker-eksperiment. Toe hy sy lewensmaat vyf jaar tevore ontmoet het, het hy aanvanklik ’n belangstelling in gesonde kos geveins, maar mettertyd het hy suiker heeltemal uit sy dieet gesny. Nou verwag sy hul baba en begin hy hom bekommer oor wat alles daar buite op sy kind wag, spesifiek op die winkelrakke.

Hy kry ’n span kundiges bymekaar en word getoets, gemeet en geweeg. Volgens berekeninge verbruik Australiërs gemiddeld 40 teelepels suiker per dag; Gameau gaan dit twee maande lank doen sonder om enigiets anders aan sy lewenspatroon te verander. Ons praat nie hier van ’n dieet wat gaskoeldrank, lekkers en sjokolade insluit nie, slegs “gesonde” kos soos muesli, jogurt, vrugtesap, energiestafies, ens.  

That Sugar Film is geen droë dokumentêr nie, die feitelike inhoud word deurgaans lewendig en vermaaklik aangebied. Gameau se bevindings sal bekende inligting wees vir sommige en heeltemal nuut vir ander. In watter kategorie jy ook al val, vat maar die kinders en gaan fliek.

Sterre: 4

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top