Filmresensie: Spy

  • 0

spy650

Spy

Draaiboek en regie: Paul Feig

Spelers: Melissa McCarthy, Jude Law, Jason Statham, Miranda Hart, Rose Byrne, Allison Janney

Die slottoneel van Bridesmaids het dit eintlik al voorspel: Melissa McCarthy as ’n gewikste spioen. Ná regisseur Paul Feig bietjie litte losgemaak het met Heat (Melissa McCarthy en Sandra Bullock as ’n onpaar polisiespan), kry McCarthy haar spioenfliek. En Spy beklink dit: ná Whoopi Goldberg en Robin Williams het Hollywood uiteindelik weer ’n ware komedie-aktrise.

Eers was daar die Bond-flieks, toe die spottery met die Bond-flieks (met Kingsmen: The Secret Service as jongste voorbeeld) en nou is daar Spy. Dit spot met die Bond-flieks én Kingsmen (daar is ’n vermaaklike verwysing na Samuel L Jackson), boonop met so ’n feministiese geurtjie (onder meer ’n wonderlike tweegeveg met potte en panne in ’n kombuis).

Susan Cooper (Melissa McCarthy) is ’n opgeleide CIA-agent, maar sy werk al jare as analis in die agterkamer om superagent Bradley Fine (Jude Law) deur sy passies te help. Hy is natuurlik Bond-sjarmant en sy is verlief op hom. Dan is daar ’n klein mistykie met ’n operasie en al die CIA se veldagente word ontbloot. Maar die operasie moet voortgaan: ’n kernbom is beskikbaar vir verkoop aan die hoogste bieër en die wêreld moet van uitwissing gered word. Agent Cooper kry kans om haar staal te wys in die veld, en suster, sy vat daai kans, met haar lompe vriendin Nancy (Miranda Hart) as haar agterkamer-vrou. Agent Rick Ford (Jason Statham) sal egter nie toelaat dat ’n vrou met geen ondervinding dié belangrike operasie opmors nie, en kort voor lank is dit agent teen agent. Met rasend snaakse gevolge.

Die slottoneel van Spy dui reeds op ’n opvolgprent vir agente Cooper en Ford. Ek kan nie wag nie.

Sterre: 4

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top