Filmresensie: Natalie Wood: What remains behind

  • 0

Natalie Wood: What remains behind
Met Natalie Wood en Robert Wagner
Regisseur: Laurent Bouozereau
Dokumentêr

Die kuns met die maak van ’n dokumentêr soos hierdie een, is om ’n aandagafleibare gehoor se konsentrasie te kaap. Want ongelukkig, veral met die koms van ’n stromingsnetwerk soos Netflix, (alhoewel hierdie dokumentêr op Showmax wys), het die hamburger-sindroom gevorm. Dus: kykers verkies dikwels ’n gemaksone-vermaaklike 90 minute gevul met slaptjips op die skoot om die eerste kwartier draagliker te maak. Maar o wee, as die eerste tjip nie slap of sappig genoeg is nie, soek hulle na alternatiewe vermaak. Afstandbeheerders op rusbanke se leunings is nog nooit so oorwerk of vermoeid gelaat soos deesdae nie! Soos die YouTube-geslag, vind mense dit feitlik onmoontlik om langer te konsentreer as wat ’n toebroodjie hou!

Daarom bied Natalie Wood: What remains behind ’n groter uitdaging as gewoonlik. Eerstens weet niemand jonger as 40 wie hierdie geliefde en befaamde aktrise was nie, daarom mag die naam van die reeks min aandag trek. Maar dan is daar diegene wat haar onthou as die beeldskone mooi engelgesiggie van Splendor in the grass (1961) en natuurlik James Dean se Rebel without a cause (1955.) Sy het vele ander rolprente gemaak, maar hierdie twee haak soos brandnetels aan jou geheue vas. Want nes Julia Roberts vandag, het sy ’n glinsterglimlag gehad wat die silwerdoek laat ontvlam het. Tog was daar telkens ’n verskuilde tragiek in haar oë asof sy geweet het: tragedie wag.

Natalie, wat gebore is as Natalia Nikolaevna Zacharenko in 1938, se laaste rolprent was Brainstorm in 1981 saam met Christopher Walken, ook maar ’n los potlood as ’n mens jou ore in die Hollywood-gange spits. Gedurende die verfilming het sy, haar voormalige man Robert Wagner (met wie sy twee keer getroud was) en Walken op ’n stormagtige nag op ’n bootjie uitgevaar, ten spyte van die waarskuwings van vriende. 

Laat die nag het Wagner, wat klaarblyklik in ’n argument met Walken betrokke was, na Natalie in haar kajuit gaan soek, maar sy was vermis. Die volgende dag is haar lyk in die see gekry. Wat het gebeur?

Natuurlik is daar verskeie teorieë. Is daar nie maar altyd wildewragtag-teorieë nie? Die een dikwels meer vergesog as die ander, wanneer bekendes sterf. Moontlik het sy die nag probeer om die rubberbootjie, wat aan die seiljag gekoppel was, los te woel omdat die gedurige gekap teen die seiljag haar geïrriteer het. Sy het enetjie te veel ingehad (volgens Wagner) en was geluidsensitief. Toe het sy skynbaar gegly, haar kop gestamp en in die water beland. Of het iets meer sinister gebeur? Waaroor het Walken en Wagner kort voor haar verdwyning baklei?

Die reeks loop terug op die spore van haar verlede. Sy was darem nie in erge skandale betrokke nie, (vergelyk haar met Lindsay Lohan byvoorbeeld!) maar het tog verskeie minnaars gehad, maar ook ’n sjarme wat verskeie mense woerts-warts omgeklits het. Ons sien uittreksels uit haar bekendste rolprente, die stapelvoedsel van so ’n reeks, en hoor verskeie onderhoude met mense wat haar geken het, veral haar dogters.

In hierdie gedeeltes van die dokumentêr dwaal die aandag ’n bietjie, want mense praat meestal net goed van haar en doen dit by herhaling, totdat jy later wil beswaar maak deur te kla: “Maar ek hét die boodskap al telkemale gekry!” Kortom: die regisseur probeer te hard om ’n vlekkelose beeld voor te hou.

En tog: sy was ikonies en het g’n mens skade aangedoen nie. Sy was ’n pragtige ma, het haar dogters voorbeeldig grootgemaak en was na bewering vriendelik en tegemoetkomend met almal. Daar was selde indien ooit temperamentele uitbarstings op stelle, en sy het selfs die moeilikste rolle, soos Maria in West side story (1961) moeiteloos en sjarmant vertolk.

Weet jy wat daardie nag op die boot gebeur het nadat jy die reeks tjipsloos bekyk het sonder dat iets jou aandag aftrek? Almal praat met die grootste lof van haar en RJ (Robert Wagner), behalwe haar suster Lana, aan wie min aandag geskenk word. Nou ja, daar is ’n ander teorie wat nie eintlik ontgin word nie. Presies wat vermoed (of weet?) die robuuste Lana Wood?

Die reeks word aanbeveel as jy ’n bewonderaar van Natalie Wood was. Maar jy gaan nie veel meer wys word as uit die koerantberigte en tydskrifartikels wat jy oor die insident gelees het nie. Slaptjipsvermaak is dit nie. Want iewers word daar wel ’n vraagteken of twee geplaas wat breinkrag vereis.

Kan jy die geheim verklaar?

Op Showmax.

Kyk die lokprent hier: 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top