Filmresensie: Moffie

  • 0

Anders as wat die naam te kenne wil gee, handel Moffie nie uitsluitlik oor homoseksualiteit nie. Inteendeel, die fokus is veel meer op wat agter toe deure in die weermag gebeur. Onregverdigheid, wreedheid, onsekerheid, diskriminasie, bespotting en uitermatige dissipline is van die elemente waarop vervaardiger Oliver Hermanus fokus. Moffie is die vierde film op dié jong, suksesvolle vervaardiger se kerfstok en net soos die vorige films, is hierdie een ook omstrede. Hermanus sê: “Dit is belangrik om die mense uit te daag en ek hoop ek slaag daarin in hierdie film.” Ná bywoning van die première op Maandag 2 Maart by die Fugard-teater in Kaapstad, is hierdie hoop myns insiens vervul. Moffie is eenmaal ’n film waar jy nie ’n draadsitter kan wees nie en beslis ’n opinie sal hê. Dit is natuurlik áltyd beter om eers die film te kyk voordat jy ’n uitspraak lewer.

Die rolverdeling stel heelwat jong, nuwe talent bekend en verskaf aan Kai Luke Brümmer sy eerste hoofrol, wat hy uitstekend vertolk. Ander spelers sluit in Hilton Pelser, Ryan de Villiers, Wynand Ferreira, Matthew Vey, Stefan Vermaak, Rikus Terblanche, Hendrik Nieuwoudt, Ludwig Baxter, Mitchell Christy en Jan Combrink.

Die rolprent speel in 1981 tydens die apartheidsjare af, toe wit Suid-Afrikaanse mans bó 16-jarige ouderdom opgeroep is na die grens vir twee jaar se verpligte diensplig vir volk en vaderland tydens die apartheidsregime. Jong mans wat dikwels nog maar kind is, word in ’n verpligte wêreld meegesleur waar jy geleer word om te haat en te dood om jou land te beskerm, ongeag die persoonlike prys wat jy moet betaal. ’n Weermagsituasie is reeds moordend, en om boonop tot verhaal geruk te word omdat jou seksualiteit anders is as dié van die ander mans om jou, vererger die situasie. Die akteurs kwyt hulle uitstekend van hul taak en lewer uiters oortuigende, dikwels emosionele, vertolkings. Oliver Hermanus, tesame met ’n bekwame produksiespan, vang die atmosfeer vas met gepaste musiek, kinematografie en landskappe om die kyker een te maak met die toneel. Die spanningslyn hou jou op die punt van jou stoel, asof jy self in die toneel is.

Moffie is beslis nie vir jong of sensitiewe kykers nie vanweë die volwasse onderwerpe wat aangespreek word, asook die taalgebruik. Dit is wel ’n uitstekende eindproduk wat ’n terugblik bied op wat baie mense vergeet het of verkies om nie te onthou nie, en vir ’n jonger geslag, wat onbekend is met wat dit beteken om ’n troep op die grens te wees, ook perspektief kan gee.

Moffie het verskeie nominasies en toekennings ontvang, so maak seker jy loop dit nie mis nie.

Moffie wys vanaf 13 Maart by teaters landswyd.

Kyk die lokprent hier:

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top