Filmresensie: Richard says goodbye (The Professor)

  • 0

Titel: Richard says goodbye (The Professor)
Draaiboek en regie: Wayne Roberts
Akteurs: Johnny Depp, Danny Huston, Rosemarie DeWitt, Odessa Young, Zoey Deutch, Ron Livingston

Die lewe en die dood. Ons is dag vir dag verbete besig met die een, en eintlik weet ons glad nie hoe om die ander een te hanteer nie, al is ons ook daagliks dáármee besig.

Richard (Johnny Depp), ’n Engels-professor, kry die nuus dat hy ongeneeslike kanker het en ses maande om te leef – of met behandeling dalk ’n jaar. Met só min tyd besluit hy hy kan dinge nou net sowel anders doen as wat konvensie nog altyd voorgeskryf het.

By die werk behels dit dat hy sy groot klas studente uitdun tot net die paar wat werklik in die vak belangstel, met die oogmerk om nie soseer boekekennis nie, maar kennis van die lewe aan hulle oor te dra. In sy persoonlike lewe moet hy die nuus aan sy vrou Veronica (Rosemarie DeWitt), dogter Olivia (Odessa Young) en beste vriend Peter (Danny Huston) oordra.

Anders as wat ’n mens sou dink, is hierdie fliek oor die dood nie ’n hartverskeurende tranetrekker nie. Die eintlike plesier lê in die skerp – en dikwels polities-inkorrekte – dialoog. Johnny Depp speel sy rol met oortuiging, met net soms ’n bietjie te veel van ’n gemompel. DeWitt vaar heel goed as die owerspelige Veronica, maar ek sou graag ’n A-lys-aktrise soos Helen Hunt in haar rol wou gesien het. Danny Huston, met ’n rits kleiner rolle agter sy naam, kom goed tot sy reg as treurende vriend.

Richard says goodbye is nie ’n gróót fliek nie, maar met die huidige aanbod op ons kringloop in ag geneem, is dit heeltemal die kyk werd.

Sterre:

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top