Filmresensie: Late night

  • 0

Late night
Draaiboek: Mindy Kaling
Regie: Nisha Ganatra
Akteurs: Emma Thompson, Mindy Kaling, John Lithgow, Hugh Dancy, Reid Scott

Wat ’n onverwagte plesier is hierdie film nie! En baie daarvan is te danke aan die puik draaiboek deur Mindy Kaling, wat ook teenoor Emma Thompson in die hoofrol speel.

Thompson is Katherine Newbury, die Britse aanbieder van ’n Amerikaanse laataand-geselsprogram. Ná 28 jaar op TV is sy ’n legende, maar ongelukkig ook uit voeling met die nuwe wêreld van Twitter, Instagram en dies meer. Kortom, haar program het outyds en voorspelbaar geraak en die netwerk dreig om haar te vervang met ’n jonger man. Ironies, want haar span teksskrywers wat net uit mans bestaan, is deel van die probleem.

Molly Patel (Mindy Kaling) is ’n fabriekwerker met ’n brandende begeerte om komediant te word én ’n groot bewonderaar van Katherine. Deur ’n sameloop van omstandighede word Molly aangestel in die plek van die teksskrywer wat pas afgedank is. Sy is vasberade om alles te gee in haar nuwe droomwerk, maar Katherine is allesbehalwe ’n aangename baas, om nie te praat van haar vyandiggesinde manlike kollegas nie.

Late night doen soveel dinge net reg: van uitstaande toneelspel deur Thompson (Kaling het die rol spesiaal vir haar geskryf) tot die raak uitbeelding van vroue wat moet veg vir gelyke staanplek in ’n manswêreld en die bedrieglikheid van die sosiale landskap wat in die laaste dekade onherroeplik verander het. En ónder al die skerp kwinkslae word fyn gekyk na menseverhoudings en dinge soos eerlikheid, opregtheid en getrouheid – waardes wat deur al die eeue nog nooit hulle belangrikheid verloor het nie.

Hoog aanbeveel vir kykers wat hou van komedie met skop!

Sterre: 4

Kyk die lokprent hier:

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top