Filmresensie: Mulan

  • 0

Regie: Niki Caro
Draaiboek: Rick Jaffa, Amanda Silver, Elizabeth Martin en Lauren Hynek
Akteurs: Yifei Liu as Mulan, Donnie Yen as bevelvoerder Tung, Tzi Ma as Zhou, Rosalind Chao as Hua Li, Jason Scott Lee as Böri Khan, Yoson An as Honghui, Ron Yuan as sersant Qiang, Gong Li as Xianniang en Jet Li as die keiser van China

Die jongste Mulan-legende is “live-action remake” (akteurs vertolk die rolle) van die 1998-animasie. Die fliek begin met ’n jong rebelse Hua Mulan (Yifei Liu) wat besig is om ’n hoender in hul dorp te jaag. Sy breek ’n Phoenix-standbeeld (hul familie se beskermsimbool) voor die dorpstempel, klim teen die mure op en hardloop oor die dak. Haar jagtog trek die aandag van die inwoners, wat letterlik hul rûe op haar draai, want sy “ken nie haar plek nie”.

Die storie speel tydens die Chinese Keiserryk (221 vC–1912) af waar seuns sterk qi-mag (lewenskrag, lewenslus) het, maar van vroue verwag word om onderdanig te wees en eer aan hul familie te bring deur ’n goeie huwelik. Mulan se ma (Rosalind Chao) is bekommerd, want sy glo nie Mulan sal ’n goeie man kry met haar gedrag nie. Daardie aand praat haar pa (Tzi Ma) met Mulan oor wat van haar verwag word. Hy moedig haar aan om haar talent (qi) weg te steek en konvensies te volg.

Ons sien Mulan dan jare later as ’n jong vrou, terwyl sy perdry buite die dorp en twee hase langs mekaar sien hardloop. By die huis lig haar ma haar in dat die dorp se paartjieknoper vir haar ’n gepaste man gevind het. Mulan is teleurgesteld, maar woon opleiding by om die “perfekte” (onsigbare) vrou te wees, met humoristiese gevolge. Gedienstig en gedwee is duidelik nie deel van Mulan se persoonlikheid nie.

In die noorde van China begin Rouran-soldate die land binnedring onder die leiding van Böri Khan, wat hom op die keiser van China (ek kon nie glo dis Jet Li nie!) wil wreek vir die dood van sy pa. Khan gebruik ’n vrou (“heks”), Xianniang, met bonatuurlik magte om die stryd te wen.

Die keiser beveel elke huishouding om ’n man te stuur wat in die oorlog moet veg. Omdat hy geen seuns het nie, besluit Mulan se pa om te veg ten spyte daarvan dat hy beseer is en dit waarskynlik nie sal oorleef nie. Mulan neem haar pa se swaard en uniform en vlug in die nag om sy plek te neem.

Die fliek is in Nieu-Seeland en China verfilm, en die agtergrond is byna onrealisties mooi. Die aksietonele is uitstekend, en ek was beïndruk met Yifei Liu as vegter. Sy mag maar!

Daar is egter te min aksietonele en by tye het die toertjies (die groot afstande wat Mulan moet spring, ens) ’n groter suspension of disbelief vereis. 

Mulan as ’n man was nie vir my oortuigend nie. Haar beenstruktuur, stap en liggaamsbou is vroulik, en dit verstom my dat sy nie uitgevang is nie. Ek kon egter haar kwesbaarheid aanvoel toe sy by die slaaptent instap; dit het die gevaar waarin sy verkeer, perfek vasgevang. Dit onderstreep ook haar durf.

Ek het die soldaatsopleiding beide geloofwaardig – en tog vervelig – gevind.

Vir my het Mulan se innerlike stryd met die bedrog haar emosionele diepte gegee en haar meer eerbaar gemaak. Ek het ook van Xianniang se teorie gehou dat die bedrogspul Mulan se qi vergiftig toe hulle die eerste keer veg.

  • Bederfklikker!

Mulan se manlike alter ego “sterf” in die stryd teen Xianniang en daarna besluit sy om haarself te aanvaar. Sy stroop haar uniform gedeeltelik af, maak haar hare los en ry na die slagveld. Op die slagveld kom niemand die verskil agter nie, en red sy haar bataljon. Na die veldslag wys sy dat sy ’n vrou is en vra vergifnis, maar word deur die bataljon verwerp en geskors.

Khan en sy generaals het egter voor die geveg weggekom en gaan na die hoofstad om die keiser te vermoor. Xianniang onthul hierdie plan terwyl sy Mulan wil oortuig om by hulle aan te sluit. Mulan verwerp haar aanbod en gaan terug na haar bataljon – selfs al kon dit haar dood beteken. Haar bataljon ondersteun haar en haar plan dat ’n klein span in die stad moet insluip om die keiser van Khan te red.

Ek het soldate se aanvaarding vir die tyd en samelewing geforseerd en gejaagd gevind. So ook Mulan se ontwikkeling van perfekte bruid na manlike soldaat tot selfaanvaarding.

Die “heks” Xianniang is vir my die interessantste karakter, en ek sou graag meer oor haar wou weet. Het sy haar magte van haar qi gekry? Wat het van haar ouers geword? Sal Mulan later soortgelyke kragte ontwikkel? Ek wens ook die parallelle tussen haar en Mulan was beter uitgebou.

Xianniang se lojaliteit aan Khan is swak gemotiveerd, veral gegee hoe hy haar behandel. Sy is die magtigste persoon in die film – waarom aanvaar sy dit?

Hoewel die tema van “die vrou se plek” onder die loep kom, lewer die fliek nie direk kommentaar daarop nie. Dit verklaar ook nie waarom ’n sterk qi (lewenskrag, lewenslus) aanvaarbaar is vir mans, maar nie vir vroue nie. Ek het hierdie leemtes frustrerend gevind; die storielyn sou daarmee sterker gewees het.

Die toneel met die hase word aan die einde betekenisvol wanneer Mulan vra: “As twee hase langs mekaar hardloop – een manlik, die ander vroulik, kan jy die verskil agterkom?” Ek wonder of die fliek dus wil impliseer dat mans en vroue dieselfde is waar dit saak maak, veral omdat Mulan se bataljon nie die verskil tydens die veldslag kon agterkom nie. Indien wel, is dit ’n baie simplistiese manier om na geslagspolitiek te kyk.

Ek is effens teleurgesteld in die film, want my verwagtinge was baie hoog. Die fliek is goed, maar ek het bly hoop vir treffende tonele wat teen die mooi omgewing kon opweeg.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top