Parasite
Koreaans met Engelse onderskrifte
Draaiboek en regie: Joon-ho Bong
Akteurs: Kang-ho Song, Sun-kyun Lee, Yeo-jeong Jo, Woo-sik Choi, So-dam Park, Hyun-joon Jung
Die (film)jaar staan einde se kant toe, met Parasite wat onthou sal word as een van die grotes. Dit het reeds die Goue Palm by Cannes gewen, en is Suid-Korea se amptelike inskrywing vir Beste Internasionale Film vir volgende jaar se Oscars.
In Seoel, soos in enige stad in die wêreld, is daar die rykes en die armes, met die kloof tussen die twee wat al groter word en laasgenoemde wat dikwels net-net oorleef. Ki-woo (Woo-sik Choi), seun van die arm Kim-familie, sien ’n geleentheid toe sy vriend voorstel dat hy sy pos as tutor van ’n tienermeisie in die skatryk Park-gesin oorneem. Klein probleempie: Ki-woo het nie die nodige universiteitskwalifikasies nie, maar sy suster Ki-jung (So-dam Park) vervals dit sommer gou.
Kort voor lank oortuig Ki-woo die naïewe mevrou Park (Yeo-jeong Jo) om sy suster aan te stel as kunstutor van haar seuntjie Da-song (Hyun-joon Jung). Broer en suster stel hul volgende plan in werking: om hul pa aangestel te kry as chauffeur en hul ma as huishoudster. Maar net toe die hele Kim-gesin die Park-woning binnegedring het en hul sukses met spys en drank vier terwyl die Parks weg is met vakansie, begin dinge skeefloop.
Parasite word beskryf as ’n komedie, ’n riller, selfs ’n klasse-oorlog, maar uiteindelik is “tragikomedie”, uit die mond van die skepper van die film, die beste beskrywing. ’n Mens huil egter meer as wat jy lag, met die kille besef dat die arm familie se desperaatheid die nuwe normaal is, en dat dit net erger gaan word.
Hoog aanbeveel vir ernstige fliekkykers!
Sterre: 4
Kyk die lokprent hier: