Filmresensie: Money Monster

  • 0

moneymonsters280Money Monster

Regie: Jodie Foster

Spelers: George Clooney, Julia Roberts, Jack O’Connell

Toe die mensdom so 4 500 jaar gelede munte ingestel het, was dit die begin van ’n geldstelsel wat mettertyd in ’n monster verander het. Van banke en rente en rente op rente het die stelsel gevorder tot vandag se blitsvinnige aandeletransaksies op ’n slimfoon. Maar die tyd toe gewone mense nog die geldstelsel verstáán het, het ongeveer daar geëindig waar jy nie meer jou varkie vir ’n sak koring kon verruil nie. Nou bly net die monster oor.

Lee Gates (George Clooney), ’n seepgladde aandeleman, is die aanbieder van die TV-program Money Monster. Ongeveer ’n jaar gelede met die maatskappy IBIS se meteoriese opgang het hy kykers verseker hulle kan nie verkeerd gaan met dié aandele nie. Maar in ’n kits verloor IBIS 800 miljoen dollar en die aandeelprys val vloer toe. Oeps. Daar word skouers opgetrek en iets gemompel van algoritmes. Ontleders kan nie sê hoe dit gebeur het nie, want niemand verstaan regtig meer die stelsel nie.

As jy die klein outjie is wat sy enigste spaargeld op IBIS-aandele gewaag het, het jy elke sent verloor. Soos Kyle Budwell (Jack O’Connell). Hy is woedend en desperaat. Hy stap tydens Lee se lewendige program by die ateljee in met ’n bomgelaaide onderbaadjie wat Lee moet aantrek. Hy soek antwoorde – nóú. Agter die skerms begin veg Patty (Julia Roberts), Lee se lankmoedige vervaardiger, vir die TV-ster se lewe.

Money Monster is in ’n kategorie wat ek intelligente aksieflieks noem. Die ekonomiese en tegnologiese gegewens is boeiend en die waarheid wat mettertyd ontbloot word, laat jou hare orent staan. Daarby word die spanning snaarstyf gehou. Clooney en Roberts se samespel is uitstekend en laat jou opnuut besef waarom hulle A-lysakteurs is, terwyl die nuweling O’Connell sy man staan in ’n besonder veeleisende rol.

Puik fliek, puik vermaak. Gaan kyk dit.

Sterre: 4

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top